Om redakteur van ‘n koerant te wees, was nog nooit maklik of ‘n veilige beroep nie. Slaag jou koerant in sy politieke en kommersiële doelwitte, is jy min of meer veilig, maar dit kan maklik skeefloop, soos hieronder aangetoon word.
Twee oudredakteurs help ons met die lys, maar dit is darem net billik om eers te verwys na redakteurs wat jare lank in die stoel was. So was dr. A.L. Geyer 21 jaar en Piet Cillié 23 jaar aan die stuur by Die Burger. By Die Volksblad was dr. van Rhyn ook 23 jaar die redakteur. Johnny Johnson was 13 jaar redakteur by die Sunday Express en toe 21 jare by The Citizen. Bygesê, hy het bloot vasgeskop en omtrent geweier om af te tree…
In Tussen bid en droom skryf Dirk Richard ‘n kaalkopboek oor koerante en hul mense. Hy wys daarin daarop dat die gebruik by Perskor (en sy voorgangers) was om redakteurs nie lank in die stoel te gun nie — “in teenstelling met dié van Naspers”. Maar, soos ons hieronder sal sien, was Naspers-redakteurs se posisies nie altyd veilig nie.
Richard val weg met die volgende: “By die Financial Gazette (sedertien oorlede) was dit die aanvangsredakteur, Robert Haynes, wat moes plek maak vir Michael Coulton, wat op sy beurt vir Martin Spring moes opsystaan.”
By Die Vaderland noem hy dat H.P. Marnitz in 1962 en hyself in 1979 moes kant toe staan. Sy opvolger, Harald Pakendorf, is ook die deur gewys.
Richard wys daarop dat Hoofstad ná dr. Andries Treurnicht “etlike skommelings” beleef het: “Eers At de Beer wat in 1975 Ierse promosie na Washington gekry het as Perskor se verteenwoordiger; die geskoolde Arthur Lake het vier jaar gehou voordat hy na Kaapstad verplaas is. Hy is in 1979 opgevolg deur – van alle mense – ʼn dramaturg sonder praktiese koerantervaring, dr. P.G. du Plessis. Hy het nie lank gebly nie.
“Die Transvaler se bydrae is Jannie Kruger, wat gedwing is om te bedank. Jan van Rooyen is oor die hoof gesien (dit was voor die Perskor-amalgasie),” skryf Richard. Van Rooyen se storie word elders op Mediamense.com vertel: Hy het sy baadjie gevat en geloop nadat die hoofredakteurskap (wat hom glo beloof is) nie gerealiseer het nie.
“Carel Nöffke moes sy redakteurstoel in 1973 prysgee om plek te maak vir Willem de Klerk. De Klerk het in Augustus 1982 die trekpas gekry. Eers die Maandag daarna het die (Dagbreek-)Trust daaroor vergader. Dieselfde het aan bestuurskant gebeur. Wanneer ʼn potensiële opvolger vir die grootbaas te na aan die vuur gekom het, het hy hom ewe skielik in die koue bevind,” merk Richard op.
“Nie een van die koerante wat Perskor gestig het, leef vandag nie. Waarom die verwisseling in die noorde teenoor die groter bestendigheid van die suide? Is daar ʼn rede voor, of is dit ʼn onvermydelike newe-effek van die Rand se rusteloosheid en die gespook van sy mense om bo te kom en bo te bly?
“Die reeks amalgamasies het sy deel bygedra tot die onbestendigheid en ontwrigting in Perskor. Elke keer word vreemde redaksies bymekaar gegooi, wat van nuuts af spangees moet bou en gemeenskaplike motiewe en strewes moet vind. Die skommelings maak dat ʼn herkenbare koerantkarakter langer vat om in te teel.”
Ton Vosloo, gewese hoofredakteur van die dagblad Beeld (en wat ook kennis dra van die binnewerke van Perskor), skryf die groter permanensie van Naspers se redakteurs toe aan die vasgestelde professionele gedragspatroon van Keeromstraat…
“Perskor se voorsitter het egter daarvan gehou om gesienes met ʼn vyfster-reputasie van buite in te voer: dr. Andries Treurnicht, dr. Willem de Klerk en dr. P.G. du Plessis. In die tweestryd met Naspers vanaf 1975 het die ongegradueerde Ton Vosloo met Beeld getoon dat akademiese dekorasies nie ʼn noodsaaklikheid vir ʼn wenkoerant is nie. En Willem de Klerk moes gou uitvind dat praktiese koerantskoling meer werd is vir ʼn hoofredakteur as ʼn string cum laudes van ʼn universiteit…
“Marius Jooste kon vanuit sy magsposisie van alleenbesluitneming en met sy dominerende persoonlikheid die meeste Trustlede só betower dat hulle maklik ʼn rat voor die oë gedraai kon word – selfs ná blootlegging van die syferskandaal. En wie het nou kans gesien om ʼn aktiewe vulkaan met ʼn tuinslang dood te spuit?
“Jooste se hantering van die politiek het hom in botsing gebring met sekere senior redakteurs, wat die politiek van hervorming en verandering gepropageer het. Dit is ʼn politieke skisofrenie wat lank die pers (dus Perskor) teister – van die Vorster-dae af. Toe was die redakteurs haaks oor steun vir die Hertzog-rebelle, met Jooste altyd daar waar Treurnicht was. Tot die end was Jooste ʼn Treurnicht-man. Vir P.W. Botha was daar net lippe-steun, geen werklike hartsgevoel nie.
“Tweespalt tussen redakteurs en voorsitter het wrywing gebring en die spangees belemmer. Mnr. Jooste het selde hoofartikels of politieke rubrieke gelees (selfs van sy eie koerante). Kom daar egter ʼn ongunstige telefoonoproep van sy vriende- en inligtingskring, eindig dit so maklik in ʼn heftige gesprek tussen redakteur en voorsitter in laasgenoemde se kantoor,” aldus Dirk Richard.
Maar Naspers het ook sy oomblikke gehad. Daaroor skryf Hennie van Deventer byvoorbeeld in sy Koerantkamerade (Naledi). Hy meen Johannes Grosskopf is sywaarts geskuif nadat hy die skuld (verkeerdelik) moes dra vir Beeld se oënskynlik swakker as verwagte prestasie in die stryd teen Die Transvaler.
Van Deventer het in ‘n blog ook vrae gevra oor die wyse waarop ‘n redakteur van Rapport stilweg vervang is. Hy het onder meer geskryf:
“Iemand moet … die fluitjie blaas oor die onbehoorlike muur van stilswye ná die skielike terminering in raaiselagtige omstandighede van me. Liza Albrecht se dienste by Media24. Dié swye het ernstige moreel-etiese implikasies vir veral Afrikaanse koerante – die dagblaaie én Rapport.
“Me. Albrecht is immers ‘n groot vis in die bedryf wat in November 2008 met fanfare op 34-jarige leeftyd bevorder is tot eerste vroulike redakteur van Rapport. Onthou, selfs die gedugte Rykie van Reenen was net redakteur in waarnemende hoedanigheid. Skaars drie jaar later is me. Albrecht onseremoniëel uit die redakteurstoel geskuif en het sy hoof van die Afrikaanse koerante se digitale platform geword. Die koerante se internet-aanbod sou voortaan haar nuwe verantwoordelikheid wees.
“Oornag is dié hoëprofiel-dame egter nou ook uit haar nuwe pos, en sak en pak weg by Media24 … Maar Media24 se koerante rep geen woord. Die verduideliking is dat ‘n ‘ooreenkoms’ met me. Albrecht hul arms afkap.
“Oppervlakkig gesien, hou só ‘n komplot van geslotenheid wedersydse voordele in, omdat me. Albrecht se val vir haar én Media24 ‘n diepe verleentheid moet wees. Vir die direksie beteken dit dat die onwysheid van ‘n avontuurlike eksperiment op topvlak finaal aan die kaak gestel is,” aldus Van Deventer.
Oor die implikasies van geheimhouding by afdanking van senior mense voeg Van Deventer by: “Ongelukkig word ‘n vername beginsel … aangetas as ‘n mediamaatskappy sy eie en senior personeel se verleentheid per ooreenkoms kan verdoesel. Vir nuus geld immers net een maatstaf: nuuswaarde – nooit wie die potensiële slagoffers van slegte publisiteit ken of watter ‘kontakte’ hulle het nie. By vorige geslagte is ingedril dat sulke dubbele maatstawwe ten enemale ongerymd is.
“Geneva Overholster, redakteur van die Amerikaanse Des Moines Register, se indiskresies met haar adjudant en die gevolglike dubbele egskeiding is bv. in die 80’s teen haar wens deur haar eie koerant onthul (sien my boekie Flaters en Kraters). Dit is ‘n moeilike maar die enigste eerbare weg.
“Kortom: skram koerante weg van interne nuus wat te ‘sensitief’ is, gee hulle hul morele reg prys om oor andere se skandes en skades te berig, soos Rapport, ook in me. Albrecht se skof, nog nooit geskroom het om te doen nie. Jammer om dit so brutaal te stel. Dit is soos dit is.
“Handhaaf jy ‘n ander standaard, diskrimineer jy blatant. Gapende afgronde van potensiële misbruik gaan oop. Nou kan ‘n redakteur of een van die gesin bv. van winkeldiefstal aangekla word. Dit kan maar snippermandjie toe, want ‘n presedent van bevoordeling bestaan.”
Van Deventer identifiseer ‘n verdere beginsel: “Dit is dat geen bestuurder, hoe oppermagtig ook al, ooreenkomste durf aangaan wat die reg van die maatskappy se koerante op publikasie van wettige nuus wegteken nie. Die redakteur moet die enigste finale arbiter wees oor wat hy (of sy) publiseer of nie, anders kapituleer hy (of sy) vir altyd sy (of haar) gesag en geloofwaardigheid …
“Ek wil nie moedswillig wees nie. Maar ek is bevrees joernaliste wat hulle deur hul besture laat muilband oor kwessies wat diepgewortelde joernalistieke beginsels aansny, bring daarmee hul verbondenheid tot persvryheid in die gedrang. Hoe kan jy duisende woorde skryf, plakkate swaai, dreunsing en toi-toi teen die Regering se ‘muilbandwet’ maar jou eie bestuur se willekeurige inbreuk op die vrye vloei van inligting stoïsyns duld?” aldus Hennie van Deventer.
Hy was wel vriendelik genoeg om nie na ander skades en skandes in die groep te verwys nie. Soos die koerantredakteur en die sekretaresse … Maar toemaar. Die punt is gemaak.
By die Sunday Times is ‘n paar redakteurs laat loop sonder dat lesers ooit presies gehoor het waarom. By Die Burger is Arrie Rossouw alte vroeg weg. Bun Booyens het eweneens heeltemal te vroeg uitgetree. Laasgenoemde omdat hy nie kans gesien het vir ‘n erg uitgedunde redaksie in die nuwe digitaal-eerste-era nie?
Dan was daar Adriaan Basson, nou redakteur van News24. As redakteur van Beeld het hy hoogs aanvegbare berigte oor die studentekultuur op die Noordwes-Universiteit geplaas. Die reaksie was heftig, ‘n boikot het gedreig (of het plaasgevind) en Basson is nie lank daarna nie weg by Beeld. Kon van Media24 verwag gewees het om die feite aan sy lesers uit te lap?
Soms word redakteurs na ‘n kort diensbeurt verplaas omdat daar elders behoefte is aan sy/haar kundigheid. Daar is dus soms heel geldige redes vir ‘n verplasing — juis omdat die redakteur knap is. Of die redakteur kry ‘n beter aanbod uit die korporatiewe wêreld. Dit is heeltemal verstaanbaar.
Feit is egter dat sommige redakteurs nie die mas opkom nie. Ander kom gewoon nie met die baas of direksie oor die weg nie. Hoe sal ons dit weet? Selfs goeie base beskerm liewers die maatskappy deur ‘n kombers oor skandes te trek. — Johannes Froneman
Foto heel bo: Die Transvaler se hoofredakteurs, uitgesluit die laaste twee: dr. Gerrit Velthuysen en Gerhard Burger. Die sketse kom uit die boek Die Transvaler 50 jaar en is gedoen deur Lou Henning. Meer oor die boek by die afdeling Boeke.