Hierdie twee boeke vertel elk op eie wyse die storie van Die Burger. Die meer beskeie Keeromstraat 30, wat net die eerste 50 jaar dek, dateer uit 1965, en in 2015 het die formidabele 1915-2015 Die Burger 100 verskyn. Albei is juwele.
Keeromstraat 30
J. P. Scannell (samesteller)
Nasionale Boekhandel, Kaapstad
1965
Hierdie gedenkboek is uitgegee by die 50ste herdenking van Die Burger se bestaan — dus voordat Naspers ‘n reus geword het en koerante ‘n daarmee saam onbeduidende deel van die groter prentjie. Dit bevat insiggewende bydraes deur verskeie bekende Naspersers van vroeër.
Waar die eeufeesboek sterk op die groot nuusstories van die eeu fokus, is Keeromstraat 30 se bedoeling anders. Hier kyk skrywers terug op die ontstaan en ontwikkeling van die blad, sy invloed én van die groot politieke stories van destyds.
Name soos Rykie van Reenen, P.A. Weber, P.J. Cillié, Hans Rompel, Jan J. van Rooyen, en Arrie Joubert duik in die inhoudsopgawe op. Daar is nog verskeie ander. Dus ‘n swaargewig-span. Saam gelees met die eeufeesboek bied dit ‘n voortreflike blik op die oudste bestaande Afrikaanse dagblad.
So vertel Phil Weber iets oor die invloed van dr. D.F. Malan:

Maar sterk redakteurs het op Malan gevolg — soms met idees wat effe van die NP-regering s’n afgewyk het. Maar nie te veel nie.
Die rol van Die Burger (en Nasionale Pers, soos die maatskappy vir lank bekend was) is later (dus ná 1965) aan kritiese nadenke onderwerp. So kom ander perspektiewe na vore in Naspers en Media24 se eeufeesbundel, Konstante revolusie, onder redaksie van Lizette Rabe.
Kritici kan die rol van Die Burger in hierdie eerste 50 jaar van sy bestaan dalk relativeer of kritiseer, maar sekerlik nie uitwis nie.
1915-2015 Die Burger
Bun Booyens en Aldi Schoeman
Jonathan Ball, 2015
Hierdie is bes moontlik die beste mediaboek wat ooit in Afrikaans gepubliseer is. Die omvang, samestelling en afronding is net uitstaande. Dit vertel inderdaad, soos die subtitel lui, die storie van Die Burger se mense, maar veral die stories, foto’s, spotprente en bladuitleg waarmee die koerant lesers oor ‘n honderd jaar daagliks gedien het.
Die Burger se fotograaf Gert Vosloo hang aan ‘n paal in ‘n poging om die beste foto van onluste in Kaapstad te kry.

Daarom sal die leser al die regtig groot stories van die honderd jaar van 1995 tot 2015 daarin kry — vertel deur die mense wat daar was toe die nuus gebreek het. Dit is persgeskiedenis uit die boonste rakke.
Een van die groot stories van die eeu: ‘n sesling in Kaapstad gebore.

Die samesteller en besturende redakteur, onderskeidelik Bun Booyens en Aldi Schoeman, het wel die klem op die nuus en die voorblaaie geplaas, maar groot name soos C.J. Langenhoven, Herman Steytler, Albert Geyer en Hans Rompel tree tereg na vore, soms aan die hand van stukke wat hulle vir die herinneringsboek Keeromstraat 30 en ander publikasies geskryf het. Dit is goed dat van hierdie voorheen gepubliseerde bydraes wéér ‘n plek gekry het; daarsonder sou die eeufeesboek armer gewees het.
Van die beste koerantfoto’s ooit is te sien en ‘n hele aantal spotprente wat deur Die Burger se D.C. Boonzaier, T.O. Honiball en Fred Mouton geteken is. Voorblaaie van groot stories is uitgesoek en plaas die fokus op dit waarom dit uiteindelik gegaan het: die oordra van die nuus wat vir Die Burger se eens legendaries getroue lesers van belang was.
‘n Hoogtepunt in Afrikaanse mediageskiedskrywing. — JDF