Pieter Cronjé het sy spore as joernalis verdien en toe ‘n lang loopbaan as kommunikasiebestuurder begin. Hy vertel hier aan Johannes Froneman oor van die hoogtepunte — en die mense wat hy deur sy werk ontmoet het.
Pieter, jy het ’n lang loopbaan in die kommunikasiebedryf agter die rug — en wat nog nie verby is nie! Waar het alles begin? Jou opleiding en eerste werk — vermoedelik in die joernalistiek…
Ek was ‘n beurshouer van Die Volksblad in Bloemfontein en het ná my diensplig tydens universiteitsvakansies in die nuuskantoor begin werk. Ek was ‘n groentjie tussen joernaliste met minstens vyf jaar ondervinding. Dit was ‘n harde, maar deeglike leerskool onder leermeesters soos Bart Zaaiman, Wiets Beukes, Hennie van Deventer en Piet Theron.
Ná my studies is ek Kimberley toe gestuur as Die Volksblad se Noord-Kaaplandse verteenwoordiger waar ek meer as drie jaar dié wye en gasvrye wêreld deurkruis het. Daarna was ek Parlementêre beriggewer vir vier jaar (dit was nog die Kaapstad-/Pretoria-/politiek- en partykongresse-roetine). Meer as drie wonderlike jare het gevolg as Londense verteenwoordiger. Met my terugkeer het ek redakteur Suider-Afrika geword en het oor die destydse tuislande, Afrika, veral die suidelike state en “buite-parlementêre politiek” geskryf.
Wat was jou beste tye in die joernalistiek?
Die verskeidenheid van stories in die Noord-Kaap, misdaad, ongelukke, landbou, hofsake, mynbou, munisipale en gemeenskapsake – en veral Kimberley se feestelike eeufees.
Die Parlement was ‘n wonderlike leerskool en ervaring met deurwinterde joernaliste, leermeesters en rolmodelle soos Alf Ries, Louis Louw van Die Burger en John Scott van die Cape Times. Interaksie met leiers soos mnre. John Vorster, PW Botha, FW de Klerk, sir De Villiers Graaff en politici soos Hendrik Schoeman, Piet Koornhof, Chris Heunis, Cas Greyling, Marais Steyn, Radclyffe Cadman, Bill Sutton was verrykend en waardevol.
Van 1975 tot 1977 het ek saam met Ebbe Dommisse vir Naspers verslag gedoen oor die Turnhalle-beraad in Windhoek, en leiers soos Dirk Mudge, Clemens Kapuo, Cornelius Ndjoba, A.H. du Plessis, Eben van Zijl ontmoet en die land deurreis.
Londen was wonderlik. Ek was daar toe Margaret Thatcher die vakbonde bloedneus gegee het, ek het leiers van bevrydings- en anti-apartheidsbewegings soos Oliver Thambo, Peter Hain, Sam Ramsamy, Peter Katjavivi en Theo-Ben Gurirab ontmoet en die Britse mediakultuur in “Fleet Street”, “10 Downing Street” en die “Foreign Office” ingedrink. Ek het verslag gedoen oor die Lancaster House-beraad oor Zimbabwe se onafhanklikheid. Ek het met Robert Mugabe ‘n onderhoud gevoer wat sy span in groot geheimsinnigheid gereël het.
Ek het reg langs die altaar in St Paul’s-katedraal gesit toe (nou) koning Charles en wyle prinses Diana getroud is. Die Britse koningsgesin het reg oorkant my gesit, enkele meters weg. My motivering aan die Foreign Press Association vir toegang: “Ek verteenwoordig die grootste Afrikaanse koerantgroep in die wêreld.”
Links: Pieter op pad na die troue.
As redakteur Suider-Afrika het ek na al die tuislande gereis vir interessante stories en mense, ook ‘n mislukte staatsgreep in Ciskei. Op berade het ek met Afrika-leiers soos Nyerere, Kaunda, Machel en Masire skouer geskuur.
Toe beweeg jy aan… Vertel asb.oor die vroeë 1990’s toe jy betrokke was by die transformasie van die uitsaaiwese.
Ek was vier jaar lank sekretaris van twee taakgroepe wat deur die kabinet aangestel is onder wyle prof. Christo Viljoen se voorsitterskap. Onder die lede was Ton Vosloo en Aggrey Klaaste. Hierdie taakgroepe het ‘n nuwe uitsaaibedeling vir Suid-Afrika voorgestel. In hooftrekke bestaan dit vandag nog, nl. openbare uitsaaier, handelsuitsaaiers, gemeenskapstasies, die beheer en toewysing van die elektromagnetiese frekwensiespektrum en ‘n uitsaaireguleringsowerheid. Die laaste verslag is in Augustus 1991 aan die kabinet voorgelê.
Pieter saam met dr. Riaan Eksteen by ‘n boekbekendstelling. Hulle het by die SAUK ‘n tyd lank saam gewerk — Eksteen as direkteur-generaal en Pieter as sekretaris van die SAUK-raad.
Ek was sekretaris van die SAUK-raad en het die drama rondom Riaan Eksteen as direkteur-generaal en sy uiteindelike vertrek onder ‘n vyandige Staatspresident P.W Botha en ‘n vyandige SAUK-Raad, onder voorsitterskap van dr. Brand Fourie, eerstehands beleef. Riaan het dit in sy outobiografiese Beyond diplomacy in detail beskryf. Ek was bevoorreg om talle uitsaailegendes by die SAUK te ontmoet.
Die SAUK het my ‘n pos aangebied waar ek my ondervinding met die tuislande en buurstate kon aanwend met onderhandelinge op uitsaaifront. Een van die moeilikste opdragte was om met hoofminister Mangosuthu Buthelezi te onderhandel oor die suksesvolle televisiereeks Shaka Zulu, ‘n ko-produksie van die SAUK en Harmony Gold in die VSA. Harmony Gold was oortuig dat ‘n Afro-Amerikaanse akteur in die hoofrol die reeks internasionaal bemarkbaar sou maak en ek moes dié beginsel onderhandel met hoofminister Buthelezi, beskermheer van die produksie in KwaZulu-Natal. Dit was baie taai.
Gelukkig het hy ingestem. Nog gelukkiger het ons daarna in die gespierde, forse wyle Henry Cele met sy basstem die ideale Shaka Zulu gevind! Tydens verfilming deur die uitstekende regisseur Bill Faure het ek ook internasionale filmsterre in die rolverdeling ontmoet: Edward Fox (Day of the Jackal), Cristopher Lee (Dracula), Trevor Howard, Robert Powell (Jesus of Nazareth) Gordon Jackson en Fiona Fullerton (James Bond-film View to a kill)
En daarna?
Die SAUK het my op versoek van regter Johann Kriegler, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), in die eerste demokratiese verkiesing van 1994 gesekondeer as kommunikasiedirekteur. Dit was ‘n loopbaan-hoogtepunt.
Kundiges het gesê ons het minstens ‘n jaar, verkieslik twee nodig om die verkiesing te reël. Ons het vier maande gehad vir ‘n verkiesing sewe keer groter as tevore en sonder die kommunikasiemiddele van vandag. Die land was ‘n gespanne kookpot op verskeie plekke en die logistiek was ‘n nagmerrie – mense kon by enige stemlokaal opdaag om te stem.
As woordvoerder het Pieter vele onderhoude met die media gedoen — sommige in ontspanne antmosfeer.
Drie dae voor die aankondiging van die uitslae, neem iemand of mense in die telsentrum stemme weg van die ANC en deel dit toe aan opposisiepartye. Die kommissie van 16 lede (onder hulle Helen Suzman, Oscar Dhlomo en later Konstitusionele Hof-regters Dikgang Moseneke, Zac Yacoob en Johann Kriegler) het besluit om die telsentrum te verseël en ‘n onafhanklike span ouditeure die stemme te laat rekonsilieer. Reuters bel my uit Londen: “Ons wil weet oor die stemknoeiery, ons wil dit opneem en wat jy gaan sê gaan die aandelemarkte beïnvloed!”
Hierna is ek na Shell waar ek by die instelling van loodvrye brandstof in Suid-Afrika betrokke was. Ek moes ook boikotte en betogings teen Shell hanteer. Dit was die gevolg van Nigerië se teregstelling van die menseregteaktivis Ken Sara-Wiwo en makkers (Shell en die Nigeriese regering het saam olie-eksplorasie in Nigerië se Ogoni-streek gedoen) asook die Brent Spar-olieplatform, wat Shell in die see wou laat sink.
Ek was kommunikasiehoof en later handelsmerkbestuurder by Sanlam en het die heel eerste demutualiserings- en noteringsproses van ‘n onderlinge versekeringsmaatskappy help hanteer – ‘n projek met reuse-logistiek. Nadat Ou Mutual die ooreenkoms met Sanlam om hul demutualiseringsprosesse to koördineer, verbreek het, het uitvoerende voorsitter Marinus Daling besluit dat hy die proses eerste sou afhandel. En hy het.
In die nuwe politieke bedeling het jy lank gedien as kommunikasiehoof van die Stad Kaapstad. Wat het hierdie werk behels? Spesifieke uitdagings en suksesse?
Ek was die eerste kommunikasiedirekteur van die nuwe metropolitaanse stadsraad. Ek moes ‘n kommunikasie-, bemarking- en kliëntediens-department op die been bring en ‘n strategie hiervoor aan die raad voorlê. My span en ek het ‘n nuwe, oop bestel vir die nuusmedia ingestel en intern media-opleiding gedoen.
Ons is beskou as die mees media-vriendelike metro in die land – ‘n groot pluimpie. Die magdom mediakanale in die Kaapse metro en veral gemeenskapskoerante was die aangewese weg om inwoners in te lig oor die munisipaliteit se werksaamhede. Ek het besef die 25 000 plus amptenare en die toe 3,5 miljoen inwoners was polities verdeeld. Daarom het ek my department op professionele beginsels gevestig en bestuur.
Ons het as department ‘n sleutelrol gespeel in groot projekte soos die suksesvolle instelling van die grootste SAP-rekenaarstelsel in ‘n munisipale regering in die wêreld, om die Wêreld-ontwerpstadtitel in 2014 in te palm en ‘n suksesvolle veldtog te loods om Tafelberg letterlik in beseringstyd as een van die Sewe Natuurwonders van die Wêreld verkies te kry.
In my elf jaar by Stad Kaapstad was daar talle krisisse – stakings, vloede, brande, zenofobiese geweld en die beveiliging van buitelanders in kampe, die kragkrisis met Koeberg se “moer”, maar ook geleenthede en ervarings waaroor ek dankbaar was.
Vertel meer oor die burgemeesters onder wie jy gedien het.
Ek is gelukkig aangestel as amptenaar wat aan die stadsbestuurder en nie die burgemeester gerapporteer het nie. Ek het met die meeste van die politieke leiers die meeste van die tyd goed saamgewerk, maar soms skerp verskil.
Ek het onder ses burgemeesters gedien en hulle van my department se beste diens en raad bedien, maar altyd enige partypolitieke kommunikasie aan hulle oorgelaat.
Eers was dit Belinda Walker, daarna Gerald Morkel van die Demokratiese Party. Toe kom die groot oorstap, die ANC en Nuwe Nasionale Party neem oor en Nomaindia Mfeketo word burgemeester. Helen Zille het haar onttroon met ‘n veelparty-alliansie, Dan Plato van die DA het gevolg en ná die alliansie tussen die Onafhanklike Party en DA het Patricia de Lille die Burgersentrum só hard kom skud dat selfs goeie appels uit die boom geval het.
Van die politici was katvoet vir my professionele benadering tot die stad se kommunikasie. Hulle wou die kommunikasie verpolitiseer. Dit was ‘n drempel wat ek nooit wou oorsteek nie, want dan sou my personeel altyd ‘n politieke klad moes dra.
Aanvanklik het ek en Helen Zille baie goed saamgewerk, maar toe sy Premier van die Wes-Kaap word, het haar standpunt verander na “alle kommunikasie is politieke kommunikasie”. Patricia de Lille het hierdie mantra nog vuriger gedryf en in 2012 is ek weg met die skaakmat van politieke en professionele kommunikasie. Kundige woordvoerders in die stadsadministrasie moes swyg en die politici kon alleen bak … en brou.
Ek vermoed jou betrokkenheid by die Sokker-Wêreldbekertoernooi van 2010 in Suid-Afrika was ‘n groot hoogtepunt — met heelwat uitdagings.
Inderdaad. Hoewel die toernooi self 30 dae geduur het, het my betrokkenheid oor ‘n dekade gestrek. Dit het begin toe Suid-Afrika in 2004 as gasheerland vir die 2010-toernooi aangewys is. Dit was ‘n reuseprojek waar die openbare sektor R12,5 miljard bestee het aan infrastruktuur: die stadion by Groenpunt, die MyCiTi-busdiens, opknapping van die sentrale treinstasie, lughawe, verkeerswisselaars op die belangrikste toevoerroetes en ander kapitaalprojekte.
Saam met die twee koerantgroepe, Media 24 en Independent, het Stad Kaapstad ‘n opvoedkundige veldtog van ses maande gebruik om Kaapstad, die toerismebedryf en die sakesektor bewus te maak van hierdie ongekende internasionale bemarkingsgeleentheid. Die boodskap was: wees vriendelik, lewer uitstekende diens, moenie besoekers uitbuit nie. Ons moes ook verwagtinge bestuur dat die Wêreldbeker geld sal laat reën. Al wat nodig was, was ‘n oefen- en wedstrydstadion, openbare vervoer, toerismedienste, veiligheid en ‘n blywende ervaring.
Daar was aanvanklik groot teenstand en ‘n regsstryd teen die stadion. Later het eiendomspryse rondom die perseel beduidend gestyg en die besware het gaan lê. Die Wêreldbeker in Kaapstad was ‘n groot sukses in terme van wedstryde in Kaapstad-stadion, bywoning van toeskouers in jolkolle en meer as ‘n halfmiljoen mense wat die Lekkerloop-roete van die stad na die stadion gestap het. Daar was gees soos min.
Die finale trekking vir die wedstrydrooster ses maande voor die tyd was in Kaapstad. Die internasionale uitsaaiers was ook hier en my span en ek het hulle die skone Kaap en sy bekoring gaan wys. Kaapstad het meer as sy pond vleis in internasionale televisiedekking gekry.
Jy het ook heelwat internasionale werk gedoen. Vertel…
As Londense verteenwoordiger het ek gereis na die VSA en talle lande in Europa. Met die Uitsaaitaakgroep het prof. Viljoen en ek ook wyd gereis om ander lande se reguleringsbestel vir die uitsaaiwese te bestudeer. By Shell het ek na Londen gereis vir ‘n beraad oor die internasionale Nigeriese en Brent Spar-boikot teen Shell.
By die Stad Kaapstad was ek deel van ‘n driemanspan wat die aanbied van die wêreld- kortbad-swemkampioenskappe in Switserland met FINA bespreek het. Later het reise na internasionale konferensies en werkswinkels oor die aanbied van groot byeenkomste en samewerking op sakegebied gevolg.
Ná 2010 in Suid-Afrika het FIFA my na Brasilië genooi om Suid-Afrika se ondervinding en lesse met hul gasheerstede en Wêreldbeker-organisasies vir 2014 te deel. Ek het ook ‘n handleiding vir FIFA hieroor geskryf. Daarna het reise na St. Petersburg, Moskou, Kazan en Saransk in Rusland gevolg om dieselfde advies met Rusland vir hul Wêreldbeker in 2018 te deel, asook ‘n besoek aan Georgië om samewerking op uitsaaigebied te ondersoek.
Piet Cronjé staan die media in Rusland te woord.
Waarmee hou jy jou nou besig?
Sedert 2012 werk ek as onafhanklike adviseur oor kommunikasie, bemarking, handelsmerkbestuur, veranderingsbestuur en dikwels krisishantering.
Ek gee deeltyds klas by verskillende universiteite, veral Stellenbosch, en het ses jaar lank ‘n nagraadse leierskapskursus vir landbouleiers by die US-sakeskool gereël en aangebied saam met ander dosente. Ek gee ook internasionale aanlynklasse, soos ‘n internasionale kursus oor mediavryheid en MBA-klasse vir ‘n Nederlandse universiteit.
As spoedvraat met groot belangstelling in vliegtuie, motors en motorfietse, geniet ek my jarelange konsultasiewerk by die Killarney Internasionale Renbaan in Kaapstad. Ek was nou betrokke by die eerste FIA-wêreldkampioenskapswedren in Afrika – die Kruisrenkampioenskappe (World Rallycross) in 2017 en daarna. Killarney huur die renbaan by Stad Kaapstad. Ná jare se politieke druk dat ons moet trap en plek maak vir huise, kon die klein Killarney-span die stad oorreed dat die baan ‘n strategiese bate is wat jaarliks bykans R360 miljoen tot die ekonomie bydra. In Desember het Killarney effektief ‘n dertigjaarhuurkontrak gekry wat die toekoms van motorsport in die Wes-Kaap verseker.
Ek is bydraende skrywer vir ‘n paar boeke, het een gepubliseer oor die lugvaartkunswerke van my vriend wyle Tiro Vorster en is redakteur van ‘n boek oor ‘n bekende wynplaas se geskiedenis van 327 jaar. Verder adviseer ek, op my eie of as deel van ‘n span, banke, kleinhandelmaatskappye, sport, landbou en professionele ondernemings, die onderwys en verdienstelike nieregeringsorganisasie. Verder hou uitnodigings as gasspreker of -aanbieder en belangstellings in krygstuig, veral vliegtuie, musiek, hengel en musiek my besig.
Geplaas op 22 Maart 2023
Pieter Cronjé is in September 2023 oorlede.