Dr. Otto du Plessis was in 1937 die stigter-redakteur van Die Oosterlig in Port Elizabeth nadat hy hom in 1931 by Die Burger aangesluit het. Daar het hy uitgeblink, onder meer as hoofsubredakteur. Hy was ook ‘n tyd lank in Nasionale Pers se politieke korrespondent in Pretoria.
Hy dien van 1937 tot 1942 by Die Oosterlig en word op voorstel van dr. D.F. Malan, leier van die Nasionale Party, vir een jaar die landwye inligtingsekretaris van die Nasionale Party — met die oog op die verkiesing van 1943. Sy salaris is deels deur die Nasionale Pers en Voortrekkerpers gedra. Oor die vertroue in Du Plessis kan daar geen twyfel wees nie.
Dr. Otto du Plessis in 1953 saam met die eerste minister, dr. D.F. Malan, en sy dogter Marietjie.
Hooffoto heel bo: Die eerste uitgawe van Die Oosterlig, waarvan Du Plessis die redakteur was.

Hy keer daarna terug na sy pos by Die Oosterlig en word hierna kortliks redakteur van Die Volksblad in Bloemfontein. Ná die verkiesingsoorwinning van die Nasionale Party in 1948 word hy direkteur van staatsinligting, daarna lid van die Volksraad en administrateur van Kaapland.
Terwyl hy as joernalis gewerk het, het hy ‘n MA van Unisa en ‘n doktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Vir laasgenoemde graad het hy die ontstaan en ontwikkeling van die Hollands-Afrikaanse pers opgeteken. Du Plessis was ‘n hardwerkende, ondersoekende mens.
Sy loopbaan as koerantman het uiteindelik na die voltydse politiek gelei, waar ‘n selfs belangriker rol in die landspolitiek gewag het voordat hy in 1960 skielik in die tuig oorlede is.
Die Oosterlig (wat eers net halfweekliks verskyn het, Maandae en Vrydae) se doel was om “die Afrikaner se siel te vertolk”, aldus Malan by die eerste verskyning van die koerant. In die eerste uitgawe skryf Du Plessis: die blad “werp hom hart en siel in die strydperk om te veg vir die Afrikaner en sy belange”.
Dit was nie net ‘n politieke stryd nie. As koerant het die blad altyd ‘n opdraande stryd gevoer om finansieel te oorleef — veral in ‘n “oorwegend Engelstalige omgewing”, soos C.F.J. Muller dit in Sonop in die suide dit stel. Potensiële lesers was maar min en verspreid.
Boonop het Du Plessis se “aggressiewe beleid” aanstoot gegee en gelei tot boikotte van potensiële adverteerders. Muller skryf: “Hy het sy simpatie met die Nasionaal-Sosialisme glad nie verberg.”
Toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit en kies die NP en die meeste Afrikaanse koerante vir neutraliteit, ‘n standpunt wat deur die Parlement verwerp is en gelei het tot die aanstelling van genl. Jan Smuts as eerste minister. Suid-Afrika het aan die kant van Brittanje en ander lande tot die oorlog toegetree.
Dit het ‘n plofbare situasie geskep tussen voor- en teenstanders van die oorlogpoging en kwalik gehelp om Die Oosterlig finansieel op die been te kry.
Du Plessis het die stigting van die Ossewa-Brandwag in 1941 verwelkom en dit gesien as ‘n beweging wat eenheid onder Afrikaners sou bevorder. Volgens Muller was hy nie hierin uit pas met Die Burger nie. Sake sou egter spoedig verander.
Hoewel Afrikaners aanvanklik by hul duisende by die OB aangesluit het, het die NP-leier, dr. D.F.Malan, ‘n streep in die sand getrek en sy ondersteuners gevra om te kies: òf die NP, òf die OB. Die meeste het daarna die OB verlaat. Du Plessis het toe ook bedank uit Oswald Pirow se Nuwe Orde (’n nie-militaristiese politieke organisasie wat na ’n “nasionaal-sosialistiese republiek” gestreef het).
Daar was dus ‘n duidelike verandering in standpunt by Du Plessis: onder leiding van Malan het die meeste Afrikaners vir ‘n demokratiese bestel gekies.
Die empatie wat in sommige kringe vir Duitsland bestaan het, het verdwyn weens Duitse aggressie teen lande soos Nederland, Griekeland en die Sowjetunie, aldus ‘n voorlegging ter steun van die behoud van die straatnaam Otto du Plessis-rylaan in Kaapstad.
Die koerante van die Nasionale Pers het hulle toenemend uitgespreek teen buitelandse outoritêre ideologieë, wat ook deur binnelandse bewegings, soos die Ossewa-Brandwag, bevorder is.
Dit het Du Plessis inderdaad in Die Oosterlig gedoen. In ‘n hoofartikel van 27 Julie 1942 waarsku hy byvoorbeeld teen outoritêre bewegings soos die Ossewa-Brandwag, wat enersyds die taalregte van Engelssprekendes sou aantas en die reg van kritiek en protes sou ontken het. Die OB wou eintlik politieke partye afskaf en het ‘n eenpartystelsel voorgestaan, soortgelyk aan Nazi-Duitsland.
Du Plessis het verder geargumenteer dat Suid-Afrikaners “geen Duitse, Italiaanse, Japanse, Russiese of welke ander buitelandse orde ook al in Suid-Afrika wil hê nie”. Die doel was ‘n demokratiese republiek, maar dan een wat net wit mense sou insluit. Die regte van swart Suid-Afrikaners was nie op die agenda nie.
Du Plessis het, aldus Muller, sy “persoonlike beskouings” oor ‘n gesagstaat in Suid-Afrika ondergeskik gestel aan sy verpligtinge om as redakteur van ‘n koerant van die Nasionale Pers die amptelike partystandpunt te steun. Dalk het Du Plessis doodgewoon tot ander insigte gekom soos wat die oorlog ontplooi het.
Hy het verder ‘n beroep op die Nuwe Orde gedoen om ter wille van Afrikanereenheid groepvorming te staak.
Asof Die Oosterlig se opposisie teen die oorlog en aangepaste houding jeens die OB nie genoeg was nie, is Du Plessis verplig om sekere lede van die OB te ontslaan. Self het Du Plessis vroeër in ‘n brief aan die direksie gepleit dat nie-redaksielede se persoonlike beskouings nie ter sake moet wees nie, maar dat elke geval op meriete beoordeel moes word.
Wat was die meriete van die saak wat tot die afdankings gelei het? Ons weet nie. Maar dit het tot ‘n boikot deur die OB gelei, iets wat DieOosterlig allermins kon bekostig.
Ná die 1948-verkiesing, toe die NP aan die bewind gestel is, is Otto du Plessis se naam genoem as moontlike ambassadeur in Nederland. Hiervoor het die Nederlandse regering nie kans gesien nie omdat hulle gemeen het dat Du Plessis voorheen simpatiek teenoor Duitsland was. Dit was wel waar, maar hy het nooit die gruwelike optrede van die Nazis ondersteun nie en het sy standpunte heroorweeg.
Omdat hy egter sensitief was vir die Nederlanders se gevoeligheid oor die Duitse besetting tydens die Tweede Wêreldoorlog, het hy sy naam teruggetrek. Hy is toe aangestel as direkteur van die Staatsinligtingskantoor.
Du Plessis was ‘n joernalis, denker en doener. In sy doktorale proefskrif skryf hy byvoorbeeld sterk ten gunste van mediavryheid. Hy sê daarin:
“Sowel die Engelse as die Afrikaanse pers glo in die wese van gesonde demokrasie, ten grondslag waarvan lê die vryheid van meningsuiting, en die pers sal dan ook elke poging van staatsweë om hom in te meng met die vrye meningsuiting van die volk, nie alleen met agterdog bejeen nie, maar met hand en tand beveg.”
By sy dood het Die Burger met groot hartseer en waardering oor Du Plessis geskryf as “goeie kollega en vriend”.

Dr. Otto du Plessis agter sy lessenaar as administrateur (vandag sal dit premier genoem word) van Kaapland. Kaapland het destyds die huidige Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap ingesluit.
As hy as redakteur “seksioneel gerig” was, was hy later as administrateur uiters gewild, ook onder Engelssprekendes. Die Cape Times en Argus het by sy dood groot lof gehad vir sy werk in diens van die hele provinsie. Die slotsom was dat Otto du Plessis hom letterlik doodgewerk het.
Hier onthou ons hom egter as knap joernalis wat nie weggeskram het van intellektuele arbeid nie — ‘n individualis wat as kind van sy tyd beoordeel moet word.
— Johannes Froneman