Die Volksblad is die oudste Afrikaanse koerant, al word dit nie meer op papier gedruk nie, maar digitaal op Netwerk24 gepubliseer. Die blad het sy ontstaan in 1904 as Het Westen op Potchefstroom gehad. In 1915 is die blad hernoem tot Het Volksblad en die volgende jaar trek sy redakteur en eienaar, Hendrik de Graaf, sak en pak Bloemfontein toe waar dit die amptelike spreekbuis van die Nasionale Party sou word.
In 1917 is die blad aan Nasionale Pers verkoop, wat die naam kort daarna na Die Volksblad verander het. Die blad vier in 2004 sy honderste bestaansjaar en sluit in 2020 as gedrukte koerant, maar gaan digitaal voort.
Die stigter van Volksblad, Hendrik de Graaf. (Met erkenning aan die boek ‘n Lewe van sy eie deur Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet. Uitgegee deur Tafelberg, 2004.)
Hooffoto bo: Die laaste sewe redakteurs van Die Volksblad as gedrukte koerant by ‘n Volksblad-saamtrek van oud-kollegas in 2018. Die redakteurs staan van die oudste tot die jongste: Hennie van Deventer, Johan de Wet, Paul Marais, Johnny Crowther, Ainsley Moos, Johanna van Eeden en Gert Coetzee.

Het Volksblad het só gelyk.

‘n Volksblad-voorblad in 1945.

Die koerant se mashoof (gewelstuk) is ‘n paar keer deur die jare vernuwe.

Die maanlanding in 1969 het die redaksie op hierdie uitsonderlike kleuropskrif laat besluit.


Hierdie proefeksemplaar het darem nie op straat verskyn nie, maar was ‘n onbedoelde viering van die koerant in sy nuwe volkleurgedaante. (Dit is deur Herman le Roux van die verpulper gered.)
Die Volksblad het in 1991 ‘n oggendblad soos sy susterkoerante in die Kaap en Johannesburg geword.

Die verskuiwing na die oggend het ‘n prominente brief van die redakteur aan sy lesers genoodsaak.

Rudie van Rensburg, Emile Terblanche en Johan Coertzen het weggebreek by Die Volksblad en Bloemnuus in Oktober 1982 begin. Ons Stad is die volgende jaar as teenvoeter vir Bloemnuus begin en met hierdie uitgawe gelanseer.

Bloemnuus is deur Perskor gekoop, maar ná hierdie maatskappy se ondergang in die 1990’s het Bloemnuus in Media24 se kraal beland. Die koerant lyk nou só:

Om verkope te versterk, het die Saterdaguitgawe ‘n nuwe voorkoms en aanslag gekry.

In 1979 vier Die Volksblad sy 75e bestaansjaar met hierdie gedenkbylae.

Die bylae sluit hierdie artikel in oor die koerant se blitsuitgawes – spesiale uitgawes na belangrike rugbywedstryde wat so min as 17 minute na die tyd aan toeskouers verkoop kon word mét die uitslag in.

Twee van Volksblad se bekendste redakteurs: Hennie van Deventer (links) klink ‘n glasie met sy voorganger, Bart Zaayman. Van Deventer vertel dat Zaayman hom weens sy verligte politiek nie as ‘n geskikte opvolger beskou het nie. Maar Van Deventer het deeglik sy merk gemaak. Erkenning: Die foto kom uit Hennie van Deventer se boek In kamera (Protea, 2003).

Volksblad verloor sy “Die” en kry nogmaals ‘n nuwe mashoof.

Volksblad sluit as papierkoerant in 2020 en leef voort as digitale blad.


Die geskiedenis van die Volksblad is met sy eeufees in 2004 in hierdie mooi boek gepubliseer.

Lees ook…
Die geskiedenis van die Volksblad is opgeteken in ‘n Lewe van sy eie – die biografie van Volksblad deur Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet (Tafelberg, 2004).
Lees ook C.F.J. Muller se Sonop in die suide (Nasionale Boekhandel, 1990), en
J.C. Steyn se hoofstuk oor Volksblad in Oor grense heen – op pad na ‘n nasionale pers (redakteur: W.D. Beukes, Nasionale Boekhandel, 1992).
In Kroniek van ‘n koerantman (Tarlehoet, 1998) gee Hennie van Deventer sy perspektiewe op sy tyd as redakteur van Volksblad in die 1980’s. Lees ook sy In kamera (Protea, 2003) waarin heelwat verwysings na Volksblad verskyn. In sy boek Koerant (De Novo, 2020) neem hy afskeid van Volksblad.