Deur André J. Brink
Hierdie stukke het vroeër op ander platforms verskyn en word hier met die skrywer se toestemming geplaas.
‘n Foto van Diana op Wimbledon
Toe ek in Desember 1990 van Die Volksblad af in Londen aankom as verteenwoordiger van Nasionale Koerante, het ek ’n paar goed van my onmiddellike voorganger, Thinus Prinsloo, “geërf”. Die beste vir my, was die aanspraak op ’n sitplek op Wimbledon se hoofpaviljoen.
Thinus het my aangeraai om die All England Lawn Tennis and Croquet Club – Wimbledon se volle naam – so gou as moontlik te laat weet ek het by hom oorgevat en sal daarom voortaan die sitplek gebruik wat aan hom toegeken was om oor die tennistoernooi verslag te doen. Doen ek dit nie, het Thinus gewaarsku, kan ek die sitplek verloor en dit sal bitter moeilik wees om dit weer terug te kry.
Ek het sy raad gevolg en drie jaar lank was sitplek E356 op Wimbledon se hoofbaan myne. My pas het my natuurlik ook toegang tot al die ander bane gegee.
Die persbanke op Wimbledon se hoofbaan is regs lanks die koninklike losie, die sogenaamde Royal Box. Dis daar waar al die hoë gaste sit, onder andere enige lid van die koningshuis wat kom tennis kyk.
Die eerste Dinsdag van die toernooi is tradisioneel bekend as Ladies Day – die dag waarop die eerste gekeurde vrou op die hoofbaan speel. In 1991 was dit op 25 Junie en daar was vooraf groot opgewondenheid onder joernaliste en toeskouers toe dit bekend geraak het dat die prinses van Wallis, Diana, ’n baie groot tennisliefhebber, sou kom kyk hoe Steffi Graf vir Sabine Appelmans van België pak.

André se perskaart wat hom toegang tot die hoofbaan op Wimbledon gegee het. Die foutiewe verwysing na SA Morning Newspapers is later reggestel, maar vir die eerste geleentheid om daar te mag wees, het André nie te veel omgegee nie.
Hooffoto bo: die dowwerige foto wat André amper in groot moeilikheid laat beland het.
Lank voor die wedstryd om 1 nm sou begin, was die hoofbaan volgepak en ek was op my plek op E356. En toe kom Diana in en gaan sit skaars 10m van my af! Die versoeking was darem eenvoudig net te groot – ek móés eenvoudig ’n foto van haar neem. Wat ek toe ook stilletjies met ’n Nikon-kamera met ’n langerige zoemlens gedoen het.
Ek het later uitgevind ek kon my sterre dank niemand het my gesien en of verkla nie. Om enige foto van enigiemand in die Royal Box vanuit die persbank te neem, kon lei dat summiere verbanning van Wimbledon af. Geakkrediteerde fotograwe mag wel sulke foto’s neem, maar dan net van onder van die baan af.
‘n Britse strik
Ek was maar vir verwerping deur meisies was nadat ek vroeg in my lewe deur onder andere die stasiemeester se dogter “verraai” is. Algaande het ek begin dink ek is eenvoudig net nie aantreklik genoeg vir die skoner geslag nie.
Maar noudat ek hier op my oudag baie tyd het om in my eie verlede rond te dwaal, wonder ek tog of dit net my verbeelding is en of daar nie tog minstens twee baie aantreklike vroue was wat mý probeer verlei het nie.
Die eerste episode het plaasgevind in 1984. Ek, toe politieke beriggewer van Die Volksblad, is daardie jaar as gas van die Foreingn and Commonwealth Office (die Britse ministrie van buitelandse sake) genooi om Brittanje as gas van Haar Majesteit te besoek.
Dit was nogal ’n lekker, maar ook taamlik vol en besige twee weke. Die Britte het my per besigheidsklas laat vlieg. Op Heathrow-lughawe, terwyl die vliegtuig na sy staanplek beweeg het, is oor die interkom aangekondig iemand wag net buite die deur van die vliegtuig vir my.
Dit was toe ook so. Ene Suzanne Stanton het daar gestaan en my gehelp om blitsig deur doeane te beweeg en daarna is ek in ’n groot swart motor na my verblyfplek, die Royal Hoseguards Hotel, net so ’n hanetreetjie van No. 10 Downing Street af, geneem.
Hier het Miss Nora Doogan, my begeleier (minder) vir die duur van my verblyf in Londen, my ingewag. Mej. Doogan, ’n baie bekwame, beroepsdiplomaat, het vir my soos die tipiese karikatuur van die Engelse oujongnooi gelyk in haar Tweed-kleredrag en gemaklike skoene.
Nora het my oral vergesel, ook een aand teater toe waar ons die Andrew Lloyd Webber-musiekspel Cats gaan kyk het. Ons het saam taxi gery, in die swart kar met die chauffeur en middagetes saam genuttig. Net saans het ek alleen in my hotel geëet en geslaap.
Na ’n paar dae is ek by Kings Cross-stasie op die trein na Leeds gesit. “Miss Claire Wunderley wil meet you at the station,” het Nora my ingelig.
Toe die trein ’n paar uur later op Leeds se stasie stop, het ek my tas gevat, afgeklim en op die platform gaan staan. Ek wag toe vir iemand wat lyk soos Nora, of ten minste so aangetrek soos sy. Maar ek sien g’n mens wat lyk soos my Londense minder nie.
Ek het ’n hele rukkie so gestaan en net begin wonder of ek die Londense kantoor moet bel en vra wat aangaan, toe ek hierdie visioen van voor sien aangestap kom. ’n Lang, slanke, donkerkop met hoëhakskooene wat lyk of sy reguit uit die bladsye van Vogue gastap het en oor die platform aangesweef kom.
Dit was toe mej. Wunderley.
Nadat sy my by die hotel besorg het, het sy my vergesel op ’n baie besige program vir die dag, oral rongery is hierdie groot swart motor met ’n chauffeur. Sy het ook vir my die beroemde Britse beeldhouer Henry Moore se beelde in die Yorkshire Sculpture Park gaan wys.
Toe ek haar vra om so te staan dat ek ’n foto van haar en die beelde kon neem, het sy behoorlik geposeer soos ’n beroepsmodel. Wat nie vreemd was nie, want later die dag vertel sy my sy is eintlik ’n model wat deeltyds vir die Foreign Office as begeleier werk.
Toe ons die aand by my hotel stilhou, vra sy my: “Would you like to do something tonight? Leeds is not London, but we could go out and see a movie, play bingo or go to a pub. Remember, the car, the driver and myself are completely at your disposal.”
Wat bedoel sy met hierdie “completely at your disposal,” het ek gewonder. Maar toe – omdat ek moeg was en die aand nogal taamlik huis toe verlang het na my vrou en kinders in Pretoria – het ek haar aanbod beleefd van die hand gewys.
Die volgende oggend toe ek opstaan, het dit kompleet gelyk of ek masels het. Daar was ’n uitslag van rooi kolletjies oor my hele lyf. Net nie op my gesig en hande nie. Dit moet iets in die hotel se water wees of dalk die kos, het ek gedink.
Maar die uitslag het darem nie gejik nie en het algaande deur die dag verdwyn. Toe besluit ek, vanaand wil ek nie weer alleen in die hotel sit en verlang nie. Ek gaan vir Miss Wunderley sê ons moet iets gaan drink in ’n pub wanneer sy my weer vra wat ek wil doen.
Maar ek het nooit daardie kans gekry nie, want toe ons by die hotel stilhou, het sy net gesê: “I will pick you up tomorrow after breakfast to take you to the station for your trip to Manchester. Good night!” en weggery.
Terug in Londen het ek ’n aand of twee by Jack Viviers, toe Londense verteenwoordiger van Nasionale Pers, gebly. Toe ek vir hom van Claire Wunderley vertel, het Jack dadelik gesê: “Daardie vrou wou ’n strik vir jou stel. Sy wou jou bed toe sleep en dan sou die Britse geheime diens jou afneem en later wanneer jy terug is in Suid-Afrika, jou afpers. Jy was reg om nee vir haar te sê.”
Dit het ietwat vergesog geklink vir my. Wat kan die Britse geheime diens maak met my, ’n beskeie politieke beriggewer van ’n kleinerige koerant in die Vrystaat?
Maar Jack, wat later P.W. Botha se perssekretaris sou word, was oortuig van sy saak. “André, as politieke beriggewer het jy toegang tot ministers, hoë amptenare en parlementslede. Jy hoor goed wat die man op straat nie hoor nie. Glo my, die Britte sou jou gemelk het vir daardie inligting.”
Ek dink Jack se verbeelding en sy oortuiging dat die Engelse die grootste knoeiers is en agter al die grootste oorloë op aarde gesit het, het ’n bietjie met hom op loop gesit. Dalk was mej. Claire Wunderley maar net vriendelik.
Deel van Jani Allen se Londense hofsaak
Bykans alle joernaliste beland een of ander tyd in die hof. Nie as beskuldigdes of getuies nie, maar as hofverslaggewers. By Die Volksblad in Bloemfontein was ek ’n vertaler, subredakteur, politieke beriggewer, sportverslaggewer, lid van die finansredaksie en selfs ook ’n paar maande lank nie-amptelike kunsredakteur. Ek het ook sportfoto’s geneem, veral van atletiek, maar nooit is ek hof toe gestuur nie.
Dit was eers toe ek in Londen as Nasionale Koerante se verteenwoordiger gewerk het, dat ek drie hofsake “gedoen” het. Met een van die sake het ’n woedende regter in Engeland se hoofste hof my behoorlik geroskam en gedreig om my in die tronk te gooi!

In hierdie boek vertel Jani Allen haar kant van die storie – ook oor haar beweerde verhouding met Eugene Terre’Blanche en die hofsaak in Londen wat deur André Brink vir sy koerant gedek is en waaroor hy hier vertel.
Die eerste was by Uxbridge van ’n SAL-lugwaardin wat dwelms ingesmokkel het. Sy is skuldig bevind en teruggestuur Suid-Afrika toe. Die tweede was waar ’n jong Suid-Afrikaanse krieketspeler, Mark Bredell, van verkragting aangekla is in Oxford. Die jurie het hom vrygespreek.
Die grootste en gewis opsienbarendste hofsaak, was toe Jani Allen, gewese joernalis van die Sunday Times, Channel 4 vir laster gedagvaar het omdat die dokumentêre prent, The Leader, His Driver and the Driver’s Wife, gesuggereer het Jani het ’n seksuele verhouding (affair) met die nou ontslape AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, gehad.
Dertien dae lank het die drama hom afgespeel in Hof 14 van die Royal Courts of Justice daar aan die begin van Fleet Street. Die saak het wye dekking in die Engelse dagblaaie, veral koerante soos die Daily Mail en Daily Telegraph, gekry.
Swaargewigte in die regswêreld het mekaar getakel. In Channel 4 se kamp was George Carman, een van die heel bekendste advokate of dan barristers soos hulle in Engeland bekend is. ’n Kort, grys mannetjie met ’n vlymskerp tong en brein. Die BBC het onder meer ’n TV-program oor hom gemaak.
Jani se advokaat was Charles Gray. Hy was betrokke in talle opsienbarende hofsake en was die regter toe die bekende skrywer David Irving vir Penguin gedagvaar het vir laster. Oor dié saak is ’n rolprent gemaak. Gray is in 1998 tot ridder geslaan.
Jani se opdraggewende prokureur was nog ’n baie bekende man – Peter Carter-Ruck. Hy het gespesialiseer in lastersake waar seks baie maal ter sprake was, met die gevolg dat hy die bynaam Peter Carter-Fuck onder joernaliste gekry het.
Dit was ’n sensasionele hofsaak en veral twee stukkies getuienis het die voorblaaie gehaal.
Die eerste was toe Linda Shaw, eertydse kollega en beste vriendin van Jani, getuig het hoe sy een aand ’n hengse geraas uit Jani se kamer gehoor het. Dit het geklink of al die elektriese toestelle in die kamer aangeskakel was en sy, Linda, het gedog hulle maak vir Jani seer en die geraas is om te keer dat Jani se gille gehoor word.
Toe buk sy by die deur, loer deur die sleutelgat en wat sal sy sien? Jani se voete met haar knieë opgetrek. Sy het op die vloer gelê en tussen haar bene was ’n groot, wit agterstewe bo-op Jani wat op en af beweeg het.
Weerskante van bene op die grond, was twee paar bruin leerstewels. Dit het gelyk of twee ander mense weerskante van die paartjie op die vloer gestaan het.
Toe hy vir Shaw in kruisverhoor neem, het Gray gesê hy sluk swaar aan die sleutelgatstorie. En net daar pluk hy ’n stuk hout uit waarop ’n deurslot, kompleet met sleutelgat, gemonteer was en hou dit voor sy gesig asof hy daardeur loer.
Maar Carman was dadelik op die been om beswaar te maak en die regter het beslis daardie sleutelgat is nie toelaatbaar as bewysstuk nie.
Dalk die stukkie getuienis wat die langste in mense se geheues bly vassteek het, was toe Kays Smit, voormalige hoofsekretaris van die AWB, getuig het hy het Terre’Blanche een aand in Jani se woonstel aangetref waar hy aan die slaap met ‘n glas drank in sy hand net geklee in ’n groen onderbroek met gate daarin op ’n stoel gesit het.
Die spot daaroor sou ET tot sy dood toe bybly.
Carman se droeë, sarkastiese en spitvondige opmerkings het gereeld vir ligter oomblikke gesorg. Een van hulle wat ek goed onthou, was sy verwysing na Andrew Broulidakis, ’n vriend van Jani as “a down market version of James Bond of the Greek Orthodox variety.” Dit was nadat Broulidakis getuig het hoe hy ter verdediging van Jani op Linda Shaw gaan “spioeneer” het.
Ekself het ook deel van die hofverrigtinge geword.
Van die getuienis is in camera aangehoor wanneer die jurie uitgestuur is. Dan het ’n soort mini-verhoor plaasgevind om te bepaal of dit wel in die ope hof toelaatbaar sal wees. Van daardie getuienis was lekker sappig, maar daaroor mag jy nie verslag gedoen het totdat die saak afgehandel was nie.
Chris Bateman, verteenwoordiger van die South African Morning Group (onder meer Cape Times) het langs my in die persbank gesit. Moet ons nie die regter vra of ons in ons Suid-Afrikaanse koerante oor van hierdie getuienis kan skryf nie, het hy my gevra. Die jurie hier sal mos nie ons koerante sien nie.
Ek gaan akkoord en ons skryf ’n baie beleefde briefie vir die regter en gee dit vir die klerk van die hof.
Ná daardie dag se verdaging vir middagete, sien ons die jurie het nie ingekom nie. Toe sê die regter daar is ’n sakie wat hy eers wil afhandel en hy hou ons briefie in die lug.
“Sal die here wat dit geskryf het opstaan,” beveel hy.
Daar staan ek en Chris toe in die persbank skaars twee armlengtes van ’n briesende regter af. Hoe op aarde kan ons hom vra om so iets te doen, wil hy weet. Voor al die mense in die hof vreet hy ons behoorlik uit.
“As julle enigiets hieroor in julle koerante skryf, sal ek julle in die tronk gooi! Verstaan julle?!”
Wat kon ons doen? Maar net verleë “Yes my lord” sê.
Ek het so groot geskrik daardie dag dat ek selfs nadat die saak verby was, nie ’n woord oor daardie getuienis geskryf het nie.
Die jurie het uiteindelik besluit hulle glo nie vir Jani nie en sy het die saak verloor en met ’n yslike spul regskuld gesit. Maar ek het al baie dae gewonder oor sommige van die getuienis.
Byvoorbeeld oor Linda Shaw se weergawe van wat een aand gebeur het toe sy saam met Jani in haar Alfa Spider na Krugerdorp gery het om ET te ontmoet. Hulle het by die stadsaal stilgehou en ET het by Jani in die kar geklim. Sy, Linda, het uitgeklim en daar het toe ’n woeste vryery in die Spider ontstaan.
Nou ja kyk gerus self op Google hoe klein ’n Alfa Spider was. Ek twyfel sterk of die logge ET eens in die karretjie sou kon inkom, wat nog staan te vry daarin.
ET het tot sy dood die bewerings oor ’n affair ontken en so ook Jani.
Geplaas op 3 Aug. 2021