PERSPEKTIEWE OP DIE AFRIKAANSE PERS NOORD VAN DIE VAAL

Die geskiedenis van Perskor is nie in ‘n enkele boek opgeteken nie, maar wel dié van Die Afrikaanse Pers (1962) Bpk., een van die maatskappye wat, saam met Dagbreekpers en Voortrekkerpers, in 1972 opgegaan het in ‘n nuwe maatskappy, Perskor. Dié maatskappy het sy belange teen 1996 alles verkoop en die opbrengs in die Dagbreektrust gestort, wat voortleef en Afrikaanse belange bevorder. Hierdie drie boeke vertel elk ‘n stukkie van die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek noord van die Vaalrivier; saam gee dit insig in ‘n diverse verhaal van stryd, suksesse en teleurstellings.

‘N VOLK STAAN OP UIT DIE AS

L.J. Erasmus

UItgewer en datum nie vermeld nie.

Die boek is ‘n vroeë monument vir Marius Jooste, wat die “boumeester” was van die maatskappy met die effe vreemde naam Die Afrikaanse Pers (1962) Bpk. (én die latere Perskor). Maar die boek gaan haal die storie van die Afrikaanse pers in die noorde heelwat vroeër.

Erasmus vertel van nou vergete koerante, soos Die Week en Het Volk, wat die weg gebaan het vir Ons Vaderland. Dié blad het later Die Vaderland geword en is dekades later by Die Transvaler ingelyf. Ironies dat ‘n “koerantjie” met die naam De Transvaler destyds deur Ons Vaderland oorgeneem is …

Die weë van koerante en hul redakteurs is vreemder as fiksie. Daarvan getuig hierdie boek wat die vervlegtheid van politiek en pers deurlopend illustreer. Die klem val ook op joernalistieke baanbrekers soos Gustav Preller, Eugène Marais en A.M van Schoor.

Maar die boek is ook ‘n geskiedenis van persmaatskappye en daarom moet ons die draad volg: die Noordelike Drukpers Maatskappy is in 1932 deur Afrikaanse Pers Bpk. vervang en het Ons Vaderland as Die Vaderland voortgesit. Jare later, in 1962, smelt Die Afrikaanse Pers Bpk. saam met Dagbreekpers en word die maatskappy Die Afrikaanse Pers (1962) Beperk gestig met Marius Jooste as besturende direkteur en dr. H.F. Verwoerd as voorsitter. Die “1962” was ‘n histories belangrike deel van die nuwe naam.

Die stigters van Die Afrikaanse Pers (1962) Bpk. Die foto kom uit Erasmus se boek. Verwoerd is voor in die middel. Heel regs staan Marius Jooste.

Intussen het tydskrifte soos Die Brandwag, Fleur en Rooi Rose uit hierdie kringe op die mark verskyn en saam die onderbou gevorm van wat later Perskor geword het. Hierdie geskiedenis van amalgamasies en oornames is nogal in kontras met die geskiedenis van Nasionale Pers (Naspers/Media24).

Lesers wat ‘n Volk staan op uit die as onder oë neem, sal noodwendig kennis maak met die stryd wat Afrikaners in Johannesburg en Pretoria gevoer het om ‘n staanplek te kry. Dieselfde geld hul koerante en tydskrifte. Daar sal dan ook groter begrip wees vir die emosies wat opgebruis het toe die Sondagkoerant Die Beeld (1965) en die dagblad Beeld (1974) op die toneel verskyn het.

Dit het immers dekades geduur om die Afrikaanse persbelange noord van die Vaal in een kraal te kry; die koms van publikasies uit ‘n mededingende (suidelike) persgroep, Nasionale Pers, was nie net kommersieel ‘n ongewenste faktor nie, maar ook kultureel-polities problematies.

Erasmus se boek help dus om die geskiedenis van die Afrikaanse pers in die noorde van die land te verstaan.

Erasmus vertel iets oor die verwagte invloed van televisie (beeldradio) en die huiswerk wat gedoen is; vandaar die sluiting van Die Brandwag:

Ironies dat TV se koms juis bygedra het tot die enorme groei van Huisgenoot, ‘n belangrike konkurrent van Die Brandwag.

MOEDSWILLIG DIE UWE — perspersoonlikhede in die Noorde

Dirk Richard

Perskor, 1985

In hierdie boek deur Dirk Richard val die kollig veral op die Afrikaanse perspersoonlikhede wat in die jare ná die Anglo-Boere-oorlog na vore getree het — dus die mense wat reeds in Erasmus se boek hul verskyning gemaak het. Richard se hoogs leesbare boek neem die verhaal wel verder — tot by dr. Willem de Klerk en die “inval” uit die Suide.

Die boek is heerlike leesstof vir enigeen wat in die persgeskiedenis belangstel en allerlei anekdotes sal geniet. Die skrywer se insigte in allerlei woelinge is die moeite werd om te lees.

Anders as Erasmus, is Richard nie skaam om reguit menings oor redakteurs uit te spreek nie. Maar hy bêre dalk van sy beste anekdotes vir sy latere Tussen bid en droom. Laasgenoemde het hy geskryf ná sy aftrede by Perskor en is deur Constantia uitgegee; Moedswillig die uwe is deur Perskor uitgegee en geskryf terwyl Richard sy laaste maande voor aftrede in die Perskor-biblioteek deurgebring het. Dit nadat hy as redakteur van die Vaderland in die pad gesteek is… — JDF

‘n Uittreksel

Richard vertel die volgende oor die persbaas Marius Jooste en H.F. Verwoerd:

Lees ook die inskrywing oor Piet Meiring se twee boeke oor Die Transvaler.

Vollediger artikels vir diegene wat meer wil weet:

https://af.wikipedia.org/wiki/Voortrekkerpers

https://af.wikipedia.org/wiki/Die_Transvaler

https://af.wikipedia.org/wiki/Die_Vaderland

https://af.wikipedia.org/wiki/Perskor