Die Paarl Post is meer as honderd jaar oud, wat dit een van die land se heel oudste gemeenskapskoerante maak. Volgens een interpretasie van die geskiedenis, is die Paarl Post ‘n regstreekse opvolger van Die Afrikaanse Patriot. Vandaar die feit dat die blad reeds in 1976 sy eeufees gevier het (die Patriot het in Januarie 1876 die eerste keer verskyn).
Links: ‘n Voorstelling deur ‘n onbekende kunstenaar van die aankoms van die eerste Afrikaanse blad, Die Afrikaanse Patriot. Regs: Ds. S.J. du Toit.


Die Patriot is uitgegee deur D.F. du Toit en Kie, wat deur die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig is. Dit kom later in die besit van Ernst du Toit, wat die maatskappy in 1905 gelikwideer het. ‘n Nuwe maatskappy, Paarl Drukpers, het tot stand gekom en ‘n nuwe blad, die Paarl Post, met ‘n nuwe, “nie-politieke” inslag uitgegee.
Die Paarl Post moes dalk eers in 2005 sy eeufees gevier het, maar koerante wat so oud is, het meer dikwels veranderinge in eienaarskap, naam, inhoud en frekwensie ondergaan wat datering aanvegbaar maak.
Links onder: Die eerste Paarl Post, wat op 14 Januarie 1905 verskyn. (Oorgedruk uit die eeufeesbylae.) Regs onder: Só het setters in die tyd van meganiese loodsetwerk hul werk gedoen – die “rekenaars” van hul tyd. Die foto kom uit die Paarl Post se eeufeesbylae in 1976.


Die opening van die Bainskloofpas is in 1953 met hierdie uitgawe gevier.

Die koerant het in 1980 ‘n nuwe rolpers gekry wat die formaat effe kleiner gemaak het – nou ‘n standaard-A3.

Onder Lambert Retief het die rolpers spoedig talle Bolandse koerante gedruk en ook na tydskrifdrukwerk uitgebrei – tot so ‘n mate dat Nasionale Pers ‘n meerderheidsaandeel in die maatskappy bekom het en dit onder Retief omskep het in ‘n onderneming wat al Naspers/Media24 se tydskrifte (plus ‘n hele aantal ander) druk.
Retief het ook ‘n direkteur van Naspers geword. Die maatskappy Paarl Print het Paarl Media geword en is vandag Novus Holdings met Novus Print as onderafdeling. Die Paarl Post is deel van Boland Koerante, ‘n filiaal van Media 24.
Koerante uit 1980 … en 41 jaar later.


