SATERDAGAANDE VOOR DIE DRAADLOOS

Deur Johannes Froneman

Sedert 1976 het SAUK-TV ons (probeer) vermaak met programme soos: Sirkusse van die wêreld, Magnum PI, die skitterende oorgeklankte Blitspatrollie (met Willie van Rensburg in die hoofrol) en so meer.

Toe val Afrikaanse oorklankings weg, satelliettelevisie bied via DStv se kanale ‘n duisternis programme, meestal onkykbaar. kykNET vul ‘n gaping en Netflix vermeerder die aanbod. YouTube bied toenemend alternatiewe, maar intussen het die digitale revolusie elkeen in sy eie hoekie gedryf, dikwels met slimfoon in die hand.

Wie kyk nog as gesin televisie? Dit was eers die gebruik, soos ons mense eers na die draadloos geluister het: saam voor die groot stel.

Teen die 1960’s het klein transistorradio’s posgevat en was die saamluister minder. Elk kon nou ‘n eie stasie kies. (Waar gesinne wel nog saam vermaak is, was die inryteater, ook genoem die veldfliek. Of ‘n Carfo-fliek by die kerksaal, waar die film onvermydelik gebreek het.)

Waarna het ons op ‘n Saterdagaand geluister?

Natuurlik het U eie keuse oorheers. Onaantasbaar en herkenbaar. Tog was daar aande waar ons opgewone as kinders na kommentaar oor boks- en stoeigevegte geluister het. Is U eie keuse dan geskuif? Ek onthou nie. Maar die name van die rofstoeiers Willie Liebenberg, Wildeman van die Kalahari, Percy Hall, Jan Wilkens en ander bly in my geheue vassteek. (Die foto hierbo kom van ‘n video op die internet. Die kamma-drama het aan kommentators ruim geleentheid gegee om in groot erns aan luisteraars tuis die geveg te beskryf.)

Jare later woon ek as persman so ‘n geveg in die Veremarksaal in Port Elizabeth by. My komplimentêre kaartjie gee vir my sitplek langs (eintlik onder) die kryt. Dit was vreesaanjaend as daai reuse met mening teen die toue leun, hier bokant jou. Maar dit was minder opwindend as die radiokommentaar.

So was dit ook met boks. Dit was regtig beter voor die radio. Ons man het altyd gewen (as jy Gerhard Viviers moes glo), net om ‘n swak beslissing teen hom te kry. Darem het  Arne Taylor almal gewys deur die opponent in die laaste rondte uit te slaan.

Vroeër die aand, net ná die seweuurnuus, het Glanspunte uit die sportnuus ons ingelig oor elke denkbare uitslag. Daarna was dit tyd vir die Saterdagaandvervolgverhaal. Ek herinner my aan Die vlakte dus kant Hebron. Ook ‘n spanningsverhaal met ‘n Ricardo Bornman-gekomponeerde kenwysie.

Die SAUK Bulletin van destyds sal nog deursoek moet word vir meer detail.

Springbokradio kan nie vergeet word nie, hoewel Afrikaans selde in die aand gehoor is. Ons het wel na die stories geluister. En op Vrydagaande na die Top Twenty-treffersparade.

Maar terug na Saterdagaande. As kind het ek na LM geluister, daardie effe krakerige uitsendings op kortgolf uit die destydse Lourenco Marques (nou Maputo) in Mosambiek. Daar is meer jongmensmusiek gespeel.

Die koms van die streekmusiekstasies, Radio Hoëveld, Radio Port Natal, Radio Goeie Hoop en Radio Oranje (sedertdien verkoop, hernoem en grotendeels verengels), het meer speelkans aan popmusiek gegee.

Maar alles het met die koms van TV verander. Toe wéér in ‘n mate terug verander. Radio het oorleef én in aanbod uitgebrei. Nou veg Multichoice met al sy TV-kanale om kykers te behou.

U eie keuse se kenwysie is na al die dekades steeds daar op ‘n Saterdagaand. ‘n Herinnering aan ‘n byna vergete verlede.