Die Oosterlig het in 1937 tot stand gekom, ‘n geloofsdaad wat alles te make gehad het met die strewe van Afrikaners in die Oos-Kaap, veral Port Elizabeth, om ‘n staanplek vir hul taal, kultuur en politiek te vind. Daaraan het Nasionale Pers sy volle steun gegee. Die blad was nooit finansieel ‘n sukses nie en sluit uiteindelik in 1993. Maar in sy plek het ‘n Oos-Kaapse uitgawe van Die Burger gekom. Nog later het die daaglikse papierweergawe weggeval en verskyn die blad net op Vrydae in koerantformaat. In 2020 het die Covid-19-pandemie ook die Vrydaguitgawe geëis, maar die blad was eers nog daagliks digitaal te lees. Dit is later beëindig.
Die eerste uitgawe van Die Oosterlig het op 20 Augustus 1937 verskyn met dr. Otto du Plessis as redakteur.

Die Oosterlig se redaksie in 1938. Dr. Otto du Plessis sit voor, tweede van links. Heel reg voor is H.P. Marnitz, later redakteur van Die Vaderland (en pa van die omroeper Heinrich Marnitz).

Die Oosterlig in sy beginjare. Die opskrif oor genl. J.B.M. Hertzog se toespraak was uitsonderlik.

In 1940 daal vrede neer op nasionaalgesinde Afrikaners en berig Die Oosterlig optimisties oor die toekoms.

Die Oosterlig het eers in 1962 ‘n dagblad geword na dit vir jare net twee keer per week verskyn het. Die blad se naam is metterwyl verkort tot Oosterlig. Só het die voorkoms van (Die) Oosterlig deur die jare verander.

‘n Uitgawe in 1993.

Oosterlig is in 1993 vervang deur Die Burger Oos-Kaap, wat in 2020 finaal as gedrukte blad verdwyn.


By die sluiting van Oosterlig is hulde gebring aan die rol van die blad.

Seuntjies verkoop Die Oosterlig in die vroeë jare.

Lees meer:
Lees meer in Louis Oosthuizen en J.J.J. Scholtz se hoofstuk oor (Die)Oosterlig in Oor grense heen (redakteur: W.D. Beukes, Nasionale Boekhandel, 1992).
Kry ‘n volledige weergawe van die blad se ontstaan in A. Appel se verhandeling, Die Oosterlig, 1937-1948. ’n Pershistoriese studie (Universiteit van Port Elizabeth, 1985).