Tom Ferreira het as joernalis en kommunikasiepraktisyn ‘n loopbaan van bykans vyf dekades agter die rug. Hier vertel hy aan Johannes Froneman hoe sy loopbaan geloop het — van Die Volksblad tot bedryfsjoernalis en kommunikasiepraktisyn wat groot maatskappye met hul interne en eksterne kommunikasie gehelp het.
Tom, jy het ‘n lang loopbaan gehad as dagblad-joernalis, as bedryfsjoernalis en kommunikasiepraktisyn.
Ek het op 3 Desember 1973 as verslaggewer by Die Volksblad begin. My loopbaan as joernalis, bedryfsjoernalis en kommunikasiepraktisyn strek dus oor 49 jaar. Ek doen steeds skakelwerk vir ‘n paar maatskappye, waaronder die Vrystaat Cheetahs-rugbyunie.
Vertel hoe jy in die joernalistiek beland het. Universiteit op Kovsies?
Ek het ‘n BA-graad en ‘n Hoër Onderwysdiploma (HOD) aan Kovsies verwerf (toe ek in die jare tagtig by Kovsies gewerk het, het ek ook ‘n honneursgraad in Kommunikasiekunde buitemuurs verwerf).
In sy Volksbladjare was Tom en die rubriekskrywer Blouwillem Theron woonstelmaats. Hulle was ook saam in Reitz-kamerwonings op Kovsies, waar hulle gereeld vir die “fraaie meisies” in die dameskoshuise gaan sing het. Tom is die een met die kitaar.
My plan was aanvanklik om onderwys te gee, maar ek kon nie ‘n pos in Bloemfontein – waar al my vriende (en vriendin!) in daardie stadium was – kry nie. Ek het toe by ‘n paar instansies in Bloemfontein aangeklop vir werk, waaronder die museum, die munisipaliteit en die argief. Die Volksblad het my ‘n pos aangebied teen R310 per maand, wat R10 per maand meer was as die museum. Dit was dus ‘n maklike besluit, veral omdat ek van skryfwerk gehou het.
Jy het daar saam met ‘n aantal mense gewerk wat ook lang loopbane as joernaliste gehad het. Vertel meer oor hulle.
As ek die drie mense moet uitsonder wat die grootste impak op my joernalistieke loopbaan gehad het, was dit my eerste redakteur, dr. Bart Zaaiman, my eerste nuusredakteur, Chris Moolman, en Hennie van Deventer, wat in 1980 as redakteur by dr. Zaaiman oorgeneem het.
Chris Moolman was die man wat my skryfwerk geslyp en my sin vir nuus ontwikkel het. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy in my vermoëns geglo het nie, wat my die selfvertroue gegee het wat so broodnodig is in die joernalistiek.
Dr. Zaaiman en HvD (Hennie van Deventer), se geaardhede het hemelsbreed verskil. Zaaiman rustig, waardig en besadig; HvD wat soos ‘n warrelwind deur die verslaggewer- en subkantoor geskarrel het. Dit het in ‘n orkaan ontaard wanneer ‘n groot storie breek. As daar ooit ‘n koerantman in murg en been was, dan was dit HvD. Swak of selfs “gemiddelde” werk kon hy nie doog nie.
So het hy op ‘n keer soos ‘n ton bakstene op my afgekom omdat hy nie tevrede was met my beriggewing oor ‘n PW Botha-toespraak nie. Ek het nietemin uitstekend met hom oor die weg gekom. Dit was ook hy wat my die geleentheid gebied het om rubrieke te skryf, een van my groot liefdes. My rubrieke was meestal onder ‘n skuilnaam: Korrelkop (Die Volksblad); die Man wat Weet (Die Volksblad); en Dwarslat (Beeld). Laasgenoemde rubriek het ek vir dertien jaar weekliks geskryf.
Tom roem daarop dat hy die rubriekskrywer Hanlie Retief se eerste artikel geplaas het. Sy het destyds (1982) as kommunikasiekundestudent op sy versoek ‘n artikel oor Zola Budd geskryf wat in Kovsies se alumnitydskrif, Die Bult, geplaas is. Die foto is geneem by ‘n bekendstelling van een van Rudie van Rensburg (links) se boeke waar Tom saam met Hanlie as gespreksleier opgetree het.
Ek kan ook daarmee spog dat ek saam met drie van die land se voorste misdaadskrywers, Chris Karsten, Rudie van Rensburg en Deon Meyer, gewerk het. Ek en Deon loop al ‘n lang pad saam (ons het in 1976 ontmoet toe hy as lid van die Lugmag se sanggroep die “Kanaries” in Bloemfontein opgetree het). Ek kan trouens daarop roem dat ek vir Deon – wie se kop ook onderwys toe gestaan het – na Die Volksblad gelok het.
Ons het naamlik ná ‘n intervarsity in 1979 by die dam op Potchefstroom (waar hy aan die PUK gestudeer het) ‘n bier of twee gedrink. Hy het my bestook met vrae oor my beroep as joernalis, ek het hom aangemoedig om aansoek te doen en in 1981 het hy as jong joernalis by Die Volksblad ingeval. Twee jaar later, toe ek as skakelbestuurder by Kovsies gewerk het, het ek hom ook daarheen gelok, waar ek opnuut onder die indruk gekom het van sy skryftalent.
Jy hou nog kontak met party?
Ek en ‘n dosynstuks van my gewese kollegas kom nog gereeld in Kaapstad bymekaar om stories oor die goeie ou dae in Voortrekkerstraat 79 uit te ruil. Ons noem onsself die “Volksblad-omgeegroep” of VOG (Deon Meyer het dié gepaste akroniem soos blits uit die holster getrek).
Die VOG se kuiersessies het in 2005 in Bellville begin met ‘n kerngroepie bestaande uit Johan (Beatle) Coetsee, Jurie Wessels, die uwe, Gert Myburgh en Emile (Mielie) Terblanché. Ons het destyds in ‘n plek genaamd Die Forum koerantstories opgerakel terwyl ons gróót biere uit reuse-glasbekers geteug het.
Die Volksblad-omgeegroep (VOG) in Kaapstad het saam gekuier pas nadat Volksblad se laaste gedrukte koerant in 2020 die lig gesien het. Hier is Tom (tweede van links) saam met ‘n paar van die groep: Ansie Welman, Gert Myburgh en Rudie van Rensburg.
Rudie van Rensburg, Philip van Rensburg, Tobie Wiese, Jan Bezuidenhout, André Brink, George Claassen, Pieter Cronjé, Francois Lötter, Mariëtte Prins, Ansie Welman, Toitjie Vorster, Ronelle Terreblanché, Mossie Burger en Toekie Oberholzer het deur die jare by ons aangesluit, terwyl Chris Karsten, wat op George woon, ook ‘n slag of wat van ons byeenkomste bygewoon het. In sy dae as parlementêre verslaggewer in Kaapstad het Volksblad se pas afgetrede redakteur, Gert Coetzee, die voorreg gehad om tot die VOG se binnekring toegelaat te word.
Hennie en Tokkie van Deventer het die VOG ook ‘n slag of wat genooi na hulle pragtige huis op Melkbos, waar groot geeste soos Johan van Wyk, Pierre van Manen, Piet Theron en wyle Jan Scholtz ‘n slag of wat saamgekuier het.
Nadat kanker by hom gediagnoseer is, het wyle Nols Niemann op ‘n keer ‘n hond uit ‘n bos saam met ons gekuier, wetende dat sy tydjie op aarde kort word. Ek dink nie ek het al met enige kuiertjie iemand gesien wat homself so geniet nie!
Niemand het ons meer plesier verskaf as wyle George Claassen nie. By elke geleentheid het sy stories ‘n stertjie bygekry en het sy stem tot ‘n groter crescendo opgebou.
Ek het ook nog nie ‘n meer verstrooide mens as George teëgekom nie. Elke keer wanneer ons na ‘n nuwe kuierplek verskuif het, het hy hopeloos verdwaal. In ons koerantdae is hy op ‘n keer met ons kollega Marius Nagel se baadjie by die deur uit. Hy het die hele dag by die hof deurgebring en dit nooit agtergekom nie — dit terwyl die veel kleiner Marius se baadjie soos ‘n buustelyfie aan hom gesit het.
Ek het sedert daardie wonderlike Volksblad-jare by verskeie maatskappye gewerk. Nêrens het ek spangees, kameraarskap en lojaliteit ervaar soos wat in die jare sewentig en tagtig in Die Volksblad se redaksiekantoor geheers het nie. Ons het mekaar aangemoedig en genot geput uit elke scoop en elke “byline” van ons kollegas.
Vertel meer oor die uitdagings en plesiere wat jy as bedryfsredakteur ervaar het.
Die bedryfsjoernalistiek was ‘n heel nuwe wêreld. Anders as in die koerantwese, kom die stories nie na jou nie: Jy moet hulle gaan soek. Die groot uitdaging is dan om potensieel vervelige inligting (soos navorsing oor insekte of fungi) in iets interessants om te skep, iets waarin iemand soos Deon Meyer ‘n meester was.
‘n Jong Tom Ferreira en Deon Meyer (regs) saam met Martie Fourie. Die span by Kovsies se Kampusnuus en Die Bult het destyds talle pryse ingepalm.
Hooffoto bo: Die Vereniging van Bedryfsredakteurs (SAVR) het Tom in 1991 tot president verkies. Hy het sy kennis graag met met huisjoernaalredakteurs gedeel.
Die grootkokkedore by akademiese instansies en maatskappye het dikwels ook nie die begrip of aptyt vir die noodsaaklikheid om sulke inligting op ‘n verteerbare wyse aan te bied nie, wat tot groot frustrasie en konflik kan lei.
Die plesier was dat jy as bedryfsredakteur grootliks self oor die inhoud van die tydskrif of nuusbrief waarvoor jy verantwoordelik is, kan besluit, wat die vreugde soveel groter maak wanneer jy die eerste eksemplaar in jou hand hou.
Jy het ook ‘n boek oor bedryfsjoernalistiek geskryf. Ek het dit vir jare as handboek vir my studente gebruik. Hoe het dit gekom?
In my jare as bedryfsjoernalis was daar ‘n organisasie genaamd die Suid-Afrikaanse Vereniging van Bedryfsredakteurs (SAVBR), wat ongelukkig sowat twee dekades gelede doodgebloei het. Die vereniging se doel was hoofsaaklik om kursusse aan te bied vir bedryfsjoernaliste, talle van wie geen joernalistieke ondervinding gehad het nie en hulp nodig gehad het.
Ek was een van die gereelde aanbieders by hierdie kursusse. Die groot leemte was dat daar geen kursusmateriaal was nie. Ek en my opvolger as president van die SAVBR, Ingrid Staude, het toe besluit om ‘n boek oor bedryfsjoernalistiek te skryf. Die boek, Write Angles, was destyds (dit het in 1991 verskyn) in groot aanvraag, ook by universiteite en technikons.
Ek kan nie anders as om te grinnik as ek vandag na sommige van die hoofstukke kyk nie. Onthou, dit was voordat selfone, die internet en e-pos ons beskore was. Veral die hoofstukke oor interne kommunikasiemiddels, die drukproses en outeursreg is vandag heeltemal verouderd en lagwekkend.
Sekere goed sal egter nooit verander nie: Die hoofstukke oor skryfwerk, opskrifte en ontwerpbeginsels geld vandag nog en sal waarskynlik nooit verander of verouder nie.
En toe jou jare as kommunikasiekonsultant…
Een van die beste loopbaanbesluite wat ek geneem het, was om in die jare negentig as kommunikasiekonsultant te begin praktiseer. Ek was destyds kommunikasiebestuuder van die aluminiummaatskappy Alusaf in Richardsbaai, wat groot druk uit omgewingskringe ervaar het omdat die maatskappy ‘n nuwe smelter wou bou (ironies genoeg om die groot oorskot aan Eskom se kragopwekkingsvermoë te benut).
My hooftaak was om met belangegroepe te skakel en diegene wat warm om die kraag was oor die projek, koud te lei. Ons het verskeie interessante inisiatiewe van stapel gestuur, waaronder kompetisies wat met die nuwe projek verband gehou het.
Die projekkantoor, waar ek gestasioneer was, was in Johannesburg. Toe Alusaf druk op my begin plaas om Richardsbaai toe te trek, het ons ooreengekom dat ons paadjies gaan skei, maar dat ek steeds skakelwerk vir hulle uit Johannesburg sou doen. So het dit gekom dat ek in projek- en krisiskommunikasie begin spesialiseer het.
Ek was daarna by verskeie uitdagende, maar ook stimulerende, projekte betrokke, waaronder die Saldanha-staalprojek in Saldanhabaai, die Koegahaweprojek naby Port Elizabeth, die korrelbed-kernkragprojek wat by Koeberg gebou sou word en ‘n uraanmynprojek naby Swakopmund in Namibië.
Tussendeur het ek ook gekonsulteer vir maatskappye soos Norilsk Nickel, ‘n Russiese maatskappy met nikkelbelange in Suid-Afrika en Botswana; en die Australiese mynmaatskappy MacMahon, wat my genader het nadat sewe van hul werknemers, onder wie ‘n Suid-Afrikaner, in Nigerië ontvoer is.
Uit ‘n loopbaanoogpunt het ek baie om voor dankbaar te wees. Ek wonder dikwels hoe my lewe sou verloop het as dit nie vir daardie R10 per maand was wat my na Die Volksblad gelok het nie!
Geplaas op 23 Desember 2022.