TOBIE BOSHOF — POPULIS WAT NIE GEKNIEL HET NIE

Naas Steenkamp, gewese diplomaat en sakeman, vertel in sy vermaaklike boek Op ‘n galop na Buckingham-paleis (Human & Rousseau, 2011) hoe ‘n waarnemende ambassadeur in Londen hom in 1960 in die joernalis Tobie Boshoff vasgeloop het.

Boshoff was Naspers se man in Londen en het ‘n heel akkurate berig geskryf oor hoe die Britse eerste minister, Harold McMillan, die ongehoorde gedoen het om (waarskynlik aspris) laat by Suid-Afrika-Huis aan te kom vir ‘n belangrike geleentheid. Dit is deur Boshoff as ‘n teregwysiging van Suid-Afrika en sy apartheidsbeleid geïnterpreteer.

Uit Suid-Afrika kom Die Burger ‘n dag of wat later in Londen aan en die waarnemende ambassadeur, wat baie op sy waardigheid en posisie gesteld was, ontplof. Boshoff moet kom verduidelik.

Boshoff is die rustigheid self en kom, aldus Steenkamp, uit eie beweging — en nie omdat hy ontbied is nie. Hy ruik glo ‘n storie.

Die waarnemende ambassadeur staan nie op nie en bied ook nie vir die joernalis ‘n stoel aan nie. Hy trap hom uit oor sy “dislojaliteit”. Dit gee net “ammunisie aan die vyand”, tier die waarnemende ambassadeur. Suid-Afrika was juis erg in die spervuur.

“ ‘En toe, wat sê jy nou!’ kef Thys (Botha, die waarnemende ambassadeur) vir Tobie.

“ ‘U Eksellensie,’ sê Tobie, en dan kom dit afgemete, kalm maar met die regte mate van klem, ‘f*k u’.

“Hy draai om, stap uit, en knipoog in die verbygaan vir my,” skryf Naas, dalk met ‘n bietjie digterlike vryheid.

Die waarnemende ambassadeur skryf dadelik ‘n kwaai brief aan die gereserveerde besturende direkteur van Naspers, dr. Phil Weber. Wat min of meer as volg antwoord:

Tobie Boshoff … taai koerantman.

“Die pers verteenwoordig ‘n noodsaaklike en onafhanklike komponent van ‘n oop en vrye gemeenskap, en het as sodanig die plig om vreesloos die waarheid te vertel.

“Ek deel volkome die sentiment wat mnr. Boshoff teenoor u geuiter het, hoewel ek dit miskien in ietwat meer ‘diplomatieke’ taal sou uitgedruk het.”

Gegewe die jaar waarin hierdie episode hom afgespeel het, is dit nogal betekenisvol. Dit gee ook ‘n ander perspektief op die dienstigheid waarvan Naspers so dikwels (met reg) beskuldig is — ten minste in daardie jare waar “hul” regering aan die bewind was en die Afrikaanse koerante medestryders was.

Tobie Boshoff sou later redakteur van Huisgenoot word en ook ander senior posisies by Naspers beklee. Joernaliste sal seker van hom sê dat hy was ‘n joernalis se joernalis.

By sy dood in 2017 in die ouderdom van 88 is hulde gebring aan Boshoff as een van die bouers van Naspers. Ton Vosloo het genoem dat Boshoff die spilpunt was van die Sondagkoerant Die Beeld se sukses waar hy die eerste nuusredakteur was. “Hy was hardekwas maar vindingryk,” het Vosloo aldus ‘n berig op Netwerk24 gesê.

‘n Vriend van Boshoff het hom as “die meester van sensasie” beskryf. By Huisgenoot het hy die trajek van die blad in die 1970’s begin verander, maar die nuusinslag het nie gewerk nie en die ander veranderinge het nie dadelik inslag gevind nie.

Sy assistentredakteur, Niel Hammann, het die sensasiepad tot sy logiese konsekwensies deurgevoer en die blad na ‘n weeklikse sirkulasie van 500 000 gelei.

Boshoff was vroeër die hoofbestuurder van Rapport toe die blad in 1974 deur die 500 000-kerf gebreek het. Maar hy sal eerder onthou word as ‘n joernalis met ‘n oog vir die groot storie. — Johannes Froneman