SARINA BOSMAN — GLASHELDER STEM BY PRETORIA FM

Sarina Bosman is ‘n ervare omroeper wat reeds dertien jaar op Pretoria FM gehoor kan word. Hier lei sy ‘n span meestal jong omroepers met groot entoesiasme. Sarina vertel aan Johannes Froneman meer oor haar agtergrond en loopbaan.

Vertel vir ons iets oor jou agtergrond. 

Ek was omtrent 11 jaar oud toe ek besluit het dat ek eendag ‘n radio-omroeper wou word. Ek het op skool alles gedoen om my gawes en talente te skaaf en te ontwikkel om hierdie droom te bereik – drama, redenaars, voordrag, koor… enige iets wat my gemaklik maak om voor/met mense te praat.

Toe ek destyds ‘n studierigting moes kies wou ek beslis iets kies wat my verder in die regte rigting kan help om eendag op die lug te wees. Daarom het ek besluit dat Joernalistiek dalk die regte keuse is, omdat ‘n mens ‘n voet in die deur kan kry deur die nuuskantoor.

Jy klink na ‘n gebore omroeper …

Ek het nooit my een ouma geken nie – sy is oorlede nog voordat my ouers mekaar ontmoet het… maar toe ek eendag met my oupa praat, het hy verklap dat my ouma se aanlegtoetse op skool aanbeveel het dat sy ‘n omroeper moet word … so dis seker maar in die bloed! Ek wou van jongs af ‘n omroeper word en ek weet eerlikwaar nie watter beroep ek sou beoefen as die liewe Heer my nie ‘n stem/persoonlikheid gegee het om hierdie droom te bewaarheid en uit te leef nie. So ja, ek voel ek is ‘n gebore omroeper.

Jy het toe by TuksFM gewerk?

Tydens my studies aan die Universiteit van Pretoria was dit  vanselfsprekend dat ek by die kampusradiostasie betrokke wou raak. Ek het twee en ‘n half jaar by Tuks FM gewerk en my uitsaaitande as ‘t ware daar geslyp. In daardie stadium het Pretoria FM (toe Radio Pretoria) ook ‘n beurs aangebied, spesifiek vir ‘n student wat joernalistiek studeer. Die beurs is aan my toegeken en deel van die ooreenkoms was dat ek vakansies by die radiostasie sou uithelp. Dit was my eerste kennismaking  met Pretoria FM.

Waarmee het jy begin?

Ek is destyds aangestel as programregisseur vir die ontbytprogram wat Heinrich Marnitz aangebied het. Vinnig het Heinrich my ook op die lug begin intrek en kort daarna is ek ‘n voltydse pos aangebied — as die regisseur en aanbieder van die middagaktualiteitsprogram. ‘n Paar jaar later is ek bevorder tot nuusredakteur en kort daarna weer bevorder tot programbestuurder/programkoördineerder.

Die radiostasie het heelwat verander…

Die radiostasie het natuurlik ook verander. Toe ek as jong student hier begin werk het was die gemiddelde ouderdom van die personeelkorps byna 72 jaar… tans is ek een van die ouer garde en ek is skaars 33!  Verder het die handelsmerk en kultuur van die stasie gegroei. Ek is dankbaar om deel van ‘n dinamiese span en omgewing te wees.

Jy doen ‘n groot verskeidenheid programme … 

Soos genoem het ek eintlik begin uitsaai as aanbieder van aktualiteitsprogramme. Ek was nog altyd ‘n voorstander van die feit dat ‘n omroeper veelsydig moet wees, daarom het ek altyd my hand opgesteek om ook buite-uitsendings, musiekprogramme, voorlesings of radiodrama’s te doen. My groot liefde is regstreekse uitsendings en ek geniet die skof wat ek tans doen (weeksdae 10:00 – 12:00) juis omdat dit meer ‘n leefstylprogram is met minder nuusonderhoude. Maar ek sien altyd kans vir ‘n uitdaging en hou daarvan om nuwe programme te skep en aan te bied.

Jy is ook programkoördineerder. Wat behels dit?

My rol as programkoördineerder behels grootliks om na die omroepers om te sien. Seker te maak die inhoud van programme is in orde, instaan-omroepers te reël wanneer iemand met verlof is en bestaande insetsels/programme deurgaans te evauleer om seker te maak dat dit nog relevant en vars is. Verder moet ek gereeld met luisteraars skakel om navrae, voorstelle en klagtes te hanteer.

Jy klink altyd opgewonde om uit te saai …

Die mikrofoon is my kreatiewe uitlaatklep en wanneer ek in die ateljee instap laat ek al my sorge agter en borrel van opwinding elke keer as die mikrofoon aangeskakel word. Natuurlik moet ‘n mens deurlopend skaaf aan jou eie aanbiedingstyl en stem, maar ek geniet alles van my werk!