TON VOSLOO — VERSLAGGEWER, REDAKTEUR, BEDRYFSLEIER, GERESPEKTEERDE MAN VAN FORMAAT

Johannes Froneman bespreek die lewe en werk van een van die mees uitstaande mediamense wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

Oor Ton Vosloo is al heelwat geskryf. Daar is die gedenkboek Ton van ‘n man, boeke oor Naspers waarin hy noodwendig figureer, ‘n gedenkblad by sy uittrede, talle koerantberigte en tydskrifartikels en, les bes, sy eie herinneringe, Oor grense.

Boonop ken mediamense talle stories oor hierdie gewese redakteur van Beeld en besturende direkteur en voorsitter van Naspers. Soos oor die keer toe hy die bure se hond in die middel van die nag uit ‘n yskoue swembad gered het. Of sy droë reaksie op Piet Cillié se mededeling dat die direksie hom as besturende direkteur wil aanwys: “Why pick on me?”

Wel, die direksie het geweet wat hulle aan Vosloo het en is daarna oor en oor reg bewys.

Daar is soveel fasette tot die man. Hy was ‘n ware mediareus — een van  bittermin wat nie net as verslaggewer en redakteur sy merk gemaak het nie, maar ook as bedryfsleier die respek van almal gekry het. Min word  boonop voorsitter van ‘n Sanlam.

Vosloo was nie net ‘n beroepsukses in die oortreffende trap nie, maar is ook ‘n voorbeeld van ‘n aangename mens met wye belangstellings — veral ook in almal wat hy ontmoet het. ‘n Man wat “doodgewoon ‘n goeie mens” is, soos Conrad Sidego dit gestel het; iemand met soveel “common sense (Salie de Swardt) en “kaalvoet deur die lewe (loop), of dit nou op sand of persiese tapyte is” (Jan Prins). ‘n Regte, egte reus sonder vieterjasies.

Artikels uit die gedenkblad 50 Jaar in joernalistiek wat in 2006 gepubliseer is. Erkenning: Die Burger, Arlene Prinsloo (uitleg) en Hanlie Malan (grafiese kuns).

Theunissen Vosloo het in Uitenhage groot geword, die seun van ‘n polisieman-pa (wat jonk oorlede is) en ‘n ma wat moes raap en skraap om ‘n gesin eiehandig groot te maak. Hy kry vroeg die bynaam Ton en lewer reeds as skoolseun sy eerste joernalistieke bydraes.

In sy memoires merk Vosloo op dat hy as 17-jarige “eensaam maar selfstandig” was. Hy het “baie sterk” die gevoel gehad dat hy iets van sy lewe moet maak, wat ook al die berge voor hom. 

Ná matriek sluit hy aan by die Departement van Bosbou in Pretoria. Dit lyk kwalik na die eerste stap in ‘n roemryke medialoopbaan. Sy tyd as klerk in die staatsdiens het egter nie lank gehou nie en van sy poging om by die Universiteit van Pretoria vir ‘n graad in te skryf, het ook nie veel gekom nie.

Die Oosterlig en Landstem

Tydens ‘n vakansie bied Die Oosterlig in Port Elizabeth hom ‘n pos aan en hy aanvaar dit. Dit was 1956 en die res is geskiedenis.

By Die Oosterlig het hy spoedig al hoe meer in die politiek begin belangstel en, skryf hy later,  die “magiese samesyn en broederskap van koerantmense  leer ken en dit terdeë geniet”. Ton en sy eerste vrou, Lorna, wys onder meer hul joernalistieke slag met beriggewing oor ’n opspraakwekkende moordsaak – van ‘n 33-jarige vrou wat ter dood veroordeel is weens die vergiftiging (met arseen) van haar man. Oosterlig se verkope styg fluks – en lei daartoe dat Vosloo ’n aanbod van Die Landstem in Kaapstad kry wat hy nie kon weier nie.  

Daar doen hy aanvanklik alles, insluitende die vertaal van ‘n Engelse koerantman (A.C. Parker van die Cape Argus) se rugbystories onder die skuilnaam “Die man wat weet”. (Later het George Gerber die naam oorgeneem.)

‘n Ou vriend en kollega by Landstem en self later ‘n groot figuur by Naspers, Jan Prins, onthou:

“Theunissen was gou ‘n puik sub, storie- en sportskrywer en handig met die kamera. Hy het ervaring in die tegniese afdeling in die dae van warmlood-druk opgedoen en oor sirkulasie en verspreiding en al die dinge geleer wat ‘n koerant se hart laat klop.” Al hierdie ervaring sou hom later goed te pas kom.

Maar eers het die redakteur, Piet Beukes,  Vosloo se talent as parlementêre beriggewer en selfs as rugbyskrywer saam met die All Blacks van 1960 en die Britse Leeus van 1962 benut. 

In 1962 vergesel Vosloo en sy vrou die Mej. Suid-Afrika na die Mej.Wêreld-wedstryd in Londen en reis daarna deur Europa en voer talle onderhoude. “My oë het oopgegaan. Dit het vir my ‘n nuwe wêreld geskep — danksy Piet Beukes. Hy het dit aangemoedig.”

Landstem het Vosloo egter begin verveel en toe kom die blad boonop en spog hy is die “grootste Afrikaanse koerant in die wêreld”. Vosloo sê hy het “ ‘n broertjie dood aan hierdie ding dat jy die grootste en beste in die wêreld is … dis hubris,” het hy in ‘n onlangse onderhoud opgemerk.

Die eerste vier koerante waar Ton Vosloo gewerk het.

Toe kom Marius Jooste met ‘n aanbod aan Ton om hom by Dagbreek in Johannesburg as politieke korrespondent aan te sluit. Vosloo beding ook vir sy vrou ‘n pos en sê ja. Vosloo vertel verder:

“Einde Junie 1963 kom ek, Lorna en ons tweejarige dogter Nissa met ons Volkswagen in ‘n grys, yskoue Johannesburg aan … Daardie skuif na die Noorde het my lewe verander. Ek het groot drome gehad, maar ek sou my toe skaars kon indink hoe ver hulle my sou bring.”

Die Beeld

Toe Die Beeld in 1965 in Johannesburg tot stand kom, was Vosloo deel van die eerste redaksie. Die stil jong man het genoeg selfvertroue ontwikkel om hom by sy destydse redakteur by Die Oosterlig en toe eerste hoofbestuurder van die nuwe koerant, Dirk de Villiers, aan te bied. So het Vosloo finaal in Nasionale Pers se kraal beland, waar hy tot heel bo sou uitstyg.

Die stigting van Die Beeld is ‘n storie op sy eie, want die blad het met ‘n ongekende openheid (vir ‘n Nasionale koerant) oor Afrikanersake geskryf, veral ook die woelinge in die regerende Nasionale Party ná dr. H.F. Verwoerd se dood in 1966. Reeds in sy eerste uitgawe publiseer Die Beeld, waarvan Ton Vosloo die politieke beriggewer was, ‘n voorbladhoofberig onder die opskrif Nat-rusies wek kommer.

Hierna volg voorbladberigte soos Groot swart motors waarin krities gekyk is na die direkteurskappe van Volksraadslede. Die NP-regering is dus nie die roede gespaar nie, wat in daardie stadium nog ongehoord vir Nasionaalgesinde koerante was. Vosloo was ‘n belangrike rolspeler in hierdie ontwikkeling in die Afrikaanse joernalistiek. Te min om die trein van die spore af te skud, maar darem.

Dirk de Villiers skryf later: “(Schalk) Pienaar (die redakteur) en sy senior span het ‘n eie benadering gehad wat beslis nie altyd gestrook het met wat in sommige Kaapse kringe verwag is nie.” Anders gestel: Die Beeld was ‘n Sondagkoerant in die populistiese sin van die woord en nie bloot ‘n Sondaguitgawe van die konserwatiewe Burger nie.

Ondanks teëspoed en teenkanting vanuit bepaalde noordelike geledere, was Die Beeld ‘n reuse-sukses. Tog het sy konkurrent, Dagbreek, telkens net-net sy neus voorgehou en kon Die Beeld nie sy sirkulasie klop nie. Albei koerante het swaar verliese gely en dit loop uit op die samesmelting van twee aartsvyande en die stigting van Rapport.

Die Beeld se groot betekenis lê, aldus Dirk de Villiers, daarin dat hy die weg voorberei het vir die latere stigting van die dagblad Beeld, waarvan Vosloo die suksesvolle redakteur sou word. Vir eers was Vosloo  ‘n sleutelfiguur by Rapport. Hy is as nuusredakteur aangestel, maar sou eers ‘n tyd in Amerika as Nieman-genoot deurgebring.

Rapport

Rapport was redaksioneel onder beheer van Nasionale Pers  met Willem Wepener as redakteur. Die koerant het visueel soos Die Beeld gelyk en het van krag tot krag gegaan. Teen 1974 verkoop Rapport gereeld meer as 500 000 per week, ‘n ongehoorde sirkulasie vir ‘n Afrikaanse koerant en selfs meer as die markleier vir so lank, die Sunday Times. Daarin het Vosloo as nuusredakteur noodwendig ‘n belangrike rol gespeel.

Rapport het polities die verligte (of “liberale”) rigting van sy voorgangers voortgesit. Dit was geen onkritiese koerant nie. Afrikaanse joernalistiek was nie meer so partygebonde soos voorheen nie, maar ondersteuning vir die Progressiewe Party en sy opvolgers was nie op die tafel nie.

Met Rapport (waarin Naspers ‘n 50%-belang gehad het) goed op dreef, het die maatskappy begin aanvoorwerk doen vir die stigting van ‘n dagblad. Dit sou in 1974 gebeur met die publikasie van Beeld. Naspers het van sy heel beste mense vir dié taak geoormerk: Schalk Pienaar as hoofredakteur, Johannes Grosskopf as redakteur, Ton Vosloo en Ebbe Dommisse as  assistentredakteurs, Hennie van Deventer as nuusredakteur … om net die topstruktuur te noem.

Nog ‘n heftige sirkulasiestryd was onvermydelik, want Perskor het vier Afrikaanse dagblaaie in die veld gehad. Beeld het die dagbladomgewing noord van die Vaal ‘n inspuiting gegee, want sy belangrikste opponent, Die Transvaler, het merkbaar verbeter en onder dr. Willem de Klerk is ‘n stewige koerant uitgegee.

Beeld

Beeld se vordering was gevolglik minder goed as wat verwag is. Van Deventer onthou hoe Grosskopf  net nie kon glo dat “sy koerant wat met soveel drome en so ‘n sterk redaksie gestig is, so hartverskeurend vasval nie”. Ten einde laas het die redakteur die skuld gekry en is hy  sywaarts geskuif om vir die jong Ton Vosloo plek te maak. “Sy leierskap en harde werk het in sy ses jaar in die pos ‘n reuse-bydrae tot die vooruitgang van Beeld beteken,” skryf Prins.

Vosloo het sy nuusredakteurs op hul tone gehou en dag na dag gestreef na ‘n beter produk. Die resep was basies: Slaan ‘n groot storie hard. Trouens, probeer elke dag elke storie uit soveel hoeke as moontlik belig sodat daar niks vir ander koerante oorbly nie.

Oor sy mensekennis én kennis van mense, skryf Arrie Rossouw, ‘n vorige redakteur van Die Burger: “Hy onthou name en gesigte. Maar nog belangriker is die feit dat hy intens belang stel in mense wat hy ontmoet … “ Sy redaksielede het dit geweet — en geweet hul baas veg in die voorste linie. Hy was nie ‘n redakteur wat openbare aandag gesoek het nie.

In 1980 kom die geknoei met sirkulasiesyfers by Die Transvaler aan die lig en moes die blad as boetedoening in 1983 Pretoria toe skuif — maar dan as middagkoerant. Die slag was gelewer en Beeld het teen 1983 deur die 100 000-grens gebars en sy eienaar met goeie winste begin beloon. Intussen het Beeld vernuwing bepleit en skryf Vosloo: “Ons respekteer die krag van nasionalisme. Waarom dit dan onderskat by die mense wat ‘n meerderheid in ons land vorm?”

Onder Vosloo se leiding wen Beeld die koerantstryd in die Noorde en haal die blad se sirkulasie die magiese 100 000.

Dat die regering die een of ander tyd met die (toe nog verbanne) ANC moes praat, was vir Vosloo duidelik en het hy ook so in sy koerant geskryf. Al was dit vir opposisiegesindes in die Engelse pers en Progressiewe Federale Party voor die hand liggend, was dit ‘n waagstuk om dit in ‘n Nasionaalgesinde koerant te skryf.

Beeld het ook onder Vosloo se leiding swart joernaliste aangestel, artikels met ‘n swart koerant uitgeruil en kort na sy aanstelling as besturende direkteur is drie bekende swart publikasies, City Press, Drum en True Love gekoop. Saam met sy koerantkollegas by Naspers én Perskor het Vosloo dus die pad van hervorming ondersteun en heel dikwels voor geloop, maar dan in die beperkte kring van Nasionaalgesindes.

Al was dit waagmoedig vir die tyd en konteks, kan vrae gevra word oor die tempo van verandering en die nie-amptelike verbintenis wat Beeld en Naspers onder Vosloo gehandhaaf het — totdat dié band in 1994 finaal gebreek is en Vosloo eerlik genoeg was om te verklaar dat dit te lank geduur het.

‘Met min gewete…’

Voorts het hy in ʼn sin daarvoor boete gedoen deur ʼn baie positiewe artikel oor die gewese Parlementslid Helen Suzman in 2009 in Rapport te skryf. Daarin het hy onder andere gesê: “Ons Afrikaans-nasionale koerantmanne het jillend en met min gewete flink deelgeneem aan aanvalle op Helen Suzman en die Prog-beleid.” Suzman en haar Progressiewe (Federale) Party (wat vandag voortleef as die Demokratiese Alliansie) het volle politieke deelname deur alle Suid-Afrikaners bepleit toe apartheid nog sterk gestaan het.

Dalk was dit ‘n kombinasie van ou politieke lojaliteite en markrealiteite wat Beeld (en ander Afrikaanse koerante) altyd aan die versigtige kant gehou het. By Die Transvaler is dr. Willem de Klerk immers in die pad gesteek omdat hy té verlig was. Daar was ‘n prys te betaal as jy té vêr vooruit gedink en geskryf het.

Vosloo sou later weer moes erken hy was verkeerd. Dit was nadat hy in 1997 vasgeskop het teen verskoning vra by die Waarheid-en-versoeningskommissie wat erge menseregtevergrype onder leidng van aartsbiskop Desmond Tutu ondersoek het.

Ondanks Vosloo (en sy senior kollegas) se standpunt, het die jong Turke by Naspers onder leiding van Tim du Plessis besluit hulle kan nie maar stilbly nie. Daarom het hulle in hul persoonlike hoedanigheid erken dat hul koerante nie hul lesers altyd behoorlik ingelig het oor die onregte van apartheid nie. Die joernaliste het bevestig dat hulle hulself moreel “mede-verantwoordelik” geag het vir wat onder apartheid gebeur het en “omdat ons ‘n stelsel in stand help hou het waarbinne sulke vergrype kon plaasvind”.

Vosloo was allermins gelukkig oor hierdie “dislojaliteit”, maar die voorbokke het tog later redakteurs by Naspers-publikasies geword. By Du Plessis se uittrede by Rapport erken Vosloo dat hy en Du Plessis verskil het oor die WVK, maar dat die geskil opgelos is. Tog het sy “destydse standpunt” nog by hom gespook. ”Tim die Jonge het Tim die Oue seker ‘n punt (of guns?) bewys met sy aanslag wat deur die eeue by mens en dier voorkom: die jongeres wat die oues uitdaag,” skryf jy. 

Vir Du Plessis was die verklaring ‘n noodsaaklike “doeanepunt en paspoortstempel” onderweg na ‘n nuwe bestel. Vosloo hou in 2015 egter vol dat die “ongenuanseerde versoek” van die WVK nie belang gestel het in Naspers se hele geskiedenis van diens nie, maar bloot op ‘n “geselekteerde tydperk” wou fokus.

In die 2016-gedenkboek Ton van ‘n man vertel vriende en kollegas meer oor die vele fasette van Ton Vosloo. Sy herinneringe verskyn in 2018 en gee ‘n insig in sy agtergrond en denkwêreld.

Uit lojaliteit teenoor sy voorgangers wou Vosloo nie meedoen nie. Lojaliteit was bepalend. Tog erken hy dat apartheid in ‘n “onmenslike wreedheidsbestel ontaard” het en dat Naspers en sy koerante se ondersteuning daarvan verkeerd was.

Nog later, in 2018, skryf Vosloo in sy herinneringe: “Die kwessie spook na 20 jaar nog steeds by my.” Het Vosloo dan tog gemeen hy moes die kwessie anders gehanteer het? Sy wroeging reflekteer iets van die debatte wat steeds op sosiale media uitspeel: moes die verligtes nie sterker teen apartheid gepraat het nie?

Vosloo sluit die hoofstuk in sy boek oor die kwessie af met ‘n verwysing na skenkings aan verskillende politieke partye, insluitende die DA, ANC en Cope. “Moet ons daarvoor ook om verskoning vra? Naspers moes met sy geskiedenis in die reine kom.”

Wat sou die vraag kon beteken? Relativeer hy daarmee die apologie wat hy pas oor die WVK-gedoente gemaak het? Want niemand verwag tog ‘n apologie oor die skenkings nie. En wat sou dit beteken dat Naspers met sy geskiedenis in die reine moes kom?

M-Net

Tydens die gebeure rondom die WVK was Vosloo reeds etlike jare besturende direkteur van Naspers. As mediabedryfsleier het hy talle hoogtepunte beleef. Die belangrikste was waarskynlik sy aandeel in die stigting van M-Net, waaruit voortgevloei het Multichoice en DStv, asook die notering van Naspers in 1994 op die Johannesburgse aandelebeurs.

Daarna volg die internet-ekskursies onder leiding van Vosloo se opvolger, Koos Bekker. Sommige van sy beleggings het gesukkel en die direksie het gemor, maar Vosloo het bankvas agter Bekker gestaan.

Die fabelagtige sukses van Naspers was onder meer te danke aan die belegging in die Chinese internetmaatskappy Tencent en het daartoe gelei dat Naspers die grootste maatskappy in die land geword het. Selfs sonder die gelukskoot met Tencent was die Vosloo-Bekker-kombinasie ‘n reuse-wenner. (Sy aanstelling van twee oudkollegas by Beeld, Salie de Swardt en Hennie van Deventer, in senior posisies by Naspers het eweneens goeie vrugte opgelewer en moet tot sy eer aangeteken word.)

Ton Vosloo het ‘n belangrike rol gespeel in die opgang wat Salie de Swardt by Naspers gemaak het. Hulle het lank saamgewerk — by Beeld en later by hoofkantoor in Kaapstad. Behalwe vir sy fenominale geheue is sy lojaliteit en vermoë om talent te identifiseer van Vosloo se mees uitstaande kenmerke.

Almal sal egter nie saamstem met Vosloo se ondersteuning van Bekker oor die wegdoen van kruissubsidiëring nie. Vosloo sê: “Hierdie beleid van geen kruisubsidiering nie, is waarskynlik die korrekte pad in terme van waterdigte wins- en verliesrekeninge in state.”

Kritici sal vra: Maar as M-Net (vandag Multichoice) oorspronklik gestig is met die doel om koerante te help, wat het verander dat dit nie meer van toepassing is nie? Waarom is toegelaat dat die instrument wat goeie joernalistiek (op papier, maar ook digitaal) moes ondersteun, gekaap word? Was dit nie ‘n enorme vertrouensbreuk nie? — ook teenoor die groot geeste wat Vosloo vooruit is en vir wie hy soveel agting het.

Die geskiedenisboek

Oor ‘n ander saak het Vosloo en Bekker (toe reeds in die voorsitterstoel) wel drasties verskil, naamlik die publikasie van Naspers se geskiedenis, soos opgeteken deur prof. Lizette Rabe. Maar toe was Vosloo nie meer voorsitter nie en het Bekker se woord alleen getel.

Vir iemand wat so ‘n hoë premie op lojaliteit stel, moes dit ‘n klap in die gesig gewees het. Dat hy  in sy herinnerings daaroor skryf, is veelseggend, want Vosloo is nie een vir sommer kla nie. Ironies genoeg kan die manuskrip nie privaat uitgegee word nie, want Naspers het kopiereg daarop — iets waarvoor Vosloo self gesorg het. Min het hy geweet dat hierdie oënskynlik verstandige stap juis daartoe sou lei dat ‘n belangrike perspektief op sy geliefde Naspers nie daglig sou sien nie.

Ton Vosloo saam met Bun Booyen, wat as redakteur van Weg! en Die Burger gedien het.

Wat net bevestig dat selfs ‘n invloedryke mens soos Vosloo nie altyd kry wat hy vra of verkies nie. Dit geld ook die gevolge van die digitale revolusie en die vervlentering van papierkoerante. Hier moes Vosloo in sy aftreejare van die kantlyn toekyk hoe talle joernaliste hul werk verloor en koerantredakteurs tot minder belangrike rolspelers gereduseer word. Self sou hy nie vandag ‘n koerantredakteur wou wees nie.

Maar draai eers ‘n paar jare terug. Die notering van Naspers in 1994 was ‘n draaipunt in die maatskappy se geskiedenis — en dit het op Vosloo se wagbeurt gebeur. Dit het moontlikhede oopgemaak in ‘n tyd toe kapitaal nodig was en was sekerlik die rede waarom Naspers eksponensieel kon groei tot ‘n internasionale rolspeler. Daarvoor moet Vosloo en sy direksie seker die eer kry. 

Dit was ook die begin van die einde van ‘n maatskappy wat ‘n voorsitter (Piet Cillié) gehad het wat gefrons het vir die woord “wins” en liewer van “oorskotte” wou praat. Hy het Naspers nog primêr as ‘n voertuig vir (volks-) opheffing gesien. Tog, reeds in die 1993-boek Oor grense heen is ‘n nuwe pad gekies: die pad na ‘n nasionale pers (met klein letters gespel).

Die breuk met die ou benadering het dus nie oornag gekom nie. Maar waar die nuwe benadering ‘n stap weg was van eng Afrikanernasionalisme en ‘n aanvaarding van ‘n Suid-Afrikanisme (wat Afrikanerskap sekerlik kon insluit) het dit nie noodwendig ‘n keuse vir ongebreidelde kapitalisme beteken nie. Daardie dimensie het Koos Bekker ingedra, onder die beskermende hand van Vosloo.

Ton Vosloo was deur die jare ‘n ondersteuner van die kunste. Hier is hy saam met Zanta Hofmeyr, David Kramer en Reneé Kramer.

Dat dit hom pla of Naspers sy “siel” verloor het, soos sommige kritici meen, is gewis. Vosloo wy ‘n hoofstuk in sy herinneringe aan die vraag. Daarin argumenteer hy dat indien Naspers nie “tydig groot stappe geneem het wat die omringende samelewing en die tegnologiese tendensies van die tyd vereis het nie, sou ons vandag in sak en as in ‘n kleiner wordende hoekie gesit het…” En wat sou “van ons ‘siel’ of idealisme geword het” as Naspers nie betyds aangepas het nie? vra hy.

Die kritiek is egter nie op tydige vernuwing nie; dit was nodig ná dekades van volgehoue ondersteuning van ‘n bankrot regering én natuurlik die dramatiese tegnologiese veranderinge. Die vraag is of ‘n maatskappy soos Naspers noodwendig sy eiesoortige styl (wat hom so duidelik van Perskor onderskei het) moes prysgee?

Bekker se woorde

Was dit korrek om aan Koos Bekker sulke vrye teuels te gee — ‘n uitnemende sakeman, maar een wat dit (ten minste aanvanklik) met ander se geld gedoen het. Daarom val dié woorde deur Bekker in Rapport steeds skokkend op:

“Sakelui is selfsugtig. Hulle skep strukture om geld te maak. Niks verkeerd daarmee nie, soos Adam Smith besef het, mits almal binne die wet bly. Laat elkeen op sy klein en gierige, maar wettige, manier geld najaag en in die proses werk skep.”

Dit is nie woorde wat mens uit Vosloo se mond sou hoor nie. Dit verteenwoordig nie die benadering wat mense sal laat sê: “Vir daardie man wil ek werk; hy snap iets wat my inspireer en waaraan ek ‘n loopbaan wil wy” nie. Die totale dominansie van die geldmotief is wel die taal van die nuwe Naspers.     

Ander vrae kan ook by nabaat aan Vosloo gevra word, soos wat oudregter Johann Kriegler in ‘n resensie van Vosloo se Oor grense  in Rapport gedoen het. Daarin gebruik Kriegler die woord “lojaliteitsjoernalistiek” om Naspers (en, by implikasie, Vosloo) se joernalistiek te tipeer.

Lojaliteit bo alles

Vir Vosloo, wat lojaliteit bo alles stel, is die term dalk nie ‘n probleem nie. Daar is immers nie fout te vind met lojaliteit nie. Inteendeel. Die vraag wat in die lug hang, is of die gewone joernaliste wat hul werk verloor het (of gedwonge vroeg moes loop) die Naspers-lojaliteit ervaar het? Of die wyse waarop lojale senior pensioentrekkers ‘n enkele jaarlikse ete (en samesyn) ontneem is? Of die wyse waarop werknemers deur “transformasiesessies” gedruk is? Of die opskort van daardie gawe byvoordeel van gratis tydskrifte, wat die maatskappy bittermin gekos het, maar lojaliteit gekweek en behou het?

Hierdie sake kan kwalik op Vosloo se brood gesmeer word, maar die oorgang na ‘n suiwer winsgedrewe masjien onder Koos Bekker het onder Vosloo se bewind begin — tot die punt waar Vosloo se woord oor die Naspers-boek deur Bekker verwerp is.  

Tot Vosloo (en sy vrou, Anet) se krediet moet genoem word dat die Vosloos geld bewillig het vir ondersoekende joernalistiek. Sy bydrae op soveel ander terreine — Afrikaans, natuurbewaring, opheffingsprojekte — spreek ook boekdele. En baie van die voorbeelde van hulpverlening is diskreet gedoen.

Daarmee het ‘n eerbare mediaman steeds gewys sy hart sit op die regte plek. Die Naspers-“siel” is tog nog lewend, al is dit net by individue soos Ton Vosloo. 

Dit alles lig Vosloo uit bo najagers van eiebelang en hooggestemde ego’s. Min mense bêre drie eregrade in die laai en verkies om gewoon Ton Vosloo te wees. Daarom noem talle mense uit sy koerantdae by Beeld hom steeds “meneer”. Want dit is hy in die heel beste sin van die woord. 

Bronne:

Persoonlike onderhoud en e-posonderhoud met Ton Vosloo.

Ton Vosloo se herinneringe, Oor grense (uitgegee deur Jonathan Ball, 2018).

50 jaar in joernalistiek. Gedenkblad by viering van Vosloo se 50 jaar in die joernalistiek.

Ton van ‘n man, ‘n gedenkboek wat in 2007 uitgegee is onder redaksie van Lizette Rabe.

Behalwe vir sy herinneringe, het Vosloo opgetree as samesteller van ‘n bundel politieke rubrieke deur Schalk Pienaar en het hy talle geleentheidsartikels en hierdie twee hoofstukke vir boeke geskryf:

In die handboek Joernalistiek vandag (redakteur A.S. de Beer) het Vosloo oor redakteurskap geskryf:

In die boek Stormkompas (saamgestel deur Nico Smith, O’Brien Geldenhuys en Piet Meiring) was Vosloo se tema die rol van die kerk in die hervormingsproses.

Geplaas op 13 Nov. 2021