VAN GEMEENSKAPSTORIES TOT KOMMUNIKASIE OOR DIE RUIMTE

Daleen Fouché is ‘n kommunikasiepraktisyn wat voorheen ses jaar redakteur was van die Hermanus Times. Johannes Froneman het haar uitgevra oor haar loopbaan sover.

Vertel ons oor jou agtergrond, skool, universiteit en hoe jy in die joernalistiek beland het.

Ek is die jongste dogter van ‘n predikant en onderwyser en die twee formidabele mense het my van jongs af aangemoedig om krities te dink oor die lewe. Ek het in die ooste van Pretoria grootgeword en gematrikuleer aan die Hoërskool Garsfontein. My droom was om rolprente te maak en ek het by die Noordwes-Universiteit gaan studeer. Ek het my BA Kommunikasie voltooi en met die wêreld nog vol moontlikhede het ek besluit om Kaap toe te trek.

My eerste werk was as ‘n vryskutskrywer vir die Parliamentary Monitoring Group (PMG). Ek moes parlementêre komitees bywoon en dan ‘n verslag oor die vergadering skryf. Ek was verbaas oor hoe interessant ek die politiek beleef het. Dit het my geïnspireer om aansoek te doen vir ‘n pos by ‘n plaaslike gemeenskapskoerant – ‘n rigting wat ek nooit voorheen oorweeg het nie.

Hoe het jou loopbaan toe ontwikkel? Onder wie het jy gewerk?

Ek sal altyd my eerste onderhoud vir ‘n joernalispos onthou. Die redakteur het my ‘n voorblad van ‘n koerant gewys en gevra wat my aanslag sou wees. Die artikel het gehandel oor die historiese kanonne van Simonstad. Die artikel het nooit genoem of die kanonne ooit gebruik is nie en dit is wat ek wou weet. Dit was ook my antwoord op die redakteur se vraag.

Annelien Dean was destyds die redakteur by Peoples Post en sy het my die waarde van ‘n goedgestelde vraag geleer. Annelien was vreesloos in haar aanslag en het ons as jong joernaliste gewys wat dit beteken om dapper te wees. 

Peoples Post het my gevorm as joernalis en ek het als gedek! Van die “Spring Splash”, wanneer al die eksentrieke mense van Vishoek op 1 September in die see in hardloop, tot haai-aanvalle, betogings, informele nedersettings wat vernietig word deur brande, moord, liefdadigheid, sport en stadsbeplanning. Stadbeplanning en die geweldige pas van ontwikkeling van Kaapstad was een van my gunstelingtemas. Ek was gefassineer deur die konstante konflik tussen die behoefte vir meer behuising en die verantwoordelikheid om die natuur te behou en te bewaar.

Toe ek die geleenheid kry om by ‘n klein gemeenskapskoerant in Robertson te gaan werk, het dit dadelik aanvaar. By die Breederivier Gazette was ek die enigste joernalis en my spanleier was gebaseer in Worcester. Hier kon ek nuwe uitdagings wat die platteland bied, aanpak. Ek het nou saamgewerk met die advertensieverteenwoordiger om seker te maak die koerant bly volhoubaar. Gratis gemeenskapskoerante het groot uitgawes as dit kom by druk en verpreidingskostes. Ons moes bloed tap uit ‘n kleindorpekonomie. Maar die stryd was altyd die moeite werd. Ek sal nooit vergeet hoe die Breederivier Gazette se voorbladstorie oor die Hospies se finansiële moeilikheid ‘n hele streek geïnspireer het om in te tree nie. Die Hospies is gered en help steeds sterwendes en hulle geliefdes.

Ek het ook die plaasopstande gedek en alhoewel ek teen daardie tyd al gewoond was aan betogings, was dit die eerste keer dat ek gewelddadige betogings gedek het. Ek moes voor klippe en petrolbomme koes en die komplekse ras- en klasverhoudinge van die platteland ontrafel.

My volgende koerant was Distriksposin die Helderberg. Dit was lekker om weer deel van ‘n nuuskantoor te werk en hier het ek my tande begin slyp aan digitale platforms. Ek is gevra om na Hermanus Times te skuif waar ek later redakteur geword het.

Vertel ons oor jou redakteurskap by die Hermanus Times? Dit was ‘n kleinredaksie… wat het jouwerkpresiesbehels? Het jygoeieondersteuninggehad?

Ek was skugter om aansoek te doen vir die redakteurspos by Hermanus Times. Bun Booyens het pas klaargemaak by Die Burger en het die Hermanus Times bygestaan met ‘n herontwerp. Hy het my aangemoedig  om aansoek te doen (ek was reeds vier maande swanger). Ons was ‘n klein redaksie, ‘n redakteur en drie joernaliste. Ek was ook verantwoordelike vir die Theewaterskloof Gazette, ‘n gratis publikasie vir die Overberg met een joernalis. Die uitdagings was groot. Altyd te veel nuus, te min hande en te min bladsye. Maar gemeenskapsjoernaliste het ‘n besondere uithouvermoë omdat hulle deel is van die gemeenskap wat hulle dek.

Daleen was redakteur van die Hermanus Times in tye waar onluste die rustige kusdorp geruk het. Die blad het ‘n ATKV-Veertjie ontvang vir sy dekking van die gebeure.

Een van die groot uitdagings van gemeenskapskoerante, veral op die platteland, is om joernaliste aan te stel. Gemeenskapskoerante stel dus gereeld jong gegradueerdes aan. Dit was ‘n groot voorreg om ‘n paar jong joernaliste by te staan en te leer hoe om ‘n storie aan te pak. 

Aan die begin van 2018 het ‘n klein groepie vroue van Zwelihle in Hermanus na die munisipaliteit se gebou gestap. Hulle het almal in sinkhuise in agterplase gewoon en het grond versoek van die munisipaliteit sodat hulle nie al hulle weeklikse lone aan huur hoef te spandeer nie. Die klein betoging het ontaard in onluste wat ontaard het ‘n jaarlange politieke kat-en-muis-speletjie. Dit was ‘n uitdagende jaar vir die koerant, maar die span het uitstekende werk gelewer en vir ‘n uitgawe wat die onluste gedek het ‘n ATKV-Veertjie vir beste gemeenskapskoerant ontvang.

Ek het uitstekende ondersteuning van my uitgewer, Olivia Dickson, gehad. Sy het jare terug as ontvangsdame by Hermanus Times begin en haar pad opgewerk. Haar kennis van die plaaslike ekonomie en besigheidsgemeenskap is tot vandag toe ‘n aanwins vir die koerant. Ek het nou saamgewerk met Olivia en die advertensieverteenwoordigers aan promosies en spesiale projekte en ek voel soms die advertensie- en ontwerpspanne kry heeltemal te min erkening vir hulle bydrae tot koerante.

Wat was die beste stories wat jy self gedek het? Vertel asb. meer daaroor.

Moeilike vraag. Ek het ‘n paar stories gedoen waarop ek baie trots was. Ek het een keer ‘n swendelaar se spoor van Pretoria tot Johannesburg tot Kaapstad oopgevlek en in die Helderberg het ek ‘n dubbelbladstorie gedoen oor ontwikkelinge in die Helderberg, wat ‘n heerlike grafiese projek was.

Maar ek dink die storie waarmee ek die meeste geworstel het, was my beste storie. ‘n Plaaslike ma het my genader oor haar dogter se betrokkenheid by ‘n kultus. Ek was skepties en het vir nog inligting gevra. Week na week het nog stories van ouers ingestroom.

Ek het lank op die storie gesit. Ek het talle onderhoude gevoer, en later met die leier van die groep se eks-vrou gesels. Die storie was amper onwerklik maar die aantygings van ‘n ernstige aard. Seksisme, patriargiese magspel en manipulasie is hoe die leiers hulle lidmate beheer het. Lede is selfs verbied om moderne mediese hulp te ontvang, met ernstige nagevolge.

Ek het toe uiteindelik, na ‘n paar maande, die storie geskryf en gepubliseer. Sover ek weet is die groep steeds aktief, maar talle gesinne se jarelange stryd om hulle kinders uit die greep van die kultus te kry, is bekragtig en ‘n ondersteuningsgroep is gestig om mense uit die kultus te help ontsnap. Dit was een van daardie stories wat slegs ‘n gemeenskapskoerant kan dek — met die nodige toewyding en empatie.

Die gemeenskapspers was reeds in die moeilikheidvoor die Covid-19-pandemie. Hoe het dit julle geraak… en uiteindelik vir jou persoonlik?

Covid-19 het die gemeenskapskoerante gedwing om anders te dink oor volhoubaarheid. By Boland Media het ons ‘n unieke oplossing tydens daardie eerste paar maande gevind. Die streekskoerante het ‘n gesamentlike koerant uitgegee, met slegs die voorblad, agterblad en enkele binneblaaie wat uniek aan elke streek was. Die logistiek van die plan was soms uitdagend, maar dit het gewerk! 

Ongelukkig worstel gemeenskapskoerante ook met sirkulasie. Aan die einde van 2020 het die Theewaterskloof Gazette en Hermanus Times saamgesmelt. Die naam Hermanus Times het behoue gebly en het ‘n gratis koerant geword wat nou oor die hele Overberg versprei word. Ongelukig moes die joernalisspan gehalveer word. Dit was ‘n moelike pil om te sluk. Een joernalis het afgetree en ons kon ‘n ander joernalis verplaas. Maar die verandering was drasties.

Ek het besluit om voelers uit te steek vir ander geleenthede en het aansoek gedoen vir ‘n kommunikasiepos in Hermanus. 

Hoe kyk jy terug op jou tyd as gemeenskapsjoernalis? Was dit ‘n positiewe ervaring? Wat sou jy anders wou gehad het?

Ek was mal daaroor om ‘n gemeenskapsjoernalis te wees. Dit was ‘n vervullende en uitdagende werk. Dit was soms moeilik en ek het veral gesukkel om die magdom misdaad, veral teen vroue en kinders, te verwerk. Maar die ervaring was grotendeels positief.

Ek dink wel daar behoort meer ondersteuning vir gemeenskapsjoernaliste te wees, veral op die platteland. Ek sou graag wil sien dat joernaliste ondersteuningsgroepe stig om te praat oor die stories wat hulle dek en die uitwerking wat dit op hulle het. In die gemeenskapsjoernalistiek is die joernalis deel van die gemeenskap en soms moet jy skryf oor mense wat jy ken en verhoudings mee gebou het. Die hoofstroomkoerante kan hier help deur stories te dek wat te na aan gemeenskapsjoernaliste is en hulle moontlik in gevaar kan stel.

Jy het toe na ‘n kommunikasiepos geskuif, soos so baie joernaliste deur die jare gedoen het. Hou ervaar jy dit? En hoe gebruik jy jou joernalistieke ervaring en vaardighede  in jou nuwe werk?

Die joernalistiek het ‘n uitstekende fondasie gelê vir kommunikasiewerk. Tog is daar baie aspekte van kommunikasie wat ek nou vir die eerste keer moet aanpak. Begrotings, funksies reël, uitstallings en konferensies. As jy ‘n goeie joernalis wil wees, moet jy weet hoe om met mense te werk. Jy moet weet hoe om moeilike vrae te stel en steeds ‘n antwoord te kry. Dit is die belangrikste eienskap wat die joernalistiek my geleer het.

Jy doen steeds “mediawerk“, of hoe? Interne kommunikasie, mediaskakeling

Mediawerk beslis! Ek was gelukkig om werk te kry by die Suid-Afrikaanse Ruimteagentskap (SANSA). Ek werk nou baie met wetenskapskommunikasie, iets wat baie afgeskeep word in die huidige medialandskap. Ons publiseer ‘n weeklikste interne nuusbrief, bestuur sosiale media en die webtuiste, publiseer artikels oor ons werk, veral in die veld van ruimteweer. Ek skakel gereeld met die media en fassiliteer: reël onderhoude met ons kenners. Ons bied ook gereeld webinare aan en maak video’s oor ons projekte. Dan is daar die konferensies en uitstallings wat internasionaal plaasvind. Ek is juis nou op pad na Dubai vir die International Astronautical Conference (IAC).

Sal jy eendag weer voltyds joernalis wou wees? Indien wel, in watter hoedanigheid?

In my hart sal ek altyd ‘n joernalis wees en ek hoop om in die toekoms weer as joernalis te werk. Ek stel veral belang in joernalistiek in videoformaat. Ek dink daar is ongelooflik baie potensiaal vir jong joernaliste wat sukkel om werk te kry. Hulle kan, byvoorbeeld, platforms soos Youtube gebruik om werk te publiseer. Ek is passievol oor mediavryheid en volhoubaarheid en droom daarvan om in die toekoms ‘n bydra te lewer tot die ontwikkeling van nuwe stemme en jong joernaliste met innoverende platforms.

Geplaas: Oktober 2021