Rykie van Reenen was een van die heel groot Afrikaanse joernaliste van die twintigste eeu. Sy was ‘n raak waarnemer wat in vars Afrikaans sonder fieterjasies verslag gedoen het, en sprankelende artikels en rubrieke vir Die Burger, Die Beeld, Rapport en Beeld geskryf het. Daarvoor is sy in 1986 met ‘n eredoktorsgraad deur haar alma mater, die Universiteit (van) Stellenbosch vereer.



In ‘n koerantwêreld wat oordonderend deur mans oorheers is (kyk hooffoto bo van Die Burger se redaksie in die 1940’s, met Rykie in een van die agterste rye, langs ‘n kollega met toe oë), het sy trappe vir trappie haar weg gevind. Soos sy self in 1979 vertel het:
“Dit was iets van ’n evenement toe die nuusredakteur op ’n dag die stoutmoedige stap neem en my uit die vroueredaksiekantoor pluk en uitstuur op ’n storie vir Algemeen. Dit was, onthou ek, oor die seisoenverskynsel van vismotte en die omvang van die skade wat hulle in die landsekonomie aanrig. Die volle verantwoordelikheid vir ’n tengere vrou om daardie vername terrein te betree, was vir my die dag duiselend na aan oorweldigend. Ek verbeel my ek het voorblad gehaal, mind you.”
Sy sou nog dikwels die voorblad haal, onder meer met haar berigte oor kerkpolitiek, waarin sy uitgemunt het.
Rykie van Reenen was bekwaam genoeg om die eerste vroulike redakteur van ‘n Afrikaanse dagblad te word en het verskeie kere as hoofredakteur by Rapport waargeneem. Ja, sy was ‘n rolmodel vir ander vroue (en mans, wat haar geléés het), maar haar blywende bydrae was as skrywende joernalis — ‘n stilis by uitnemendheid.
Uiteindelik het sy oor ménse geskryf. Marita van der Vyver merk op: “Sy kon met ewe veel deernis en ewe veel humor oor die ‘gewone’ mens as oor die ‘groot’ figuur skryf. Haar onderwerpe het gewissel van die petroljoggies van Britstown en die ‘bryde’ van die Groentemarkplein tot John Vorster en Steve Biko, Hendrik Verwoerd en Breyten Breytenbach.”

Prof. Lizette Rabe het verskeie artikels en ‘n boek oor Van Reenen geskryf en merk op: “Die feit dat sy dit in ’n vars, unieke Afrikaans geskryf het, het bygedra tot haar sukses en status as joernalis. Van Reenen se kenmerkende styl was waarskynlik die somtotaal van ’n uitsonderlike linguïstiese talent plus ’n toepassing van die dissipline van skryf wat daagliks geslyp en gepoleer is.”
Oor Van Reenen as rubriekskrywer, besluit Rabe:
“Haar gevatheid, gepaard met haar sweepslag-trefkrag, het van haar ’n alchemis van die Afrikaanse woord gemaak en daarmee die joernalistieke genre van rubriekskryf in Afrikaans gelykgestel met die beste in die wêreld se ‘groot tale’. Met haar korpus werk het sy ’n standaard gestel wat ’n Afrikaanse rubriekskrywer in dieselfde klas as ‘die wêreld se grotes’ geplaas het.
“Inderdaad: Rykie van Reenen het ’n jong taal deur haar rubrieke met oorgawe laat dans. Veel meer: laat tango, twist én tiekiedraai. Moontlik kan sy selfs as rubriek-poolster ’n jonger blogger-generasie rubriekskrywers inspireer om in die 21ste eeu Afrikaans nie net te laat tango, twist en tiekiedraai nie, maar ook te laat rock en rieldans, te laat kwaito en kwêla, te laat two-step en … ja, selfs te laat twerk.”
Maar hoe oordeel ons vandag oor joernaliste wat vir koerante gewerk het wat die apartheidsbeleid (wel soms met voorbehoude) ondersteun het? Rabe wy ‘n artikel hieraan en besluit:
“The question arises: how can a journalist, surrounded by a hegemonic ideology, practise ‘loyal dissent’, and remain independent, a freethinker, a dissident? Can journalists distance themselves from certain contexts and be truly ‘objective’? Can one be ‘objective’ and simultaneously critical, yet loyal?
“The answer, if to be searched for in the work of Van Reenen, is yes. Although she was sharply, and continuously, critical of the National Party, she remained a loyal Afrikaner, even describing herself as a nationalist with a lower case n.

“How did she do this? The answer lies in the fact that she managed to remain fiercely independent of a party-political ideology, and could therefore criticise on principles, and not as a blind loyalist, as was the accusation against some of her peers.”
Martie Retief Meiring voeg in hierdie verband by dat Rykie nooit ‘n “jabroer” was nie, maar haar aan die kant van die underdog geskaar het.
Rykie van Reenen was enig in haar soort, maar haar baanbrekerswerk leef voort en kry gestalte in talle vroue in senior bestuursposisies én in die skryfstyl van talle joernaliste — vroue sowel as mans.
Bronne:
Rabe, L. 2006. ‘Ryk, ryker, Rykie’: A first exploration of the journalistic contribution of a journalist extraordinaire. Communicatio: South African Journal for Communication Theory and Research, 32(1).
Rabe, L. 2006. The wedge that cracked the rock – a pioneering woman
journalist. Communitas: Journal for Community, 11.
Rabe, L. 2015. “Rubriekmaak” à la ryk, ryker, Rykie – Rykie van Reenen en enkele merkers vir hedendaagse blog-rubriekskrywers (Litnet, 12:2, Augustus 2015).
Van der Vyver, M. 1987. Die groeiende rol van die vrou in die Afrikaanse pers met spesifieke verwysing na Die Burger en die Nasionale Pers.
Ongepubliseerde meestersverhandeling: Universiteit Stellenbosch.
Van Reenen, R. 1980. Op die Randakker. Kaapstad: Tafelberg.
Van Reenen, R. Geen datum. In die ban van Karoo-Afrikaans.
http://www.afrikaans.com/av5215.html .
Van Reenen, R. 1985. “Voorwoordjie”. ’n Boekie vir Piet. Kaapstad:
Tafelberg.
Met dank aan Lizette Rabe vir haar onmisbare bydrae tot hierdie artikel.