Die blad verskyn in 1954 as blad waarin op Christelike grondslag nagedink word oor aktuele sake. Dit is later regstreeks verbind met die sogenaamde “stem van Potchefstroom”, bedoelende die prinsipiële standpunte wat vanuit ‘n Calvinistiese (of reformatoriese) denkraamwerk deur dosente van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys ingeneem is.
Sedert die 1970’s neem redakteurs soos proff. Hennie Coetzee, Lourens du Plessis en Jacques van der Elst standpunte in wat links van regeringsbeleid was en daarom heelwat aandag in die pers geniet het.
Proff. Johan van der Vyfer en Willem (Wimpie) de Klerk neem ook standpunte in wat as belangwekkend beskou is omdat Afrikaanse akademici tot in daardie stadium die apartheidsbeleid van die regering kritiekloos ondersteun het.
So het die blad se voorkoms deur die jare verander:



Prof. Pieter de Klerk se analise van Woord en daad toon aan dat in die tydperk 1954-1966 die blad meestal onkrities was op die apartheidsbeleid en sy lesers eerder van die morele juistheid van die beleid probeer oortuig het.
In die volgende periode, 1967 tot 1990, word kritiek algaande versigtig uitgespreek. Later word diskriminerende beleid skerper gekritiseer. So het Woord en daad sy lesers metterwyl voorberei op die radikale veranderinge wat in die 1990’s sou kom
In die jare na 1990 is die blad steeds ‘n mondstuk vir kritiese denke, maar dit word nou meermale teen die ANC-regering gerig. Gegee die nuwe minderheidsrol van die Afrikaner, verloor die blad sy vroeëre rol as politieke meningsvormer.
Nadat dit lank die blad van die Afrikaanse Calvinistiese Bond en die Reformatoriese Beweging van Suid-Afrika (Rebsa) was, val dit later onder die Eenheid vir Reformatoriese Teologie en die Ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Samelewing in die fakulteit teologie, Noordwes-Universiteit.
Die blad het gepoog om die stem van die ou PU vir CHO te bly, maar binne die konteks van die Noordwes-Universiteit en gegewe die redakteurs se onvermoe om hul standpunt dinamies na buite te stel, het dit gekwyn.
Lees ook:
De Klerk, P. 2000. Die tydskrif Woord en Daad en die apartheidsbeleid, 1954-1966. (Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, Vol. 25(1)).