Afrikaanse joernaliste uit die eerste dekades van die 20ste eeu het bittermin oor hul ervaringe as joernaliste geskryf. Hier is twee wat dit wel gedoen het. Veral dié van Markus Viljoen is betekenisvol.
SPYKERS MET KOPPE
J. Steinmeyer
Nasionale Pers, Kaapstad
1946
Die skrywer was een van die baanbrekers by De Burger se stigting in 1915. Trouens, hy was een van net twee redaksielede (uit 16) met enige ervaring van ‘n dagblad. Sy sober weergawe van hoe die blad gestig is, vind gelukkig ook neerslag in die honderdjarige gedenkboek Die Burger 100 (kyk ook inskrywing elders), maar dit is ‘n ervaring om dit in die oorspronklike boekie te lees.
Oor homself skryf Johannes Steinmeyer maar weinig, maar in hoofstuk 23 kyk hy terug op 39 jaar in die joernalistiek. Hyself het danksy kennis van snelskrif in die joernalistiek beland, vertel hy. Teen 1946 het die Afrikaanse joernalistiek darem gevorder, kon hy aanvoer…

En oor ‘n vroeë vorm van mediaskakeling, skryf hy:

‘n JOERNALIS VERTEL
J.M.H. (Markus) Viljoen
Nasionale Boekhandel, Kaapstad
1953
Hierdie boek val in drie uiteen. Ten eerste is daar ‘n kort lewensbeskrywing van Markus Viljoen deur L.W. Hiemstra, daarna Viljoen se herinneringe aan sy loopbaan (inbegrepe hoofstukke` wat lees soos ‘n eerste joernalistieke handboek in Afrikaans), en ten derde herinneringe aan C. Louis Leipoldt deur Viljoen.
Die inleidende hoofstuk deur Hiemstra is genoodsaak omdat Viljoen oorlede is nie lank nadat hy weens siekte die tuig as redakteur van Die Huisgenoot moes neerlê nie en voordat hy sy herinneringe kon voltooi.
Viljoen is relatief vroeg in sy vyftigerjare oorlede. Tog het hy ‘n stewige loopbaan as redakteur van Die Huisgenoot agter hom gehad. Hy was ook die eerste Afrikaanse joernalis wat ‘n nagraadse kwalifikasie in die joernalistiek behaal het — in die VSA. Hieroor skryf hy in taamlike detail.
Hy wy ‘n hele hoofstuk aan sy vroeë vuurdoop in 1925 as Die Burger se verteenwoordiger op die mediatrein saam met die besoekende prins van Wallis.
‘n Uittreksel:

Viljoen maak daarna naam as politieke korrespondent, “tegniese redakteur” (nuusredakteur) by Die Volksblad en Die Burger, en as Huisgenoot-redakteur. Nie dat hy die aanbod van die redakteurskap sonder meer aanvaar het nie. Hy wou by nuus betrokke bly. Die direksie het hom egter laat verstaan hulle weet beter.
Oor sy eerste indrukke by Die Huisgenoot skryf hy:

Sy pogings was suksesvol en die blad se intekenare het van 30 000 tot meer as 100 000 in sy agttien jaar as redakteur gestyg. Sy sukses verduidelik hy by sy uittrede in 1949 as volg:

Sy refleksie oor die joernalistiek is waarskynlik die eerste in Afrikaans. Al is baie daarvan deur die tyd ingehaal, gee dit insig in ‘n belangrike, opgeleide joernalis uit die eerste helfte van die twintigste eeu. — JDF