VEGLUSTIGE BLAAR HET OMSTREDE JOERNALISTIEK BEDRYF

Johannes Froneman vertel meer oor die politikus Blaar Coetzee se joernalistieke loopbaan — onder meer by die eens berugte tydskrif Fyn Goud.

Daar was ander politici wat eers joernaliste was (of andersom), maar niemand het ‘n kleurryker loopbaan as Barzillai (Blaar) Coetzee gehad nie. Coetzee was reeds as Matie-student ‘n omstrede figuur wat met die sosialisme geflankeer het. Hy sluit ná sy studie aan by Die Suiderstem, ‘n Kaapse konkurrent van Die Burger en ondersteuner van generaals Barrie Hertzog en Jan Smuts se regerende Verenigde Party (VP, ofte wel Sappe).

Later word Blaar redakteur van Ons Land, ‘n Oos-Kaapse blad van die VP. Daar takel hy die Nasionale Party met skerp aanvalle en treiter hul leiers met spotname soos “Priester Malan” (dr. D.F. Malan) en “ou Hanslam Paul Sauer”.

In 1943 verhuis hy na die noorde en begin ‘n uitgewersmaatskappy en gee hy nog ‘n VP-blad, Eendrag, uit. Sy politieke en joernalistieke loopbane het steeds ineengeloop.

Hy was agtereenvolgens lid van die Kaapse en Transvaalse provinsiale rade, maar het homself steeds met die joernalistiek en uitgewersbedryf besig gehou en die tydskrifte Keur en Fyn Goudgestig. By laasgenoemde het hy as populistiese joernalis wat die massas se smaak verstaan het amper sy hand oorspeel deur fopbriewe te skryf en te publiseer.

Die briewe was kamtig van die moordenaar van Bubbles Schroeder, wat destyds groot opspraak verwek het. Toe die polisie snuf in die neus kry, het Blaar glo die tikmasjien (wat hom sou inkrimineer) by Chapmanspiek in die see gaan gooi.

Blaar Coetzee as minister.

Volgens Boekewêreld (redakteur: W.D. Beukes) was ‘n “obsene” artikel in Fyn Goud boonop een van die aanleidende oorsake vir die benoeming van ‘n kommissie van ondersoek na “die euwel van onwelvoeglike, aanstootlike en skadelike leesstof”.

Die kommissie se fokus was twyfelagtige verstrooilektuur, wat onder meer deur uitgewerye soos Goeie Hoop Uitgewery en sy filiaal, Tafelberg, uitgegee is — juis ook maatskappye wat deur Coetzee tot stand gebring is.

By Goeie Hoop Uitgewery trek Coetzee ‘n verteenwoordiger by Coca-Cola, J.D. Pretorius, nader om Tafelberg verder uit te bou — so suksesvol dat Nasionale Pers die filiaal in 1959 koop om Pretorius se dienste te bekom. 

Dit het die maatskappy ‘n stewige 62 500 pond gekos, maar Tafelberg het die pêrel in Naspers se uitgewerskroon geword. Vir dekades het Tafelberg-uitgewery uitgetroon vir sy gehalteboeke. Wie sou kon raai dat die uitgewery ‘n hoogs populistiese beginjare onder Coetzee gehad het. Omdat die maatskappy maar met 10 000 pond kapitaal begin het, het Coetzee seker ‘n goeie paar pond wins is sy sak gesteek.

Hy het reeds in 1953 parlement toe gegaan as VP-lid vir Noordrand. Maar in 1954 rebeleer hy en ‘n paar kollegas teen die partyleiding en word hulle uitgeskop. Hulle stig die Nasionale Konserwatiewe Party. Coetzee word egter in 1958 Volksraadslid vir Vereeniging — vir die Nasionale Party!

Die kommissie wat onder voorsitterskap van prof. Geoff Cronjé juis die tipe literatuur moes ondersoek wat deur Coetzee se maatskappye gepubliseer is, het twee jaar vroeër sy bevindige en aanbevelings bekend gemaak. Sou die regering dit aanvaar, was veel strenger sensuur uitgewers se voorland gewees het.

Cloetzee se tydskrifte sou waarskynlik nie die paal gehaal het nie. Maar hy het intussen sowel Keur as Fyn Goud aan Hint Hyman verkoop, wat later die Republikeinse Pers op die rug van suksesvolle fotoboekies sou opbou en verskeie tydskrifte gepubliseer het, insluitende Ster (waarby Keur ingelyf was).

Die regering het voete gesleep met die sensuurwetgewing en is dit is eers in 1962 in die Volksraad gedebateer. Hieroor skryf Koos Human:

“Die debat was ‘n skandaal. Die regering se vernaamste woordvoerders was dr. Abraham Jonker en mnr. Blaar Coetzee, laasgenoemde jare lank die koning van die geel tydskrifte.” Toe hy dááraan herinner is, was sy verweer dat hy sy “kontak met daardie dinge gelos het” en dat hy in die jare toe hy daarmee gemoeid was ‘n Sap was.

Uiteindelik is die nuwe Wet op Publikasies van 1963 aanvaar. Dit was veel meer gematigd as wat die Cronjé-kommissie aanbeveel het, maar het tog gelei tot ‘n publikasieraad onder leiding van die letterkundige prof. Gerrit Dekker.

Teen hierdie tyd was Coetzee, die voormalige geelpersredakteur en verbete VP-kampvegter, goed ingeburger in sy nuwe politieke tuiste, die Nasionale Party. Hy is in 1966 selfs deur  Verwoerd as adjunkminister aangestel en premier John Vorster het hom twee jaar later tot die kabinet bevorder.

Coetzee het die Vereeniging-kiesafdeling tot 1972 in die parlement verteenwoordig en was toe kortstondig ambassadeur in Rome. Volgens sy ou kollega in die VP, Japie Basson, het geen pak ‘n man egter “skewer gepas as dié van ‘n diplomaat aan die politieke soldatelyf van ‘n Blaar Coetzee nie”.

Daar kom sy ou, meer toegeeflike VP-benadering jeens bruin mense weer  na vore en hy laat hom teenoor ‘n joernalis uit oor die verbod op bruin mense in die Nico Malan-operahuis — toe nog ‘n heilige koei van die apartheidsbewind.

“Om nie bruin mense tot die Nico Malan toe te laat nie is een van die skokkendste dinge waarvan ek weet. Hulle behoort hulle te skaam,” het Coetzee gesê. Boonop het hy erken dat hy die fopbriewe in Fyn Goud geskryf het wat in die 1950’s soveel opspraak gewek het.

Sy openbare loopbaan was daarmee heen en hy het in Kaapstad kom aftree en is in 1974 oorlede.

Ten en goede of kwade, Coetzee was ‘n voorloper van wat later in uitgewerskringe (selfs Naspers/Media24) as aanvaarbare kommersiële joernalistiek vir die massas beskou is.

Sy rol as uitgewer-redakteur van riskante populistiese tydskrifte en boeke  is dus noemenswaardig. 

Hierdie artikel het vroeër in ietwat vollediger vorm in Rapport verskyn.