Die ontwikkeling van die media is regstreeks gekoppel aan die ontwikkeling van tegnologie — aanvanklik die druktegnologie, maar later het die radio, televisie, internet en slimfone bygekom. Onderliggend daaraan was die aanvanklike uitvinding deur ‘n goudsmid (Johannes Gutenburg), maar daarna dra ander uitvinders, vakmanne, ingenieurs, fisici en entrepreneurs by tot die ontsluiting van die geheimenisse van stoomkrag, elektrisiteit, elektromagnetiese golwe … In die twintigste eeu lê atoomfisika ten grondslag van uitvindings soos die transistor en mikroskyfie, wat draagbare radio’s en rekenaars voortbring. En meer onlangs bou uitvinders voort op al die voorafgaande om slimfone te skep wat via die internet die opkoms van die digitale media moontlik gemaak het.
Hooffoto bo: Die settery vroeg in die 20ste eeu by Het Westen, wat metterwyl van Potchefstroom na Bloemfontein geskuif het. Die blad se naam is eers na Het Volksblad verander, daarna na Die Volksblad (as deel van Nasionale Pers, vandag Naspers met Media24 as filiaal) en eindelik bloot Volksblad. Let op die tafels vol loodletters en die drukkerslaaie links waarin letters gepak is. Met erkenning aan ‘n Lewe van sy eie, Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet se biografie van Volksblad, in die koerant se eeufeesjaar, 2004, deur Tafelberg uitgegee. (Kyk ook artikel oor Volksblad in die afdeling Koerante.)
Die Oosterlig se rolpers in 1938. Ben Louw skryf oor Oosterlig se set-en-drukproses in sy bydrae getitel ‘n Gejaag by Oosterlig om betyds te wees in die afdeling Truspieël: https://mediamense.com/n-gejaag-by-oosterlig-om-betyds-te-wees/

In 1940 plaas Die Burger hierdie foto van hul rolpers in ‘n bylae oor hul eerste 25 jaar.

In 1949 brand Dagbreek, die eerste Afrikaanse Sondagblad, se drukkery af, maar agttien maande later staan hierdie rolpers in ‘n nuwe gebou. Die mense op die foto is Marius Jooste (besturende direkteur), prof. L.J. du Plessis (voorsitter van Dagbreekpers se direksie) en nog ‘n direkteur, F.S. Steyn.


Beeld het met sy 25ste verjaarsdag in 1999 ‘n nuwe rolpers gekry – ‘n Man Roland wat in die nuwe fabriek in City Deep, Johannesburg, geïnstalleer is. Daarmee is redaksie en drukpers van mekaar geskei, ‘n tendens wat later by bykans alle ander dagblaaie in Suid-Afrika gebeur het – veral toe die elektroniese set en vormgewing van koerante die noodsaak om by die settery te wees onnodig gemaak het. Talle koerante se drukkerye het uitgeskuif na industriële gebiede en joernaliste ontneem van die opwinding wanneer die rolpers op stoom kom en koerante, netjies gedruk en gevou, begin uitpeul vir die joernaliste om “hul handewerk” te beskou. Eintlik was dit die produk van ‘n span, waarvan die mense in die fabriek uiteraard onontbeerlik was.
Die uitvinding van die tikmasjien was ‘n belangrike baken in die ontwikkeling van vinniger setwerk, iets wat sedert Gutenburg se uitvinding rondom 1450 (dat los lettertjies geset kan word) met die hand gedoen is. Die sprong na setmasjiene het egter eers in die 19de eeu gebeur.

Teen die 1950’s het draagbare tikmasjiene op die toneel verskyn. Hierdie tikmasjien het Herman le Roux (en ander rugbyskrywers) in 1965 present gekry pas voor hul vertrek na Nieu-Seeland om die Springbokke se toer te dek.

Op grond van die tikmasjien, is setmasjiene ontwikkel. Hierdie foto is by die Paarl Post geneem en in 1976 in die blad se eeufeesuitgawe geplaas. Hierdie Linotype-masjiene het reël vir reël met warm lood geset, waarna die lood-reëltjie in kolomme opmekaar gestapel is en op ‘n “skinkbord” gepak is waar die bladsy uitgelê is. Kyk ook inskrywing oor die masjien op Wikipedia: https://en.wikipedia.org/wiki/Linotype_machine

Hennie van Deventer vertel in sy boek Koerant hoe dit by Die Volksblad gewerk het om die opskrifte by die lyfteks (wat reeds op die Linotype-masjiene geset is) te voeg.


Van Deventer vertel verder:

Die drukproses het dan min of meer as volg verder verloop:
Wanneer die blad van die steen af was, was dit uit die redaksie se hande. Nadat dit geproeflees is (deur opgeleide proeflesers) is dit na die stereo-afdeling. Hier is eers ‘n kartonmatrys van die blad gemaak. Dit was in wese ‘n kartonafdruk van die hele bladsy. Elke lettertjie is teen groot druk op die matrys (karton) ingeforseer. Dit is dan in ‘n silindervormige gietmasjien geplaas en gesmelte lood is daarop gegiet. Die lood het dan in elke gaatjie (letter of leesteken) ingeloop. Nou het mens ‘n silindervormige loodbladsy gehad, want die rolpers kan nie met ‘n plat bladsy werk nie. Hy moet rol … Die ink is op die loodbladsy gerol, wat weer die drukwerk op ‘n rubbersilinder geplaas het, wat dit op die verbyrollende papier gedruk het. Alles teen ‘n stewige spoed. Die rolpers het die blaaie inmekaar gevou en ‘n mooi gevoude koerant het flink die een na die ander hul opwagting gemaak. Nou is die koerante in pakke gebind en in vragmotors gelaai vir verspreiding.
Die Linotype-setmasjiene het na soveel dekades van ongelooflike diens in die 1970’s begin plek maak vir die rekenaar. Eers het joernaliste soos van ouds kopie op papier getik, wat dan deur intikkers ingelees is. Hierdie stap het papierstroke (linte) met gaatjies gepons, wat weer is in ‘n elektroniese setmasjien ingevoer is. Die gaatjies is deur die setmasjien gelees en letters is op fotosensitiewe papier “gefotografeer”, alles teen enorme spoed. Die volgende stap was om die berigte op die stroke bromidepapier (waarop die berigte verskyn het) met ‘n skerp mes uit te sny en op die lewensgroot bladsye te plak, volgens die subredakteur se instruksies. Hier was dus geen lood betrokke nie.
Die Burger kondig in 1973 aan dat hy die eerste koerant in Suid-Afrika is wat die ou setproses vervang het met die nuwe.

‘n Vakman (genaamd ‘n stripper) het die stroke gesette kopie en foto’s op die bladsy geplak. Die stroke is op die rugkant met byewas bestryk sodat dit lekker sal vassit, maar tog afgetrek en geskuif kon word. En wee die joernalis wat aan enigiets in die drukkery geraak het; dit was die vakmanne se domein en hul vakbond het jaloers gewaak oor hul werk.
Dié foto is in 1981 geneem toe ‘n proefuitgawe van die eerste koerant-Kerkbode gemaak is. ‘n Groot voordeel was dat die bladsye nou gefotostateer kon word en deur redaksielede geproeflees kon word, waarna korreksies op die bladsye aangebring is.

Daarna is die bladsye gefotografeer en chemies behandelde metaalplate gemaak waarop ink op letters en foto’s vassit, maar ink afstoot waar die blad wit gelaat moet word. Die rolpers het die res gedoen.
Beeld is sedert sy ontstaan in 1974 in volkleur gedruk. Hierdie is die eerste uitgawe van die koerant.

Die blad se regstreekse mededinger, Die Transvaler, het ook in hierdie tyd sy tipografie en drukwerk vernuwe.

Ook die plattelandse pers het rekenaars ingebring. So was dit ook in 1988 by Die Laevelder.

By Die Volksblad het eers in 1992 na ‘n elektroniese setstelsel oorgeskakel. Hier is die subs (subredakteurs) in die subkantoor agter hul nuwe rekenaars.

Reeds in 1966 het Die Huisgenoot en ander tydskrifte in volkleur begin druk. Hier wys die blad aan lesers hoe ‘n kleurbladsy gedruk word. Geel, blou, pienk (magenta) en swart is ter sprake. Die eerste drie kleure bo-oor mekaar gedruk kan enige kleur produseer, na gelang van die persentasie geel, blou of magenta. So gee magenta en geel bo-op mekaar natuurlik rooi, ensovoorts. Die swart is gewoonlik net vir die teks. Die sleutel tot goeie drukwerk is dat elke plaat se kleur presies op mekaar pas (registreer).

Die Huisgenoot was nie min trots op sy drukkery nie.

So was dit ook in die Karoo toe ‘n nuwe drukpers wat op Graaff-Reinet geïnstalleer is en waarop verskeie koerante, insluitende Die Murraysburger, gedruk is. Later is baie plaaslike koerante sentraal op George, in die Paarl of Johannesburg gedruk en dan aangery.

Hennie van Deventer vertel hoe trots hulle op hul rolpers was:

In die 1990’s het persoonlike rekenaars algemeen geword. Danksy internetverbinding werk joernaliste soos Hugo Redelinghuys van die Advertiser op Graaff-Reinet tuis of op kantoor op hul rekenaars. Die Advertiser word egter op George gedruk, wat beteken berigte en foto’s word per internet deurgestuur. Daar word die blaaie elektronies opgemaak, finaal geproeflees en drukkery toe gestuur.

Die normale by dagblaaie is nou reeds dekades dat verslaggewers hul berigte op rekenaars tik. Wanneer dit taalversorg en van opskrifte voorsien is, kan die bladontwerpers hul werk op die rekenaarskerm doen. Vandaar gaan dit elektronies na die drukkery. Hier is dus geen setters betrokke nie en die bladsye word volledig deur die joernaliste gefinaliseer. Al wat nou oorbly, is vir die drukkery om drukplate te maak en die rolpers aan te skakel. Veel effektiewer en vinniger as in die dae van lood. Die eindprodukte is soveel netjieser en makliker om te lees. Maar die romantiek is daarmee heen. Gelukkig ken ‘n nuwe geslag mediamense nie daardie romantiek nie en mis dit nie.
DANK AAN DIE MANNE VAN DIE SETTERY
Deur Ludwig Visser
Hierbo is iets vertel van hoe die koerant vroeër tegnies aanmekaargesit is, van die masjinerie en die setters en sulke dinge soos matryse. Maar ek wil graag vertel van ‘n paar mense uit daardie geledere.
Die eerste een met wie ek te doen gekry het as jong verslaggewertjie by Die Burger was die settery-voorman. Een Sondagnag toe ek nagverslaggewer was – by die Langkantoor soos dit destyds genoem is — stuur die hoofsub my laat nag af na die rolpers onder in die gebou om om “blekers” te gaan haal. Ek had nie die vaagste benul waarvan hy praat nie, maar ek weet darem hoe om by die rolpers onder in die gebou in Keeromstraat 30 te kom.
Daar loop ek my in ‘n vreemde wêreld vas, met baie manne wat daar rondwoel en werskaf, en een wat net een been het. Toe ek hom vir “blekers” vra, het hy my aangekyk en geweet ek is ʼn jong snotkop, en hy druk my ‘n klomp koerantvelle in die hand. Ek kom toe agter dis die blaaie wat vroegaand al klaar was en wat al deels deur die pers geloop het. Later het ek die man met die een been beter leer ken, as baie knap, baie vriendelike Basil van Oudtshoorn. Hoe hy die been verloor het, het ek nooit gevra nie.
Nog later het ek die manne in die settery leer ken. Oom Manie, soos ons hom genoem het, was die kop-setter. As jy die aand gesub het en die kop wat jy deurgestuur het settery toe kom terug na jou toe met ‘n aantekening “TL” daarop, moes jy weet, dit was te lank, oom Manie kon dit nie set nie. Dan probeer jy dit korter maak en stuur dit weer. As dit dan weer terugkom met ”NTL” daarop, moes jy weet, dis ”Nog te Lank”.
Dan het jy maar weer probeer. En as dit dán terugkom met “NTFL!” daarop, het dit nie baie raaiwerk gekos om te weet wat die ”F” verteenwoordig nie, dan het jy maar eerder ‘n nuwe kop geskryf!
Net ter verduideliking: As subs moes ons altyd weet presies hoeveel letters in ‘n sekere kopgrootte in twee of drie kolom pas. Ons moes die letters in die kop wat ons skryf letterlik een vir een tel, met ‘n halwe spasie vir ʼn “l” of ʼn “i”. Byvoorbeeld: 18 onderkas (kleinletters) kon 15½ letters per kolom hanteer, 24 okas 12 letters, 36 okas 17½ per 2 kol, 42 okas 14 per 2 kol, ensovoorts. Vandag se subs het nie hierdie moeite nie, want die rekenaar tel die letters vir hulle en sorg dat die koppe pas.
Dan was daar die bladpakkers, die manne, hulle is in Engels “random minders” genoem, wat die loodgietsel in die staalrame moes inpak waarmee die blaaie uiteindelik gegiet is. Hierdie manne kon die agterstevoor en onderstebo lood-setsel gladweg lees soos hulle dit gesien het en in die staalrame moes pak, en hulle kon jou as sub baie help om laatnag vinnig sommer daar op die steen ‘n berig te sny wat ʼn paar reëls te lank was om in die toegewysde spasie te pas.
Hulle was net sulke karakters. Veral een, ons het hom as “Attie” geken, uitgespreek op die Engelse manier, want hy was so ‘n rooi, bebaarde halwe Engelsman met die naam Attmore. Een Saterdagaand by Rapport kom ek in die settery, en ek sien oral die manne eet heerlik aan stukke gebraaide hoender en hulle drink Coke so tussen die bladpakkery deur.
Ek vra toe wat hulle vier en verstaan toe Attie het groot geld gemaak op die middag se perdewedrenne en hy het toe sy kollegas so bietjie onthaal. Die Sondagaand werk ek weer. Attie is weer daar. Maar hy lyk so suur en bedinges. Ek verneem toe maar by ʼn kollega wat met hom aangaan. Die “dubbel” wat hy die vorige aand gewen het, het toe net R1,50 uitbetaal, en nie die groot geld soos hy verwag het nie. Hy moes toe maar uit sy eie sak vir die gebraaide hoender en die Cokes betaal!
Die bladpakkers was ʼn besondere klomp, want hulle moes vinnig werk om die koerant voor saktyd klaar te kry. Een van hulle, onthou ek, was ‘n Hollandse omie, en as hy klaar was met ‘n blad, veral as dit baie druk gegaan het, was sy kommentaar wanneer die loodblad op so ’n ysterwaentjie weggestoot is: “Wat een zware bevalling!”
Die omie wat al die verskillende pakke loodsetsels bymekaar moes sit om ’n berig te vorm, was ook ‘n karakter, oom Willie Coetzee. Ek het altyd die indruk gekry dat hy ‘n loopneus-probleem het, want hy het altyd ’n sigaret in die mond gehad en daar het dikwels so ‘n watertjie uit sy neus geloop en gelyk of dit om die sigaret draai, maar die onderskeie dele van die berigte het altyd reg by mekaar uitgekom, ondanks die ou hinderlikheidjie onder sy neus!
Hoeveel snaaksighede ‘n mens ook al oor hierdie span manne onthou, kan jy nie anders as om hul rol te erken in die nuuswese nie. Sonder hul toegewyde werk, sonder hul bereidheid om al die spanning van sluitingstye te hanteer en by daardie tye te hou, sou die koerant nooit op straat verskyn het nie.
Ek onthou hoe ‘n klomp van ons nagwerkers – die subs en vertalers en hierdie klomp manne uit die settery – snags met ʼn bakkie huis toe geneem is, d.w.s. ons wat iewers naby die koerant gewoon het, maar nie ons eie vervoer twee-uur snags gehad het nie. In die bakkie is altyd geskerts oor die aand wat verby is, en met groot verligting gepraat dat al die saktye gehaal is. Vandag, soveel jaar later, weet ek wat werklik agter daardie laatnag-praatjies geskuil het.
In ’n stadium het Die Burger sy eie teleksmanne gekry, Lewis Blom en Nottie Nothnagel. Hul koms was vir ons nagmanne ‘n groot verligting, want ten minste hoef ons toe nie meer nog die teleksmasjiene ook dop te hou nie. Die goed se papier het mos gedurig opgeraak, en wat ‘n gesukkel was dit dan nie om ’n rol papier in so ‘n masjien te kry terwyl hy lustig voortwerk.
Die koerant het toe ook nog nie landlyngeriewe gehad nie. Alle foto’s wat per landlyn van elders of oorsee aangestuur is, moes laatnag by die hoofposkantoor afgehaal word. Om een of ander rede onthou ek nog die nag van 31 Mei toe die land ’n republiek geword het. Vir my het daardie oomblik op die sesde verdieping van die hoofposkantoor aangebreek toe ek laatnag in die stil, halfdonker gang afgestap het om landlynfoto’s te gaan haal.
Sulle oomblikke en sulke mense sal ‘n mens jou lewe lank bybly en jou herinneringe verryk. Hulle was almal aangenaam.
Die digitale weergawe van Koerant deur Hennie van Deventer kan by http://www.denovowebs.co.za/product/koerant-digitaal-copy/ bekom word.
Oor die geskiedenis van toestelle wat ons massamedia moontlik maak, is talle webwerwe, soos hieronder aangetoon. Wikipedia kan ook geraadpleeg word.
Telefone:
Radiotoestelle:
https://www.electronics-notes.com/articles/history/radio-receivers/history-of-the-radio-receiver.php
Televisiestelle:
Selfone: