NOTAS OOR DIE VERANDERENDE JOERNALISTIEK

Deur Johannes Froneman

Hierdie notas of kantaantekeninge laat die lig val op enkele insidente, prosesse en ervaringe — in baie gevalle tekenend van ‘n verbygegane era. Daarom sal dit soms vir jonger lesers vreemd klink. Maar dit alles is deel van die groter, fassinerende verhaal van ons mediageskiedenis wat sedert 1800 in ons land afspeel. My ervaring dek die afgelope 44 jaar;  inderdaad jare van ingrypende veranderinge, maar ook geleenthede wat my ervaring in die joernalistiek verryk het.

Agtergrond

My belangstelling in koerante kom van kleins af. Ek het koerante verslind. Tog het ek nie joernalistiek op universiteit gaan loop nie en is in 1978 met ‘n Honneurs-BA (Filosofie) by Beeld in Johannesburg aangestel. Die redaksie was destyds groot en die omset van jong verslaggewers seker ook maar hoog.

Tog is ek Ebbe Dommisse ewig dankbaar dat hy my ‘n kans gegee het. Om vandag in die joernalistiek ‘n vasstrapplek te kry, is veel moeiliker en verg ‘n goeie opleiding en bewysbare praktiese ervaring as studentejoernalis. Tye het verander.

Wat ook opmerklik verander het, is die konteks waarbinne joernalistiek vandag beoefen word. Dit geld uiteraard die politieke realiteite, maar ook die tegnologiese vernuwing wat stuk vir stuk plaasgevind het. Ek gee veral hieraan aandag.

Beeld in Voorhoutstraat, Johannesburg

Beeld was destyds (in die 1970’s) gesetel in ‘n onpraktiese gebou aan die “verkeerde kant” van die dorp, neffens die Ellispark-tennisstadion. Later is die Standard Bank-arena oorkant Beeld se voordeur gebou. Darem kon Beeld hom op ‘n mooi straatadres beroep: Voorhoutstraat 33, al was die gebou se voorkant eintlik in Millerstraat.  Later, heelwat later, is Media24 se mooi gebou in Aucklandpark opgerig.

In 1978 het die joernalistieke praktyk meestal nog op die ou manier verloop. Inligting vir berigte is hoofsaaklik op twee wyses ingesamel: deur persoonlik na die toneel/gebeure/vergadering te gaan, of deur mense op ‘n landlyn-telefoon te bel. Daar was geen selfone, sosiale media of internet nie.

Die redaksie was groot — seker by die 80. Dit sluit redaksies vir sport, kuns en vermaak, sake, misdaad en politiek in. Daar was ook ‘n Pretoriase redaksie plus verteenwoordigers op Potchefstroom, asook die Oos- en Wes-Rand. Die algemene redaksie was die beginpunt vir almal.

Beeld se redaksie in Johannesburg … iewers in die 1980’s.

Beeld het ‘n paar assistentredakteurs gehad (later is dit opgegradeer na adjunkredakteurs en het die hoofredaksie steeds aangegroei). Onder my seniors was Ton Vosloo (redakteur), Hennie van Deventer en Ebbe Dommisse (assistentredakteurs) en Bob van Walsem (assistentredakteur en hoofsubredakteur).  Vosloo het later besturende direkteur en voorsitter van Naspers geword; Van Deventer en Dommisse het redakteurs geword (Die Volksblad en Die Burger) en Van Walsem redakteur van Rapport. ‘n Sterk span leiers.

Beeld spog met sy indrukwekkende rolpers wat einde 1999 in gebruik geneem is.

Vandag bestaan die redaksies by Beeld en Die Burger elk uit ‘n handjievol joernaliste. Die groot gros joernaliste werk vir Netwerk24, wat berigte aan die koerante verskaf. Koerante se posisie is drasties deur die politiek, ekonomie en digitale revolusie ondermyn.

Berigte van susterkoerante is destyds per teleks ontvang, wat beteken die berigte moes weer geset word. In die geval van die Suid-Afrikaanse nuusagentskap Sapa moes berigte vertaal word, aangesien alle Sapa-kopie in Engels by Afrikaanse koerante aangekom het. Internasionale nuusagentskappe se kopie is ook via Sapa gekanaliseer. Sapa het weens die koms van die internet in die slag gebly.

Terloops, foto’s  is ook per telekslyn gestuur en is net gebruik op vroeë blaaie of as dit aardskuddende internasionale nuus was. Dit het meestal in ‘n bra swak gehalte uit die sisteem gekom. Die res van die foto’s is deur die span fotograwe geneem. Verslaggewers het nie normaalweg self foto’s geneem nie. Tussen Beeld en Die Burger is foto’s ook soms per vliegtuig gestuur, ‘n verslaggewer het dit vir ‘n passasier gegee en aan die ander kant het ‘n verslaggewer dit by die passasier gekry.

Anders as vandag, was die redaksie, settery en drukkery in een gebou gehuisves. Dit was voordat rekenaars die proses heeltemal verander het en die nodigheid van ‘n fabriek onder een dak weggeval het.

Loodsetwerk is sedert Beeld se ontstaan in 1974 nooit gebruik nie, hoewel ander koerante dit nog vir jare sou gebruik. By Beeld is ‘n toe nog revolusionêre wyse van set gebruik, naamlik dat getikte kopie (soos dit van die redaksie gekom het) deur setters ingetik is, waarna dit in die vorm van “papierlinte” vol gaatjies by ‘n rekenaar ingevoer is, wat die gaatjies “gelees” het en elke lettertjie teen die spoed van lig op bromiedpapier belig (“gedruk”) het.

Stroke papier met die teks netjies in kolomme “gedruk” het dan by die plakkers (”strippers”) aangekom wat dit met skerp messies uitgesny en op blaaie geplak het, volgens die bladplanne wat die bladsubs na die settery gestuur het.

Bladsubs het langs die tegnici (genaamde “strippers”) gaan staan om die blaaie af te rond. Dit het behels dat berigte soms verkort moes word, want berigte se lengte is bereken volgens die aantal reëls van die getikte berig.

Maar tikmasjiene se lettergroottes was nie altyd dieselfde nie en tikmasjiene se kantlyne het verskil. Die telwerk was dus deels raaiwerk, wat ook kon beteken berigte was soms te kort. Daarvoor is kort beriggies (vullers) geskryf om die gaatjies mee te vul. 

Hierna is die blaaie gefotografeer, metaalplate vir die rolpers van gemaak en kon die drukwerk begin. En was dit opwindend! Die hele gebou het begin skud soos die rolpers begin stoom optel het. ‘n Minuut of twee later het die eerste eksemplare in die nagkantoor aangekom waar die subs gretig gekyk het hoe die koerant lyk — en foute gesoek is. In erge gevalle kon foute reggemaak word, maar meestal moes dit maar vir die tweede uitgawe wag. (Daar was drie uitgawes op ’n aand – platteland, Pretoria, Johannesburg.)

In my eerste jaar by Beeld (1978) was die stryd teen Die Transvaler en die ander Perskor-dagblaaie nog hewig. Beeld sou die sirkulasiestryd wen, maar ‘n skikking is eers in 1983 bereik. Beeld het daarmee die Afrikaanse oggendmark in die noorde vir homself gekry, waarna ‘n sirkulasie van 100 000 per dag opgebou word. Dit was goue jare.

Vir my was dit allereers ‘n tyd van alles inneem wat ek kon. As seun van Durban wat  nooit ‘n Afrikaanse koerant daar op straat of in winkels gesien het nie, was dit ‘n tyd van verwondering. Plakkate teen die pale, die mededinging met ander Afrikaanse (en Engelstalige) koerante, die opwinding om by te wees waar die koerant aanmekaar gesit word …

In Johannesburg alleen was die ander dagblaaie Transvaler, Vaderland, Rand Daily Mail, The Star en The Citizen; in Pretoria was daar Oggendblad, Hoofstad en die Pretoria News.

Oosterlig, Port Elizabeth

Om persoonlike redes het ek ‘n oorplasing na Oosterlig in Port Elizabeth aangevra. Die jaar 1979 in Port Elizabeth was vir my ‘n heel waardevolle ervaring. Die redaksie was heelwat kleiner en die opset meer ontspanne. In die span was mense soos Andriette Stofberg, wat later by Beeld ‘n groot naam sou maak. Omdat die span min lede had, het selfs ‘n junior soos ek geleentheid gekry om relatief belangrike stories te doen.

Oosterlig was die beginpunt vir verskeie joernaliste se roemryke loopbane (dink Ton Vosloo en Martie Retief Meiring) en ook die aandoenpunt vir latere grotes soos Schalk Pienaar. Maar dit was nie ‘n plek om vas te haak nie. Die sirkulasie was klein, die invloed beperk en die toerusting was, verstaanbaar, seker die swakste in die Naspers-groep.

Hier sou loodtegnologie nog jare van krag wees — nie dat verslaggewers daarmee gemoeid was nie. Ons het op tikmasjiene ons stories gedoen, waarna dit gesub is en deur die vakmanne (setters) op warmlood-setmasjiene ingetik is.

Niemand het gedink dis dalk ‘n goeie idee om die redaksie ‘n draai in die settery te laat maak of te laat gaan kyk hoe die ou rammelkas van ‘n rolpers sy werk doen nie. Later het ek besef wat ‘n verspeelde geleentheid dit was! Die warmloodtegnologie het stilweg by alle koerante verdwyn en is die meeste rolperse uit die middestede na industriële gebiede geskuif.

Die koerantmaak en –drukproses is daardeur van sy effens morsige, ou-wêreldse romantiek gestroop. Die tyd van effe steriele redaksiekantore was op hande. Maar nie orals nie.

Paarl Post

In 1980 word ek (met my volle 18 maande ervaring as joernalis) redakteur van die Paarl Post, ‘n sterk dorpskoerant met ‘n geskiedenis wat terugstrek tot 1904. Of 1876, as jy meen die Paarl Post was die direkte opvolger van die Afrikaanse Patriot, die eerste Afrikaanse publikasie.

Die Paarl Post in verskillende gedaantes. Links agter is die koerant soos gedruk op ‘n ou drukpers. Regs onder: Nuwe A4-formaat en met meer moderne letters.

Ek is aangestel omdat ek die vermetelheid gehad het om aansoek te doen en, synde jonk, teen ‘n relatief lae salaris sou werk. Ek het wel ook met groot entoesiasme aansoek gedoen, wat die baas, Lambert Retief, seker beïndruk het.

Die koerant het kort na my aankoms na moderne prosesse en ‘n splinternuwe rolpers oorgeskakel. Van my kant het ek beheer van die beplanning en uitleg geneem, wat in daardie stadium in die hande van ‘n onopgeleide setter gelaat is. Geen wonder die koerant was in ‘n toestand en kon ek maklik ‘n sigbare verbetering bewerkstellig.

Dit het egter harde werk geverg, want behalwe vir myself het die koerant net twee ander joernaliste in diens gehad: Maurice Hendler, die vorige redakteur wat al in sy 70’s was (maar steeds kliphard gewerk het), en Lenie Bosman, wat slegs halfdag gewerk het, maar haar kant deeglik gebring het.

Die einste Lenie het op ‘n dag ‘n anti-rook-berig geskryf, wat ek geplaas het. Toe die koerant verskyn, word ek deur die eienaar aangespreek. Weet ek hoeveel besigheid die drukpers by Rembrandt (die sigaretvervaardiger in die Paarl) kry? Die Paarl was nie ‘n klein dorpie nie, maar die mentaliteit soms kleindorps.

Die Paarl Post het baie advertensies gedra en het selfs twee keer per week verskyn. Nadat die Dinsdaguitgawe die nuusmandjies Maandag leeg gemaak het, moes ons Dinsdagoggend byna van nul begin om uitgawes van soveel as 84 bladsye (bylae ingesluit) vol te skryf. Die Dinsdaguitgawe het gelukkig weggeval, maar die baas het — sonder om my enigsins daarin te ken — besluit om ‘n aparte koerant vir bruin mense uit te gee. Dit het paslik misluk.

My stadsingesteldheid oor nuus moes ek vinnig aanpas, anders sou ons nooit die koerant vol kry nie. Darem het daar ook kopie deur die pos aangekom en kon ons vroeë motor-, landbou- en derglike blaaie aanmekaar sit en die setters besig hou.

Die werk was veeleisend, maar ek sou dit seker vir ‘n klompie jaar kon volhou, was dit nie vir ‘n onverwagte telefoonoproep was nie. Kan hulle met my kom praat oor ‘n pos by Die Kerkbode, (die Nederduitse Gereformeerde Kerk se amptelike blad) het ‘n kennis, ds. Lafras Moolman, my gevra.

So stap drie ooms in swart pakke by my in en vra of ek Die Kerkbode in sy voorgenome nuwe koerantformaat sal kom hanteer. Dit is iets wat ek sterk voorgestaan het. Die antwoord was daarom ja, as ek as assistentredakteur aangestel word.

Die Kerkbode

Die ervaring by die Paarl Post was ideaal en ek kon die nuwe taak met meer selfvertroue aanpak as wat ek Paarl toe gekom het. Maar nou was daar ‘n landwye gehoor. Omdat apartheid (selfs in die kerk) nog toegepas is, was die NG Kerk, en daarom ook sy mondstuk, Die Kerkbode, in die brandpunt.

Die Kerkbode is in 1849 gestig en is die oudste bestaande blad in die land. Dit is oor ‘n tydperk van 132 jare in die een of ander tydskrifformaat uitgegee, maar teen 1981 wou die direksie na ‘n nuusgeoriënteerde blad in ponieformaat oorskakel. Of dit ter wille van die nuus of die laer drukkoste was, is onbekend. Dalk het albei faktore ‘n rol gespeel.

My taak was om vir die nuusinhoud te sorg en die blad tegnies te versorg. Ds. Tappies Möller was die redakteur, maar het talle ander kerklike verpligtinge gehad. Hy het dus net die redaksionele hoofartikel (ofte wel die kommentaarartikel) geskryf en hom verder weinig met die blad bemoei.

‘n Plakker werk aan ‘n proefuitgawe van Die Kerkbode pas voordat dit in 1981 ‘n weeklikse tabletformaatkoerant geword het. Die bladsye is, soos die tegnologie dit toe voorgeskryf het, met bromiedepapierstroke uitgelê. Byewas is as gom gebruik sodat die papierstroke maklik weer opgelig en verskuif kon word.

Met die hulp van een redaksionele assistent moes die berigte, artikels en ander stof taalversorg en uitgelê word, waarna dit per motor van ons kantoor in die sinodale sentrum langs die Kompanjiestuin in Kaapstad na Die Burger se kantoor aan die onderpunt van Adderleystraat geneem is om geset te word. Dit was ‘n daaglikse ritueel. Daar was geen e-posse of ander manier om die kopie by Die Burger te kry nie. Daar was nog nie eens faksmasjiene nie.

Lesers wat briewe, artikels, berigte of foto’s wou instuur, moes dit pos. Dit was dus bykans onmoontlik om vars nuus vanoor die land in te kry. Later is Ina van der Linde in Pretoria aangestel om te help met beriggewing. Dit het ‘n groot verligting gebring.

Foto’s is toe nog op film vasgelê, wat beteken het dat dit betyds ontwikkel en gedruk moes word. Voordat jy die foto’s in jou hand gehou het, het jy nie geweet of dit in fokus en bruikbaar was nie. Geen vooraf loer soos ons vandag sommer op die slimfoon kan doen voordat ons dit binne sekondes aanstuur nie.

Die stokou foto’s in die liasseerkabinette was van min waarde; Die Burger se fototeek het darem soms uitgehelp. Ander kere het ons maar minderwaardige foto’s gebruik.

Toe die belangrike vergadering van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in 1982 in Ottawa, Kanada, gehou is (waar die NG Kerk van kettery beskuldig is), was die redakteur een van die NG Kerk se verteenwoordigers. Daar was egter geen poging om berigte na my in Kaapstad te stuur nie; ek moes op die koerante staatmaak en samevattende berigte vir Die Kerkbode skryf.

Tydens die algemene sinode van die NG Kerk in Oktober van dieselfde jaar, was alle oë op Pretoria. Hoe sou die kerk by monde van die sinode reageer? Die reaksie was reaksionêr. Konserwatiewe leiers (insluitende ds. Möller) is tot die leierskap verkies. Hulle het nie enige vernuwing waardeer nie.

Ek het by Ina aangesluit en ons het op ons eie aangegaan en probeer om gebalanseerd en akkuraat verslag oor die sinode te doen. Terwyl die sinode aan die gang was, het ek dus foto’s geneem, berigte help skryf, gesub, koppe geskryf en blaaie opgemaak.

Met een oog op die horlosie het ek dan laatmiddag die ‘n koevert vol kopie, foto’s en bladplanne gegryp en van Visagiestraat na Kerkplein gedraf om die poskantoor se spoedpostoonbank oop te vang voordat dit om 5.15 (17:15) gesluit het. So het die pakkie die aandvlug Kaapstad toe gehaal en kon dit die volgende dag deur Die Burger se mense geset word.

Terug in Kaapstad het ek ‘n uitgawe voorberei met ‘n hoofberig wat die  borrel laat bars het. Ek het die enkele woord Onvergenoegdheid as kop vir die hoofberig gebruik.

Nou moes ek elke woord eers laat afteken (deur die redakteur, en as hy nie daar was nie ‘n ander direksielid in die gebou). Ek het uitgekyk vir ander werk, maar darem nog die sinode van die Wes-Kaapse kerk in 1983 gedek. (Kyk voorblad onder.)

SAUK

Hennie Duvenhage, voorheen ‘n predikant, was ‘n bestuurder by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK en het my ‘n pos as omroeper verantwoordelik vir kerklike aktualiteit aangebied. Ek het dit met albei hande aangegryp en Johannesburg toe verhuis.

My lank gekoesterde ideaal om ‘n radio-omroeper te word, het egter skaars begin of ek besef hier is die inhiberende kragte van ideologie net so sterk as in die NG Kerk aan die werk. Ek het dus uit die vet in die vuur gespring.

So vyf weke ná my aankoms by die SAUK het ek Pretoria toe gery om twee onderhoude op te neem — met dr. Piet Meiring, toe nog gemeentedominee en later prominent in die Waarheid-en-versoeningskommmissie, asook met prof. Carel Boshoff, toe teoloog aan die Universiteit van Pretoria en ‘n kultuurleier.

Dit is billik om te sê dat Meiring hom aan die linkerkant van die kerk bevind het en Boshoff as regs beskou is — vir wat sulke etikette ook al werd mag wees. Albei was vriendelike mense wat hul deure vir my oopgemaak het. Hulle het, myns insiens, standpunte verteenwoordig wat gehoor moes word.

Terwyl ek by die tweede onderhoud my nog in prof. Boshoff se rondawel-studeerkamer tuismaak, lui die foon. Ek is opdrag gegee om dadelik na die kantoor in Johannesburg terug te keer. Prof. Boshoff het net geglimlag — soos een wat snap wat aan’t gebeur was.

Op kantoor is ek deur Duvenhage meegedeel dat die onderhoud met Meiring onaanvaarbare uitsprake bevat. Hy het naamlik aan die hand gedoen dat die NG Kerk iewers in die toekoms nog met die SA Raad van Kerke (SARK) sal moet praat. Dit is as verraad beskou, want die SARK  was destyds heftig teen apartheid gekant en het die NG Kerk erg kwalik geneem vir sy ondersteuning van hierdie beleid — ook vir die toepassing daarvan op allerlei wyses binne die kerk. Ons praat nou van 1984.

Boonop was eerwaarde Tutu destyds die hoofsekretaris van die SARK. Die beleid by die SAUK (nie geskrewe nie, maar dit blyk wel uit latere geskrifte) was dat geen publisiteit aan Tutu gegee mag word nie. Die ideologie van die dag was dat daar ‘n kommunisties geïnspireerde totale aanslag teen die staat was en dat dit met mag en mening (en onderdrukking van inligting) beveg moes word.

Hierin was die SAUK ‘n belangrike rolspeler, aangesien dit destyds die enigste uitsaaier was. Volgens wet mag niemand anders ‘n radiostasie bedryf het nie. Die beheer wat oor elke woord uitgeoefen is, was omvattend.

By die nuusafdeling is uiteraard streng beheer toegepas, maar dit het ook by die Afrikaanse diens gegeld: buiten vir ‘n hoof, was daar verskeie bestuurders en onder hulle ‘n paar organiseerders. Dan eers het die groot aantal omroepers gevolg. Wat die “bestuurders” gedoen het, kan mens net raai. Hulle het geen operasionele verantwoordelikhede gehad nie en kan maar as ideologiese hekwagters beskryf word.

Die beperkinge en ideologiese klimaat was dus dieselfde by die SAUK as by die NG Kerk. Eintlik erger, want die burokrasie was groter en doelgerig in sy beheer oor die uitsaaiwese. Ná drie jaar van relatiewe vryheid by Die Kerkbode (maar uiteindelike versmoring), was ek nie lus om die hele stryd van voor af te veg nie.

Nogmaals Beeld

‘n Oproep na Salie de Swardt, toe ‘n assistentredakteur by Beeld, het  vir my ‘n pos as subredakteur besorg en ek is in rekordtyd weg by die SAUK. ‘n Verplasing (as subredakteur) na die Pretoriakantoor het gevolg en toe ‘n aanstelling as redakteur van Ooster-Beeld, Beeld se gratis buurtkoerant vir die ooste van Pretoria.

Met ‘n sterk redaksie en medewerkers soos Martie Meiring en Ena van der Westhuizen, was dit een groot plesier om ‘n gehalteblad weekliks te produseer. Dit was vir my amper weer soos by die Paarl Post.

Op ‘n dag kom die woord: gee ook koerante vir die noorde en suide van Pretoria uit — reeds volgende week. Ons het aan die werk gespring en die volgende week met drie koerante vorendag te kom. (Sommige blaaie het in al drie die koerante verskyn, maar die voorblaaie en sommige nuus- en sportblaaie was uniek.)

Ons was skaars op dreef met hierdie nuwe uitdaging of die woord kom deur: volgende week is die laaste van al drie die koerante! Naspers, Perskor en die Pretoria News het ooreengekom om al hul buurtkoerante saam te voeg. Dit was natuurlik lankal die plan; die feit dat ons twee bykomende koerante moes uitgee, was sekerlik net deel van ‘n skaakspel, een waarvan ons salig onbewus was.

Links: Die laaste uitgawe van Ooster-Beeld.

Soos by die Paarl Post en Die Kerkbode, moes ek agterkom dat al is jy “redakteur” van ‘n blad, is jy maar ‘n klein rolspeler. Die base besluit eensydig oor die groot sake.

Nie een van ons was lus om by Perskor in Mitchelstraat onder ‘n Perskorman te gaan werk nie, maar ‘n paar van my redaksielede is teen wil en dank soontoe “verplaas”. Die res van ons moes ander heenkome binne Naspers vind — ek toe by Finansies & Tegniek, waar Salie de Swardt besig was om van dié weekblad blad ‘n sukses te maak.

Finansies & Tegniek

Waar ek by Ooster-Beeld redakteur/nuusredakteur was, was my taak by Finansies & Tegniek meer prosaïes. Ek het wel die mooi titel van eindredakteur geërf, maar was bloot ‘n sub, ‘n teksversorger. Oorkant my in die kantoor het ‘n jong Esmare van der Merwe (later Weideman) gesit — hoofsubredakteur en later uitvoerende hoof van Media24). Sy het die blaaie opgemaak en ‘n finale oog oor die eindredakteur se werk gegooi, voordat die redakteur sy finale oog oor alles laat gaan het. Dit was ‘n hoër vlak van joernalistiek, want F&T is deur sake- en ander beroepslui gelees wat akkuraatheid en gehalte verwag het.

Salie wou my oorskuif na die redaksie om arbeidsake te dek (waar ‘n finansiële analfabeet seker die minste flaters kon begaan), maar terwyl die idee nog geprut het, kry ek ‘n oproep: kom gee ‘n nuwe Christelike weekblad uit.

Christian Forum

Vanweë my ervaring by Die Kerkbode en algemene belangstelling in geloofsake, was die Christian Forum-projek te aanloklik om nee voor te sê. Ongelukkig was die beplanning nie so goed as wat dit moes gewees het nie en moes ons die mikpunte drasties afskaal. Van ‘n weekblad het dadels gekom.

Ek het wel die redakteur van ‘n kwartaalblad geword wat gratis aan 10 000 meningsvormers landwyd gestuur sou word. Die boodskap was: Christene kan en moet hande vat — Suid-Afrika was in daardie jare (rondom 1988) in ‘n noodtoestand, townships het gebrand en ons het geen vooruitsig op vrede gehad nie.

My besluit — met die ondersteuning van Timo Crous, die stille dryfveer agter die projek — om die heftige korrespondensie tussen die staatspresident, PW Botha, en biskop Desmond Tutu volledig te plaas, het vir ‘n ernstige botsing in die direksie gesorg.

Was die plasing van die briewe nie dalk tog ‘n fout nie? By nabaat meen ek steeds dit was die regte ding om te doen. Ons moes die feite in die oë kyk. Later het ek ‘n artikel geskryf oor joernalistieke soeke na vrede — maar dan via geregtigheid. En geregtigheid sal nooit kom sonder om ongeregtigheid te konfronteer nie.

Die blad is deur die Pretoria News geset en gedruk. Ek het lekker met die mense daar gewerk; hulle was professioneel, maar die blad is soms in die oggendure gedruk, dus wanneer daar tyd op die rolpers beskikbaar was. So het dit gekom dat ek drie-uur een oggend na die drukkery gery het. Ek hulle hulle immers gevra om my te bel wanneer hulle klaarmaak om te druk.

Toe die pers rol en die eerste koerante (die blad is in ponieformaat op ‘n mooi wit papier gedruk) word opgeraap, sien ek ‘n groot fout. ‘n Prominente rooi opskrif oor die middelblaaie was foutief: die letters het weggeval en daar was net ‘n rooi blob. Dit het ‘n nuwe plaat gekos (en tyd), maar die drukwerk was toe reg. As ek nie daar was nie het ons 10 000 eksemplare gekry mét die flater…  En dan? Teen groot koste oordruk, of oë toeknyp?

Die blad het die ondersteuning van ‘n twaalftal senior Christen-sakelui gehad wat uit hul diskresionêre fondse advertensies gekoop het. Dit het genoeg geld opgelewer om die blad te druk en te pos — op die ou end vir 13 uitgawes tot ná FW de Klerk se ontbanning van die ANC en vrylating van Nelson Mandela. Ek het toe gedink ons rol is uitgespeel — dalk kortsigtig, maar die hele politieke konteks was nou totaal anders.

Omdat daar nie geld vir ‘n voltydse redakteur was nie, moes ek intussen ‘n voltydse werk kry.  Ek het daarom vir Jan van Wyk by Landbounuus, ‘n publikasie van die Departement van Landbou en Watervoorsiening (Volksraad), gebel aangesien hy my maande vantevore gepols het oor ‘n pos.

Landbounuus

Landbounuus het gratis nuus aan verskillende publikasies verskaf en sodoende die landbou gedien. Dit het meegebring dat ek as verslaggewer soms vêr moes ry om inligting in te samel, maar meestal was dit ‘n uiters rustige werksopset — genoegsaam so dat ek soms aan my meestersverhandeling (oor kerklike beriggewing in Beeld) kon tik en saans Christian Forum kon behartig.

Bygesê: die blad het ‘n begroting gehad sodat ek medewerkers kon werf, maar ek het ook stories gedoen, soos ‘n onderhoud met die kapelaan-generaal vir Christian Forum. Hy het ‘n hele span gehad om hom by te staan en hulle het my met ‘n houtoog aangegluur. Het ek dan nie ‘n onderhoud met dr. Beyers Naudé van die SA Raad van Kerke gepubliseer nie? Was Christian Forum nie, soos sommige kritici openlik gesê het, deel van die (kommunistiese) aanslag teen die land nie? Ons praat dan ook met die “vyand” — mense soos dr. Nico Smith?

Om Christian Forum as staatsamptenaar te redigeer was seker ‘n waagstuk, maar ek is nooit amptelik daaroor aangespreek nie. Wel het ek een uitgawe, so met die tong in die kies, my rubriek onderteken as John D. Foreman. Dit het seker niemand geflous nie.

Sentrale Statistiekdiens

Ek is met bevordering van Landbou na die Sentrale Statistiekdiens oorgeplaas. Dit het ‘n veelheid van take behels, maar hier wil ek net die personeelblad noem — nie omdat dit ‘n blink blad met kleurfoto’s was nie. Inteendeel.

StatsNuus is sommer op ‘n kopieerder gedruk en in die linkerhoek gekram. Om dit darem na iets meer as nog ‘n statistiekeverslag te laat lyk, is dit op blou papier gedruk. Die lesers het van die blad gehou omdat dit gedoen het wat ‘n personeelblad moet doen, naamlik fokus op gewone werknemers se lief en leed, maar ook die groter prentjie in fokus bring.

Dit was die dae voor rekenaars algemeen was. Die kopie is ingetik en met ‘n skêr uitgeknip en met gom geplak. Foto’s se gehalte was swak, maar bruikbaar. Koppe is ook met die hand ingeplak nadat dit op ‘n stokou masjien geset is. Dit was ‘n argaïese proses, maar ons het dit met entoesiaisme gedoen. Interne joernalistiek moet pret wees; dit gaan nie oor die toerusting op drukgehalte nie. Tog, “spoeg-en-plak”-joernalistiek is seker vir goed verby.

Vir my was die ervaring van bedryfsjoernalistiek kosbaar, want spoedig sou ek dit op Potchefstroom doseer.

 

PU vir CHO as dosent

Terwyl ek by die Sentrale Statistiekdiens was, het ek die graad M in Joernalistiek van die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Ek wou graag klasgee en het dadelik vir poste uitgekyk. So beland ek vroeg in 1991 as dosent op Potchefstroom.

In die loop van die volgende 25 jaar het ek honderde berigte van studente nagesien en herskryf, studenteblaaie help vorm gee en studente help voorberei vir die bedryfswêreld. Aanvanklik het die hele departement net drie rekenaaars gehad! Dosente moes ook maar toustaan.

In die volgende jare het ons telkens beter toerusting gekry, slimmer programme en nog slimmer kollegas wat die studente kon touwys maak. (Ek het my uit die tegniese sy van sake gehou.)

Toe die hantering van die PU-Kaner, die universiteit se skakelblad vir oudstudente, na ons kant kom, het ek die geleentheid aangegryp en saam met senior studente die blad uitgegee. Bygesê, my kollega Gert van Rooyen het die elektroniese bladopmaak gedoen.

Wat ons egter metterwyl deeglik besef het, is dat jy moeilik ‘n professionele blad met die hulp van studente uitgee. Jy moet soveel skoonmaakwerk doen dat dit vinniger is om dit self te doen. Maar die idee was natuurlik praktiese opleiding. Dié het ons op allerlei ander wyses gedoen.

Intussen het ek ook as produksieredakteur van Woord & Daad opgetree, ‘n publikasie wat op sy dag nogal aandag in die pers getrek het weens die kritiek wat sommige Potchefstroomse dosente op regeringsbeleid uitgespreek het. Verder het ek vryskutwerk vir verskeie publikasies gedoen: hier en daar ‘n artikel vir Beeld, Die Burger en VryeWeekblad, asook rubrieke vir Reformed Daily (‘n Nederlandse publikasie) en e-Kerk. 

Vir die dorpskoerant, Potchefstroom Herald, het ek as “motorredakteur” opgetree, wat beteken het ek moes maandeliks sorg vir ‘n klompie blaaie se teks, foto’s en uitleg. Dit was goeie pret, veral die stories wat ek oor bekendes en hul motors (of onbekendes en hul ongewone motors) gedoen het.

Daar het ek net weer besef dat wat ook al die onderwerp, as jy op plaaslike mense fokus sal jy altyd gretige lesers in ‘n gemeenskapskoerant kry. Die blote plaas van media-uitreikings oor ‘n nuwe voertuig is so maklik, maar voeg min waarde toe. Hoe meer generies ‘n gemeenskapskoerant is, hoe minder tref dit die kol.

Rubrieke vir Beeld

‘n Paar jaar voor my uittrede in 2019 het Beeld my gevra om ‘n tweeweeklikse rubriek oor aktuele sake te doen. Dit was vir my ‘n hoogtepunt om telkens 580 woorde te tik wat hopelik perspektief oor ‘n saak bring, dikwels ook mediasake — net nie politiek nie, want daarvan kry ons genoeg.

Die eintlike uitdaging het daarin gelê om met vars temas vorendag te kom. Wanneer ‘n rubriekskrywer voorspelbaar raak, is dit tyd om vir iemand anders plek te maak.

Maroela Media en Mediamense.com

My mening dat die media veels te min aandag in die media kry, het gelei tot my rubriek op Maroela Media. Hier kan ek nou maandeliks ‘n tema takel en probeer sin maak. Dit hang soms saam met temas wat in my navorsing vir my webblad, Mediamense.com en die Facebookblad Mediamense Bylae asook in ‘n weeklikse mediagesprek op Pretoria FM opduik.

So gaan deure na nuwe platforms oop en neem die joernalistiek sy immer veranderende loop.

Besluit

Hoewel die joernalistiek die afgelope vier dekades tegnies op allerlei maniere verander het, is die essensie dieselfde: die skep van inhoud wat lesers, luisteraars en kykers interesseer. Want al betaal hulle nie vir die gratis gemeenskapskoerant of bedryfspublikasie nie, moet hulle hul tyd opoffer om dit te lees.

Wat agter die skerms gedoen word om die publikasie op papier of via ‘n rekenaarskerm by lesers te kry, skeel die publiek min. Maar vir ons wat dit beleef (het), is dit ‘n belangrike deel van die uitdaging én genot. Vir my sal die joernalistiek altyd meer as die groot storie wees; die hele proses het soveel fasette — intellektueel, esteties, tegnies, bestuursmatig …

Dit bly ‘n meerkantige ervaring — al het die gedruis van rolperse, die reuk van chemikalieë (uit die fotograwe se donkerkamer) en die gekletter van tikmasjiene lank gelede uit die joernalistieke ervaringswêreld verdwyn.

Talle beskou die nuwe wêreld van die joernalistiek van die kantlyn af — uitgeskuif voordat hulle uitgeskryf was. Ander was wel gelukkig genoeg om  die oorgang na die digitale era te beleef. Ook dit is ‘n voorreg. En vir ‘n jonger groep is daar geen ander werklikheid nie. Waarna hulle eendag gaan terugkyk, kan mens dalk droom, maar hoe die joernalistiek oor ‘n paar dekades gaan lyk, is onmoontlik om te voorspel. 

Notas oor joernalistieke teregwysigings

Die vernedering van jong joernaliste was vroeër een van die wyses waarop hulle ingelyf is. Dit was veral hoofsubredakteurs en nuusredakteurs se selfopgelegte taak om hierdie jongelinge vars uit die universiteit (of uit watter gate hulle ook al gekruip het) aarde toe te bring. Baie soos ontgroening in universiteitskoshuise.

Drie faktore het hierdie onnodige vernedering hopelik laat verdwyn: nuwelingjoernaliste kom nie meer so groen in die beroep aan as voorheen nie; die menseregtekultuur het ‘n paar treë in die rigting van beskaafdheid gevorder; en die redaksies van die oorblywende Afrikaanse dagblaaie is dramaties kleiner en beman deur senior mense.

Daarom hoop mens die volgende aanhaling uit Abraham Lückhoff se boek Ai, Abraham (Protea, 2021) is bloot ‘n herinnering aan ‘n vorige era. Hy vertel hoe sy eerste storie by Rapport rondom 1980 met die volgende woorde na hom teruggegooi is:

“ ‘Jy is nie nou in die donnerse kerk nie, daar maak jy ‘n moerse ou lang preek van ‘n versie. Jy werk nou by ‘n koerant. Vat hierdie ou kak preek van jou en gaan maak daarvan ‘n versie,’ sê hy en gooi die ses seksies (een seksie is omtrent 250 woorde), waaraan ek die hele vorige nag gewerk het, in my gesig. Die subs rondom die lang tafel waar alle verslaggewers se stories geredigeer word, lê soos hulle lag.”

Nou het Abraham as opgeleide teoloog by Rapport kom werk om oor geloofsake verslag te doen. Hy was nie só junior nie, maar ‘n maklike teiken vir ‘n grootmondboelie.

Tog gee Abraham toe dat hy iets by die onbeskofte nuusredakteur geleer het. Talle ander joernaliste uit ‘n vorige era sal ook kan getuig van lesse wat hulle deur skaamte heen moes leer. Veral die subkantoor was ‘n erg hiërargiese, outoritêre opset waar foute aan die groot klok gehang is — sodat almal daaruit kon leer? Of was dit bloot intimidasie.

As nuusredakteur by Beeld was Jack Viviers bekend vir sy driestukpakke, mansjetknope en goue horlosie. Ek kom een Sondag verkeerdelik vir die vroeë skof daar aan. Hy het my met mening (en vloekwoorde) verjaag. My hele Sondag was daarmee heen, want ek moes toe steeds twee-uur inval vir die aakligste werk in die joernalistiek: opvolgstories op ‘n Sondagmiddag.

Maar daar is ook lesse op veel beskaafder wyse geleer. En hulle was nie minder effektief nie. ‘n Cas van Rensburg het met die sagste stem gesê: “Moet nooit weer ‘n intro van nege reëls skryf nie.” Ek het nie.

Of ‘n Bob van Walsem het bedaard, maar nie sonder ‘n sarkastiese angel, vir my gevra: “Is dit jou gewoonte om goed wat reg is verkeerd te maak?” Dis nou nadat ek (vars in die nagkantoor) ‘n bladsy geproeflees het en “druppel aan die emmer” as foutief aangedui het. Dis tog “druppel in die emmer”. Toe nou nie — nie by Naspers nie.

Ek sien dit steeds in koerante opduik en dink: “Iemand uit die ou skool het dit gesub.” Ek het nie weer dáárdie “fout” by die koerant gemaak nie. Ten minste was meneer Van Walsem, want só het ons hom genoem, meestal beskaafd.

Sy opvolger as hoofsub by Beeld, Jannie van der Merwe, het so vinnig en onduidelik gepraat dat jy nie mooi gehoor het of hy jou uitskel nie, maar hy hét jou op ‘n ander wyse gestraf — deur jou wéér fototeek toe te stuur om ‘n “beter” foto van Connie Mulder of Andries Treurnicht te kry. Die een wat jy gebring het, het hulle te goed laat lyk; hy wou ‘n foto hê met ‘n onvleiende gesigsuitdrukking.

En dan was daar Barend Venter, destyds assistentredakteur van Oosterlig. Hy het my goed op my plek gesit toe ek ‘n storietjie gedoen het oor ‘n skip wat in die moeilikheid was. My beriggie staan toe daar op die voorblad, enkelkolom. Ek was heel tevrede, hoewel enigiets wat hoegenaamd met Port Elizabeth verbind kon word op die voorblad gebruik is.

Maar toe kom die opposisiemiddagkoerant, Evening Post, se eerste uitgawe daar aan met ‘n groot banieropskrif oor die skip wat dalk gaan sink in stormweer. “Mens kan soms té kort skryf,” het Barend geblaf. Later het ek gewonder waar my nuusredakteur was toe ek leiding nodig gehad het, maar my hou moes ek vat.

Barend het my en die fotograaf een aand laat met ‘n “goeie werk” beloon nadat ons nog ‘n skeepsramp gedek het. Tog onthou ek hom eerder vir sy suur opmerking: “As jy die woord wil gebruik, moet jy dit kan spel.” Ek het definitief nie weer verkeerd gespel nie. 

Gelukkig het ek ook onder mense soos Ton Vosloo, Piet Muller en Salie de Swardt gewerk. Ordentlike, professionele mense. Hulle kon jou op die spoor hou sonder kwetsende opmerkings.

Behalwe die keer toe Salie ‘n kollega in Finansies & Tegniek se weeklikse nabetragtingsessie voor almal uitgetrap het. Ons was nogal geskok en het die kollega jammer gekry.

Nie lank daarna nie is hy weg en word finansiële redakteur van The Star. Dit maak toe die deur oop vir gereelde artikels oor persoonlike finansies en later ‘n uiters winsgewende loopbaan as finansiële adviseur. Ek wonder of Magnus Heystek die episode vandag nog onthou.

Van Johnny Johnston, legendariese redakteur van The Citizen, is vertel dat hy ballisties gegaan het wanneer hy ontevrede was met iets. By geleentheid het hy selfs onaanvaarbare kopié (dis nou die papiertjies waarna Abraham verwys het) opgeskeur en geëet!

Maar dié het ek nie selfs gesien nie. Wel het Ton Vosloo my as jong joernalis by geleentheid stilweg laat rittereer. Dit was  nadat ek aan hom genoem het dat die naweekbylaag By graag ‘n artikel van my wil gebruik. Vosloo het die artikel egter reeds onder oë gehad en laat blyk dat Beeld dit sal gebruik.

Sonder om van die tikmasjien op te kyk het die redakteur bloot gesê: “Ek het mos klaar daaroor gepraat.” Inderdaad.