GUSTAF PIENAAR: RADIOMAN, PROKUREUR, VERSAMELAAR EN REGSJOERNALIS

Gustaf Pienaar, gewese radio-omroeper en reeds jare lank ‘n bedrywige vryskut-regsjoernalis (reg bo), gesels per epos met Johannes Froneman oor sy loopbaan.

Vertel ons asb iets oor jou grootwordjare en universiteitsopleiding by RAU.

Ek is in 1949 in my ouerhuis op Brits, Noordwesprovinsie, gebore.  Die dokter wat my “gevang” het – dr. Eugène Raymond – het sommer ook my peetpa geword en was later in my lewe verantwoordelik vir ‘n lewensbeslissende oomblik, waarvan ek aanstons sal vertel. 

Ek was net in twee skole: die Laerskool Brits en die Heidelbergse Hoër Volkskool. My ouers was onderwysers aan die Hoërskool Brits.  Hulle wou nie vir my en ouboet Lion skoolhou nie, en het ons dus na my pa se alma mater op Heidelberg gestuur, as koshuisbrakke.  Dit was ‘n goeie besluit, want in my matriekjaar het ek leiersposisies in sowel die skool as koshuis beklee – iets wat my ouers nooit sou toegelaat het nie, as ek by hulle op skool was. 

In my matriekjaar is ek gekeur om vir ‘n jaar ná skool die VSA te besoek as ‘n American Field Service (AFS)-uitruilstudent. Als was klaar gereël – selfs uitstel van militêre diensplig vir ‘n jaar. My peetpa was toe die geneesheer-generaal van die Suid-Afrikaanse Weermag, en toe hy van my planne te hore kom, het hy my ouers oortuig om ‘n stokkie voor dié VSA-avontuur te steek: “Die kind sal as ‘n kommunis terugkom,” het hy gesê.

In ruil vir my “instemming” om tuis te bly, het veggeneraal Raymond – soos die huidige generaal-majoor toe nog bekend was – gereël dat my laat inskrywing vir die Leërgimnasium op Voortrekkerhoogte goedgekeur word. 

Dit was om verskeie redes die mislikste jaar in my ganse lewe. Maar dit het ‘n ander deur vir my oopgemaak: In daardie jaar (1967) het die Departement van Justisie die sogenaamde B.Iuris-graadopsie ingestel: Jy kon op staatskoste by ‘n paar universiteite vir die B.Iuris-graad studeer, op voorwaarde dat jy daarna vir minstens drie jaar as aanklaer vir die departement gaan werk.  Ek het aansoek gedoen en het bó verdienste – my matriekpunte was swak – toelating gekry by my universiteit van voorkeur: die Randse Afrikaanse Universiteit (nou – danksy daai jakkals, Kader Asmal – University of Johannesburg) wat in 1968 sy eerste studente ingeneem het. Dit sou nie gebeur het as ek in daardie jaar in die VSA was nie; Justisie sou bowendien ook nie my aansoek gunstig bejeën het nie, want ek sou mos as ‘n “kommunis” teruggekom het! 

Om saam met die RAU in 1968 te kon begin, was ‘n voorreg wat ek vir niks wou misloop nie.   Ons moes ‘n studentegemeenskap in die hartjie van Johannesburg aan die gang kry: studenteraad, sport- en kulturele klubs, ‘n eie jool, koshuise – noem maar op. 

Ek het dadelik betrokke geraak by die stigting van die studentekoerant, HeRAUt, waarvan ek in 1969 en 1970 die redakteur was.  In 1971 was ek die studenteraadsvoorsitter.  Dit had in my persoonlike ontwikkeling twee voordele: die eerste was dat ek die jeugdige, briljante RAU-rektor, prof. Gerrit Viljoen, regtig goed leer ken het; hy was in baie opsigte vir my ‘n onmisbare mentor.  Die tweede “bonus” was dat ek besef het dat ek nie vir die “openbare lewe” – die politiek, dus – uitgeknip was nie.  Ek dink nie ek was ‘n suksesvolle studenteleier nie, en ek sou ‘n mislukking gemaak het van ‘n loopbaan in die politiek: Dit was maar net ‘n naïewe skoolambisie. 

Net nog iets oor “die kind gaan as kommunis terugkom”: In die RAU se eerste bestaansjaar het die studenteraad begin met ‘n reeks etensuurlesings oor verskillende aktuele onderwerpe. Die eerste gasspreker was dr. Piet Koornhof, toe nog ‘n adjunk-minister in die John Vorster-administrasie.  Gedurende vraetyd het ‘n eerstejaar, Lana Steenekamp, vir Koornhof gepeper met baie ongemaklike vrae oor die apartheidsbeleid.  Hy het behoorlik “bubbles gehap”, soos ons lief was om te sê.  Toe die vergadering verby was, het ek toevallig die saal op Koornhof en die SR-voorsitter se hakke verlaat. Hulle het oor Lana se skerp vrae gepraat, en Koornhof het opgemerk: “Daardie meisietjie het iewers gif ingekry!” 

Die grap is: Lana was die vorige jaar wel ‘n AFS-uitruilstudent – wat (gelukkig?) nie vir my beskore was nie…. 

Jy het dus nie beplan om ‘n omroeper te word nie? Hoe het dit toe wel gebeur? 

Gedurende die jaar wat ek SR-voorsitter was, het ‘n omroeper van die Afrikaanse radiodiens, Hennie Human, ‘n reeks radiodebatte tussen die studenteleiers van die Afrikaanse universiteite aangebied. Hy het dit Studenteparlement genoem. Ek het by meer as een geleentheid die RAU verteenwoordig. In my geval is die opnames gemaak in die SAUK se ateljeekompleks in Commissionerstraat; die ander studenteleiers het natuurlik in ateljees elders in die land gesit. 

Ná een van die opnames het Hennie gevra of ek nie daarin belang sou stel om ‘n omroeper te word nie.  Ek het vertel van my beursverpligtinge, maar sy antwoord was “Die SAUK sal dit oorneem.” 

In 1972 het ek begin as aanklaer in die mistroostigste van mistroostige landdroskantore: Die reusekantoor in Foxstraat, Johannesburg.  Ek het elke oomblik daarvan gehaat, en na drie maande het ek vir Hennie gebel en gevra of sy “aanbod” nog staan. Hy het gereël dat ek die streng omroeperstoets aflê. Ek het geslaag, die SAUK het met Justisie ‘n ooreenkoms bereik en op 1 Junie 1972 het ek as junior omroeper/regisseur van die Afrikaanse radiodiens in Commissionerstraat begin werk.  Van die begin af was dit louter, louter vreugde.

Toe beland jy in PE, of eers in Johannesburg? Wie het saam met jou gewerk?

Ek en Corlina is in Desember 1972 getroud en in die eerste helfte van 1973 is die Afrikaanse radio se verteenwoordiger in Port Elizabeth, Clarence Keyter, iewers heen verplaas.  Dit het ‘n beroering onder die omroepers in Johannesburg veroorsaak, want almal was bang een van hulle word na PE verplaas.  As kind het ons ‘n paar keer in die Baai vakansie gehou, en ek het persoonlik baie van die stad gehou.  Na ‘n kort gesprek met vroulief, het ek vir die hoof van die Afrikaanse radio, Morkel van Tonder, loop vra of ek nie vir Clarence kon opvolg nie. Jy kon hom met ‘n veertjie omtik: Hy kon nie glo daar was iemand wat inderdaad áángebied het om verplaas te word nie. 

Gustaf as omroeper in die destydse Port Elizabeth. Op die hooffoto heel bo is ‘n jong Gustaf saam met die fotograaf Nardus Nel.

Ook dit het wonderlik vir my uitgewerk: Ek kon die ganse Oos-Kaap – “my” streek – goed leer ken; ek en Audrey Ryan het twee keer per week vir ekstra inkomste programwerk vir Radio Goeie Hoop gedoen (my eerste kennismaking met ‘n kommersiële radiostasie); ons het spoedig ‘n splinternuwe eerstewêreldateljeekompleks in Parsons Hill betrek, en ek is op jeugdige ouderdom aangestel as programorganiseerder vir die Afrikaanse en Engelse radiodienste in die Oos-Kaap.  Spoedig is Bennie Howard en Fonnie du Plooy as Oos-Kaapse omroepers aangestel. Albei van hulle het daarna uitmuntende uitsaaiers geword. 

Op ‘n persoonlike vlak kon ons ons eerste eie woonhuis betrek; Corlina kon ‘n ruk lank skoolhou by Grey Boys High in PE en twee van ons drie spruite is daar gebore.

In Januarie 1978 is ek aangestel as die Afrikaanse radiodiens se Organiseerder: Jeug- en Tydskrifprogamme in die nuwe uitsaaikompleks in Aucklandpark, waar ons twee jaar later ‘n woonhuis letterlik ‘n klipgooi van die SAUK af gebou het, op ‘n erf wat ons nogal by Roelf Meyer gekoop het. 

Watter aspekte van radiowerk was vir jou die bevredigendste? En waarvan het jy nie gehou nie? Dit was tegnies nogal anders as vandag…

Eerstens, waarvan ek nié gehou het nie: om die nuus te lees.  Dit het my geweldig gespanne gemaak.  Ek kry nou nog nagmerries daaroor.

Die bevredigendste werk was sonder twyfel aktualiteitsprogramme – soos talle “Rekenskappe” en ‘n reeks van 20 weeklikse programme, Op Pad na 2000, wat ek in 1976 nog uit Port Elizabeth saamgestel het.  Dit was ‘n reeks waarin daar gekyk is na Suid-Afrika se prioriteite vir die laaste gedeelte van die vorige eeu. Weekliks het ‘n ander tema aan die beurt gekom, toegelig deur van ons voorste Afrikaanssprekende deskundiges: Water, verstedeliking, voedselverbouing, openbare veiligheid, energieverskaffing, vervoer, onderwys – noem maar op. 

Die eerste paar programme het “politieke” temas aangesny: Die tuislandbeleid; die stedelike swart mense; die toekoms van die bruin mense; ons verhouding met Afrika.  Die laaste program het wéér oor die politiek gehandel en is op 16 Desember 1976 uitgesaai: Dit was ‘n uurlange debat oor die tema Verandering. Die deelnemers was Piet Cillié van Die Burger, Gerrit Viljoen van RAU en prof. Nieuwenhuizen, ‘n ekonoom ook van RAU.  Dit was ‘n belangwekkende program, wat plaasgevind het op die hakke van die vernietigende jeugopstande van 1976.

Ek het transkripsies van die eerste vier programme asook van die laaste een in my besit, en vind dit baie interessant om te lees hoe van ons voorste denkers en wetenskaplikes 45 jaar gelede oor die toekoms gespekuleer het – want dit is wat dit was: spekulasie.  Ek probeer tans om toegang te verkry tot die ander programme in die reeks wat, so word ek meegedeel, steeds in die SAUK se argief is.  Miskien kan daar iets van kom by wyse van ‘n “herbesoek”.

Ek dwaal af van jou oorspronklike vraag: Naas aktualiteitsprogramme het ek ook groot vreugde geput uit Hoe verklaar u dit?, die weeklikse vraeprogram oor die natuurwetenskap waarmee ek in Januarie 1979 begin het. Dit word steeds uitgesaai.  Terwyl ek besig was om deelnemers vir die nuwe program te werf, het die WNNR my genooi om Marion-eiland te besoek – en wel in September 1978.  Dit het uitgeloop op ‘n hoorbeeld oor dié eiland en die weerspan wat toe daar gestasioneer was.  Ons het daarheen gereis met die SA Agulhas, wat toe nog splinternuut was. Ek was meeste van die tyd seesiek….

In die winter van 1978 het ek die destydse Rhodesië besoek vir ‘n uurlange hoorbeeld oor die Afrikaners van daardie land, wat toe in ‘n burgeroorlog gewikkel was.  Die volgende jaar – 1979 – was ook om verskeie redes ‘n hoogtepunt: Ek het in April weer na Rhodesië gereis vir ‘n lang onderhoud met Ian Smith, op die vooraand van sy uittrede as Rhodesië se “rebellepremier.” Dit is opgevolg deur ‘n uurlange hoorbeeld oor dié interessante politikus.

In September 1979 het ek vir twee weke die jaarlikse Prix Italia radio-en televisiefees in Lecce – in die suide van Italië – bygewoon. Die destydse direkteur-generaal, dr. Jan Schutte, het my genooi om as waarnemer saam te gaan met die SAUK se span beoordelaars: Schutte self; die hoof van musiek (die minsame Chris Swanepoel)- en die onvergeetlike June Seymour.

Daarna is ek saam met dr. Schutte op ‘n besoek aan die Israelse radio en televisie en, daarná, ook aan die Beierische Rundfunk In München.  Op Schutte se aandrang is ek daarna op my eie na Berlyn (om te gaan kyk hoe lyk hul uitsaaimuseum; die SAUK wou ook een vestig). Ek is ook – via die  berugte Checkpoint Charlie – op ‘n dagbesoek na kommunistiese Oos-Duitsland (DDR).

My besoek van ses weke aan Europa is afgesluit met ‘n weeklange besoek aan Londen: Die BBC en “verpligte” kyktyd na BBC-televisie in my hotelkamer. 

Toe word jy advokaat?

O, die advokaat-fase het eers láát in my lewe gekom. Die agtergrond daartoe is egter onvermydelik; byt ‘n bietjie vas.

Nadat ons gesin ons in Aucklandpark gevestig het, het ek ingeskryf by die nabygeleë RAU vir die LLB-graad.  Dit het drie jaar se veeleisende aandlesings geverg. Intussen – ek dink dit was in 1980 – het dr. Schutte die SAUK-raad ooreed om ‘n pos te skep vir ‘n uitsaainavorser.  Die gedagte was dat so ‘n navorser tendense in die uitsaaiwêreld oor die wêreld heen moes dophou en onder die Raad se aandag bring.  Dit sou geen rol speel in luister- en kykernavorsing nie – daarvoor had die SAUK lankal ‘n gevestigde departement. 

Ek het vir die pos aansoek gedoen en is toe aangestel as die eerste – en enigste ooit! – bestuurder: uitsaainavorsing.  Die pos was direk gekoppel aan die kantoor van die direkteur-generaal – in my geval dr. Schutte.  Hy het kort daarna afgetree en my vorige hoof by die radio, Steve de Villiers, is toe as die SAUK se direkteur-generaal aangestel.  Ek het oorgegaan na sy kantoor toe.

In 1982 het ek ‘n navorsingsbesoek gedoen aan uitsaai-owerhede in die VSA, Swede, Nederland, Frankryk en weer Engeland.  In die VSA had ek nogal die sonderlinge voorreg om ‘n perskonferensie van pres. Reagan in die East Room van die Withuis by te woon. Wat ‘n ervaring om die wêreldpers persoonlik in aksie te sien!

Daar is veral twee dinge wat ek tydens my besoek aan die buiteland as belangwekkend waargeneem het: Die ontluikende internet (wat toe nog net militêre en akademiese toepassings gehad het) en die koms van die draagbare videokamera, wat spoedig ‘n rewolusie in die dekking van televisienuus sou bring. 

My navorsingsverslag het egter gou stof begin vergader omdat my baas – Steve de Villiers – my as ‘n persoonlike assistent begin inspan het: Ek moes toesprake vir hom (en die Raadsvoorsitter) skryf; sy korrespondensie oorneem; ure lank met hom in sy kantoor deurbring om sake te bepraat.  Dit het my begin frustreer, en toe Pik Botha vir Riaan Eksteen as toekomstige direkteur-generaal aanstel, het ek besef dit is tyd om iets te begin doen met die nuutverworwe LL.B.  (Eksteen, verstaan ek, was eintlik ‘n goeie SAUK-baas – maar die óórd waaruit hy aangestel is, het my afgeskrik.)

Met die (teensinnige) hulp van Steve de Villiers het ‘n hardegat-prokureur van Johannesburg, Billy van der Merwe, my in die middel van 1983 aanvaar as ‘n kandidaat-prokureur in die destydse vooraanstaande Afrikaanse prokureursfirma in Johannesburg, Hofmeyr van der Merwe. Ek moes teen minder as ‘n kwart van my SAUK-salaris ‘n nuwe loopbaan begin uitbeitel; vroulief moes weer gaan werk, en ons moes ons huis verkoop en na ‘n veel meer beskeie woning hoër op in  Aucklandpark verhuis. 

Dit was moeilike jare: Ek was die junior klerk in die firma – my ouderdom van 33, getroud en met drie jong kinders, ten spyt. Ek moes gou ook leer dat in die regspraktyk my loopbaan van elf jaar by die SAUK van geen betekenis was nie: “Die reg erken net sy eie ervaring” het ’n ou universiteitsvriend van my – wat toe al ‘n direkteur in die betrokke firma was – vir my gesê.

Billy van der Merwe was seker die beste leermeester wat enige toekomstige prokureur kon begeer: Kort van draad – in die sin dat jy nie met nonsens na hom toe moes kom nie; pynlik ingestel op detail; ‘n omvattende kennis van die reg; ‘n puik administrateur (hy was verskeie kere president van die SA Prokureursorde); ‘n leermeester by uitnemendheid, en die toepasser van die hoogste etiese standaarde. Ek eer hom steeds as ‘n mentor.

In 1985 is ek as prokureur toegelaat, en daarna het ons as gesin die vryheid gehad om die grootstadslewe te verlaat.  Ek is aangestel by die oudste prokureursfirma op George, Raubenheimers Ingelyf, waaraan ek ruim 25 jaar lank as direkteur – en later as konsultant – verbonde was. In 2008 het ek die aktiewe praktyk verlaat en het ons permanent na Vleesbaai verhuis; ons het die huis hier reeds in 2003 gebou. 

Ek het in 2012 die prokureursprofessie finaal vaarwel toegeroep, waarna ek as advokaat van die hooggerregshof toegelaat is – wat, anders as die prokureursprofessie, niks kos aan jaargelede en dies meer nie. Ek praktiseer egter nie, maar het wel al by ‘n paar geleenthede pro amico-verskynings gedoen – telkens met ‘n geleende toga en beffie.

Later, nadat jy afgetree het, skryf jy vir lank ‘n rubriek in die Saterdagkoerant. Jou regskennis en joernalistieke talent en skryflus kom toe (weer) saam?

Wel, gedurende my eerste jare op George het ek begin met ‘n reeks rubrieke oor ons regserfenis wat vir ‘n jaar lank twee keer per week soggens oor Monitor uitgesaai is – ek kon nou maar net eenmaal nie van die mikrofoon afskeid neem nie.  Ek het die rubriek onder die skuilnaam Karel Gustafson aangebied (my eerste naam is Charl, en my ma se nooiensvan was Gustafson), gewoon omdat prokureurs  nie destyds toegelaat is om te “adverteer” nie.  Ek moes telkens Kaapstad toe reis vir opnames in die Seepunt-atlejee – dertig op ‘n slag, as ek reg onthou.

Om oor die reg te skryf, en om dit toeganklik en verstaanbaar vir die “man op straat” te maak, het my geprikkel.  LitNetwas vriendelik genoeg om my te kontrakteer vir ‘n weeklikse rubriek onder die titel Regsalmanak. Ek skat daar is meer as 300 van hulle nog steeds op LitNet se argief beskikbaar.  (Talle is natuurlik teen dié tyd erg verouderd; die reg ontwikkel immers voortdurend.) 

Dit het uitgeloop op ‘n keur van die Litnet-stories wat Protea Boekhuis in 2018 onder die titel Regsalmanak – 100 Stories uit ons Regserfenis gepubliseer het. Dit was ‘n genotvolle projek.

In 2016 het Die Burger se redakteur van die eiendomsbylaag op Saterdae, Samantha van den Berg, my genooi om ‘n weeklikse rubriek oor die regsaspekte rondom eiendom te behartig.  Ek het daarmee volgehou tot in Maart 2020, toe die land op sy kop gekeer is vanweë die Covid-19-pandemie.  Media24het dit nodig gevind om ook sy sake te rasionaliseer, wat tot die sluiting van ‘n hele klompie tydskrifte en rubrieke – soos myne – gelei het.

Jy skryf ook gereeld hoogs leesbare stukkies vir die Facebookblad Nagkantoor…

Wel,  Nagkantoor kan ‘n mens  nogal besig hou – as jy wil.  Dit huisves só ‘n uitgelese gehoor dat jy baie sekuur moet skryf.  Dikwels word jy spreekwoordelik in die bek geruk deur mense wat baie slimmer en meer ervare as jy is.  Wat nie lekker is nie, is ploerte wat niks ooit in hul lewens – uit ‘n joernalistieke oogpunt – bereik het nie, wat dié platform misbruik.  Maar laat ek nie verder gaan nie …

Is jy ook besig met ander skryfwerk?

Ja, Protea Boekhuis het my genooi om ‘n bundel van vyftig van my rubrieke vir Die Burger se eiendomsbylaag saam te stel.  Ek moes met ‘n fyn kam deur die artikels gaan: Dit op datum probeer bring; dit taalkundig herversorg en hier en daar met bykomstighede – wat vir my interessant is – aan te vul. 

Die bundel is by die skryf hiervan – Julie 2021 – in die hande van  Hanli Deysel van Protea, wat die finale bladuitleg behartig.  Die bundel sal na verwagting in Oktober uitgereik word.  Die titel hou ek nog geheim; dit sal hopelik ‘n verrassing vir minstens my vriende hier op Vleesbaai wees.

Van tyd tot tyd lewer ek steeds vir Media24 en LitNet artikels oor aktuele regstemas – byvoorbeeld oor die sotlikhede waarmee die regering met sy Covid-19-regulasies vorendag gekom het. Ek het ook kritiese artikels geskryf oor die appèlhof se regsdwaling in die Oscar Pistorius-verhoor; die skandalige behandeling van Fred van der Vyver en – helaas – die Universiteit van Stellenbosch se kanselierskandaal: Oudregter Cameron en die rektor, prof. Wim de Villiers, se geheime samesprekings oor die amp van kanselier, terwyl ‘n saak  (wat die US ten nouste geraak het) voor Cameron en sy amspbroers en -susters van die Konstitusionele Hof gedien het. 

Watter media geniet jy? Hoe beleef jy die mediawêreld vandag?

Vandat ek my verstand het, was daar altyd koerante in ons huis.  Die Transvalerhet elke dag saam met my pa huis toe gekom.  Sondae – ná kerk, let wel – was dit Dagbreek en SondagnuusDie sogenaamde “geelpers”-koerante – as ek reg onthou Die Landstem en Sondagstemis nooit in ons huis toegelaat nie.  Selfs op laerskool het onderwysers ons teen dié twee publikasies gewaarsku – dalk onverdiend.

Ek het vroeg in my lewe begin koerant lees en onthou nou nog ‘n voorbladberig van Die Transvaler wat my as jong kind geweldig ontstel het: Daar was, naas die berig, ‘n foto van twee Rooms-Katolieke nonne wat iewers in die destydse Belgiese Kongo weerskante van ‘n Volkswagen Kewer gelê het – doodgeskiet deur swart mans wat op die agtergrond met gewere gepronk het.  Die dood – en veral dood weens geweldpleging – was in daardie stadium vir my ‘n vreemde, gans onbekende, konsep.  Ek kon nie glo dat een mens dit aan ‘n ander kon doen nie. 

Vandag moet ek bely dat daardie gebeurtenis by my ‘n irrasionele vrees vir swart mense gekweek het, wat natuurlik verhewig is deur Sharpeville in 1960 en die Poqo-moorde in die Paarl en die destydse Transkei in 1962.

Vandag koester ek egter geen vrees meer vir swart mense as sodanig nie, maar ek is op my pasoppens vir mense wat niks in die lewe het om te verloor nie en wat geen begrip het van wat die begrip “verlies” behels nie.  Ons het dit ‘n week gelede (ek skryf hier in Julie 2021) weer met verbystering waargeneem met die vernietigende onluste en strooptogte in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Daar gaan tans nie ‘n dag verby sonder dat ek Die Burger van hoek tot kant – deesdae dikwels maar net so om en by 16 bladsye – lees nie. Ek kyk ook vergelykend wat in Beeld en Volksblad geskryf word.  Sondae lees ek Rapport.

Ek is ook ingeteken op Daily Maverick wat na my mening uitstekende werk doen. Ek geniet die gereelde spotprente van Zapiro en die weeklikse Madam & Eve – naas die verbysterende aanbod van meningsartikels deur werklike deskundiges. 

Ek kyk ook voortdurend na verskillende nuuskanale op TV: als rondom die 400-kanale.  Ek geniet nogal die Nederlanders (bvn) op kanaal 431.

Met dit gesê: Ek vind die nuusaanbod nogal oorweldigend. As jy die vloei van inligting na jou nie self goed “bestuur” nie, is daar nie tyd vir lekker agteroor sit met ‘n boek nie.  Daar is honderde op my rak, waarvan ek maar net naastenby ‘n idee het waaroor elkeen handel. Helaas is my lewensverwagting te kort om als baas te raak …

As jy terugkyk, is jy tevrede jy het nie in die mediawêreld gebly nie? Jou versameling koerante en knipsels vertel jy het altyd ‘n belangstellling in aktuele sake behou…

Wel, soos jy hierbo seker kon uitmaak, was my elf jaar by die SAUK ‘n hoogtepunt. Ek het nie die regspraktyk naastenby soveel geniet nie. My portefeulje het meestal hooggeregshoflitigasie behels en by tye het die gepaardgaande spanning my gesondheid aangetas: Ek het ‘n ekseemlyer geword, en het vir jare allerhande soorte behandelings ondergaan.  Binne ses maande nadat ek uitgetree het, was die probleem egter iets van die verlede.  (Ek kry net nog maar ‘n bietjie ekseem op my hande as ek ver bestuur, wat die bron van die kwaad verraai: spanning.)

Die prokureursberoep is dus veeleisend; die vergoeding – in ons geval – was goed, maar ek mis dit nie een dag nie.  Wat ek wel mis, is die kameraadskap van my vennote en die personeel van die firma waarby ek betrokke was. Ons skakel nog dikwels met mekaar, wat ook ‘n bron van vreugde is.

Om die SAUK te verlaat toe ek 33 was, was ‘n goeie besluit. Ek gun dit vir elke jong mens om een, selfs twee, drastiese loopbaanveranderings te maak.  Ek is spyt dat ek nie die durf gehad het vir ‘n derde verandering nie: Dan sou dit straks in die rigting van die diplomatieke diens gewees het.  Van buite af lyk dit vir my na ‘n fassinerende beroep. 

Wat my betref, was my loopbaan by die SAUK vir seker dié van ‘n joernalis – weliswaar met die mikrofoon.  My eintlike loopbaan as regsjoernalis – weliswaar in vryskuthoedanigheid – het eers maar begin nadat ek die SAUK verlaat het.

Vir my verskaf die kuns om te skryf steeds vreugde en, glo ek, dit hou jou verstandelik jonk.  Ek het jare gelede by die KKNK ‘n weeklange skryfkursus gevolg. Dit is aangebied deur wyle prof. Johan Combrink, Riana Scheepers en die erg onderskatte Jan van Tonder.  Hy het my ‘n belangrike les geleer: ‘n Skrywer se  beste gereedskap is sy potlood en uitveër. Gesoute joernaliste weet dit instinktief: Skryf, en herskryf ‘n teks, bly werk daaraan — totdat iemand ná aan jou sê: “Ja, dáármee kan ek saamleef …”

Dan weet jy.

En dan het jy al hierdie boeke wat deur die outeurs geteken is… Jy het ook talle ander handtekeninge deur bekendes. Vertel iets van hoe jy dit gekry het.

O, ek versamel al handtekeninge van werklik jongs af: Ek kom, byvoorbeeld, nou die dag af op ‘n program van ‘n laerskooloperette waaraan ek deelgeneem het. Die hoof en al die onderwysers het op die voorblad vir my geteken!

Ek onthou die eerste keer toe ek ‘n bekende se handtekening wou kry: Die sanger Charles Jacoby het op ons tuisdorp, Brits, ‘n uitvoering in die stadsaal aangebied.  Hy het met sy eerste verskyning op die verhoog, geklee in cowboydrag – en terwyl sy orkes hul bes probeer het – sy twee rewolwers uitgepluk en ‘n paar loskuitpatrone (ons het van “blanks” gepraat) afgevuur.  Ek het my vrek geskrik.  Maar ná die vertoning het ons jong kannetjies hom stormgeloop vir sy handtekening op ‘n poskaart met sy foto, wat vooraf uitgedeel is.  Ek het by hom gestaan en my beurt afgewag, maar omdat ek van agter gedruk is, het ek per ongeluk op sy wit cowboy-stewel getrap.  Hy het onnodig skerp voor my maats met my geraas.  Ek het omgedraai, sonder sy handtekening, en van daardie dag af het ek besluit dat as mense my ongeskik behandel as ek ‘n handtekening vra, ek hul uit my lewe sal sluit. 

Dit het net een keer daarna gebeur – nogal met ‘n bekende Afrikaanse skrywer, ‘n Hertzogpryswenner – maar daaroor sal ek skryf in ‘n boek oor my handtekeningversameling wat straks iewers in die toekoms die lig mag sien.

In my besit is nogal interessante Africana, as ek dit so mag noem: Ek fokus maar op Suid-Afrika en probeer ‘n verteenwoordigende versameling opbou van voortreflkikhede wat veral in Afrikaans verskyn – sowel uit ‘n letterkundige as historiese en politieke oogpunt. Daar is ook interessante sport-memorabilia, en ek probeer regtig om die handtekeninge van “struggle”-ikone byeen te bring – maar dis skaars!

Jy neem ook al van jongs af foto’s. Vertel asseblief.

My onderwyser-pa was ‘n toegewyde en bekwame fotograaf.  Hy was vir ‘n lang ruk redakteur van die Brits Pos – ‘n weeklikse koerantjie vir die mense van my tuisdorp.  Hy het als gedoen, smaak dit my: Berigte geskryf, die uitleg gedoen, geproeflees – en ja, die foto’s geneem.  Hy had ‘n wonderlike Zeiss Ikon-kamera en ‘n goed toegeruste donkerkamer, waar hy sy films ontwikkel en sy foto’s afgedruk het. Hy het ook die skool se jaarbladfoto’s en troufoto’s geneem.  Dalk was dit om den brode, want onderwysers is nog nooit behoorlik vergoed nie.  Hoe hy als ingepas het – hy was daarby ‘n toegewyde skei/nat-onderwyser – weet ek nie. 

Dis maar waar dit ook vir my begin het – ook in Pa se donkerkamer met sy eienaardige oranje-rooi lig. Op universiteit het ek baie van ons studentekoerant se foto’s self geneem.  As skolier op Heidelberg het ek talle en talle foto’s van die plaaslike volksraadslid, dr. H F Verwoerd, geneem. Ek het my verbeel ek is ‘n wafferse persfotograaf. Verwoerd het selfs van my foto’s van hom geteken. 

“Kunsfotografie” is egter nie my fortè nie: Ek het vriende wat daarvoor ‘n passie het, en ek verstom my telkens oor wat hul kan vermag.  Jammer genoeg, vind ek dit deesdae ‘n schlep om my Nikon saam te neem; my i-phone is baie geriefliker – en vir my doeleindes heeltemal toereikend.