Die skrywers was albei uitvoerende hoofde van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) — Riaan Eksteen van 1983-1987 en Wynand Harmse van 1987-1994. Dit het hulle die erge woelinge en uitdagings by die nasionale uitsaaier persoonlik laat beleef. Hieroor skryf hulle op heel verskillende wyses.
SAUK 1936—1995
Wynand Harmse
Naledi, 2018.
Hierdie boek is ’n baie welkome toevoeging tot die literatuur oor die uitsaaiwese, wat tot nou toe byna uitsluitlik vanuit ’n hoogs kritiese hoek geskryf is. Die jammerte is egter dat Harmse se boek eintlik twee in een band is.
Die leser moet weet dat Harmse in hierdie boek die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese tot 1995 opteken. Dit beslaan die eerste meer as 200 bladsye. Daarna volg sy meer persoonlike ervarings.
Vir diegene wat insig in die geskiedenis wil hê, gee Harmse interessante feite en perspektiewe weer — soms met pynlike detail. Dit oorvleuel uiteraard deels met ander bronne, maar Harmse se navorsing is diepgaande en daarom belangrik. Dit sou, met bepaalde voorbehoude, as vrystaande boek uitgegee kon word.
Wat alles beteken die leser moet nogal heelwat lees (of die eerste gedeelte bloot oorslaan) om by die skrywer se loopbaan by die SAUK te kom — van 23-jarige administratiewe assistent tot groep- uitvoerende hoof. Harmse was nie ’n politieke dier nie, maar het uit die binnekring (die Broederbond) gekom. Hy het die SAUK se finansies binne en buite geken en het die skip deur moeilike (politieke) waters gestuur nadat sy voorganger, Riaan Eksteen, met president PW Botha en die SAUK-raad vasgesit het.
Sy storie as tegnokraat is sekerlik die moeite werd om te hoor, maar kritiese lesers sal die wenkbroue lig vir Harmse se alte vriendelike oordeel oor allerlei SAUK-besluite. — JDF
Enkele uittreksels uit die boek…
Harmse verdedig die SAUK se rekord van goeie bestuur:

Oor die SAUK en sy ondersteuning van regeringsbeleid skryf Harmse:

Hy voeg egter by:

Oor die destydse voorsitter, prof. Wynand Mouton, se hantering van ‘n omgekrapte minister skryf hy:

Van die ANC-minister verantwoordelik vir die SAUK kry Harmse lof:

Ten slotte, ‘n herinnering aan hoe die SAUK se posisie in 1994 gelyk het:

BEYOND DIPLOMACY
Riaan Eksteen
Pretoria: Protea
2022
Die diplomaat Riaan Eksteen oorheers die eerste gedeelte van die boek, maar in drie boeiende hoofstukke vertel hy in detail hoe hy by die SAUK aangestel is, die nasionale uitsaaier herorganiseer het en hoe hy uiteindelik daar weg is weens ‘n onderonsie met die president en die raad.
Eksteen het onder twee voorsitters gedien, Wynand Mouton en Brand Fourie. Ironies het hy en sy oudkollega by Buitelandse Sake, Fourie, uiteindelik swak oor die weg gekom terwyl Eksteen en Mouton enduit ‘n baie goeie verhouding gehad het.
Alles kan seker terugherlei word na die politieke woelinge van die 1980’s en die regering se behoefte om aan die SAUK voor te skryf wat en hoe berig moes word. Dat Eksteen in ‘n sin saamgespeel het, sal sommige kritici sterk aanvoer. Maar dan was dit uit oortuiging dat die revolusionêre magte nie ‘n spreekbeurt verdien het nie.
So skryf Eksteen:

Die rol van die Broederbond, Staatsveiligheidsraad en opeenvolgende ministers verantwoordelik vir die SAUK word hier vanuit Eksteen se perspektief met groot openlikheid beskryf — iets wat minder by Harmse te vinde is. Maar Harmse het nie deurentyd onder PW Botha of Brand gedien nie. Ander persoonlike en politieke dinamikas het gegeld.
Onder Eksteen is wel reeds verskeie veranderinge by die SAUK plaasgevind, soos die inbring van advertensies by die Afrikaanse en Engelse radiodienste en die daarmee gepaardgaande skep van sake-eenhede. (Harmse was uiteraard deel hiervan, as finansiële hoof.) Feit is dat die SAUK onder finansiële druk was en nie meer op die ou trant kon aangaan nie — in alle geval nie sonder staatshulp soos wat later die normale geword het nie.
Uiteindelik is albei boeke, elk op sy eie manier, belangrik om die SAUK in die 1980’s en 1990’s beter te verstaan. — JDF
Koedoe Eksteen vertel sy storie
Johannes Froneman het op 30 Oktober 2022 die volgende oor die bekendstelling van Eksteen se boek op Maroela Media geskryf:
Wanneer ‘n deurwinterde diplomaat, SAUK-baas, adviseur en uiteindelik bewese navorser sy sewentigerjare) sy storie vertel, kan jy maar jou ore spits.
Die publikasie van Riaan (“Koedoe”) Eksteen se boek Beyond diplomacy (Protea) bied aan lesers ‘n kykie agter die skerms van sommige van die gebeure wat die skrywer oor ‘n baie lang loopbaan meegemaak het.
Die boek is vroeër die week (Maandag) op Stellenbosch bekend gestel, in die teenwoordigheid van sommige van die mense wat ‘n lang pad met hom gestap het. Dit het Ton Vosloo, gewese joernalis en voorsitter van Naspers, ingesluit, wat ook die voorwoord vir die boek geskryf het.
In ‘n gesprek met ‘n vorige kollega, Frans Stroebel, voor ‘n groepie vriende en familie, het Eksteen (wat volgende week tagtig jaar oud word) boeiend en met humor vertel van sommige gebeure in sy lewe. Dit strek ver terug — sy loopbaan as diplomaat het immers begin toe dr. H.F. Verwoerd nog premier was.
In die gesprek het hy onder meer vertel hoe hy ‘n “koue rilling” gekry het toe pres. PW Botha sy komende sogenaamde Rubicon-toespraak in Durban teenoor hom as minder belangrik afgemaak het — dit nadat die SAUK reeds allerlei reëlings getref het om die toespraak regstreeks uit te saai en die wêreld se media ‘n groot aankondiging verwag het.
Eksteen sit toe by die SAUK met senior nuusmense en luister na die toespraak: “Dit was die skrikwekkendste tyd wat ek deurgemaak het,” onthou hy.
Hy vertel ook ander staaltjies oor PW Botha, soos hoe die president hom “afgedank” het, maar eintlik het Eksteen eers maande later, ná ‘n skikking met die raad, die diens van die SAUK verlaat.
Riaan Eksteen by die bekendstelling van sy boek Beyond diplomacy.

Dit is voorafgegaan deur ‘n baie vriendelike ontmoeting in Botha se kantoor. Eksteen onthou die president se woorde só: “Meneer Eksteen, ek wil vir jou sê ons het nou wel ons verskille gehad, maar wat my betref kan jy by die SAUK bly net so lank soos jy wil. Jy kan daar ook aftree. As ons nog verskille het, sal ons dit uit die weg ruim.” Toe Eksteen uitstap, dink hy by homself: “Eksteen, nou moet jy weet; die hel gaan op jou neerdaal.” En so was dit ook. Die SAUK-raad het dit daarna vir hom “onmoontlik” gemaak om sy werk te doen, wat dan tot sy uittrede gelei het.
Oor ‘n moontlike ooreenkoms tussen die SAUK en M-Net (wat aan die SAUK ‘n aandeel in M-Net sou gee) vertel Eksteen in sy boek. In die gesprek by die bekendstelling, onthou hy hoe die voorsitter van die SAUK-raad, dieselfde Brand Fourie wat vroeër sy hoof by Buitelandse Sake was, op ‘n vergadering gesê het: “M-Net sal nooit lewensvatbaar wees nie.” Daarom is die ooreenkoms nie gesluit nie.
Vandag is die SAUK steeds in die knyp en het M-Net die genoteerde reus Multichoice geword. In ‘n bydrae van die vloer het Ton Vosloo opgemerk dat as die SAUK destyds met ‘n kommersiële kanaal (TV4) begin het, was M-Net doodgebore. Maar Fourie se “verstommende” besluit het die geskiedenis van die uitsaaiwese in ‘n ander rigting gestuur.
Die ooreenkoms sou ook die “skerp kante” van die verhouding tussen die SAUK en die res van die media sagter gemaak het, meen Eksteen. Dié het nooit gebeur nie.
Oor die verhouding tussen Buitelandse Sake en die Weermag, skryf Eksteen, maar in die gesprek was sy kommentaar droogweg: “Ek dink mens moet so min as moontlik oor die militêre ouens sê.”
Tog het hy vertel hoe hy die Staatsveiligheidsraad oor die Suidwes-Afrika-kwessie moes bywoon. Pik Botha se opdrag was: “Sê niks, behalwe as jy gevra word.” Botha het as minister sy voorlegging gedoen, waarna genl. Magnus Malan beweer het dat Swapo oor twee maande “militêr heeltemal vernietig” sou wees. Waarop die president sê: “Dit is wat ek wil hoor.”
Maar toe kry Eksteen ook ‘n beurt om iets te sê. Hy sê toe: “Van militêre aangeleenthede weet ek niks nie, maar al wat ek vir u wil sê is dat die oplossing van die Suidwes-Afrikakwessie lê nie op militêre vlak nie. Die probleem is polities en moet polities opgelos word.”
Hieroor is Eksteen deur die direkteur-generaal van Buitelandse Sake, Brand Fourie, aangespreek. Eksteen vertel dat Fourie met hom saamgestem oor hoe die situasie opgelos moes word, “maar jy kan dit nie vir die president sê nie”. Verder: “Jy moet jou plek ken.”
Sy minister, Pik Botha, roep hom ook in en sê die president was baie vies. Hy het Pik aangesê om die hoogs ervare ambassadeur Eksteen “lesse in internasionale politiek” te gee. Pik sê toe bloot: “Gaan terug na jou kantoor en doen jou werk.”
Dit raak die kern van die uitdagings waarmee ‘n diplomaat te kampe het en wat in die boek ter sprake kom. In die boek self skryf Eksteen: “In all my years as a diplomat I was determined not to act or be seen as an apologist for the government. It was important to behave as a reliable interlocuter and to always remain credible.” Dit beteken dat hy en sy politieke meesters soms moes bots. Maar met Pik Botha het hy ‘n lang vriendskap gehad.
Vir diegene wat in die politieke geskiedenis belangstel, sal die boek menige insigte bied, ondersteun deur allerlei betekenisvolle anekdotes. Uiteindelik is Eksteen se laat “loopbaan” as navorser, ontvanger van ‘n doktorsgraad en skrywer van akademiese artikels ‘n gepaste sluitsteen van ‘n merkwaardige loopbaan.