SKRYWER JAN RABIE WAS OOK SAUK-OMROEPER

Die skrywer Jan Rabie was op sy dag ook ‘n omroeper by die Afrikaanse diens in Kaapstad, maar was later persona non grata by die SAUK. Hiervan vertel J.C. Kannemeyer in sy biografie oor die skrywer.

JAN RABIE – Prosapionier en politieke padwyser

J.C. Kannemeyer

Kaapstad, Tafelberg

2004

Rabie het in Februarie 1955 ná sewe jaar in Frankryk na Suid-Afrika teruggekeer en het werk gesoek. Op 14 Februarie slaag hy ‘n omroeperstoets en word hy summier deur M.P.O Burgers, toe Kaapse direkteur van die SAUK, aangestel.

Maar hy het dit altyd as ‘n tydelike posisie beskou; hy wou eintlik voltyds skryf. Die brandarm Rabie kon wel met die inkomste doen en dit het gehelp om sy vrou, die skilder Marjorie Wallace, se passasie na Kaapstad te betaal.

Rabie se kollegas het ingesluit Morkel van Tonder (later hoof van die Afrikaanse diens), Pieter de Waal en Audrey Blignault. Die skrywer W.A. de Klerk was toe reeds weg by die SAUK en het in die Paarl geboer, maar het gereeld alteljee toe gekom vir die lewer van praatjies.

Rabie het, aldus Kannemeyer, kontinuïteitswerk gedoen, streeknuus gelees, onderhoude gevoer en selfs hoorbeelde saamgestel. Sy besige skedule het min tyd vir sy eie skryfwerk oorgelaat. Boonop was sy vrou, wat intussen uit Frankryk by hom aangesluit het, nie in haar skik met Rabe se werk as omroeper nie. Kannemeyer skryf:

Rabie se anti-apartheidstandpunt het sterk deurgekom in verskeie boeke uit sy pen. Dit is dan ook nie vreemd dat hy ongemaklik was met aspekte van sy werk by die SAUK nie. So skryf hy in sy dagboek:

Rabie bedank daarom ná 18 maande, dog doen steeds vryskutwerk vir die SAUK — onder meer drie ruimtevervolgverhale.

In ‘n tyd voor allerlei rekenaarmoontlikhede, hoor Rabie en ‘n klankman per toeval hoe die bloudrade van brugrelings naby Ceres vreemde geluide maak (weens “ongelyke spanning met die windvlae”) wat klink soos dié wat ‘n vlieënde piering sou kon maak. Hulle neem die “pragtigste kosmiese brugklanke” op vir gebruik in die ruimteverhale, skryf Kannemeyer.

Ook sy vryskutwerk het in 1960 tot ‘n einde gekom nadat dr. Piet Meyer, nuwe voorsitter van die SAUK, opdrag gegee het dat dit gestaak word.

Kannemeyer vergis hom egter tydsgewys oor die botsing van idees tussen Rabie en Meyer. Piet Meyer was nie in 1954 met die verskyning van sy boek Nog nie die einde nie by die SAUK nie, maar verbonde aan Rembrandt op Stellenbosch; hy is eers in 1959 by die SAUK aangestel. Rabe se bedanking in 1956 kan dus nie aan Meyer en sy 1954-boek gekoppel word nie, behalwe in die sin dat Meyer ‘n Afrikanernasionalisme geartikuleer het wat Rabie dwars in die krop gesteek het.

Dat Meyer Rabie se verdere vryskutwerk in 1960 stopgesit het, klink heeltemal logies: Rabe se standpunte (soos uitgespel in die roman Ons, die afgod, die boek Die evolusie van nasionalisme en ander geskrifte) het lynreg met Meyer s’n gebots. En Meyer het nie opposisie geduld nie. — Johannes Froneman