REDAKTEURS BY ‘DIE TRANSVALER’ BOTS OOR NUUSINHOUD

Twee redakteurs was in die jare 1963 tot 1968 aan die stuur van Die Transvaler: dr. G.D. Scholtz (hoofredakteur) en ‘n mede-hoofredakteur, Jan J. van Rooyen. Hoewel beide vertrouelinge van die destydse premier, dr. H.F. Verwoerd, was, was hulle meer dikwels haaks — nie oor die politiek nie, maar oor nuus kon hulle mekaar nie vind nie.

Van Rooyen wou ‘n ligter, meer leesbare koerant uitgee; Scholtz was konserwatief en kon klaarblyklik nie afstand doen van die sterk politieke inslag wat die blad sedert sy ontstaan in 1937 gehad het nie.

Scholtz was ‘n stigterslid van die blad en was vir tien jaar hoofredakteur. Hy kan egter eerder beskryf word as ʼn akademikus en historikus wat toevallig by ʼn koerant gewerk het, want hy was geen tipiese joernalis nie. As politieke kommentator het hy ʼn breë strategiese blik gehad, maar was tog vasgevang in die ideologie van sy tyd. 

Hy was ʼn intieme vriend van Verwoerd (eerste redakteur van Die Transvaler) en het nooit ʼn sweem van kritiek in die koerant se kommentaar of nuusberigte op regeringsbeleid toegelaat nie. Sy latere tweebandbiografie van Verwoerd is ‘n goeie voorbeeld van ‘n hagiografie, dus ‘n kritieklose goedpraat en ophemeling van Verwoerd.

Links: Gert Scholtz. Hooffoto bo: stigterredaksielede van Die Transvaler saam met dr. H.F. Verwoerd, die blad se eerste hoofredakteur. Scholtz is agter in middel, met bril.

Scholtz het hom nie juis met die gewone werking van sy koerant bemoei nie. Om hom by te staan (en moontlik omdat die sirkulasie skerp gedaal het) is Jan van Rooyen in 1963 as mede-hoofredakteur aangestel, met die veronderstelling dat dit ‘n tydelike reëling was. Hy sou spoedig by Scholtz as alleen-hoofredakteur oorneem, het Van Rooyen geglo op grond van gesprekke met Verwoerd, toe voorsitter van die direksie. Intussen sou Scholtz die hoofartikelblad hanteer en Van Rooyen sou na nuus omsien.

Dié plan het egter nie gewerk nie omdat Scholtz en Van Rooyen gereeld gebots het oor waar die skeidslyne lê. ‘n Redaksielid en latere professor in kommunikasie, dr. Das Herbst, vertel dat Scholtz besonder konserwatief was terwyl Van Rooyen die blad leesbaarder wou maak. So het Scholtz, aldus Piet Meiring (in sy boek Die Transvaler 50 jaar) vasgeskop teen ‘n foto op die voorblad van ‘n meisie in ‘n goue bikini. Ten einde laas is die foto wél geplaas, maar heel klein en diep in die koerant weggesteek.

As uitweg is Scholtz die pos van Staatsargivaris aangebied (wat die pad vir Van Rooyen sou oopmaak), maar hy het dit van die hand gewys. Voordat die kwessie opgelos kon word, is  Verwoerd oorlede. Scholtz het by die direksie (nou onder eerste minister John Vorster se voorsitterskap) gekla dat Van Rooyen die behoudende lesers vervreem, terwyl ander juis geglo het die ligter aanslag werk.

Scholtz moes as hoofredakteur skryf oor die ondenkbare, die moord in 1966 op sy gewese redakteur en simbool van apartheid.

Die direksie se huiwerige houding was uiteindelik vir Van Rooyen te veel en hy het bedank. Scholtz is ook in 1968 weg by die blad. Het hy gewag vir Van Rooyen om te loop voordat hy aftree? Dit is spekulasie, maar sy opvolger, Carl Nöffke, was weer eens nié ‘n drukmediajoernalis nie. Daarna sou dr. Willem de Klerk uit die akademie gehaal word om redakteur te word.

In Scholtz se rubriek Sake van die Dag, hoofartikels en die boeke wat die een ná die ander uit sy pen gerol het, het hy die voorwaardes vir die sukses van apartheid skerpsinnig uiteengesit. Hy het gemeen dat die Afrikaners se veiligheid in Suid-Afrika gewaarborg was solank die Weste Afrika oorheers het. Toe die Weste hom in die 1950’s en 1960’s terugtrek, was daardie waarborg daarmee heen.

Dus het die Afrikaners se veiligheid afgehang van radikale gebiedskeiding, en daarvoor moes die wittes ophou om van swart arbeid afhanklik te wees en hul gerieflike koloniale lewenstyl prysgee. Scholtz se akkurate diagnose oor die voorwaardes vir die sukses van apartheid het egter op papier gebly. Oor die morele vraag of so ‘n beleid op ander afgedwing kon word, het hy en ander Nasionaliste hulle nie besorg nie.

Ná Scholtz se aftrede het dit toenemend duidelik geword dat apartheid misluk, maar hy wou dit nie aanvaar nie. Hy is in 1983 oorlede. As koerantman was sy bedrae nie onbeduidend nie, maar hy is veral onthou vir sy belangrike werk as historikus met ‘n formidabele werketiek.

Van Rooyen het verskeie boeke oor die politiek en politieke figure geskryf, maar nooit weer ‘n senior posisie in die pers beklee nie.

Johannes Froneman