ZB du Toit is by sy dood in 2008 as ‘n “briljante denker” beskryf (Izak de Villiers), ‘n “Afrikaner in murg en been met ‘n vry, ongebonde gees” (prof. Koos Malan) en ‘n “wellewende kollega en vriend met ‘n onblusbare humorsin” (Tim du Plessis).
By sy dood was hy ‘n assistent-redakteur van Rapport. Voorheen was hy onder andere redakteur van die HNP se blad, Die Afrikaner, asook van die Die Patriot, blad van die Konserwatiewe Party.
Dat ZB ‘n konserwatiewe kyk op sake gehad het, is duidelik, maar hy was nie maklik om in ‘n vakkie te druk nie. Hy het ook vriende van regoor die politieke spektrum gehad.
Een was dr. Koos van der Merwe, wat gesê het hy en ZB het saam deur die regse politiek gereis, saam kennis gemaak met die harde werklikhede van Suid-Afrika en saam “vrede gemaak met die koms van die nuwe”, aldus ‘n berig in Rapport.
‘n Eertydse kollega by Rapport, Anne-Marie Mischke, gee hierdie perspektief: “Hy (Izak de Villiers) het die koerant radikaal verander. Hy het ’n renons in Mandela en in die onderhandelingspolitiek gehad en ek en hy was aan die uiterstes van die spektrum. Ek het onder meer oor die grondwetlike onderhandelinge verslag gedoen en dit was ’n stryd om die berigte hoegenaamd in die koerant te kry. Die koerant het erg regs geskuif, met ZB du Toit, wat Izak by die KP-koerant, Die Patriot, gaan werf het, as sy politieke regterhand. Die politieke toon was skellerig-regs…
“… Natuurlik was ZB ’n doring in my vlees in die De Villiers-jare omdat hy so regs was en omdat hy, as Izak-dissipel, my werk beduiwel het. Maar mettertyd het ons mekaar goed leer ken en teen die tyd dat Izak weg is, het ons goed begin saamwerk.
“Toe word dit ook vir my duidelik hoe intelligent en wyd belese ZB was, en ook hoe sy politiek van regs na gematig gedraai het. Nie weens opportunisme nie, maar deur sy eie insig. Hy het ’n baie nuttige redaksielid gebly tot sy vroeë dood in Tim se tyd.
“Chris (Moolman) en Johan (de Wet) het hom waardeer, maar Tim het nog die KP-redakteur onthou en met vooroordele teen ZB by Rapportaangekom. ZB was nie ‘sy’ man nie. Vir ’n enkele oomblik het ek gedink, goed so, laat ZB nou ’n bietjie les opsê. Maar toe bedink ek my gelukkig en gaan vertel vir Tim hoe ZB nie meer die KP-man is wat hy onthou nie.
“Tim het ZB daarna baie goed behandel, hulle het goed klaargekom en Tim het mooi hulde gebring op sy begrafnis. Izak, die oud-predikant, het die diens vir ZB, wat ’n ateïs was, waargeneem, in ’n kerk,” aldus Mischke in ‘n e-pos-onderhoud met Mediamense.com. (Die volledige onderhoud is te lese by die afdeling Verbatim.)
ZB het in 1999 ‘n boek, Die nuwe toekoms: ‘n Perspektief op die Afrikaner by die eeuwisseling, by J.P. van der Walt gepubliseer.