VADERLAND

Die Vaderland het in September 1915 as Ons Vaderland ontstaan om steun te gee aan die Nasionale Party van genl. J.B.M. Hertzog. Harm Oost, wat Het Volk geredigeer het voordat dit tydens die 1914-rebellie verbied is, is as redakteur aangestel.

Die eerste uitgawe van Ons Vaderland, gedateer 10 September 1915. Die afdruk kom uit L.J. Erasmus se gedenkboek ‘n Volk staan op uit sy as — Verhaal van Die Afrikaanse pers (1962) Beperk.

Oost was egter in die gevangenis (weens sy deelname aan die gewapende protes) en prof. Jan Kamp van Potchefstroom neem waar as redakteur totdat Oost middel 1916 vrygelaat word. Oost wen in die 1924-verkiesing ‘n setel in die Volksraad en Gustaf Preller neem by hom oor as redakteur.

Ons Vaderland het op 23 April 1929 vir die eerste keer met nuus op die voorblad verskyn — nogal revolusionêr vir daardie tyd. Die tegniese redakteur, Jurie van As, het dit volgens een bron sonder sy redakteur, Gustaf Preller se toestemming gedoen, maar die gebruik het gebly en is mettertyd deur alle koerante nagevolg.

In 1932 word die blad se titel verander na Die Vaderland en Preller dien tot 1936 as redakteur. In daardie jaar word Die Vaderland weer ‘n dagblad en Willem (Wollie) van Heerden neem oor as redakteur.

Waar die blad die Nasionale Party sedert sy stigting ondersteun het, het die politieke veranderinge meegebring dat Die Vaderland die sogenaamde smelterregering van genls. Hertzog en Smuts ondersteun.

Die Vaderland takel die Verenigde Party.

Teen 1961 was Die Vaderland reeds lankal volledig ‘n NP-gesinde blad en het dit onder leiding van Willem (Wollie) van Heerden (1936-1946), W.A. Wilcocks (1946-1959), H. Marnitz (1959-1962) en A.M. van Schoor (sedert 1962) gegroei tot 56 000 in 1967 – toe die grootste Afrikaanse dagblad. Hierdie voorblad weerspieël Afrikaners se entoesiasme  tydens Republiekwording in 1961.

Kort na Republiekwording vier Die Vaderland sy 25e verjaarsdag as dagblad met hierdie bylae. Let op die foto’s van ‘n borsbeeld van genl. J.B.M. Hertzog, eertydse eerste minister, wat sedert die blad se stigting as Ons Vaderland in 1915 lank nou by die blad betrokke was.

Genl. J.B.M. Hertzog en Klasie Havenga, belangrike rolspelers in die geskiedenis van Die Vaderland.  

In 1972 smelt Die Beeld en Dagbreek en Landstem saam om Rapport te vorm. Dagbreek se redakteur, Dirk Richard, skuif oor na Die Vaderland as redakteur. Richard bly kritiese vrae vra oor die regering se apartheidsbeleid, wat meebring dat persbaas Marius Jooste hom kant toe skuif. (Richard skryf onderhoudend hieroor in sy boek Tussen bid en droom [Constantia]). Onder sy opvolger, Harald Pakendorf, verskyn hierdie uitgawe waarin die NP se verkiesingsoorwinning hoofnuus is, maar die leier van die Progressiewe Federale Party, dr. Van Zyl Slabbert, tog ook sy tevredenheid uitspreek oor die vordering wat sy party gemaak het.

1985 was ‘n tyd van groot botsing in Afrikanerpolitiek, soos blyk uit hierdie hoofopskrif oor die verregse Herstigte Nasionale Party (HNP) se eerste (en enigste) parlementêre oorwinning. Dit verskyn onder Harald Pakendorf se redakteurskap, wat  die kritiese joernalistiek van Dirk Richard voortgesit het en sterk ten gunste was van hervorming deur die regering van P.W. Botha. 

Pakendorf dien as redakteur van Die Vaderland totdat hy in 1986 die deur gewys word. Die blad sluit in 1988 toe dit by die Transvaler ingelyf is.

Lees meer:

Oor Ons/Die Vaderland in Dirk Richard se Moedswillig die uwe (Perskor) en ‘n Volk staan op deur L.J. Erasmus, uitgegee deur Die Afrikaanse Pers Bpk. (1962). Van Schoor, A.M. 1979. Notes from my diary. Pretoria: Makro.

Barnard, P. 1979. Ons Vaderland, 1915-1932: ’n empiriese studie. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Lees meer oor Harald Pakendorf se tyd by Die Vaderland in sy boek Stroomop (Penguin).