Oudjoernalis André J. Brink skryf oor Bart Zaaiman, destydse redakteur van Die Volksblad, Stephanus Fortunatus Zaaiman. Hy was van 1970 tot 1980 redakteur van die blad en het ‘n eregraad
Ek het hom die eerste keer op ’n Saterdagoggend in Augustus 1966 ontmoet toe ek om ’n Volksbladbeurs aansoek gedoen het.
Ek het daardie tyd op De Aar in Standard Bank gewerk, maar was in Bloemfontein vir my basiese opleiding as Kommandolid by 1SA Infanteriebataljon op Tempe.
Ek moes inkom vir ’n onderhoud en het ’n naweekpas gekry. In my uniform met my bykans poenskop is ek toe Volksblad toe.
Bart Zaaiman, soos geskets deur Volksblad se kunstenaar Charl Marais. Dit het in Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet se boek ‘n Lewe van sy eie — Die biografie van Volksblad (Tafelberg, 2004) verskyn.
Hooffoto bo: Die Volksblad se redaksie in 1970 met Bart Zaaiman in die middelste ry voor een van die vroulike redaksielede. Die skrywer sit voor, tweede van links.

Eers ’n draai by oom Gert Terblanche (toe nuusredakteur) gemaak en hy het my geneem na oom Bart, destyds amptelik adjunk-redakteur van Die Volksblad, maar in die praktyk redakteur omdat die redakteur/bestuurder, Hugo Dreyer, meer op die bestuur van die koerant gekonsentreer het.
Waarom wil ek by Die Volksblad kom werk? wou hy weet. In my jeugdige voortvarendheid het ek geantwoord ek wil graag eendag oor sport verslag doen – Olimpiese Spele toe gaan en natuurlik in Londen gaan werk as verteenwoordiger van Nasionale Koerante.
Daardie antwoorde is geïnspireer deur my neef Fritz Joubert wat eers ’n sportverslaggewer by Die Burger en later Londense en Washingtonse verteenwoordiger was.
Oom Bart het my so aangekyk en toe op sy rustige manier gesê: “Die toekoms sal leer.”
Ek was sterk onder die indruk van hierdie lang, statige, ernstige gryskopman met die deurdringende kyk. Teen die einde van die onderhoud het hy my stip aangekyk en gesê: “Ek het die naam van ’n goeie brilmaker vir jou. Hy sal daardie bril van jou se ore kan reg buig.”
Hoekom het hy dit gesê? Wel, omdat ek gedurig my bril wat oor my neus afgesak het met my voorvinger teruggedruk het.
Ek het die beurs gekry en op 1 Desember 1969 by Die Volksblad begin werk. Die dag toe ek my uitslae van die Universiteit van Pretoria kry, het ek uit die subkantoor waar ek toe as vertaler gewerk het, voortvarend soos gewoonlik sonder om eers een van die sekretaresses te vra of ek mag by oom Bart se kantoor ingestorm en hom my goeie nuus meegedeel. Hy was die heel eerste mens wat ek vertel het.
Deur die jare sou ek hom goed leer ken. Hy was streng, maar nie iemand wat ooit sy stem verhef het nie. Maar as hy gepraat het, moes jy luister. Daar was staal in sy grys hare en are.
In ’n stadium het ek waargeneem as hoofsubredakteur. Destyds was dit, veral by ’n middagkoerant, ’n hoogs stresvolle werk. Al die kopie, en ek bedoel alles, het deur jou hande gegaan. Die van die nuusredakteur af en die telekse van Sapa, Reuter en Associated Press wat gekom het via die blink metaalgeut wat met die telekskantoor verbind was.
Jy moes besluit wie maak watter blad op, waar kom elke berig, watter stories vertaal moet word, die koppe goedkeur en dan ook nog die voorblad opmaak. Tussendeur moes jy ’n ogie hou op die bloutjies (afskrifte) van berigte wat met ’n rooi pen gemerk was. Dit was berigte wat oom Bart deurgegaan en veranderinge op aangebring het.
Die gebruik was dat die hoofsub so 20 minute voor die saktyd van bladsy een sy seleksie berigte wat hy meen ’n hoofstorie kon lewer, aan oom Bart gaan voorlê het in sy kantoor. Hy het dan een gekies.
Maar op ’n oggend kom sit hy in die substoel langs my, steek sy hand na my uit en vra: “Wat het jy vir ’n hoofstorie?”
Ek het drie berigte uitgehou wat ek gedink het kon werk en gee hom toe die een aan wat ek dink die beste is. Hy gee die net een kyk en slaan dit op die pen.
Ek gee hom die tweede een. Ook dié word sonder enige seremonie tot die pen verdoem.
Toe begin ek benoud raak. Ek gee hom die laaste een, maar hy verwerdig hom amper nie eens om daarna te kyk voordat hy dit ook afkeur en op die pen slaan nie.
“Wat het jy nog?” vra hy.
“Dis al,” antwoord ek ietwat verslae.
“Wel, dis nie goed genoeg nie,” sê hy, staan op en loop uit.
Daar sit ek minder as 20 minute voor saktyd sonder ’n hoofberig. Die subs kyk vir my. Wat gaan ek nou doen, wonder hulle.
Ek haal toe maar die stories van die pen af, vat die een wat ek dink die beste is, vryf die vellertjies papier glad en stap na oom Bart. Ek gee vir hom die storie en sê: “Hierdie is regtig die beste wat ek het.”
Sonder om eens weer daarna te kyk, sê hy. “Reg, maak dan so. Maar dis net vir die eerste uitgawe”.
Daardie berig het dié dag hoofberig gebly vir ál die uitgawes. Ek dink oom Bart wou maar net vir my wys wie is baas van die plaas.
Ek het daarna nog ’n keer of wat deurgeloop. Toe die ANC se vuurpylaanval opgaartenks by Sasol aan die brand gesteek het, was die opskrif op Beeld se voorblad: Sasol brand!
Ek doen toe dieselfde met Die Volksblad. Oom Bart was nie ’n bietjie omgekrap nie. “Brand die hele Sasol?! Dis ’n totale oordrywing. Deur so te sê besorg ons net propaganda vir die ANC.” Die tweede uitgawe het ’n meer bedaarde en feitelik korrekte kop gehad.
En dan was daar die storie toe Matthews Batswadi, ’n baie goeie langsfstandatleet, op ’n vlug van Port Elizabeth af klaarblyklik onder die invloed was en op passasiers geürineer het in die vliegtuig.
Nee, dit sal nie deug nie, dink ek toe en verander die urineer na “hy het ’n glipsie” gehad. Hieroor het oom Bart my weer die leviete voorgelees.
“Het die kopie gesê hy het op die mense geürineer?” wou hy weet. “Nou hoekom het jy dit verander? Nou lyk dit of ons net dink die man het ’n ongeluk gehad terwyl hy dit doelbewus gedoen het. Verander dit terug!”
Ek kon natuurlik vir hom verduidelik waarom ek dit gedoen het, maar het wyslik besluit om liewer stil te bly.
Nie te lank voor die Batswadi-episode het ons ’n berig van Beeld gekry oor hoe Lang Hendrik van den Bergh, toe afgetrede spioenbaas, deur elektrisiteit geskok is op sy kleinhoewe noord van Pretoria. Hy het blykbaar elektrisiteit na ’n hoenderhok of so iets aangelê en iewers aan ’n kaal plek op die lewendige draad gevat.
Toe haal Beeld hom as volg aan: “En die volgende oomblik was die hel los.”
Wel toe die bloutjie van daardie storie van oom Bart af terugkom, het hy die laaste deel van die sin met sy berugte rooi pen doodgekrap en daar geskryf: “En toe het die verskriklike gebeur.”
Ek het gedog as die hel te erg vir oom Bart was, kon ek mos nie ’n woord soos urineer deurlaat nie, of hoe?
— Die stuk het oorspronklik op die Facebookblad Nagkantoor verskyn en word met die skrywer se instemming hier geplaas.