‘STER’, DIE HERSTIGTE ‘BRANDWAG’, ‘PRONK’ EN DIE HNP

Deur Johannes Froneman

Die Brandwag is ‘n baie ou naam in die Afrikaanse joernalistiek. ‘n Tydskrif het reeds in 1910 onder hierdie naam verskyn en tot in 1922 bestaan. Dit was ‘n ernstige blad in die styl wat deur Die Huisgenoot (1916) voortgesit is.

Daarna verskyn Die Nuwe Brandwag van 1929 tot 1933 as letterkundige blad. In 1937 herleef Die Brandwag as ‘n weeklikse bylae tot Die Vaderland. Die blad was so gewild dat dit spoedig ‘n vrystaande weeklikse tydskrif geword het. Onder A.M. van Schoor groei die blad stewig; later ook onder Dirk Richard en At de Beer, almal later ook bekende name in die koerantwese.

Die blad sluit egter en herleef in 1971 onder Johan Fourie.

Links: Die eerste Brandwag in 1910. Regs: ‘n Brandwag uit 1938.

.

Die Brandwag was in 1958 in besit van Afrikaanse Pers — sterk opposisie vir Naspers se Die Huisgenoot.

Brandwag was gelaai met populistiese artikels, opskrifte en verhale…

Let op die sterk aanbieding — en die skrywers: Wouter de Wet, later ook bekende aanbieder van radioprogramme, skryf uit Kanada; Bennie Fritz was ‘n gereelde skrywer van kortverhale en later verhaleredakteur van Huisgenoot; Hans Lombard, die ewige skakelman skryf oor sy reis na Moskou (met ‘n geborgde motor, natuurlik)…

In 1971 herrys Die Brandwag nogmaals — onder leiding van Johan Fourie. Dit is oor dié derde (of vierde) inkarnasie van Die Brandwag waaroor hierdie artikel eintlik gaan.

Só het Die Brandwag gelyk wat onder Johan Fourie uitgegee is en waaroor spoedig ‘n stryd om eienaarskap en rigting gevoer is. Let op die logo van Brandwagpers regs onder.

Alles hou regstreeks verband met die politiek van die laat 1960’s toe ‘n groep van vier parlementslede van die Nasionale Party teen die eerste minister, John Vorster, se verslapping van streng apartheidswette en -gebruike gerebelleer het. Hulle is spoedig uitgeskop en stig toe die Herstigte Nasionale Party (HNP) wat die algemene verkiesing van 1970 betwis het — met weinig sukses, aangesien die Britse stelsel kleiner partye benadeel en daar geen proporsionele verteenwoordiging in die Volksraad was nie. (Die HNP het sowat 15% van die stemme getrek, maar geen enkele setel gewen nie.)

Om hul boodskap uit te dra, is die weekblad Die Afrikaner tot stand gebring met dr. Willie Lubbe as hoofredakteur. (Hy het as redakteur van Die Kerkbode bedank om die pos te aanvaar.) Die man wat die inhoud van die blad egter grootliks bepaal het, was Beaumont Schoeman, voorheen dr. Andries Treurnicht se assistentredakteur by Hoofstad.

Volgens ‘n brief geskryf deur die destydse leier van die HNP, dr. Albert Hertzog, wat in my besit gekom het, het die (her)stigting van Die Brandwag regstreeks verband gehou met die tydskrif Ster, ‘n winsgewende blad wat van Republikeinse Pers gekoop is om Die Afrikaner finansieel en inhoudelik te ondersteun. Die Afrikaner en Ster was Strydpers se belangrikste publikasies.

Strydpers is met groot gedruis in Ster bekend gestel.

Links: Ster as populistiese blad van Republikeinse Pers. Regs: Die eerste uitgawe van Die Afrikaner.

Johan Fourie (links), volgens Hertzog ‘n “baie bekwame redakteur”, is aangestel om Ster uit te gee — alles deel van Strydpers se aktiwiteite. Hoe goed dit toe met Ster gegaan het, is onbekend. Wel is die blad gebruik om deur ‘n bylae, genaamd Ster Aktueel, propaganda vir die HNP se denkrigting te maak.

Een van die uitgawes van Ster Aktueel het op die lewensverhaal en prestasies van dr. Albert Hertzog, leier van die HNP, gefokus.

Om die las verder te help dra, is besluit om ‘n tweede tydskrif te stig, te wete Die Brandwag. Die naam is, volgens Hertzog, deur Persbeleggings  (dit is Hertzog-hulle se maatskappy) geregistreer en Fourie is die taak opgelê om ook hierdie blad uit te gee.

“Ons teleurstelling was baie groot toe ons die eerste Brandwag sien en ons het dadelik vir hom gevra om dit skoon te maak van daardie aanstootlike inhoud wat so baie van ons mense vervreem het,” skryf Hertzog in 1971.

Fourie wou egter niks weet nie. Hy het begin plan maak om hom los te maak van die HNP-gesindes wat op hom gereken het om Ster en Die Brandwag winsgewend uit te gee, maar dan binne ‘n morele raamwerk wat vir die baie konserwatiewe ondersteuners van die HNP aanvaarbaar sou wees.

Omdat Hertzog en sy vennote gevaar geloop het om al hul kapitaal te verloor as die hele projek ineenstort, het hulle vir ‘n geruime tyd Fourie probeer paai en hom probeer ompraat.

Die direksie het die standpunt ingeneem dat hy hom in geen omstandighede met die Brandwag kan vereenselwig wat deur Fourie uitgegee is nie. Die brief noem nie spesifieke besware nie, maar breedweg kan aanvaar word dat die inhoud as gewaagd beskou is. Vandag sal ons dit waarskynlik as populisties in die Huisgenoot-styl kan tipeer. Maar Huisgenoot was in daardie stadium nog ‘n baie konserwatiewe, bedeesde blad.

Hertzog voeg by: “Hier was dus ‘n soort van dubbelslagtige verhouding: tegnies was ons die eienaar van Brandwag, maar moreel en in die praktyk het ons ons hande gewas en wou niks te doen het met Die Brandwag … wat verskyn het nie.”

“En terselfdertyd was ons nie in die posisie om vir mnr. Fourie te dwing nie want ons was van hom afhanklik en hy minder van ons.”

Nog pogings is aangewend om Fourie van standpunt te laat verander, maar ten einde laaste het hul paaie geskei. 

Volgens Hertzog het Fourie toe voortgegaan om Die Brandwag uit te gee, maar asof dit sy eiendom was. Hy het ook advertensies van Die Brandwag in die meer konserwatiewe Ster geplaas — tot ontsteltenis van die direksie.

As dit na ‘n warboel klink, is dit presies die woord wat Hertzog gebruik. Fourie en ‘n klomp personeel is daar weg om Die Brandwag en Pronk uit te gee, ‘n derde tydskrif wat spoedig uit hierdie deurmekaar projek voortgespruit het.

Maar ‘n tweede brief, van Dereck Jacob, toe redakteur van Pronk en voorheen ook Ster se redakteur, weerspreek Hertzog op bepaalde punte. In ‘n brief gedateer 19 Oktober 1971 sê hy dat hy geskok is oor Persbeleggings (Hertzog-hulle se maatskappy) se aanspraak van eienaarskap van Die Brandwag. Hulle wou dan niks weet van die blad nie.

Jacobs en redaksielede van Ster is toe ook weg en het herenig met Fourie-hulle by Brandwagpers. Tog was Jacobs self nie heeltemal gelukkig met Die Brandwag se inhoud nie. In sy brief skryf hy: “Wat die algemene beleid van Brandwag betref — ek stem steeds nie daarmee saam nie. Ek hanteer ‘n sekere deel van die blad en het geen seggenskap oor die res nie.”

Intussen is Ster losgemaak van sy rol as ondersteuner van Die Afrikaner. Maar hierdie stap het duidelik nie Ster gered nie. Sonder ‘n redakteur of redaksie was sy voortbestaan gedoem en het die beleggers seker ‘n klomp geld verloor.

Wat Die Brandwag en Pronk aanbetref, het hulle nog vir ‘n paar jaar  aangegaan. Die Brandwag het volgens ‘n Wikipedia-inskrywing teen 1975 ‘n sirkulasie van 68 000 gehad. Inligting droog egter hiermee op. Daar moet daarom aanvaar word dat dié tydskrifte die pad van vele ander gegaan het en weens ‘n gebrek aan advertensiesteun gesluit het.

Kyk mens na van die voorblaaie van Pronk en Die Brandwag, tref die populistiese inslag dadelik. Eers ‘n paar jaar later, rondom 1979, het Huisgenoot hierdie resep begin toepas en danksy  ‘n goeie redakteur (Niel  Hammann), die prinses Diana-fenomeen en die uitbuiting van die behoefte aan nuus oor TV-persoonlikhede suksesvol reggekry waarin Die Brandwag en Pronk nie heeltemal geslaag het nie. Maar hulle het nooit die steun van ‘n sterk maatskappy soos Naspers gehad nie.

Wat van Johan Fourie geword het, is onbekend. Volgens Wikipedia het Jacobs deur die jare onder verskeie name ‘n hele aantal lekkerleesboeke geskryf en uit Engels vertaal. Die HNP-blad Die Afrikaner het in 2020 sy vyftigste verjaarsdag gevier — maar dan as internetblad, ‘n skadu van wat dit in 1970 was toe dit die HNP se belangrikste propagandamedium was.

Dr. Willie Lubbe, wat as hoofredakteur van Die Afrikaner aangestel is nadat hy ‘n paar jaar redakteur van Die Kerkbode was, het na ‘n jaar bedank. Hy het sy akademiese loopbaan hervat en was die leidende figuur in die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK).

Beaumont Schoeman het jare lank voortgegaan as redakteur van Die Afrikaner, maar later by Finansies & Tegniek aangesluit, waar hy in die tuig oorlede is.

Lees ook die inskrywing oor Die Afrikaner by https://mediamense.com/?s=Die+Afrikaner