SAREL DU PLESSIS: KOERANTBEMARKER EN MEDIA-ENTREPRENEUR

Sarel du Plessis vertel in hierdie e-posonderhoud met Johannes Froneman oor sy loopbaan as advertensieman en bemarker by die land se belangrikste koerante.

Sarel, vertel iets oor jou agtergrond en hoe jy in die drukmediawêreld beland het.

Alhoewel ek in Edenvale aan die Oos-Rand gebore is, is my pa verplaas na ‘n nuwe werk in Umbogintwini in die destydse Natal en het ons in ‘n baie lekker middelklashuis in Amanzimtoti gebly. Aangesien daar in daardie stadium nie ‘n Afrikaanse skool in ‘Toti was nie, moes ons noodgedwonge een van die drie Afrikaanse skole in Durban gaan bywoon, en het die bure aanbeveel dat ons Port Natal probeer. Dit was ‘n goeie keuse. Gedurende my matriekjaar het ek op eie houtjie besluit om ‘n skoolkoerant op die been te bring. Ek het die afgerolde A4-koerant ’n Blik op die onnies genoem, en was die redakteur en uitgewer. DieBlik het kwartaalliks verskyn en was dus my eerste kennismaking met die mediabedryf.

Ek het na skool eers universiteit toe en het ingeskryf vir ‘n BA Kommunikasie. Die nuwe Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), nou die Universteit van Johannesburg, was in daardie stadium nog in sy kinderskoene en ons was nog in die tydelike kampus oorkant Wits terwyl die nuwe moderne kampus in Aucklandpark in aanbou was. Tydens my koshuisverblyfjare (Drommedaris) het ek en ‘n vriend (vandag ‘n bekende predikant) ‘n koshuiskoerant met die naam Die Mishoring geloods.  Van die inwoners het later baie bekende en befaamde mediamense geword – Tim du Plessis (redakteur van Beeld/The Citizen/Rapport) en Mike Vink (redakteur van Rapport Tydskrif/Sondag).

Ons moes egter hierdie koerant van ons laat druk wat natuurlik geld gekos het, en aangesien die universiteit nie wou help met finansies nie, het ons besef dat ons adverteerders moet kry. Ek het Mellville ingevaar en het toe my heel eerste advertensie ooit aan Standard Bank se Mellville-tak verkoop. Die koste was ‘n aardige R250 en was genoeg om die eerste uitgawe se koste te dek. Die mediagogga het my toe reeds gebyt!

Sarel du Plessis as mediabestuurder in sy kantoor. Maar dit het harde werk van heel onder geverg om bo te kom.

Wat was jou eerste werk?

My universiteitsjare het gekom en gegaan en ek was gedurende 1978/79 ‘n onwillige werknemer van die Departement van Verdediging. Kort na my “vrylating” moes ek gaan werk soek. Die plaaslike gratis streekkoerant in Amanzimtoti was die South Coast Sun. Daar het ek ‘n advertensie gesien vir ‘n advertensiebesprekingsklerk by ‘n tydskrifmaatskappy. Die maatskappy was Republikeinse Pers.

Ek het telefonies aansoek gedoen (dit was voor die internet) en is toe genooi na ‘n onderhoud by die kantore in Mobeni. My CV was slegs een bladsy lank. Roy Minaar, die groep se hoofbestuurder van advertensies, het die onderhoud met my gevoer. Na sowat 15 minute het hy skielik gevra: “Drink jy, Boetie?” Ek het besef dat dit dalk ‘n strikvraag kan wees, maar het eerlik geantwoord dat ek hou van rooiwyn en goeie whiskey. Hy het na sy polshorlosie gekyk (dit was ongeveer elfuur) en toe gesê: “Kom ons gaan lunch!”. Ons is daar weg na die Wentworth Hotel en het eers ná drie die middag by die kantoor teruggekeer. Hy het my hand geskud en gevra of ek die volgende Maandag kan begin. Die tien jaar by Republikeinse Pers (RP) was die beste moontlike leerskool om my media-ervaring te ontwikkel.

Wat was jou kontak en ervaring met die Hymans, destydse eienaars van RP?  

Ek het baie lekker saam met die Hymans gewerk. Oom Hint Hyman was die HUB, sy broer Boet Hyman was ‘n direksielid. Tant Baby Hyman was redakteur van Garden & Home, en sy was ‘n formidabele vrou wat niks bollie van kabouters gevat het nie. Seun Willem Hyman was bemarkingsdirekteur en sy gade, Maureen Hyman, was redakteur vanRooi Rose.

Ek was skaars ses maande in my admin-pos toe word ek verplaas na die Kaapse kantoor van RP.

Dit is hier waar jy akteur in fotoboekies geword het? Was jy held of skurk?

Ek was slegs in een van die fotoboekies. Die reeks was Eersteliefde en is in die Kaap geskiet. Die oggend toe die filmspan ons Kaapse kantoor moes verlaat om te begin met die skiet van die boekie, het die dokter-akteur gebel en laat weet hy kan dit ongelukkig nie maak nie. Peggy Champion, wat die regisseur in die Kaap was, het by my kantoor ingeloop met ‘n wit jas en ‘n stetoskoop en gesê en moet kom, vandag word ek ‘n akteur. Ek was ‘n breinchirurg in die storielyn en dus darem ‘n soort van ‘n held. Ek moes ook die mooi nursie styf vashou en soen.

Jy is toe weer terug Durban toe…

Na twee jaar word ek weer verplaas terug na die hoofkantoor in Mobeni (suid van Durban), dié keer as advertensie-en-promosiebestuurder vir Farmer’s Weekly.

Jy was ook by ander RP-titels gemoeid (advertensiegewys of bemarking)?  

Gedurende my heel eerste pos as advertensiebesprekingsklerk het ek gewerk op Bona, Thandi en Farmer’s Weekly. Daarna was ek primêr betrokke by Farmer’s Weekly, waar ek verantwoordelik was vir die promosies en bemarking. Dit het behels om verkope van die tydskrif te bevorder en om intekenare te werf – dus sirkulasiegroei. Ek het byvoorbeeld ‘n trekker by John Deere gekry wat ek in ‘n nasionale kompetisie aan ‘n gelukkige nuwe intekenaar weggee het by die jaarlikse NAMPO-oesdag. Gary Player het die trekking gedoen en die prys aan die gelukkige wenner oorhandig. Tydens die advertensieverkope tydperk (direkte adverteerders wat nie gebruik maak van reklame-agentskappe nie) het ek op al die tydskrifte verkoop, wat ook ingesluit het Scope, Darling, Keur.

‘n Jong Sarel (heel regs) saam met Gary Player by die oorhandiging van ‘n trekker aan ‘n die gelukkige intekenaar van Farmer’s Weekly.

Maar terug by Farmer’s Weekly …  ek en die redakteur van Farmer’s Weekly, Lionel Mundell, besluit om ‘n aparte bylaag te skep, maar dit dan in die tydskrif in te voeg. Die nuwe baba se naam was Smallholder. Ek is later verplaas na RP se kantore in Johannesburg, waar ek die hoof was van direkte advertensieverkope vir al die tydskrifte in die groep. Ongelukkig was hierdie nuwe pos nie ‘n uitdaging nie, en doen ek aansoek vir ‘n pos by Sentraoes (oesversekeringmaatskappy) met hoofkantoor in Ficksburg. Die pos was dié van bemarkingsbestuurder: Oos-Tranvaalse Hoëveld op Bethal. Ek kry toe die pos, en na ‘n maand se opleiding op Ficksburg, trek ons na Bethal.

Gedurende my tweede maand in diens van Sentraoes kry ek ‘n oproep van Schalk van der Merwe, die besturende direkteur van Republikeinse Pers. Hy was die nuwe Perskor-man wat oorgeneem het nadat Perskor die beherende aandeel by die Hyman-familie gekoop het. Ons het mekaar redelik goed geken terwyl ek in die Durbankantoor gewerk het. Hy was blykbaar oorsee toe ek by RP bedank het en vertel my toe dat hy planne het om Suid-Afrika se eerste gratis landboukoerant te loods, en dat hy die pos as besturende redakteur aan my wil aanbied. Ek is daardie naweek af Durban toe waar ons die projek bespreek het, en ek was baie opgewonde oor die geleentheid. Terug in Bethal het ek onmiddellik bedank en hou blykbaar die rekord vir die kortste loopbaan by Sentraoes – drie maande.

Die nuwe publikasie, wat ons gedoop het Boereforum, is vanuit Farmer’s Weekly se kantore in Centurion bedryf. Die span het uit slegs twee mense bestaan. Ons het ‘n adreslys bekom om die koerant aan sowat 40 000 boere in die noorde van Suid-Afrika te pos. Die inhoud was grootliks “advertorial” van aard. Adverteerders het ‘n A4-grootte advertensie gekoop en dan het ons die res van die tabletgroottebladsy volgemaak met kopie wat verskaf is. Ons het egter ook landbounuus ingesluit. Die publikasie, ‘n maandblad, is gedruk op glanspapier by die Perskordrukkery in Johannesburg.

Gedurende 1987 hou Republikeinse Pers ‘n strategiese werksessie by ‘n oord in die Drakensberge. Op dag twee word ek eenkant toe geroep deur Schalk van der Merwe en John Turvey. Laasgenoemde was die groep se bemarkingsdirekteur. Die twee manne lig my vertroulik in dat Boereforum gesluit moet word en dat ek met onmiddellike ingang aangestel word as hoofbestuurder van die groep in Kaapstad.

Tydens 1988 tot en met 1990 kom ek dikwels in aanraking met Perskor se besturende direkteur, Koos Buitendag. Hy en Ton Vosloo is beide vereer met ere-doktorsgrade en Koos verkies dat mense hom op die nuwe titel aanspreek. Ons kom baie goed oor die weg en doktor Buitendag besoek die Kaapse kantoor op ‘n gereelde basis, blykbaar om met politici te vergader. Ek moet hom altyd by die lughawe gaan oplaai met ‘n gehuurde kar (die Perskor poelmotors was maar gehawend) en ek moes altyd seker maak dat dit nie ‘n rooi kar was nie. Hy vra dat ek hom moet aanspreek as “Oom Koos”. Hy wys my daarop dat ek al die “boxes tick” om nog ver te kom by die groep. Die “boxes” wat ek ge-tiek het, was: wit; Afrikaans, Christen, gesinsman…

Nadat Sarel ‘n aanbod van ‘n “kleinerige” reklame-agentskap in Belville gekry het (en Koos Buitendach se teenaanbod van die hand gewys het),het Buitendach geweier om hom weer te groet.  Daarna volg poste by Times Media Limited (TML), eers in Durban en toe in Johannesburg, ondermeeras hoofbestuurder van Business Day, toe as hoofbestuurder van Sunday Times.

Hoe het jy betrokke geraak by al die bedryfsorganisasies?

As direkteur van verkope en bemarking van al TML se koerante was ek die aangewese persoon om TML op ‘n horde bedryfsliggame te verteenwoordig, in meeste gevalle as direkteur in die direksies van die organisasies. Dit het ingesluit: PMSA (Print Media South Africa); NASA (Newspaper Association of South Africa); ABC (Audit Bureau for Circulation); SAARF (South African Audience Research Foundation); ens. Dit was tydens baie van hierdie vergaderings waar ek te doen gekry het met Jan Malherbe…

 Een Saterdagoggend in Junie 2000 kry ek ‘n oproep van Jan Malherbe. Hy vra of ek asseblief die middag Kaapstad toe kan vlieg vir ‘n loopbaangesprek … Ek aanvaar sy aanbod en val op 1 Augustus 2000 in as koerantehoof by RCP Media.

Later was Sarel ook HUB van Ads24 en HUB van Nuusmedia Noord (Rapport/City Press/Sondag/Sunday Sun/Beeld/Volksblad).‘n Hoogtepunt was die loodsing van ‘n nuwe Sondagkoerant, Sondag, wat intussengesluit het. Sarel kry in 2008 die Hubert Coetzee-toekenningvirbestuursuitnemendheid.

Wat het jou werk as uitvoerende hoof van byvoorbeeld RCP Media behels?

By RCP Media (Rapport en City Press) was ek as senior hoofbestuurder verantwoordelik vir alles van die twee koerante, BEHALWE die inhoud. Die twee redakteurs van die koerante rapporteer direk aan die voorsitter van die Media24-direksie, maar die dag-tot-dag-behoeftes van die twee redaksies bly die verantwoordelikheid van die hoofbestuurder. Ek het ‘n bestuurspan gehad wat bestaan het uit advertensieverkope, bemarking, sirkulasie en verspreiding, finansies en admin asook menslike hulpbronne. Saam met hierdie span het ons al die planne beraam en uitgevoer om die koerante te bemark, omsette te groei, sirkulasie te groei, mense aan te stel, maandstate op te stel, jaarlikse strategiese werksessies te hou, ens. Dieselfde het gegeld tydens my finale pos by TML.

Ek en my span het dit ook reggekry om deur middel van “brand extensions”, of dan nou handelsmerkuitbreidings, die koerante in my portefeulje se omsette te ondersteun met nuwe geld en ook om die verkope van die koerante aan te help met bermarking. Ons het begin met die skep van ons eie Rapport-CD’s onder die naam: RapportOns sing jou taal … Teen die tyd wat ek die groep verlaat het, was die bydrae tot die winslyn in die omgewing van R6 miljoen net uit CD-verkope.

Wat was groot uitdagings?

Die twee grootste uitdagings om ‘n koerantuitgewer gedurende die jare 2000 tot 2011 (en natuurlik ook vandag) was die tanende verkope van die papierkoerante sowel as die gepaardgaande laer advertensie-inkomste. Vroeg in 2001 het Rapport gemiddeld 440,000 koerante elke Sondag verkoop. Teen 2013 het dit gedaal tot minder as 200 000 per week. Rapport verkoop nou minder as 100 000 koerante weekliks, en die tendens geld vir elke koerant in die land. Die verbruiker se leesgewoonte was besig om te verander as gevolg van digitale en sosiale media, en die sirkulasies het dit getoon. Advertensie-inkomstes het aanvanklik begin daal toe geklassifiseerde advertensies uit die gedrukte media begin skuif het na die internet-maatskappye se portale waar dit makliker was om te soek, te vind en te koop en verkoop. Met die ontwikkeling van aanlyn vakatures-soekenjins het ‘n geweldige groot hoeveelheid geld uit die koerante daarheen geskuif. Mediagroepe het gespring om hulle eie portale te skep om die verlies aan omsette te beperk.

Wat van TV-advertensies?

By koerante was die stryd minder negatief as wat gedink word. Adverteerders wat produkte/dienste/pryse wou adverteer, kan nie TV gebruik nie aangesien ons nie streeks- en of provinsiale TV kanale in SA het nie – slegs nasionale TV. Omdat SA ‘n groot land is en vervoerkoste tussen provinsies ‘n rol speel in die pryse van goedere, kan kleinhandelaars nie van TV gebruik maak nie. ‘n Kilogram kaas of ‘n liter melk kos minder of meer in elke streek. Dagblaaie in elke streek maak dit dus meer effektief en goedkoper om in die koerante te adverteer as op nasionale TV. Kleinhandelaars adverteer wel op TV met die sogenaamde “loss leaders” waar hulle ‘n nasionale prys vasstel in samewerking met van die vervaardigers. Met die twee of drie produkte lok hulle dan kopers (voete) na die winkels. Beeldsal maklik op enige gegewe Donderdag 8 bladsye advertensies dra vir Pick n Pay, Checkers, Spar en Woolies.

Jy het ook ander uitvoerende industrieposte beklee en toe betrokke geraak by by Pretoria FM en Groot FM… 

Gedurende 2013 en 2014 was ek betrokke by Radio Pretoria wat vandag as Pretoria FM bekend staan. Ek is aanvanklik slegs as ‘n konsultant aangestel met twee kerndoelwitte: Staan die stasie se bestuur by om Radio Pretoria op die DStv se oudio-kanale beskikbaar te maak. Dit was suksesvol. Daarna het ek gehelp met die vestiging van ‘n professionele advertensieverkoopspan. Willie Spies (nou uitvoerende voorsitter) het daarna ‘n aanbod aan my gedoen om stasiebestuurder te word, maar as gevolg van ander familiebelange het ek besluit om dit nie te aanvaar nie.

In 2016 is ek deur die eienaar van Groot FM genader om die besigheid in Pretoria as stasiehoof te bestuur. Dit sluit in die radiostasie, GrootFM, sowel as die twee regstreekse TV-programme, GrootPlaas en Die Groot Ontbyt. Dit was aanvanklik ‘n tweejaarkontrak wat uiteindelik langer as drie jaar gestrek het. Die kerndoelwitte was drieledig: Verhoog die radiostasie se luisteraarsgetal; Verhoog die TV-programme se kykersgetalle; Verdubbel advertensie-omsette vir albei kanale.

Sarel … energiek en inspirerend en altyd reg vir ‘n nuwe uitdaging.

Gegrond op die suksesvolle Ads24-verkoopstruktuur wat ek by Media24 geskep en gevestig het, het ek ‘n voorstel aan die HUB gemaak om ‘n soortgelyke onafhanklike verkoopsorganisasie te ontwikkel wat eie kanale sowel as buitekanale kan verteenwoordig. Die voorstel is goed ontvang en staan vandag bekend as Bloudruk Media.

Hoe kry daardie stasies dit reg om kop bo water te hou terwyl baie gemeenskapstasies erg sukkel?

Pretoria FM en Groot FM se sukses kan toegeskryf word aan die volgende:

Professionele bestuurspan met wye media-ervaring. Kwaliteitinhoud wat spreek tot hulle gehore en dus die regte adverteerders lok. Gesoute verkoopsmense wat professionele dienste aan adverteerders kan lewer. Dit sluit in mediadienste. Investering in professionele toerusting.

In 2019 het jy gehelp met die totstandkoming van Bulletin, ‘n digitale nuusportaal. Wat is dit en hoe werk dit?

As stasiebestuurder by GrootFM het ek deurlopend bewus geword van die leemte van swak nuus wat alle gemeenskapstasies deurlopend uitsaai. Dit was deurspek van feitefoute en swak taal. Aangesien dit te duur is vir meeste stasies om hulle eie nuusspanne aan te stel, is die enigste oplossing om nuus aan te koop. In SA was daar in daardie stadium slegs een verskaffer, naamlik NuusFlits/NewsFlash. Radiostasies betaal ‘n vaste bedrag per maand om op ‘n portaal toegang te kry tot vooraf saamgestelde nuusbulletins wat dan afgelaai word en op die lug gelees word. By Groot FM het ons eie mense gereeld elke bulletin aangevul met eie en meer relevante nuusberigte om dit meer “plaaslik” vir ons gehore te maak. Ons was ook gereeld in die moeilikheid by ons kykers met feitefoute wat soggens op die skerm geloop het, veral op sportgebied.

Die oplossing was om ‘n alternatief te ontwikkel. Ek het goed gaan navors oor nuus op radio en toe ‘n nuwe nuusportaal ontwikkel met die naam Bulletin. Dit werk ook ewe goed in Afrikaans en Engels. Die groot verskil tussen Bulletin en NuusFlits het daarin gelê dat die radiostasies wat inteken hulle eie bulletins kan saamstel uit beskikbare kategorieë van Vars Nuus, Sport, Politiek, Sake, Vermaak, ens.

Die direksie van die Groot FM-roep het die voorstel goedgekeur. Ek is aangestel as HUB van Bulletin en ons het begin met die bou van die portaal. Ek is einde September 2019 weg by die groep. ‘n Nuwe bestuurspan het die portaal gefinaliseer en tans is dit die vernaamste verskaffer van radionuus vir gemeenskapradiostasies.

Sarel, mense ken jou as ‘n dinamiese mens. Vermoedelik was jy ‘n aandagafleibare kind? Het jy van skool gehou?

Ek weet nie so mooi van dinamies nie, maar ek het wel ‘n goed ontwikkelde positiewe uitkyk op alles, en ‘n soms vreemde humorsin om dit aan te vul. Ek sit nooit stil nie. My mantra is baie eenvoudig: “Alles is altyd ‘n bietjie snaaks”. Ja, ek het van skool gehou en was ‘n baie voorbeeldige skolier. Nooit pak gekry nie.


 Wie het belangrikerolle in jou loopbaan gespeel?

Gedurende my loopbaan het drie mense mentor-rolle gespeel.  Hulle is:

Roy Minnaar – die man wat my in my eerste mediapos aangestel het en wat soveel geleenthede en leiding verskaf het.

Jimmy Mould – HUB van Times Newspapers wat my geleer het dat jy ‘n baas kan wees sonder om mislik te wees.

Jan Malherbe – die mees etiese en professionele koerantman in die bedryf. Sy mense is sy, en die besigheid, se grootste bate en niks word ooit onbehoorlik gedoen nie.

Laastens, jy is duidelik nog baie aktief, maar jy is seker skaars 65. Waarmee hou jy jou deesdae besig? 

Ja, ek is 65. Ek hou my besig met ‘n aantal projekte en besighede waarvan ek ‘n direkteur is. Lekker Media is my persoonlike handelsmerk waarmee ek woeker met mediasektor-aanbiedings aan maatskappye, media-organisasies, skole en tersiêre instellings. MediaMonster is ‘n nuwe entiteit in samewerking met twee Kaapse vennote. Ek is ook betrokke by radiodienste by groot winkelsentrums. Verlede jaar tydens die inperking het ek, my vrou sowel as my seun en dogter ‘n nuwe besigheid gestig. Marbee is ‘n sake-ondersteuningsbesigheid wat entrepreneurs help om goed soos webtuistes te koop en te registreer, sakeplanne en bemarkingsplanne op te stel, die ontwerp van handelsname en logo’s, ens.

Geplaas Augustus 2021