In die kookpot-situasie van die 1980’s verskyn verskeie sogenaamde alternatiewe blaaie in Suid-Afrika. Onder hulle tel die Weekly Mail, South, Saamstaan en Vrye Weekblad. Laasgenoemde blad, met Max du Preez as redakteur, het weekliks ‘n skerp anti-establishment-boodskap landwyd in Afrikaans laat hoor.
Die eerste uitgawe van Vrye Weekblad het op 4 November 1988 verskyn en afgedruk in Max du Preez se boek Oranje, blanje blues (Zebra Press, 2005).

Vrye Weekblad het in verskillende formate uitgekom en ‘n mengsel van politieke onthullings, uitdagende artikels oor die Afrikaner en sy kerk, taal en kultuur gedra. Twee uitstaande voorblaaie het onderskeidelik ‘n onderhoud met Hein Grosskopf (seun van die gewese Beeld-redakteur en Stellenbosse joernalistiekprofessor Johannes Grosskopf) en ‘n groot foto van dr. Beyers Naudé gedra. Daarmee het Vrye Weekblad duidelik gestel: nie alle Afrikaners steun apartheid nie.



In Februarie 1990 is Nelson Mandela vrygelaat en het Vrye Weekblad berig oor die onmiddellike impak wat hy op die politiek gehad het.

Vrye Weekblad was nie net uitdagend teenoor Afrikanermites en -ikone nie.
Vrye Weekblad se uitleg en voorblaaie het die blad se aweregse ingesteldheid soms op ‘n besondere wyse raakgevat.

Hierdie uitleg is tekenend van die styl wat Anton Sassenberg by die blad ingevoer het.

Advertensies soos dié deur Shell het gehelp om VWB vir ‘n tyd staande te hou.


Vrye Weekblad is suksesvol deur genl. Lothar Neethling vir laster gedagvaar (maar later volkome in die gelyk gestel). Die koste daarvan en die opdroog van buitelandse steun het tot die einde van die blad gelei. Hierdie is een van uitgawes in tydskrifformaat voordat die blad in Februarie 1994 gesluit het.
Die laaste Vrye Weekblad in gedrukte formaat. Die swart buiteblad was effe melodramaties en het ‘n Ster in herinnering geroep wat ná dr. H.F. Verwoerd se dood so verskyn het. Vrye Weekblad het in 2019 as internetblad herleef, maar dit was net nie dieselfde nie.

In die laaste gedrukte uitgawe van Vrye Weekblad kyk die redaksie terug op sy stryd om oorlewing en hoe die blad ‘n aweregse joernalistiek bedryf het — ook deur uitdagende plakkate, soos hierdie:

Vrye Weekblad se doodsteek was ‘n lastersaak wat die blad op appèl teen genl. Lothar Neethling verloor het. Hier stel die blad vergeefs sy saak, maar getuienis voor die Waarheid-en-versoeningskommissie het later gewys VWB was reg.

Hierdie boek deur Max du Preez vertel die storie van Vrye Weekblad uit sy binneperspektief.

Lees meer:
Oor Max du Preez in sy Pale native (Zebra Press, 2003) en Dwars (Penguin, 2010).
Kyk ook C. Faure se Vrye Weekblad (1988–1993): profiel van’n alternatiewe Afrikaanse koerant (Communicatio, 19 (2): 22-31) asook
Cornia Pretorius en Johannes Froneman (2018) se artikel Vrye Weekblad se gebruik van Boer as prys- en skeldnaam in ’n kulturele tussenruimte (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Vol. 58 Nommer 4-1: 752-769).