VOORSPEL TOT DIE LAASTE KOERANTE

In sy voorwoord tot sy boek Koerant (gepubliseer in 2020) skryf Hennie van Deventer dat Die Burger, Beeld en Rapport se einde net oor die bult lê. Dalk net twee jaar. Hoe reg was hy nie! — op spoor van Tim du Plessis se inligting. En tog het die einde vinnig en met ‘n slag in Junie 2024 gekom. Vir ‘n wyle leef Die Burger op papier voort.

Hier is ‘n uittreksel uit die voorwoord:

Die ou Persleuse van “Het dag het overal” (die dag breek) sal  moet verander tot “Digitaal is overal”. Só is onder ons ouer  garde in die “Pers” geskerts toe die nuwe gonswoord “digitaal”  so drie dekades gelede die joernalistieke jargon binnedring.

Skeptisisme kon ons vergewe word. Ons koerante was op die  kruin van die golf: uitskieters met rekordsirkulasies, rekordwinste, ‘n miljoen lesers en ‘n beker in die kas vir die beste  prestasie in die Nasionale Pers. Geen rede om bedreig te voel  nie. Ons het ons ietwat misgis. ‘n Era van innovasie was net  anderkant die bult. ‘n Omvattender tegnologiese revolusie  reeds op die horison.

Vir ‘n nuwe geslag entrepreneurs was die  tekens glashelder. Hulle het waagmoedig ingespring om nuwe  velde te ontgin. Verbruikerspatrone het begin verander. ‘n Digitale leefwyse  het begin wortelskiet. “Ou media” het begin spartel. Besorgde  bestuurders het die snoeiskêr ingesteek; koste is tot op die  been gesny. Minder en jong, junior mense moes die steeds  swaarder vrag dra. Toe, vroeg in 2020, verrys die verwoestende koronamonster  met bose tentakels wat oral inwurm.

Ook op die mediatoneel  begin damwalle kraak. Almal het geweet op watter glybaan die gedrukte media  toenemend verkeer en dat die toekoms nie belowend lyk nie. Maar dat die “toekoms” so dramaties vinnig op ons sal  afkom? Dit is darem nie verwag nie.

Op 29 Junie 2020 waag  ek nog om aan LitNET te sê: “Op die lange duur is die proses,  helaas, seker onstuitbaar. Maar Bob van Dyk kan seker sy tong  afbyt oor die kort leeftyd wat hy (dalk in ’n onbewaakte  oomblik) vir gedrukte koerante voorspel het. Hulle is (nog) nie  op ventilators nie.”

Dié selfversekerde woorde moes ek heel gou sluk. Net twee weke later, op 7 Julie, was Volksblad – die oudste  koerant in Afrikaans – saam met ‘n rits ander publikasies  slagoffers van ‘n sloping. Die snoeiskêr het ‘n slagtersmes  geword. Swart Dinsdag – prof. Lizette Rabe van Stellenbosch  se woordvonds – het in felheid aangebreek.

Volksblad sou net tot op Saterdag 8 Augustus 2020 in  papierformaat verskyn. Ná 116 jaar sou ‘n gerespekteerde  gewel uit die galery van hoofstroomkoerante verdwyn. Deesdae  is hy net op die digitale platform Netwerk24 te vinde; nie meer  ‘n tasbare entiteit waaruit jy ‘n knipsel kan maak of waarmee  jy ‘n netjies pakkie kan vou vir jou vis en skyfies nie. Ook net  vyf dae in ‘n week. Dit was my beurt om my tong af te byt.

My formele verbintenis met koerante het amper 40 jaar geduur: vandat ek in 1963 as verslaggewer ingeval het totdat  ek einde 1997 op ouderdom 56 as uitvoerende hoof: koerante  van Naspers my kantoordeur vir oulaas agter my toegetrek het.  In die praktyk strek die saamloop veel verder terug.

In  Desember 1958 – ‘n hele 62 jaar gelede – het ek as 17-jarige  beurshouer met my koffertjie van Klerksdorp na Bloemfontein  geryloop vir my eerste proesel vakansiewerk. Ná 23 jaar van aftrede bly die eerste tintelende aanraking  elke dag met die kraakvars produk steeds ‘n hartsgenot; die  kennismaking met die dag se nuus oor ‘n koppie oggendkoffie  ‘n vreugdevolle roetine.

Dankie dat Die Burger/Beeld en Rapport nog by die  voorhekkie oorbly. Maar vir hoe lank nog? Tien jaar? Minstens  vyf jaar? Nee – dalk vir heelwat korter. In Media24 se binnekringe  word ingrypend anders gedink. Koeranttitels soos Die Burger,  Beeld en Rapport sal nog so twee jaar bestaan, is die sienswyse  daar, aldus die ingeligte kommentator Tim du Plessis (Vrydag  31 Julie in Volksblad).

Of die plan is dat al drie in een titel sal  opgaan of, nog erger, almal die Volksblad-pad sal loop met ten  volle digitalisering is nie duidelik nie. Nietemin, ‘n onheilspellend scenario. Wat Du Plessis in die  vooruitsig stel, is op sy minste ‘n dramatiese verskraling van  die Afrikaanse koerantmark.

Wat sy woorde selfs kan beteken,  is geen gedrukte Afrikaanse koerant oor twee jaar nie. Behoede  dit. Ná twee skofte van 12 jaar elk by Die Volksblad*, ses jaar by  Beeld en ses jaar by Naspers-hoofkantoor is ek geruk.

Ek treur  oor Volksblad en sy ou korps verknogte lesers wat hom in  papierformaat moes groet. Ek bekommer my oor die pad wat  Die Burger, Beeld en Rapport gaan loop en dat ‘n eenderse skok  dalk gouer op hul lesers wag as wat baie vermoed.

Met toestemming van die skrywer hier geplaas.

Foto bo: Beeld se redaksie in beter dae.