WEG!, MOOILOOP, WIEL

Wegbreek (uitgegee deur Media24) lanseer in 2004 as ‘n buitelug- en reistydskrif, maar moes spoedig die gebruik van die naam in die hof verdedig omdat Getaway se eienaar (Ramsay, Son and Parker) gemeen het Wegbreek is bloot ‘n vertaling van Getaway, ‘n titel waaronder hul tydskrif reeds geruime tyd gepubliseer is. Media24 verloor die saak en verander sy tydskrif se naam na Weg en spoedig daarna na Weg!, dus met ‘n uitroepteken.

Weg! word spoedig ‘n groot sukses onderdie redakteurskap van Bun Booyens, wat later aanbeweeg en redakteur word van Die Burger. Go!, ‘n Engelse weergawe van Weg!, volg in 2006, asook verskeie ander titels, soos WegSleep.

Ramsay, Son and Parker begin in 2006 hul eie tydskrif (‘n vertaalde Getaway) onder die titel Wegbreek, maar verander dit in 2007 na Mooiloop, en nou met unieke inhoud. Redakteur: Gerrit Rautenbach. Die blad sluit egter met sy laaste uitgawe in Desember 2008.

Jannie Herbst stig Wiel in 1978 as eerste Afrikaanse motortydskrif. Eienaarskap verwissel verskeie kere en beland uiteindelik in die besit van Ramsey Son & Parker, uitgewer van Car. Wiel sluit egter in 2011 met Francois Rabe as laaste redakteur.