Die Kerkbode is vanjaar (2024) 175 jaar oud. Johannes Froneman gesels per e-pos met die redakteur, Le Roux Schoeman, oor sy loopbaan en werk.
Le Roux, vertel ons asb van jou opleiding. En hoe jy uiteindelik by die Kerkbode beland het.
Ek het ’n B.Th-graad (dus teologie) in 2000 aan Universiteit Stellenbosch voltooi. Daarna het ek joernalistiek as nagraadse kwalifikasie aan dieselfde universiteit behaal (B.Phil) voor ek vir drie jaar oorsee gaan werk het in onderskeidelik Suid-Korea en Engeland. In Londen het ek het vir twee jaar gewerk by ’n kerkkoerant (The Church of England Newspaper) wat, tesame met die ander groot Anglikaanse koerant (Church Times), oor kerksake deur die lens van die Church of England berig.
Le Roux Schoeman by sy kantoor op Wellington. Die blad kom steeds maandeliks as gedrukte publikasie uit, maar die digitale media word met entoesiasme benut.
As ek reg het, het jy Neels Jackson opgevolg. Jy was dus nie die eerste nie-gelegitimeerde om redakteur van die blad te word nie…
Ek het in Januarie 2019 vir Neels Jackson as redakteur van Kerkbode opgevolg. Ons is albei joernaliste met nuuskantooragtergronde.
Die aard van die Kerkbode het wel reeds aansienlik verander — dis meer van ‘n tydskrif as ‘n nuusblad. Of nie?
Ek sou sê dis meer van ’n digitale platform as ’n tydskrif. In terme van ons inhoudsaanbod het ons nuus, rubrieke, boekresensies, features, vakatures (werkgeleenthede) en ander funksionele afdelings soos amptelike nuus (dominees wat aftree of van gemeentes verander) asook ‘n afdeling met meeste groot sinodebesluite en nog diverse sinodenuus. So, dis ’n nispublikasie binne ’n kommunikasie-ekosisteem (gemeentes en streeksinodes en die Algemene Sinode se eie inligtingsbronne).
Hoe het dit onder jou leiding verder ontwikkel — veral ook in die lig van die internet, sosiale media en so meer? Tog kom die blad ook in gedrukte formaat uit… vir hoe lank nog?
Die tydperk waarin ek betrokke geraak het (2019 tot 2024), het groot klem op digitale inisiatief genoodsaak: Om lesers te ontmoet waar hulle reeds is, naamlik die web (oorwegend via slimfone) en spesifiek op sosiale media … Asook in die mediums waar alle webgebruiksdata groei toon: video en oudio.
Meer spesifiek nog: Ons moes seker maak om Kerkbode se volhoubaarheid aan te spreek deur inkomstestrome te vestig wat nie gekoppel is aan papierprodukte nie. Al daardie digitale planne is uiteraard versnel tydens die Covid-pandemie en hoewel ons steeds in 2025 as maandblad in gedrukte formaat sal verskyn — as komplement tot die digitale platform — is die trajek al vir meer as anderhalf dekade baie duidelik afwaarts en ons probeer dit afbestuur eerder as omdraai.
Die wegkrimp van markhonger vir gedrukte koerante is onomkeerbaar en aflewering word eweneens duurder. Hierdie soort steunblad is vir ons van groot belang: https://kerkbode.christians.co.za/vriende/
Die blad moet fyn trap, want daar is ernstige meningsverskille in die NG Kerk. Wat is jou benadering?
Ek dink ’n nuusplatform probeer juis die soort realiteite waarna jy verwys, weergee aan lesers. In terme van benadering probeer Kerkbode homself rig deur die uitdrukking: Meer lig as hitte. Dit kom neer daarop om in jou verslaggewing en nuusaanbieding voorrang te gee aan inligting bo die mees emosionele reaksies op daardie inligting. En tegelyk daarmee: Om ruimtes te skep waar lesers (“the people formerly known as the audience”, soos Jay Rosen skryf) sinvol hulself kan uitdruk.
Kerkbode is aanlyn op verskillende platforms doenig.
Die gespreksriglyne help ons daarmee: https://kerkbode.christians.co.za/kommentaarbeleid/ maar dit is ’n dinamiese veld wat mens gedurig moet hersien om te keer dat jy te streng of te slap is.
Jy neem nie standpunt in in ‘n hoofartikel soos van jou verre voorgangers nie. Kerkbode is dus nie weekliks in die nuus nie. Ek vermoed met opset so.
Ek dink jy is basies reg. Selfs wanneer ons standpunt inneem oor goed soos die reg om vanuit die sinode te berig (redakteursbrief, 18 Oktober 2023, http://kerkbode.christians.co.za/2023/10/18/onderlinge-verskille-asook-beriggewing-daaroor-bring-nodige-balans/) “land” dit nie by lesers op die manier wat dit dalk in vorige eras geland het nie: Die dae van “Só sê Kerkbode oor rugby op Sondae” of wat ook al die onderwerp mag wees, is volgens my verby.
Ek dink ook jou aanvoeling is reg dat Kerkbode opsigself minder die nuusstorie is as in vorige jare. Ek weet nie of die twee goed verband hou nie. Wat ek wel weet, is wanneer ander publikasies ons “optel”, doen hulle dit deesdae ook meer subtiel soos wanneer Rapport ons podcast met Frits Gaum gebruik https://www.netwerk24.com/netwerk24/kyk-en-luister/podsendings/rapport-onthou/luister-dr-frits-gaum-twyfel-is-mos-maar-deel-van-geloof-20241017 — mens kry dus die prentjie van nuusblaaie wat ons gewoon as ’n bron absorbeer, eerder as om oor ons te berig.
Jy het ‘n bekwame joernalis aan jou sy en verskeie medewerkers. Vertel meer asb.
Kerkbode is tans ’n klein span. ’n Redakteur en ’n joernalis, dan ’n deeltydse proefleser en ’n paar ander kollegas by Bybel-Media wat ons help met goed soos verspreiding, sosialemediaveldtogte, vakatures (advertensies) en van ons digitale projekte (soos podsendings en video).
Ons het ’n sterk netwerk van gereelde skrywers – mense soos Nadia Marais (dogmatiek), Johan van der Merwe (kerkgeskiedenis) en ander spesialiste soos Sias Meyer en Fanie Cronjé (Ou Testament) en Marius Nel (Nuwe Testament). Dan het ons mense soos Jaco Strydom wat 12 profiele per jaar vir ons doen — met ’n podsending ingesluit daarby — oor allerlei interessante persoonlikhede in die kerk. Dana Snyman skryf al ’n paar jaar vir ons en Cas Wepener is, naas medewerkers wat meer “ampshalwe” skryf (die moderator van die Algemene Sinode), een van die meer onlangse toevoegings wat ’n goeie gehoor opbou op ons platform.
Hoe ervaar jy die kerk so van binne af?
Ek stem saam met jou opmerking dat daar meningsverskil is. Daar is ook baie vakkundigheid, wat ek hoop ons ’n stem aan gee. Daar is ook baie ratte, wat stadig draai in enige groot organisasie. Van ’n nuus-perspektief voel dit soms asof jy binne iets soos ’n kerk oor ’n gletser rapporteer — dinge skuif teen ’n bepaalde tempo wat hom nie laat aanjaag nie. Maar my “bottom line”-ervaring is een van gewone mense wat probeer sinmaak van die wêreld om en binne hulle.
Die Kerkbode is vanjaar 175 jaar oud: die oudste bestaande publikasie in die land. Julle het dit op ‘n effe ongewone manier gevier. Vertel asb.
Ons het ’n dokumentêre video van so 18 minute gemaak om ’n storie oor die publikasie se geskiedenis te vertel. En ons het vir lesers gevra om die projek te help befonds (hulle het). Lesers kan self na die dokkie kyk: https://www.youtube.com/watch?v=m1amrbxr0X0
Jy het ook ander take benewens jou werk as redakteur van die Kerkbode. Vertel asb.
Ek tree op as leier van die Inhoudspan by Bybel-Media; dit is basies ’n koördinerende rol om kommunikasie binne die maatskappy meer vaartbelyn te maak en behels ’n plek op die bestuurspan van Bybel-Media en bietjie meer blootstelling aan die saamstel van verslae aan Bybel-Media se direksie en ander belanghebbers binne die NG Kerk se eie strukture.
Meer oor die Kerkbode by https://mediamense.com/kerkbode-2/