Dolf van Niekerk se jare as radio-omroeper in die 1950’s lê baie ver in die verlede. Gelukkig het hy ‘n paar mooi oomblikke op sy kenmerkend melancholiese wyse opgeteken. Die teks van ‘n skitterende hoorspelreeks is ook gepubliseer. Iewers in die SAUK se argiewe lê die bande.
DIE AARDE WAAROP EK LOOP
Dolf van Niekerk
Lapa Uitgewers, Pretoria
2003
Dié boekie is as “biografiese sketse” aangebied. Flitse uit Van Niekerk se lewe. Gelukkig sluit dit ‘n paar in oor sy tyd as omroeper. Daar is die skets oor ‘n onderhoud tussen hom (as jong, bewerige omroeper) en die digter D.J. Opperman, asook dié oor besoeke aan M.E.R. (die toe reeds bejaarde skrywer en baanbreker vir vroue in die Afrikaanse joernalistiek), oor ontmoetings met die dramalegende Anna Neethling Pohl, en oor kosbare oomblikke saam met die skrywer en mede-omroeper W.A. de Klerk …
‘n Enkele uittreksel oor sy (onsuksesvolle) poging tot ‘n onderhoud in 1953 met die skrywer M.E.R.:

Daarna volg talle besoeke.
LAND VAN ONS VADERS
Dolf van Niekerk (red.)
Afrikaanse Pers-Bpk, Johannesburg
1966
Dolf van Niekerk sal seker altyd onthou word vir die programreeks Land van ons vaders. Dié het hy in opdrag van Douglas Fuchs aangepak (nadat hy reeds weg is by die SAUK) en is vir vier jaar op die Afrikaanse Diens uitgesaai.
Dit was ‘n besonderse reeks met topmedewerkers én ‘n treffende kenwysie.
In 1966 is van die sketse (insluitende vyf deur Van Niekerk) uitgegee, wat ons vandag herinner aan daardie roerende reeks wat aan hom ‘n Akademieprys vir hoorspele besorg het.
In die een episode haal prof. M.C.E. van Schoor woorde van Emily Hobhouse aan, daardie Engelse vrou wat opgekom het vir die vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe, daar waar duisende gesterf het:

Onder leiding van Dolf van Niekerk sou hierdie reeks, uitgesaai in die hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme, nooit triomferend wees nie — wel vol menslikheid en patos. — JDF