Deur Johannes Froneman
Iewers in my koeranttrommel sal ek voorbeelde van perdebladsye kan kry. En rondom die eerste Saterdag in Julie sou al wat leef en beef geweet het watter perde hardloop in die July. Daarvoor het die foto’s en berigte gesorg.
Selfs mense wat nooit ‘n rand op perde sou verwed nie, het ‘n lootjie by die by die werk getrek. Jy het ‘n nommer gehad, al het jy nie geweet of dit die gunsteling s’n was of dié van ‘n donkie nie.
Die July het teen 2025 tot ‘n beriggie op die tweede laaste sportblad afgeskuif.

Die wedren is op die radio uitgesaai — selfs in Afrikaans. Was dit Gerhard Viviers wat die perde se kleure gememoriseer en sy bes gedoen het? Om ‘n perdewedren uitsaai is ‘n ander storie …
Die Sondag het al wat Sondagkoerant ‘n dowwe swart-wit-foto van die perde geplaas wat oor die wenstreep hardloop. Met aanduidings van wie is wie. Daarmee is die wedren se uitslag bevestig.
Dit alles was ‘n deeltjie van ons kultuur, danksy die publisiteit wat koerante — ook Afrikaanse koerante — aan dié een wedloop gegee het.
Die dagblaaie het selfs wedrenredakteurs gehad wat gereeld wenke geplaas het. Glo dit as jy wil, maar dit het koerante help verkoop.
Intussen het allerlei ander vorme van weddenskappe en dobbelary oorgeneem. En het koerante gekwyn.
Borgskappe en TV-advertensies verskaf vandag deurlopend groot prominensie aan sportgebeure. Dalk het van daardie geld vroeër na koerante gestroom.
Die aandag wat koerante aan die July gee, is vandag baie minder, maar danksy TV weet almal darem nog van die “July” — nou deur ‘n weddenskapmaatskappy geborg. Vroeër het dit vir lank as die “Rothmans July Handicap” bekend gestaan — toe dobbel taboe was en rook oukei.
In Durban, waar ons ‘n tyd lank naby die Greyville-renbaan gewoon het, het ek as skoolseun met my Halina Paulex oor my skouer teen ‘n uitkyktoring geklim en die perde by die 200-meter-merk gaan afneem. Die professionele fotograaf het my darem nie weggejaag nie, maar beduie ek moet kant toe staan. (My foto was nie te sleg nie.)
Op verskeie punte is hierdie foto’s geneem sodat dit later in wedrenpublikasies kon verskyn en wedders sien hoe hul perde op daardie tydstip vertoon het.
Al hierdie herinneringe vervaag teen die agtergrond van die storie van Sea Cottage, seker ons beroemdste perd ooit. ‘n Kampioen, as daar ooit een was. Maar toe besluit iemand, dalk ‘n beroepswedder wat baie geld sou verloor as dié perd wen, om in te gryp.
Sea Cottage is op die strand, waar die perde geoefen het, in die boud geskiet. Dit was voorbladnuus. Miljoene wat verwed is, was op die spel. Die perd het genoegsaam herstel om, as ek reg onthou, vierde te eindig.
Die spogperd in volle vaart.

Sea Cottage se jokkie het natuurlik gedink sy perd moes gewen het.

Die volgende jaar het almal verwag dat Sea Cottage sou wen, maar eindig toe saam eerste.
Dit was net so dramaties as Manie Kuhn se oorwinning in dieselfde omgewing in ‘n Comrades. Hy het toe mos ‘n Brit, Tommy Malone, letterlik by die eindstreep verbygesteek. Groot drama. Dramatiese foto. Groot nuus in die koerante.

Ook onthou ek vir Graeme Pollock wat in 1970 274 lopies in ’n toets teen die Aussies op Ou Kingsmead geslaan het. ‘n Klomp van daardie lopies het ek en ‘n paar maats saam met ons krieketmeneer beleef. Die koerante het dit die volgende dag bevestig: Pollock was meesterlik. (Die Springbokke het die reeks 4-0 gewen.)

Dit was lank voor televisie. Dit is stories wat nog op vergeelde koerantbladsye leef. Tog is hierdie gebeure (ingeprent) by ons wat dit “beleef” het. Dit is herinneringe wat danksy koerantberigte deel is van ons verlede. Dit is kosbare herinneringe wat nie deur ‘n latere stortvloed van sportgebeure op televisie uitgewis kan word nie.