POLISIE WOU DIE DOMINEE-JOERNALIS ABRAHAM LüCKHOFF POOTJIE

Deur Johannes Froneman

Hoe die Veiligheidspolisie in die apartheidera ook by Afrikaanse joernaliste se werk ingemeng het, word bevestig in dokumente wat tot my beskikking gestel is. In 1969 is Abraham Lückhoff, toe joernalis by Die Nataller, ‘n pers-identiteitskaart geweier, vermoedelik omdat hy as ‘n linkse gevaar beskou is.

Lückhoff het die Veiligheidspolisie se aandag op hom gevestig nadat hy 18 maande in Amerika gestudeer het en toe ‘n beroep van ‘n NG gemeente in Tzaneen aanvaar het. Daar het hy, as gewese voorsitter van die DF Malan-tak van die Ruiterwag,  ‘n vergadering van Rapportryers op Gravelotte oor sy tyd in Amerika toegespreek.

In sy toespraak sou hy na bewering vrae oor die regeringsbeleid gehad het, integrasie met die “Kleurlinge” voorgestel het en boonop met lof oor senator Bobby Kennedy gepraat het. (Hy het dit ontken.) Dit besorg nietemin aan hom ‘n besoek van die Veiligheidspolisie, wat sy boeke nagegaan het en hom oor sy tyd in Amerika uitgevra het.

Volgens ‘n memorandum deur Barend Venter, toe redakteur van Die Nataller, het Lückhoff hom vererg en ‘n “ligte uitval” met die Veiligheidsman gehad. Nog ‘n gesprek met die Veiligheidspolisie het gevolg, waartydens Lückhoff verseker is dat hy nie ondersoek word nie.

Maar daar was skinderpraatjies en die eens leidende lid van die Ruiterwag is nie gevra om weer by dié organisasie of die Broederbond in te skakel nie. Sy werk in die gemeente het hom verhinder om sy tesis te voltooi en hy het gefrustreerd gevoel. Op aanbeveling van Dirk Rezelman, ‘n ou vriend, is hy as joernalis by Die Nataller aangestel.

Venter sê die Veiligheidspolisie het ‘n rukkie daarna oor Lückhoff navraag gedoen en toe kom die skok: Lückhoff word ‘n pers-identiteitskaart deur die Polisie geweier — ‘n aanduiding dat hy as die een of ander veiligheidsrisiko beskou is. Lückhoff was “bitter ontsteld”, want dit sou sy werk aan bande lê en het hom brandmerk.

Op 19 Maart 1969 skryf Venter aan die eerste minister, John Vorster, en bevraagteken baie versigtig die besluit. Hy noem dat as Lückhoff nie vir die Veiligheidspolisie aanvaarbaar is nie, kan hy ook nie ‘n betrekking by Die Natallerbeklee nie.

Venter skryf verder: “Mnr. Lückhoff verseker my dat hy ‘n Nasionalis is, dat hy glo die beleid van afsonderlike ontwikkeling is ons enigste hoop en dat hy die volste vertroue in u en die Nasionale regering het.” Venter heg ook die memorandum aan waarin hy Lückhoff se loopbaan uitspel.

“Ek val u net lastig omdat ‘n baie belowende jong man se hele toekoms hier op die spel staan,” skryf Venter. “Al sou ‘n ongunstige beslissing hom seker nie in ons teenstanders se kamp dryf nie, sou die verbittering wat dit meebring kan meebring dat sy talente op die lange duur vir sy land en volk verlore gaan.”

Toe hy egter geen duidelikheid kry nie, het Venter die eerste minister persoonlik genader toe dié op besoek aan Natal was. Daarna laat weet die kommissaris van Polisie dat hy, in opdrag van die minister van Polisie, die aansoek heroorweeg het en is ‘n perskaart aan Abraham Lückhoff uitgereik.

Nie Venter of Lückhoff het egter ‘n verduideliking ontvang vir die aanvanklike weiering. Minder as ses maande later stuur Venter die kaart terug aangesien Lückhoff bedank het om by ‘n ander koerant aan te sluit.

Hy werk ook as joernalis by Hoofstad en Die Burger, as kerksakeverslaggewer by Rapport en bedien gemeentes in Amerika, België en Mexiko. In 1976 het hy ‘n proefskrif oor die Cottesloe-kerkeberaad voltooi, wat in 1980 as boek uitgegee is.

Is Lückhoff sonder rede verdink van staatsgevaarlike idees? Nie as Venter se verdediging van sy kollega op feite gegrond was nie. Maar in sy herinneringsboek skryf Lückhoff hoe hy as student op Princeton in ‘n debat oor apartheid betrokke geraak het — en so deur sy eie “klein Rubiconstroompie” beweeg het. “Ek kan nie meer apartheid verdedig nie”, het hy besef.

Hy was dalk nie meer die toegewyde Nasionalis waaroor Venter later (in 1969) geskryf het nie. Maar dit was geen rede om hom sy perskaart te weier nie.

Die gebeure vertel veel oor die geslote sisteem waarbinne Afrikaners in daardie jare geleef het en hoe die Polisie misbruik is om ‘n oop gesprek te smoor.

Hoeveel joernaliste se loopbane is nie deur hierdie benepenheid gekortwiek of selfs vernietig nie?