PRETORIA FM SE DEKADE VAN GROEI — WILLIE SPIES

Op 1 Augustus 2021 het Willie Spies die volgende insiggewende terugblik op sy eerste tien jaar by Pretoria FM gelewer:

Dis vandag presies 10 jaar gelede sedert ek deeltyds by Pretoria FM begin werk het. Aanvanklik as tussentydse uitvoerende hoof, toe as besturende direkteur en sedertdien as uitvoerende voorsitter.

Die pad met Pretoria FM was aanvanklik ‘n opdraende pad. Dit was bitter moeilik. Die bestuurspan het almal destyds aftree-ouderdom bereik. Daar was geen opvolgstrategie vir ‘n volgende geslag bestuurders om die leiding te neem nie. Die stasie het nie sy eie inkomstestroom beheer nie en was afhanklik van slegs twee advertensie-agentskappe om advertensies te verkoop.

Die personeel was in twee of meer opponerende kampe verdeel. Omset van jonger personeel was vinnig. Salarisse was bitter klein, geen mediese en pensioenvoordele vir personeel nie. Almal was onseker oor die toekoms en bekommerd of die stasie ‘n toekoms gehad het. Slegte publisiteit oor die radio was volop in die geelpers-koerant Son

Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.

Boonop het ICASA enkele maande later in 2012 opdrag gegee dat ons ons uitsendings vanaf ons 8 herleistasies moes staak. ‘n Onsuksesvolle hofaansoek het gevolg.  Daarna onderhandelinge met ICASA en uiteindelik ‘n deurbraak. Uitsaailisensies vir al ons herleistasies.

Daarna ‘n deurbraak met ‘n eie kanaal 887 op DStv. Die vestiging van ‘n bekwame bestuurspan. Die loodsing van die nuwe handelsmerk Pretoria FM. Die aanstelling van Hennie Koortzen as uitvoerende hoof. ‘n Selfoontoepassing. Webgebaseerde luisteraars.  ‘n Wêreldwye voetspoor. Groeiende luistertal. Uiters lojale luisteraars.

Gereelde toekennings (soos nou weer met die jaarlikse Radio Awards). ‘n Baie stabiele en talentvolle personeelkorps. Gesonde inkomste. Die eerste Aitsa-Afrikaanse musiektoekennings – opwindende planne vir vir ‘n tweede! Groeiende debietorderondersteuning.

Vandag kyk ek dankbaar terug en besef dat dit 10 jaar was waarin ek baie meer geleer het as wat ek ooit kon aangebied het. Waarin elke poging wat ek ingesit het dubbel-en-dwars en in oorvloed na my teruggekeer het. Dankbaar vir die ongelooflike voorreg.

Geplaas 29 Maart 2023

Lees ook Spies se artikel oor Pretoria FM se eerste 30 jaar by https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/ons-onderkry-is-min-ons-is-pretoria-fm/