Tienie Fourie – veelkantige joernalis

Johannes Froneman vertel die een en ander oor die joernalis Tienie Fourie, wie se veelkantige loopbaan oor meer as 50 jaar strek.

Tienie Fourie se  veelkantige, byna flambojante loopbaan het op prosaïse noot begin. As onderwyser. En so het dit 50 jaar later in opwindende China ‘n draai gemaak. Tussenin lê ‘n hele paar loopbane – genoeg om die meeste van ons effe afgunstig te maak.

Ná sy skooljare op Witrivier en Kempton Park, volg ‘n BA aan Tukkies. Toe gee Tienie onderwys aan ‘n Joodse skool. Afrikaans en godsdiensonderrig. Een van die leerlinge se pa was ‘n fotograaf by Rooi Rose en so kry Tienie die eerste van vele gapings – by Die Vaderland, waar hy op 1 Desember 1964 as verslaggewer ingeval het. As mens noem dat A.M. van Schoor destyds sy redakteur was, klink dit soos ‘n ander era, ‘n ander wêreld, want dit was.

Na die dekking van ‘n moord of twee ontsnap hy na die sportredaksie. Die opwinding van die Britse Leeus se 1968-toer en dié van die Wallabies in 1969 volg. En toe kry hy die kans om die betogertoer van 1969 in Brittanje te dek. Dawie de Villiers se Springbokspan het hier met glasstukke en duimspykers op die veld te make gekry, maar daar is deurgedruk.

Mannetjies Roux was egter keelvol en gooi ‘n betoger met ‘n bal, wat die senter natuurlik in die moeilikheid laat beland het. Mannetjies was reg om te loop, huis toe, maar Tienie loop die omgekrapte Mannetjies raak en gaan roep vir Dawie. Die kaptein praat hom gelukkig om om te bly.

Te midde van hierdie drama smelt Dagbreek (vir wie Tienie intussen begin werk het) saam met Landstem. Effe impulsief bedank Tienie sommer daar en dan daar uit Brittanje. Hy was nie lus vir die nuwe sportredakteur nie.

Terug in Johannesburg besluit die base hy is darem te bruikbaar en stel hom aan as nuusredakteur by Die Vaderland, die posisie wat hy jare later ook by Beeld beklee het. Maar voor sy eerste skof by Beeld, boer hy in Tzaneen se wêreld en tree hy as redakteur van Paratus op – destydse tydskrif van die Weermag. Dis hier waar die jonge Tony Leon een van Tienie se verslaggewer was. 

Ton Vosloo, destyds redakteur van Beeld, lok Tienie hierna na Beeld, waar hy na ‘n ruk as arbeidsverslaggewer na die parlementêre redaksie oorgeplaas is. Nou het Rhodesië deel van sy opdrag geword. Met die opbouend spanning in die buurland, stuur Naspers hom Salisbury (vandag Harare) toe, waar hy drie jaar lank die oorgang van Ian Smith se Rhodesië na Zimbabwe gedek het.

Hier was Tienie die eerste joernalis van ‘n Afrikaanse koerant om met Robert Mugabe ‘n onderhoud te voer.

Terug in Johannesburg word Tienie nuusredakteur van Beeld. Tienie vertel dat hy as hoofredaksielid ‘n artikel oor Desmond Tutu geskryf het, maar Willem Wepener, wat by Vosloo oorgeneem het as redakteur, het nie aptyt gehad vir Tutu nie.

Tienie was nogmaals kriewelrig en word Stoffel Botha, toe minister van Binnelandse Sake, se woordvoerder en adviseur.

Kon daar iets goeds uit hierdie verbintenis gekom het? Ja, se Tienie. Hy het suksesvol by die minister gepleit dat dr. Allan Boesak se paspoort teruggegee moet word en dat biskop Tutu se paspoort nié teruggetrek word nie, meen Tienie.

Ton Vosloo, vir wie Tienie net die hoogste agting het en hom as ‘n belangrike mentor beskou, bel hom op ‘n dag en sê Buitelandse Sake soek iemand soos hy. En so beland Tienie in die diplomatieke diens. Hy kon selfs kies: Parys of Londen. Sy keuse val, tot sy vrou se misnoë, op Londen. Dit was toe inderdaad ‘n ongelukkige keuse, want toe die Britte drie diplomate uit protes oor ‘n diplomatieke insident huis toe stuur, val die lot op Tienie. Totsien, Londen.

Was hy nie tog ‘n spioen nie? Tienie ontken dit, maar sê dat Militêre Intelligensie hom in sy Zimbabawe-tyd probeer werf het. Hy het by Willem Wepener se raad gehou: Jy dien nie eens in ‘n kerkraad nie!

So word New York sy volgende werkplek, met die onafhanklikwording van Suidwes-Afrika hoog op die agenda. Dit was ‘n tyd van eindelose vergaderings en klandistiene ontmoetings tussen die Russe, Kubane, Amerikaners en natuurlik die Suid-Afrikaners.

Sy belangstelling in die kernontwapeningskwessie laat hom in die vroeë 1990’s in Wenen beland. Suid-Afrika se kernwapenvermoë was hoog op die agenda en skakeling met die internasionale kernwapeninspekteurs was ‘n belangrike opdrag.

Tienie vertel dat hy later by was toe die meganiese dele van een van ons kernwapen opgekap en later gesmelt is. Hy het hierdie oomblikke op film vasgelê.

En so beland hy by die Raad op Kernveiligheid, vanwaar hy terug is na Beeld, waar hy op sestig met vervroegde pensioen gegaan het. Tussen hierdie voortydige “aftrede” en vandag lê een van die interessantste tye van sy lewe. Hy en sy vrou, Elkarien, is in 2004 China toe en was daar vir nege jaar. Hulle het in allerlei hoedanighede gehelp met die gee van Engels en het deurentyd ook as vryskutjoernaliste gewerk. Die Olimpiese Spele van 2008 was ‘n hoogtepunt.

Elkarien het intussen haar notaboeke vol geskryf en het haar ervarings in China in ‘n boek gepubliseer.

Tienie bly immer nuuskierig en vol vrae. Die basiese vraag bly: “Waar kom die storie vandaan?” Want Tienie het geleer van fopnuus lank voordat Donald Trump die woord bekend gemaak het.

Hy en sy vrou woon die afgelope jare naby Franschhoek.

Die storie het oorspronklik in Beeld verskyn.