Sondagkoerante is vir lank deur Afrikaners as onaanvaarbaar beskou. Daarom kom Dagbreek en Sondagnuus eers middel 1947 saam-saam op die toneel – ‘n effe morsige sameloop van omstandighede nadat ‘n ontevrede klomp werknemers (insluitende Marius Jooste en Willem van Heerden) uitgestap het by Afrikaanse Pers, uitgewer van Die Vaderland, waar Van Heerden redakteur was.

Onder Jooste, latere grootbaas van Perskor, word Dagbreek as Sondagkoerant begin en ‘n week later verskyn Afrikaanse Pers se Sondagnuus, maar enkele maande later smelt die twee koerante saam en so kom Dagbreek en Sondagnuus tot stand.
Die blad het vinnig ‘n staanplek gevind terwyl Dagbreekpers heelwat drukkerybelange bekom het. Later kom Sondagstem, Die Beeld, Rapport en ander op die toneel.

In 1958 verskyn Sondagstem as opponent vir Dagbreek en Sondagnuus en as ondersteuner van die Verenigde Party (wat toe die amptelike opposisie in die Volksraad was). Die volgende jaar koop die sterk Argusgroep (uitgewer van ‘n groot aantal Engelstalige middagkoerante) die blad. Die blad haal teen 1965 ‘n goeie sirkulasie van 138 000, maar sluit te midde van kwaai mededinging einde November 1967. Onder is die voorblad van een van die laaste uitgawes van die blad.

Intussen het Afrikaanse Pers in 1961 besluit om weer ‘n Sondagblad in die veld gestoot, dié keer met die titel Sondagblad (redakteur: Dirk Richard). Die blad verskyn egter net vir ‘n kort tydjie voordat Marius Jooste se Dagbreekpers die Afrikaanse Pers Bpk. (APB) insluk en Afrikaanse Pers (1962) Bpk. tot stand kom.
Dagbreek en Sondagnuus was die onbetwiste markleier voordat Die Beeld op die toneel verskyn het. Die blad het hand en tant geveg om sy posisie as leidende Afrikaanse Sondagkoerant te behou.


Die Beeld was Nasionale Pers (nou Media24) se eerste publikasie wat in die noorde van die land (Johannesburg) gesetel sou wees. Ondanks sterk opposisie van die Transvaalse Nasionale Party (en Afrikaanse Pers [1962] Bpk., uitgewer van Dagbreek en Sondagnuus), verskyn die blad in 1965 onder redakteurskap van Schalk Pienaar. Die koerant skryf op ‘n manier wat nog nie vantevore in ‘n Afrikaanse koerant gesien is nie – kaalkop en in vele opsigte uitdagend.
In die besonder stel Die Beeld die regse opstand binne die Nasionale Party aan die kaak en ontlok daarmee erge kritiek. Ironies genoeg het Dagbreek ook kritiese geluide gemaak, maar ‘n verbete stryd om sirkulasie woed tussen die twee koerante (met Sondagstem ietwat op die kantlyn). In 1967 sluit Sondagstem en word Landstem by Dagbreek aangehaak om sy sirkulasie op te stoot.


Die Beeld en Dagbreek het albei hul nuuspakket met verhale, fotoverhale en tydskrifte aangevul. Onder: ‘n Voorbeelde van ‘n vervolgverhaal en fotoverhaal in Die Beeld:





Weens ‘n laatnaghofbevel moes Die Beeld sy voorbladhoofberig uithaal en vervang met ‘n beriggie waarin verduidelik is waarom. Die Beeld se hoofberigte het menige lesers op ‘n Sondagoggend ontstel. (Met erkenning aan Oor grense heen, redakteur W.D. Beukes).
Hoewel die sirkulasies van Die Beeld en Dagbreek en Landstem ongekende hoogtes bereik, kos dit miljoene. ‘n Ooreenkoms word noodgedwonge tussen die eienaars van Die Beeld en Dagbreek en Landstem bereik en die koerante smelt in 1970 saam. Elk kry ‘n 50%-belang in Rapport.



Hier is die voorblaaie van die laaste uitgawes van Dagbreek en Landstem asook Die Beeld. Dagbreek maak die punt dat hy met die grootste sirkulasie uit die stryd tree.
Die eerste redakteur van Dagbreek, Willem (Wollie) van Heerden, kyk trots terug op sy koerant se geskiedenis.

Die dryfkrag agter Dagbreek en die koerantgroep Perskor, Marius Jooste, word vereer in die laaste uitgawe van Dagbreek.

Aan die anderkant was Die Beeld se redaksie (en veral sy redakteur, Schalk Pienaar) erg teleurgesteld oor die samesmelting; hulle het geglo hulle was besig om te wen.

Die voorblad van die eerste Rapport, wat op 29 November 1970 verskyn het. Die blad het onder redakteurskap van Willem Wepener (wat pas tevore Die Beeld se redakteur geword het) verskyn. Rapport was wat voorkoms en styl betref eerder ‘n voortsetting van Die Beeld as van Dagbreek en Landstem. Willem (Wollie) van Heerden van Afrikaanse Pers het die voorsitter van die direksie geword, waarmee ‘n balans tussen die twee eienaars gevind is. Tog was die samesmelting allermins maklik.

Rapport was sirkulasiegewys en finansieel uit die staanspoor ‘n reuse-sukses, ‘n koerant met ‘n sterk populistiese inslag wat ook die klem op ernstige nuus en menings geplaas het. Binne drie jaar was Rapport die grootste koerant in die land.

asd

In 1991 vier Rapport sy eerste 21 jaar en vertel sy storie in hierdie tydskrifbylae. Die tydskrif val mettertyd weg.
In 2009 wend Rapport onder redakteur Liza Albrecht ‘n poging aan om die blad ‘n skoner, minder sensasionele inslag te gee. Maar die legendariese agterblad kry steeds ‘n plek. Dit verval later.


Politiek was altyd deel van Rapport se spyskaart.



Rapport het as massakoerant nog altyd ‘n oog gehad vir nuus wat “die volk” graag wil lees.




Len Lindeque se spotprente was ‘n instelling. Later het Lou Henning vir ‘n glimlag gesorg.

Plakkate bly ‘n koerant soos Rapport se belangrikste direkte vorm van bemarking. Saam met die res van die koerantbedryf het Rapport se sirkulasie in die jongste jare skerp afgeneem. Waar die blad op sy hoogtepunt in 1974 meer as 500 000 verkoop het, staan die sirkulasie in 2019 op rondom 100 000. Teen 2020 het dit tot 75 000 gedaal.


In die koerant se 21-jarige gedenkbylae spot die radiopersoonlikheid en skrywer Fanus Rautenbach met homself en Rapport se berugte agterblad.

Só het die agterblad gelyk:

In 2010 vier Rapport sy eerste veertig jaar met ‘n bylae. Daarin vertel Conrad Sidego meer oor Rapport Ekstra, waarvan hy redakteur was. Hierdie uitgawe van Rapport was op die bruin lesers gemik en is later afgeskaf.


In 2020 vier Rapport sy 50ste bestaansjaar.

In 2005 word Die Wêreld vir twaalf uitgawes as Sondagblad naas Rapport gepubliseer, maar het nie die infrastruktuur, kundigheid of finansiering gehad om ‘n ernstige alternatief vir Rapport te word nie. Die redakteur was Maryna Blomerus, wat vroeër naam gemaak het as organiseerder van die Ukasie-fees in Londen. Die nuusredakteur en assistentredakteur was De Wet Potgieter, ‘n ervare ondersoekende joernalis wat in die verlede vir onder meer Rapport en die Sunday Times gewerk het.

Opskrifte soos hierdie het die koerant in ‘n populistiese rigting gedruk en dit duidelik nie geposisioneer as ‘n meer sober alternatief tot Rapport nie. Tog was dit geen populustiese koerant soos die latere Sondag nie. Die gebrek aan ‘n duidelike redaksionele koers het bygedra tot Die Wêreld se mislukking. Dit bly ‘n raaisel waarom die blad hoegenaamd uitgegee is.

Sondag was ‘n poging voortspruitend uit die Noord Son en het ‘n lewendige alternatief tot Rapport gebied in tipiese “tabloid”-styl. Dit het nie die ondersteuning gekry waarop dit gehoop het nie en is deur Media24 gesluit.



‘n Sondagkoerant spesifiek op die bruin Afrikaanse mark gerig, Sondag Son (later genoem Son op Sondag), groei uit die sukses van Son, maar sluit in 2020 te midde van die Corona-19-pandemie.
‘
Die laaste Rapport verskyn op 22 Desember 2024. Die blad se meer intellektuele deel, Weekliks, het homself in ‘n versameling voorblaaie omvou.

Rapport op papier se laaste voorblad.

Lees meer…
Lees meer oor Dagbreek in ‘n Volk staan op uit die as (Afrikaanse Pers [1962] Bpk.) deur L.J. Erasmus asook in
Dirk Richard se Moedswillig die uwe (Perskor, 1985) en Tussen bid en droom (Constantia, 1986).
Lees ook die taamlik volledige atikel oor Dagbreek by https://www.wikiwand.com/af/Dagbreek_(Sondagkoerant)
Verder:
D.C. de Villiers se hoofstuk Die Beeld (Sondagkoerant) in die boek Oor grense heen (redakteur: W.D. Beukes, Nasionale Boekhandel, 1992).
Schalk Pienaar se Getuie van groot tye (Tafelberg, 1979).
Kyk ook Heloise Davis se M-tesis, Die politieke en joernalistieke impak van die Sondagkoerant Die Beeld, 1965-1970 (Universiteit van Stellenbosch, 1983).
Lees meer oor Schalk Pienaar en Die Beeld in Alex Mouton se Voorloper (Tafelberg, 2002).
Lees meer oor die stigting van Rapport in J.J.J. Scholtz se hoofstuk oor Rapport in die boek Oor grense heen (redakteur: W.D. Beukes, uitgegee deur Nasionale Boekhandel, 1992).
Izak de Villiers, redakteur van Rapport van 1991 tot 1997, skryf oor sy tyd by Rapport in Strooidak en toring – Van mense en my tyd (Umuzi, 2009).
Conrad Sidego skryf meer oor Rapport Ekstra in die hoofstuk Stroom-af en stroom-op: die ekstrakoerante se rol in ‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange (redakteur: Lizette Rabe, Tafelberg, 2015). Kyk ook na Zelda Jongbloed en Michael le Cordeur se bydraes in dieselfde boek.
A.M.E. Naudé en J.D. Froneman wys in hul artikel ‘Trends in news agenda setting by the Sunday Times and Rapport during 2000’ uit hoe die nuusagendas van die twee grootste Sondagkoerante destyds verskil het. (Ecquid Novi, 2004, 24:1).