Die gewese gemeenskapsjoernalis en TV-verslaggewer Nicolene Smalman vertel meer oor haar werk as joernalis. Johannes Froneman het die vrae gestel.
Jy het in ‘n polisieman se huis grootgeword en toe op die Puk kommunikasie gaan swot. Hoe het dit gekom? Vanwaar die belangstelling? En was dit gemik op ‘n loopbaan in die joernalistiek?
Ek het ‘n geweldige belangstelling in die sielkunde en wou eintlik ‘n kliniese sielkundige word. Dié graad word gewoonlik saam met ‘n subprogram aangebied, omdat keuring vir ‘n meestersgraad (‘n minimumvereiste vir kliniese sielkunde) geweldig streng is. Ek het geen idee gehad waarmee ek sielkunde sou wou kombineer nie.
My beste skoolvriendin, Candess Kostopoulos, het toe opgemerk dat my opstelle nie te sleg was nie en het aanbeveel dat ek dit met kommunikasiekunde kombineer — met die oog op ‘n loopbaan in joernalistiek, sou ek nie keuring vir sielkunde kry nie.
Ironies was my pa nie baie beïndruk met dié idee nie. Hy het in sy loopbaan as poliesman talle onderhoude met joernaliste gehad en hulle eintlik as ‘n “slordige spul” opgesom. Ek het uiteraard nie sy raad gevolg om eerder die sielkunde met regte te kombineer nie. Ek het die joernalistieke deel van my graad in kommunikasie vreeslik geniet en interessant gevind en toe besluit om eerder hierop te fokus.
Waar het jy begin? By die Laevelder?
Ek het inderdaad in 2007 by Laevelder as junior joernalis begin. Dit was ‘n fantastiese leerskool. By ‘n gemeenskapskoerant het jy nie die luuksheid van ‘n fotograaf nie. Jy doen alles self, jy hanteer alle beats self. Ek het in my eerste jaar goeie ervaring in iets van alles opgedoen — features, gemeenskapsnuus, hardenuus (dit was my kos), hofverslaggewing … Die Laevelder (gesetel in Mbombela) is op die voorstoep van die Nasionale Krugerwildtuin en dit was dan ook my area om te dek.
Ek was gelukkig om ervaring in omgewingsjoernalistiek op te doen en kon die aanslag op dié baken se renosters breedvoerig dek vandat dit ‘n vlaag geword het in 2008. Ek is in 2008 bevorder tot senior joernalis en was ook nuusredakteur van die destydse Nelspruit Post. In 2012 is ek aangestel as Laevelder se nuusredakteur, wat ek was tot met my bedanking in Julie 2016.
Vertel meer oor jou ervarings by die Laevelder …
Soos bo genoem, moes ek vinnig ‘n all rounder by Laevelder word. Irma Green (ons redakteur) het geweldige visie en het haar nie laat inperk deur die bordjies van “slegs ‘n gemeenskapskoerant” of provinsiale grense nie. Sou ‘n welbekende Laevelder byvoorbeeld in ‘n ongeluk omkom in die Kaap, moes ons dit dek.
Ons het ook talle van ons nuusstories en -foto’s met oorsese media gedeel. Ek onthou byvoorbeeld ‘n ongeluk waarin drie Britse toeriste op die vooraand van die Wêreldsokkerbeker in 2010 in ‘n ongeluk naby Barberton dood is — ons het vir BBC verslag gedoen en ons foto’s aan oorsese nuusagentskappe verkoop. En ons kon self die geld hou! Ek is 40 pond betaal vir ‘n onderhoud met BBC Wales van slegs sowat 90 sekondes.
Hoewel ek versot was op profiele oor mense, het ek floreer op die spertye en adrenalien van hardenuus. Ongelukke, moordtonele, borgaansoeke… Ek het dit as ‘n voorreg en opgelegde taak beskou om Laevelder se lesers so spoedig en volledig moontlik hieroor in te lig.

Nicolene is in 2014 aangewys as Caxton se gemeenskapsjoernalis van die jaar. Caxton is die grootste uitgewer van gemeenskapskoerante in Suid-Afrika.
Hooffoto heel bo: Nicolene het in 2017 as TV-joernalis verslag gedoen oor die vergiftiging van leeus op ‘n plaas by Rustenburg.
Ek het dit ook my persoonlike missie gemaak om (te probeer om) die gehalte van sorg in staatshospitale te verbeter met my beriggewing. Ek het oor gruwelike gevalle van nalatigheid en gebrekkige hulpbronne hier verslag gedoen en is/was geweldig trots op die feit dat die Menseregtekommissie in 2012 in die provinsiale DA se guns beslis het — dat die gesondheidsdepartement in sy grondwetlike mandaat misluk om kwaliteit-gesondheidsorg aan die mense van Mpumalanga te bied. Die DA se saak was grootliks op my berigte geskoei.
Hoe lank was jy drukmediajoernalis voordat jy TV toe is? Wat was jou TV-ervaring? Wat was jou beste stories daar?
Ek was sowat nege en ‘n halwe jaar by Laevelder voordat ek in Augustus 2016 by SAUK TV-Nuus in Mahikeng, Noordwes, begin werk het. Hlaudi Motsoaneng was toe net weg by die SAUK, maar sy nalatenskap, of eerder pad van verwoesting, was toe nog duidelik sigbaar. Provinsiale kantore by die SAUK is/was vergete. Ons apparatuur was oud en het nie vergelyk met dié van ons kollegas in Aucklandpark nie. Ek het nooit fisies my redakteurs daar ontmoet nie.
My provinsiale redakteurs, Lizette Labuschagne en David Dlamini, was altyd reg met raad, maar dit was die kamera-operateurs wat my leiding gegee het oor sogenaamde PTC’s (piece to camera) en dies meer. Ek het myself touwys gemaak in videoredigering en het self my “pakkies” vir televisie saamgestel.

Nicolene voer ‘n onderhoud met Alexa Strachan, Aardklop se feesdirekteur.
Ek het ook stories vir RSG saamgestel en het radio ‘n wonderlike medium gevind. TV-verslaggewing is baie werk vir ‘n nuusbulletininsetsel van slegs 90 sekondes. En waar jy met drukmedia nog kon bel vir kommentaar, moet jy sover moontlik beelde vir TV versamel wat by jou klank pas. So al jou onderhoude word fisies gevoer. Ons by die provinsiale kantore moes dan ook twee, drie ure lank ry na ander dorpe vir onderhoude en stories — iets wat die redakteurs in Aucklandpark nie altyd in gedagte gehou het nie. Nietemin was dit geweldig lekker.
Nuushond wat ek is, staan twee stories vir my uit: die dekking van die sogenaamde sonneblomsaak op Coligny (van hul eerste verskyning tot hul skuldigbevinding aan moord in 2018), asook die onluste in Mahikeng in dieselfde jaar toe inwoners dié “stad” geplunder en gyselaar gehou het om die afdanking van die destydse premier, Supra Mahumapelo, te eis.
Ek het in dieselfde tyd breedvoerig verslag gedoen oor die staking in Mahikeng se provinsiale hospitaal en klinieke. Dit breek altyd my hart om te sien hoe staatspasiënte aan hul eie lot oorgelaat word…

Jy is weg by TV ná ‘n paar jaar? Waarom?
Die skrif was aan die muur. Die SAUK is/was bankrot en hulle het met afleggings gedreig. Ek was die enigste wit, Afrikaanse verslaggewer by die SAUK in Mahikeng en het my kanse op oorlewing as 50/50 gesien: óf hulle kon redeneer dat ek die enigste een by hierdie kantoor was wat die werk (in Afrikaans) kon doen, óf hulle laat my gaan en (probeer) Noordwes se gebeure vanuit Aucklandpark dek. Ek wou nie die kans vat nie. NWK (dit is vanaf 1998 ‘n maatskappy en is dus nie meer ‘n koöperasie nie) het ‘n mediaspesialis gesoek. Ek het aansoek gedoen, die pos gekry en besluit dit is tyd vir ‘n nuwe uitdaging.
Jy het persoonlike ervarings van misdaad gehad en ook as verslaggewer. Wil jy iets daarvan met ons deel?
Ek was ‘n gr. 11-leerling (16) toe ek op pad huis toe van die skool af van my fiets afgestamp, met ‘n mes aangehou, aangerand en byna verkrag is. Dit was uiteraard baie traumaties. My aanvaller is nooit aangekeer nie en die NVG het laat weet dat die kanse op ‘n suksesvolle vervolging in elk geval baie skraal was, omdat daar nie ander getuies of bewysstukke soos vingerafdrukke of DNS was nie. Dit het net die trauma vererger — ek kon nooit afsluiting kry nie.
Ek het hierdie ervaring meer as een keer in my loopbaan as joernalis gebruik. Ek het geweet waardeur slagoffers van misdaad gaan en het besluit dat, hoewel ek ‘n plig gehad het om lesers hieroor in te lig, ek ook die slagoffers deur die proses moes help. Hulle staan dikwels heeltemal verslae en ontnugter op só ‘n toneel en het geen idee wat om volgende te doen nie. Ek het altyd aangebied om ‘n dokter te bel, aanbeveel dat hulle berading kry, sielkundiges aanbeveel, ensovoorts.
Ek het altyd gewonder hoekom ek nog in Suid-Afrika bly en wag vir ‘n tweede aanval om te gebeur. En toe op 18 Maart 2020 word ek weer gegryp toe ek daardie oggend gaan hardloop het. Wat hy wou gehad het, weet ek (gelukkig) nie, ek kon hom verjaag met my skokstok.
Ek het soveel misdaadtonele in my loopbaan bygewoon. Ja, ek het seker sekondêre trauma daardeur opgedoen, maar tog het dit gehelp om die aanval op myself te verwerk. As jy sien hoe sterk ander mense lyk ná wat met hulle gebeur het. Dit laat jou besef jy kan jou eie ken optel en aangaan.
Wat behels jou werk by NWK? Heelwat mediawerk, maar nou in ‘n ander vorm? Rustiger as verslaggewing, maar jy skryf tog nog?
Ek is redakteur van NWK Arena, NWK se eie tydskrif. Ons landboukundiges skryf vakartikels. Ek woon geleenthede soos boeredae by, doen verslag daaroor en skryf profiele oor ons boereklante met indrukwekkende boerdery-ondernemings.
Ek bestuur ook die inhoud van ons sosialemediaplatforms, neem en redigeer video’s, doen taalversorging en behartig interne kommunikasie aan werknemers. Dit is beslis rustiger as verslaggewing met daaglikse spertye. Dit het my lank gevat om van die “high” van nuusverslaggewing af te klim en te besef dat ek effe kan ontspan. Landbou is wel ‘n baie interessante veld en ek leer baie van die bedryf.
Jy is ‘n gereelde skrywer op jou Facebookblad. Iets van ‘n kompulsiewe joernalis?
Absoluut. Ek kan nie my bek hou nie. Ek kan nie uit daai maalkolk klim nie. Ek kan my nie losmaak van die aksie nie.
Jou pa is ‘n afgetrede generaal en skryf byna daagliks ‘n brief vir die koerant. Dus aartjie na sy vaartjie? Of nie? Praat julle oor die media met mekaar?
Soos bo genoem, het my pa joernaliste as ‘n ou “slordige spul” opgesom. Tog was hy hulle nog altyd baie goedgesind en was talle van hulle se bron, ook toe hy ‘n speurder was. Hy het die media as ‘n vriend eerder as ‘n vyand beskou en het nogal polisiewoordvoerders oor die kole gehaal as hulle moedswillig inligting onder die vaandel van “dit kan die ondersoek belemmer” van die media weerhou het.
Hy het vinnig my grootste aanhanger geword en my altyd raad gegee oor hoe om stories te benader en watter vrae om die polisie en ander bronne te vra. Ek het inderwaarheid dan ook altyd misdaadtonele soos my pa probeer benader. Ek het altyd gedink watter vrae hy sou vra, waarvoor hy sou uitkyk …
En ja, ons bespreek bykans elke dag nuusberigte en rubrieke met mekaar.
Wat sê jy vir jong voornemende joernaliste?
Jy doen dit nie vir die geld nie, jy doen dit vir die liefde van die saak. Daarom: joernaliste is nie ryk nie. Hulle naam in die bedryf is hulle rykdom. Wees ‘n handelsmerk wat getuig van integriteit en deursettingsvermoë.