RADIOLEGENDE FANUS RAUTENBACH HAD ‘N VEELKANTIGE LEWE

Twee boeke van die radiolegende Fanus Rautenbach word hier saam bespreek. Die eerste boeke belig sy hele lewe as skrywer, radioman, liriekskrywer… die verhaal van ‘n veelsydige, kreatiewe gees in ‘n era waar konformiteit hoog geag is.

DERTIEN GELUKKIGE JARE — DIE VERHAAL VAN FLINKVERIA

Fanus Rautenbach

J.P. van der Walt, Pretoria

1975

FANUS ONTHOU EN SEBASTIAN LIEG IN DIE MOU

Fanus Rautenbach saam met Piet Coetzer

Lapa, Pretoria

20009

Fanus Rautenbach was in die 1960’s — voor die koms van die aktualiteitsprogram Monitor — verantwoordelik vir die lighartige oggendprogram Flink uit die vere. Daarmee het hy ’n radiolegende geword. Hierdie twee boeke deel flitse uit daardie jare, maar ook baie meer. Die boeke is deurspek met stories en humor, baie daarvan in rympievorm en wat uit sy Flink uit die vere-dae spruit. Daarom is dit eerder ’n reis saam met Fanus waarby biografiese besonderhede hier en daar ingevleg is.

Die eerste boek is meer konvensioneel; die tweede is ’n mallemeule, want dit spring tussen eerste- en derdepersoonvertelling rond. Fanus, medeskrywer Piet Coetzer of Fanus se alter ego is afwisselend aan die woord.

Tog is daar outobiografiese juwele te vinde. Soos Fanus wat vertel hoe hy gevra is om die program Flink uit die vere aan te bied. Dit het ’n hele gedoente geword met die viering van die program (en die “Republiek van Flinkveria”) se tiende verjaarsdag. Dit was ’n (besonder plesierige) volksfees.

Hy vertel ook hoe Staal Burger, sy suksesvolste radiovervolgverhaal, ontstaan het. Ons lees dat hy in 1954 vir die eerste keer by die SAUK aangesluit het en reeds ’n “gesoute” skrywer was van draaiboeke en kortverhale. (Hy sou altesame meer as 200 verhale publiseer, soms onder ’n skuilnaam.) 

Fanus was dus ook ’n skrywer, trouens ’n uitnemende skrywer, wat vars radioverhale met vonkelende dialoog kon skryf. As gemaklike programaanbieder en programmaker – daar was onder meer sy bekroonde Die hemelkinders oor kinders met downsindroom – het hy ’n ander dimensie tot Afrikaanse radio toegevoeg. Dalk was hy die eerste Afrikaanse omroeper wat “gewoon” geklink het.

As volksheld het hy ’n rubriek in Die Transvaler gekry. Op die lug sou hy dit nooit waag om die blad by die naam te noem nie; dit was die dae toe enige sweem van kommersialisering onaanvaarbaar was. Toe verwys Fanus maar altyd na Die Waarheid

SAUK-politiek het Fanus verveel. Hy het dit vermy om in die gang te loop waar base sit. ’n Lekker middagete met kollegas en ’n botteltjie wyn was meer pret. Tog het hy één keer opgestaan en sy sê gesê vir die destydse direkteur-generaal, Riaan Eksteen. Hy vertel die storie in die tweede boek.

Self was Fanus meermale op die rooitapyt. Sy humor was nooit kras nie, maar effe stout. In die 1960’s was sedes egter besonder streng en is hy selfs by geleentheid deur sy dominee nader geroep om ’n ontstelde lidmaat te kalmeer oor wat Fanus sou gesê het.

Fanus is ’n paar keer geskors — of dalk nie. Daar is altyd ’n gordyn oor hierdie optrede getrek, wat bygedra het tot sy status.

Later in sy loopbaan, in die 1980’s, het Fanus ’n oggendprogram op Radio Jakaranda aangebied en ’n storie oor Mot geskryf, wat hy soggens voorgelees het. Hy het soveel stories in sy kop gehad; hulle moes uit.

Hierdie twee boeke laat ons iets van daardie geniale mediamens beleef.

Nota: ’n Wikipedia-inskrywing gee heelwat besonderhede wat nie in die boeke verskyn nie — ook sy lys van boeke, wat uiteraard ’n paar grapboeke insluit. Fanus het homself egter eerder as ’n humoris as grapkas beskou. — JDF

Enkele uittreksels:

Oor die eerste uitsending van Flink uit die vere skryf Fanus in Dertien gelukkige jare:

Toe die program tien jaar oud was, was Fanus byna ‘n kultusfiguur. ‘n Deel van die program het só gelyk:

Fanus het soms onder kritiek deurgeloop omdat hy te gewaagd was – altans vir die 1960’s. Hier is ‘n koerantbrief wat hom aanvat, soos afgedruk in sy boek Fanus onthou.