Deur Thys Human, gewese redakteur van Oggendblad.
Marius Jooste, grootbaas van die destydse Perskor, was een van die merkwaardigste mense in die Afrikaanse koerantwese, maar ‘n omstrede figuur, want daar was diegene wat groot bewondering vir hom gehad het en andere wat baie min van hom gedink het. Ek vertel twee staaltjies om kante van die veelkantige man te illustreer:
Op ‘n goeie dag in die 1970’s sukkel ons om kontak te maak met Gerrit Viljoen. Viljoen was toe rektor by die ou RAU en ook voorsitter van die Broederbond en daar was die een of ander bewering oor die AB – dit kon van daardie tyd se Sunday Times-stories gewees het.
Dirk Richard stuur my na Marius Jooste om vir hom te gaan vra om te help. Hy luister na my storie, tel sy foon op en sê vir sy sekretaresse: “Kry vir my Gerrit Viljoen”. Oomblikke later lui die foon. “Dag, Gerrit. Dirk Richard se mense sê hulle sukkel om jou in die hande te kry. Praat met hulle. Thys Human sal jou bel.” En kaplaks sit hy die foon neer.
Gerrit Viljoen het onmiddellik met my gepraat toe ek hom ‘n paar minute later bel!
Jooste en die speaker
Die ander storie het ek (ook) met eie oë en ore ervaar, want ek was die hoofoorsaak van dit alles.
Die jaar 1970 was ‘n verkiesingsjaar. Ná die botsing tussen John Vorster aan die een kant en Albert Hertzog en Jaap Marais aan die anderkant in die Parlement in 1969 (waaroor ek uit die persgalery verslag gedoen het), het Vorster ‘n verkiesing uitgeroep om die nuwe HNP by die stembus te probeer vernietig.
Dit was daardie tyd gebruiklik dat die Parlement in ‘n verkiesingsjaar nie ses maande lank van Januarie tot Junie/Julie sit nie, maar vir sowat ses weke in Januarie/Februarie en dan weer ná die verkiesing vir ‘n paar maande van Augustus af.
Een Vrydagmiddag tydens die tweede sessie in laat September of vroeg Oktober stap ek as politieke korrespondent van Dagbreek en Sondagnuus kort na middagete by die joernaliste se sitkamer in die persgalery in en gaan sit by die luidspreker wat die debat in die Volksraad regstreeks herlei. Dit klink vir my of die een wat in die raad praat nie mooi nugter is nie.
Wie’s dit? vra ek vir van die ander manne. Dis Sir Div, die leier van die opposisie! Ek hol die gang af en gaan sit in die galery, en jou wragtag, Sir De Villiers Graaff is beslis nie heeltemal sinvol nie. Die hele raad is in oproer en P.W. Botha, toe Minister van Verdediging, skreeu oor die vloer van die raad vir Sir Div om swart koffie te gaan drink.
Wat die ding veral merkwaardig gemaak het, is dat Div se Verenigde Party (VP) in die verkiesing ‘n hele paar setels van die NP afgeneem het (nege as ek reg onthou) en Div alle rede gehad het om te jubel, maar dat hy daardie middag, soos sy gewoonte was, in die Civil Service Club geëet het en net een of twee te veel ingehad het.
Later die middag praat ek met Dirk Richard, my redakteur, om hom in te lig oor die stories waaraan ek werk vir Sondag se uitgawe en ewe onskuldig en humoristies vertel ek hom van die affêre.
“Skryf die storie!” beveel Dirk.
“Hemel, meneer, ek kan nie. Hulle sal my uit die Parlement skop!” keer ek.
“Skryf! Dis ‘n storie as die Leier van die Opposisie nie nugter is as hy in die land se hoogste raadsaal praat nie. Skryf, of…!”
Dirk was natuurlik reg, maar ek sit met die probleem van hoe. Maar ek skryf toe ‘n berig met die strekking: “Wat is fout met Sir Div, is hy siek, is hy moeg, of…?” En ek vertel hoe hy gesukkel het om soms woorde te uiter, sy tong soms gesleep het en wat PW oor die vloer vir hom geskreeu het.
Die woord drank of so iets staan nêrens in die berig nie, maar enigeen wat kan lees, weet presies wat bedoel word! Die berig is die hoofstorie op bladsy 4 – die politieke blad in Dagbreek, met ‘n yslike opskrif wat die woorde herhaal.
Maandagoggend is die hel los! Sondagkoerantmense wat Saterdagaande tot laat werk, het Maandae af, maar ek is kort na tien daardie oggend gebel en ingelig dat die Speaker van die Volksraad, Henning Klopper, my onmiddellik in sy kantoor wil sien.
Ek trek maar aan en sit af Parlement toe. “Bybelprentjie” Klopper is siedend. Die Verenigde Party eis dat ek en Dagbreek om verskoning vra en Klopper dreig dat as dit nie gedoen word nie, skop hy my uit die persgalery. Hy kon my selfs in die Speaker se spesiale sel onder in die kelder toegesluit het, as hy wou! (Hy het ‘n jaar of twee tevore ook gedreig om Koos Liebenberg en Piet Myburgh daar op te sluit, maar ek kan nie mooi onthou waaroor dit was nie.)
Klopper kan nie die gebeure in die Raad ontken nie, maar die VP beweer Div is op medikasie en dring aan op ‘n verskoning. Ek kan maar net antwoord dat ek my redakteur onmiddellik sal inlig, maar dat ek seker is dat Dagbreek enige verklaring van die VP volledig sal publiseer waarin hulle hul kant van die saak stel.
Dit is dan ook presies Dirk se houding toe ek Dinsdag met hom praat. Maar die VP en “Bybelprentjie” wil niks weet nie – ‘n ondubbelsinnige verskoning of …
Dirk laat weet dat Marius Jooste op pad is Kaap toe en self met Klopper oor die saak sal gesels. ‘n Dag of twee later kom hy daar aan en ek is saam met hom in Klopper se kantoor. Klopper dreig en raas en ek verduidelik vir Marius presies wat gebeur het en waar die saak staan.
Marius belowe met sy hand omtrent op sy hart dat hy die saak indringend met Dirk sal bespreek en dat hy binnekort na Klopper sal terugkom met ‘n antwoord. En toe kom die ware Jooste na vore:
“Henning, dit is ‘n pragtige foto van Verwoerd wat daar agter jou hang. Jy weet, ek soek al jare lank na so ‘n foto. Dit is werklik die man soos ons hom geken het.”
Die foto is ‘n taamlik groot een, sierlik geraam, maar een wat lank by die Departement van Inligting vrylik uitgedeel is. Henning straal! Hy klim op sy stoel, haal die foto af en gee dit net daar, raam en al, vir Marius! En ons is daar weg.
Ek het nooit gevra wat van die foto geword het nie, maar ek het Jooste kort daarna daarvan begin verdink dat hy sou geweet het van die gesprekke wat daar tussen Perskor en Naspers was oor samesmelting van hulle Sondagkoerante (om Rapport te vorm), dat hy (dus) geweet het dat Dagbreek binnekort van die toneel sou verdwyn en dat ‘n verskoning en/of korreksie nooit die smaak van drukkersink sou kry nie.
Dit was dan ook so. Die Parlement verdaag ‘n week of twee later, in November word die samesmelting in Rapport aangekondig en Januarie sit ek weer in die galery as politieke korrespondent vir Vaderland met Dirk as my redakteur, maar die VP en Henning kan niks doen nie, want Dagbreek is toe!
Maar die wyse waarop Marius vir Henning Klopper om sy vinger gedraai het, sal ek nooit vergeet nie.
Jooste en die mes
My vrou onthou graag die storie van die mes. Perskor het vir baie jare ‘n saakgelastigde in Londen gehad. Mnr. Dennis Mayes was nou vir jou ‘n regte sakeman van die City – kompleet met bowler-hoed en al. Toe ek in die middel sewentigjare Londen toe is as Perskor se Europese korrespondent, was Mayes al eintlik afgetree, maar hy het gereeld een keer ‘n maand stad toe gekom en ons uitgawes en bankrekening nagegaan.
Op ‘n goeie dag het hy en sy vrou vir my en my vrou genooi vir middagete by die wêreldberoemde restourant Simpsons-in-the-Strand. Dit was hier wat hy dié storie oor Marius Jooste vertel het.
Tydens een van Marius se besoeke aan Londen, het Mayes hom ook vir middagete na hierdie top restourant geneem. Natuurlik het hy, net soos ons, Simpsons se beroemde roast beef & Yorkshire pudding bestel. Die gereg is nie sommer net op ‘n bord voor jou neergeplak nie. Die sjef het die pragtige gebraaide boud in ‘n yslike silwerbak op ‘n trollie by jou tafel gesny met presies soveel as wat jy wil van die goedgaar, halfgaar of nog lekker pienk, rouerige vleis.
Ook ons was beïndruk met die mes wat seepglad deur die vleis gesny het en die heerlikste, dunste skyfies vleis voortgebring het.
Mayes lag toe ons, soos seker baie ander, meld hoe beïndruk ons is met die sjef se behendigheid met die mes. Hy vertel dat Marius Jooste net so beïndruk was toe Mayes hom enkele jare tevore na die plek geneem het. Toe die sjef die vleis so fyn kerf en in sy bord sit, sê Marius vir die sjef: “I want that knife. How much?”
Totaal uit die veld geslaan beduie die sjef dat dit die hotel se mes is en dat hulle nie in die besigheid van messe verkoop is nie.
“I want that knife. I’ll pay for it, but I want it. I have never come accross such a sharp knife,” dring Jooste aan.
Volgens Mayes, wat baie duidelik ietwat verleë was oor hierdie Boerseun se byna ongehoorde optrede in ‘n Britse upper class-eetplek, het hierdie gesprek ‘n ruk aangehou en die sjef is toe daar weg en kom toe uiteindelik met die mes terug, toegedraai in bruin papier en skenk dit aan Marius.
Die koerantmagnaat dring weer daarop aan dat hy vir die mes sal betaal, maar die sjef beduie toe dat dit met komplimente van die restourant is en Marius is daar weg en terug SA toe met sy Britse roast beef-mes.
Ek wonder of hy dit ooit gebruik het, maar veral wonder ek hoe hy hierdie breëlemmes van seker 25 cm lank deur die doeane gekry het! Maar dit was Marius Jooste. Hy het gewoonlik sy sin gekry!
Die aand toe AM van Schoor by dr Malan geslaap het
A.M. van Schoor was nie net bekend as redakteur nie, maar die hele Suid-Afrika het in daardie jare Maandagaande na sy bekende radiorubriek Wêreldgebeure geluister. Dit was ‘n voorreg om nou saam met hierdie man te werk, want hy was ‘n karakter in eie reg. So het hy gereeld op ‘n Woensdagmiddag vroeg geloop en ‘n paar rand op die perde gaan verwed by die boekies in die stad.
Hy het self die storie vertel hoe hy een aand ‘n bed met dr. D.F. Malan moes deel. Dit was in die dertigerjare toe Malan leier van die Nasionale Party was en Van Schoor ‘n verslaggewer by Die Burger was. Hy het Malan vergesel op ‘n vergaderingsreis in die Wes-Kaap. Op een van die plekkies waar Malan gepraat het, was daar nie ‘n hotel nie, maar hulle het by ‘n NP-bestuurslid op die dorp oorgeslaap. Daar was net een dubbelbed in die slaapkamer en hy en Malan moes dit noodgewonge deel.
Van Schoor was lekker vies, want die gasheer het ‘n mooi dogter gehad en sy het gehou van die aandag wat die koerantman uit die stad aan haar gegee het. Hy het net gewag tot hy hoor Ou Dok haal diep asem, toe skuif hy stadig en versigtig uit die bed uit. Sy een voet was net op die vloer toe kom die diep stem: “Schoortjie, los die meisiekind uit en slaap”.
Van Schoor en Verwoerd
Die ander staaltjie wat graag van A.M. van Schoor vertel word, kom uit die jare toe hy redakteur van Die Vaderland was en dr. H.F. Verwoerd die eerste minister. Dit was daardie tyd gebruiklik vir redakteurs om die opening van die Parlement en soms ook die bespreking van die Eerste Mnister se begrotingspos by te woon. Gewoonlik het hulle ook ‘n ontmoeting met die EM in sy kantoor gehad.
By hierdie geleentheid het Verwoerd sommer voor die ander aan Van Schoor gesê: “Mnr. Van Schoor, ek het nie saamgestem met daardie hoofartikel van jou verlede Vrydag nie…”
“Ag ja, doktor, ek ook nie,.” laat A.M. vinnig van hom hoor. Ook Verwoerd moes maar net lag, vertel hulle.
Die ander staaltjie wat vir die waarheid van A.M. vertel word, gaan oor sy liasseerstelsel.
Sy lessenaar was altyd verskriklik deurmekaar: belaai met papiere, knipsels, tydskrifte en alles en nog wat. Sy sekretaresses moes gedurig rondkrap op soek na uitnodigings na formele onthale deur die Eerste Minister en selfs die Staatspresident wat nie beantwoord is nie en die mense se kantore bel om te hoor of Die Vaderland se redakteur dan nie die onthale WIL bywoon nie.
Sy liasseerstelsel was baie maklik en eenvoudig, word vertel: So een keer ‘n maand of twee, drie, het hy al die papiere en goed op sy lessenaar saam bymekaar gevat en in die lug opgegooi: Wat op die vloer val, is weggegooi, wat op die lessenaar val is geliasseer en wat op die tikmasjien bly lê het, is geantwoord – as dit ‘n antwoord verdien het!
Dronk snelskrif
Een van die stories wat ek as jong verslaggewer vertel is, is die een van Sep Smith (as ek reg onthou) wat kort na ’48 se verkiesing ‘n vergadering van dr. D. F. Malan hier êrens aan die Rand moes gaan dek vir Die Vaderland.
Soos maar sy gebruik was, het hy by die hotel oorkant die dorp se stadsaal gekuier terwyl die voorsitter van die NP-afdelingsbestuur, die burgermeester, die LPR en toe die LV hulle sê gesê het.
Teen die tyd dat dr. Malan aan die woord gekom het, was hy (dis nou die verslaggewer) al goed getrek. Maar hy sit en skryf in sy snelskrif (soos ook Afrikaanse koerantmanne in daardie tyd moes ken).
Ná die vergadering maak hy gou nog ‘n paar kappe by die hotel en ry huis toe en gaan slaap, want hy moet sesuur die volgende oggend op kantoor wees. Oudergewoonte maak hy dit, maar met ‘n babalaas wat skrik vir niks.
Hy sit lank kop onderstebo tot die subs begin skreeu vir kopie. Hy tel sy snelskrifboek op – en kan nie ‘n woord lees nie, dis alles net strepies en hierogliewe! Hy kyk na Die Transvaler se berig daardie oggend – en hy kan nie ‘n ding wat hulle geskryf het oor Malan se toespraak herken of onthou nie! Die subs roep al hoe harder.
Soos gebruiklik vir baie koerantmanne van daardie tyd, het hy ‘n bottel in die onderste laai en hy vat ‘n stywe een – en nog een en nog een – en ai, dit voel beter, sy kop word helderder en hy vat nog een of twee en toe skielik kan hy elke woord van sy vorige aand se dronk-snelskrif lees. Natuurlik skryf hy ‘n uitstekende berig wat voorblad haal!
(Erkenning aan Hein Hendriks, wat hierdie storie vertel het.)
“Waarghs die tyrghe”
Koos Liebenberg (verslaggewer) en Fred Buys (fotograaf) was twee van die karakters van die Afrikaanse koeantwese in die sestiger en sewentigerjare.
Een dag word hulle deur Die Vaderland gestuur om ‘n storie êrens aan die Oos-Rand te gaan doen. Hulle ry met die ou Chevrolet wat Die Vaderland doerie tyd gehad het. Ná die storie val hulle vas en kuier tot laat aand. Goed aangeklam (om dit sagkens te stel) ry hulle van Germiston se kant terug na APB se kantore in Empireweg, Aucklandpark, parkeer die motor en gaan slaap.
Volgende oggend vroeg op kantoor – lekker babalaas en al.
So ‘n ruk later kom Hermie Hendriks, nuusredakteur, na Koos en vra met sy tipiese bry:
“Waarghs die tyrghe (Waar is die ‘tyre’?)”
Waarvan praat hy, wil Koos weet en toe Hermie beduie dat die een voorwiel se band nie aan die velling is nie, word Fred geroep, maar hy weet ook van niks. Maar daar staan die kar met net die velling regsvoor.
Daar word vertel dat iemand toe die groef in die teer wat die velling uitgegrawe het, begin volg het – al met Empireweg af, deur Braamfontein, deur die middestad (Commissionerstraat) en tot doer duskant Germiston waar die groot verkeersirkel in Jeppestraat was – seker goed 15 tot 20 kilometer van die pers af.
Daar het hulle ‘n yslike swart merk gekry waar die buiteband afgespring het toe Fred met ‘n vaart teen die sirkel se randsteen vasgery het. Koos het later vertel dat Fred net gesê het daar is vanaand weer fout met die Chev se stuurwiel, want hy trek al regs! Die “tyrghe” was skoonveld.
(Fred Buys is baie jare gelede oorlede en Koos was met sy dood by die Citizen)
Hierdie bydrae is jare gelede op versoek vir die destydse Mediamense.co.za geskryf.
Thys Human se loopbaan as joernalis
Thys Human het ʼn lang en kleurryke loopbaan in die joernalistiek gehad wat onder meer die redakteurskap van Oggendblad (Pretoria) en Die Suidwester (Windhoek) ingesluit het.
Hy is in Port Elizabeth gebore en het daar aan die Hoërskool Cillié gematrikuleer. Daarna volg ʼn BA aan die PU vir CHO (1955).
Human begin in 1965 by Die Transvaler as verslaggewer werk. Fritz Potgieter, later professor aan die PU vir CHO en ook lid van die latere Presidentsraad was die nuusredakteur, Jannie Kruger was redakteur en dr. G. D. Scholtz die adjunk-redakteur.
Hy werk as hof- en misdaadverslaggewer en vertaler in die nagkantoor met Mac MacDonald as nagredakteur, Hennie Kotzé en Frans du Toit as subs en Otto Krause (later ʼn bekende politieke joernalis) as vertaler. In daardie tyd was Dana Niehaus sportredakteur en Hein (R) Hendriks (skrywer van Rooi Jan-boeke en broer van Hermie), asook Klaas Steytler (skrywer in eie reg en eggenoot van Elsa Joubert), ook in die redaksie.
In 1957 verskuif Human van Johannesburg na Pretoria en werk onder die vermaarde Gus Cluver. In 1959 lok Die Vaderland hom met vyf pond per maand meer en sluit hy aan by At de Beer, wat hoof was van die Pretoria-kantoor van Die Vaderland.
Hy word in 1960 skakelbeampte van die destydse Rondalia-Toerklub en bestuur later vir ʼn jaar of wat Rondalia se motel by Volksrust. Human skuif egter spoedig terug na die joernalistiek, as verslaggewer in die SAUK-kantore in Durban en Port Elizabeth.
In 1966 keer hy terug na Die Vaderland in Johannesburg waar A.M. van Schoor toe redakteur was. Hy besoek kort daarna Suidwes (met die Wêreldhofuitspraak) en ook Rhodesië twee keer.
Human word in 1969 ʼn parlementêre beriggewer en die volgende jaar politieke korrespondent van Dagbreek en Sondagnuus onder Dirk Richard. Met die samesmelting van Dagbreek en Landstem en Die Beeld in 1970 (om Rapport te vorm) verkies hy om by Perskor te bly en word hy Die Vaderland se politieke korrespondent en assistent tot die redakteur (Dirk Richard).
In 1974 word Human adjunk-redakteur van Hoofstad (onder At de Beer) en gaan Washington toe vir al die Perskor-koerante. In Julie 1975 word hy Londense verteenwoordiger van Perskor en bly daar tot met sy aanstelling einde 1979 as redakteur van Oggendblad.
In hierdie tyd dek hy onder meer John Vorster se gesprekke met Henry Kissinger en met Walter Mondale in Duitsland en Switserland, asook die eerste Rhodesiese beraad in Genéve en die Lancaster House-beraad van1979. Daar het hy kennis gemaak met Ian Smith, Joshua Nkomo en Robert Mugabe en toe reeds voorspel dat Mugabe enige verkiesing loshande gaan wen.
Human was ‘n sterk konserwatiewe stem en bly redakteur van Oggendblad tot met die sluiting van die koerant in Februarie 1983. In die referendum van 1983 was hy twee maande lank skakelbeampte van die Konserwatiewe Party en werk nou saam met dr. A.P. Treurnicht.
Daarna volg ʼn kort redakteurskap van die NP-SWA se blad Die Suidwester, maar hy kry, volgens sy eie vertelling, gou moeilikheid met “PW se agent”, Eben van Zyl, en sluit aan by die SWAUK as kommentaarskrywer. Hy bly daar tot net na Swapo se oorwinning in die eerste demokratiese verkiesing einde 1989.
Human keer terug na SA en werk tien jaar lank tot met sy aftrede in 2000 as kommunikasieman by die ou Dept. van Streek- en Grondsake en ook ʼn ruk by die Kommissie op Herstel van Grondregte (as Joe Seremane se skakelman). Hy vertel dat sy besige loopbaan in “niks doen” geëindig het aangesien die nuwe nuwe minister en DG niks van hom wou weet nie.
Die buitengewone voorbladkommentaar wat Thys Human geskryf het by die aankondiging dat Oggendblad van die mark gaan verdwyn. Dit was die gevolg van die knoeiery met sirkulasiesyfers by die Transvaler en die verdeling van die Afrikaanse koerantmark tussen Naspers en Perskor. Ingevolge daarvan het Beeld die oggendmark gekry en die Transvaler het na die middagmark geskuif. Na ‘n tyd as Pretoriase middagkoerant, het die Transvaler ook gesluit, die laaste van Perskor se Afrikaanse dagblaaie.
