Talle tydskrifte met ‘n sterk Christelike inslag verskyn reeds van die 19e eeu in Suid-Afrika. Daarvan is die oudste die Kerkbode, wat reeds in 1849 tot stand gekom het. Hier is enkele van die belangrikste Afrikaanse tydskrifte wat steeds verskyn of wat in die verlede gepubliseer is.
Die Voorligter verskyn op 1 Desember 1937 as maandblad van die NG Kerk in die destydse Transvaal (dus noord van die Vaalrivier). Dit sou aanvullend tot die amptelike blad van die kerk, Die Kerkbode, wees. Die eerste redakteur (nege jaar lank deeltyds) was ds. P.J. Viljoen van Heidelberg. In 1948 volg ds. Attie Burger hom op – eers ook deeltyds, maar van 1957 voltyds.

Tydens en na die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het probleme soos papierskaarste die redaksie genoop om vir twee jaar lank geen buiteblad te hê nie. In 1946 kry Die Voorligter vir die eerste keer ‘n kleurbuiteblad (pers) en in 1961 volg volkleur.
In 1958 het die blad só gelyk:

Hierdie twee uitgawes dateer uit 1965 en 1968.


Die algemene kommissie vir kerklike tydskrifte van die NG Kerk in 1967 …

… en die blad se redaksie in 1967.

Willie Maree neem in 1970 die leisels oor en in 1972 staan die sirkulasie op bykans 120 000. By sy uittrede in 1989 is die sirkulasie ‘n verbasende 188 000, danksy kerkrade wat die blad in massa aangekoop het en dit via diakens versprei het. Hier is ‘n uitgawe uit 1978.

Dr. Frits Gaum, toe reeds drie jaar lank redakteur van Die Kerkbode, word in 1989 ook redakteur van Die Voorligter. Hy verminder die “kerklike” inhoud en plaas meer klem op inhoud van ‘n meer algemeen-Christelike aard met voorblaaie wat herinner aan Sarie s’n. Die “Die” val ook weg uit die titel.


In pas met die veranderde inhoud, word die blad se naam na Lig verkort. Die blad word sedert 2000 ook op winkelrakke verkoop. Vandaar ook die prikkels wat op die voorblad verskyn om kopers te lok.
‘n Spesiale gesamentlike uitgawe van Lig en Konteks verskyn in 2001. Wat dit besonders gemaak het, was dat Lig ‘n blad van die NG Kerk en Konteks ‘n blad van die Hervormde Kerk was.

Ds. Johann Symington, Adri-Louise van Renen en Francine (van Niekerk) Prins lei hierna die voortdurende vernuwing wat Lig in ‘n mededingende mark moet ondergaan. Voorblaaie soos dié is tipies: bekende gelowiges vertel hul stories. Meer dikwels verskyn hulle met hul gesinne op die voorblad. Die blad is nou, saam met Kerkbode, op Wellington gesetel en dra heelwat van sy stof ook op ‘n webblad.

Naweekpos

Onder inspirasie van Norval Geldenhuys verskyn Naweekpos in 1954 as maandblad. Die eerste redakteur was Jan Scarnell met die later bekende skrywers Berta Smit en Audrey Blignault as redaksielede. Die blad het ‘n sterk Christelike inslag gehad. In 1970 staak die blad publikasie en word dit by Die Voorligter ingeskakel.
Coenie Schoeman begin die tydskrif Finesse in 1998 as deel van Carpe Diem, wat ook boeke met Christelike inhoud publiseer. Die tydskrif se eerste redakteur was Maretha Maartens en staan vandag onder leiding van Venessa Schoeman as “handelsmerkdirekteur” en beklemtoon eerder die “goedvoel”-dimensie van die tydskrif – tot so ‘n mate dat die tydskrif nou as die Finesse Voelgoed Tydskrif bekend staan. Reeds in 2010 het Coenie Schoeman gesê die blad is ‘n “leefstyltydskrif vir Christenvroue”, nie ‘n “Christelike tydskrif” nie. Die blad het ‘n sterk internetteenwoordigheid en bevorder allerlei dimensies van die onderneming.



Links: Die laaste uitgawe van Finesse verskyn in Januarie 2024.
Naspers/Media24 het vir lank die mark vir Christelike tydskrifte geïgnoreer, maar kom in 2005 met Lééf op die mark. Dit is openlik ‘n tydskrif vir “gelowige vroue” met Christine Ferreira as redakteur. Die blad het ook ‘n sterk teenwoordigheid op die sosiale media en trek die aandag met sy sterk gebruik van treffende foto’s. Die blad leef as onafhanklike blad voort nadat die eienaar die blad wou sluit.



‘n 2022-uitgawe van Juig!
Nispublikasies gemik op gelowiges het deur die jare gekom en gegaan — soos hierie twee: die Koningsbode en Ons Jeug. Lg. het met hierdie uitgawe in 1991 gesluit.

