‘N MEDIA-EGPAAR WAT SAAM-SAAM EIESOORTIGE PAAIE LOOP

Jacqueline en Jaco Leuvennink is ervare joernaliste wie se loopbane en lewens saam gesellig voortgaan wanneer ander al afgetree het — of nuwe loopbaanpaaie loop. Maar dan, joernaliste tree nooit heeltemal af nie … Johannes Froneman het ‘n paar vrae aan hulle oor hul onderskeie loopbane gestel. Jacqueline kom eerste aan die woord. 

Foto deur Phillip de Vos

Jacqueline: ‘Dit het my soos handskoen gepas …’

Vertel ons asseblief hoe jy in die joernalistiek beland het…

Met baie meer geluk as wysheid. Joernaliste was waar ek aan die Weskus grootgeword het, veraf mense in ‘n veraf wêreld. Toe ek na my graad op Stellenbosch op ‘n swerf- en studiejaar Europa toe is, het die joernalistiekdepartement nog nie bestaan nie.

Wilhelm Kühne, destyds in Die Burger se redaksie, het iewers in daardie tyd by my ouers, Wynand en Jacqueline Malan, op Vredenburg ‘n draai gemaak. Hy het na aanleiding van my oorsese avonture as au pair in Parys vir hulle gesê ek behoort te deug in die joernalistiek.

Ek het half teensinnig ‘n aansoekvorm voltooi en onder die indruk verkeer dat iemand nou na aanleiding daarvan met my ‘n onderhoud sal voer. Met ‘n opvolgbesoek aan die ou Keeromstraat-kantoor het die destydse assistent-redakteur, Louis Louw, tussen die stapels papiere op sy lessenaar vir my aansoek gegrawe. “Nee wat, juffrou, ek kry dit nie nou nie. Maar alles lyk goed. Jy kan Maandag begin.”

Ek het hom verstom aangekyk. En toe maar die Maandag, begin Oktober 1977, ingeval. Met geen idee van wat ‘n joernalis veronderstel is om te wees nie. Dalk ‘n bedekte seën.

Tot vandag toe, nou amper 50 jaar later, onthou ek nog my eerste maand by Die Burger. As ek soggens deur die Tuine werk toe gestap het, het ek geen idee gehad van wat die dag gaan oplewer nie. Wat dalk vir ander mense ‘n nagmerrie sou wees, het my tot my eie verbasing soos ‘n handskoen gepas. Die verrassingselement van ‘n interessante opdrag bly tot vandag toe vir my een van die groot lekkertes van die joernalistiek.

Hoe het dinge toe by Die Burger verloop … En daarna?

In die twee jaar daar was ek onder meer in die algemene redaksie. Dit kon enigiets beteken van ‘n bankroof tot ‘n eerste voorbladstorie oor Margaret Gardiner se familie in Woodstock, die dag nadat sy as Mej Heelal verkies is. Ek het ‘n tyd saam met Paul Louw, digter W.E.G. Louw se seun, hofverslaggewing gedoen, by die vroueredaksie en skolenuus uitgehelp, onder Ludwig Visser plattelandse nuus tot in Springbok gaan haal, bietjie resensies geskryf en Sondae by die sportredaksie ingeval.

Een Sondagmiddag moes ek perdewedren-uitslae afneem. Praat van ‘n perd wat onbeslaan op ys moet gaan! Maar jy druk deur al rol die sweet van jou af. Dis lewensgevaarlik om by ‘n dagblad die verkeerde persoon op die regte plek te wees. 

Wiets Beukes het pas by Piet Cillié oorgeneem as redakteur. Annatjie du Plessis het as hoofsekretaresse die hele vreemde, opwindende wêreld met ‘n ysterhand regeer en haar fotograafman, Jean, was dikwels my metgesel op stories. Ek, Schalk Pienaar se dogter Sarie (later Cloete), Isabel (later Niehaus) en Ruda Landman het boonop straat-af in dieselfde woonstelblok gebly en ons kon heerlik rinkink met al ons komplimentêre kaartjies. Met mense soos Kerneels Breytenbach, Gideon Joubert, Maureen Joubert, Theoniel Potgieter, Jonathan Crowther en nog soveel ander bekendes in die redaksie was daar werklik nie ‘n vervelige oomblik nie.

Jy en Jaco is intussen getroud. Hoe het twee joernaliste in een huis en my een redaksie gewerk?

Getroude vroue moes voorheen bedank, maar daardie dae was gelukkig al verby…

Ek was reeds in Sarie se artikelredaksie (met Anneke van Niekerk as my departementshoof en Fritz Joubert as redakteur) toe Jaco besluit het om ’n MBA by die Universiteit van Stellenbosch te gaan verwerf. Ons eersteling is kort na sy gradeplegtigheid gebore.

Fritz (Joubert), synde die eggenoot van ‘n knap joernalis, wou my gelukkig behou en het ‘n ongewone ding gedoen. Hy het vir my ‘n spesiale deeltydse pos geskep. Maar my vreugde was van korte duur. Sy opvolger het summier alle medewerkers afgeskaf. Dit was die begin van ‘n soms veelbewoë dog altyd bevredigende vryskutloopbaan.

Waarop het jy gefokus?

Jy fokus mos aanvanklik maar waarop jou baas fokus. Ek moes gaan praat met die ouers van ‘n tweeling wat pas gehoor het albei is in ‘n mynongeluk op die grens dood. Of inkopies doen in ‘n rolstoel om die lewe uit die oë van ‘n parapleeg te betrag. Die drukpers het reeds gewag met my terugkeer uit Bloemfontein van die twee troepe se verwese dog brawe, gelowige ouers. Ek moes die verhaal vertel met Fritz wat elke vyf minute oor my skouer kom loer hoe ek vorder en trane wat oor my wange rol. Jy kom nie onbeskadig aan die ander kant van so ‘n storie uit nie.

Ek het weer later op kontrakbasis onder verskeie redakteurs vir Sariegewerk en as vryskut vir ander gewerk — van De Kat, Insig, Lig, Rooi Rose tot Lééf.

Later het Lééf genader om gereeld vir hulle te werk en ek doen dit steeds omdat ek so lief is vir my ambag en ons land se merkwaardige mense. Christine Ferreira het die titel by Media24 oorgekoop toe laasgenoemde ‘n klompie tydskrifte toegemaak het.

Hoe speel jou Christelike geloof ‘n rol in jou werk?

Ek dink dit rig my in hoe ek na mense en gebeure kyk en waarop ek fokus. Dis nie “sonskynjoernalistiek” nie, eerder ‘n poging om die waarheid te rapporteer sonder om die leser in wanhoop te dompel. Dalk beteken dit iewers iets vir iemand. As jy na iets soek, soek dit later vir jou. My eie geloofslewe is telkens versterk deur ander mense se verhale as ek dit die nodigste gehad het.     

My eerste rubrieke was Agterblaaie en humor-goedjies vir Sarie, laasgenoemde dikwels ‘n oorlewingsmeganisme tydens ons kinders se grootwordjare. Die rubriek vir Lééfhet later gevolg. Van my boeke het hieruit en uit ander artikels wat ek geskryf het, ontstaan.

Staan een van jou onderhoude uit bo die ander?

‘n Onderhoud met die hartpionier Chris Barnard, kort voor sy dood, bly my by. Dit was ‘n uitdaging om so onbevooroordeeld moontlik na hom te kyk; nie een van ons is waar ons tien jaar vantevore was nie. Hy was vol berou oor baie dinge in sy lewe en wou dit van sy hart afkry. Na sy onverwagse dood het sy familie, gewoond aan baie nydigheid van die pers, hul dankbaarheid oor die artikel laat blyk.

Jy het ook met ‘n klomp ander bekendes onderhoude gedoen…

Ligse destydse redakteur, Adri-Louise van Renen, het my in ‘n stadium die land vol laat vlieg. Onderhoude met mense soos Desmond Tutu, Zola Budd, Leon Schuster, Helen Zille, Stef Bos, vissermanne aan die Weskus en Hansie Cronjé se familie tien jaar na sy dood was alles hoogtepunte. 

Martie Pansegrouw by Rooi Rose het vir my ook wonderlike geleenthede gebied. Kunstenaars, musiek- en teatermense, sportmanne- en vroue, glanspersoonlikhede, sjefs, die hele kaboedel. Persoonlike kontak met mense soos die skrywers Alba Bouwer en Elsa Joubert. Die laaste artikel voor Caxton die tydskrif toegemaak het, was nog oor ‘n onvergeetlike aand by JAN in Nice.

Jy het ook ‘n maatskappygeskiedenis geskryf…

Die boek oor Ackermans met hul 100-jarige viering was in opdrag van nog ‘n merkwaardige vrou, Joan Kruger. Ek moes sowat sewentig onderhoude voer met van Raymond Ackerman en Christo Wiese tot die teedames en die vroue op die vurkhysers, weer eens blootstelling aan ‘n wêreld wat ek glad nie geken het nie. Die publikasie het ‘n toekenning gekry.

Jy is nie lus vir fiksie nie?

Ek het geen begeerte om fiksie te skryf nie. En tog het ek nou begin torring aan iets wat op feite gebaseer is maar tog verbeelding gaan verg om dit lewendiger vir die leser te maak. 

Ek geniet steeds die skryfproses, die onderhoude met mense wat my uit my gemaksone lig en die voorreg om soms interessante plekke saam met my man te besoek wat ons lewe verruim.  

Ons liefde vir reis, geskiedenis en aktuele sake het onder meer daartoe gelei dat ons in 1981 agter die Berlynse muur in is. Ek sou nooit kon raai dat ek later as lid van die Stellenbosch Libertaskoor ‘n optrede in die Reichstag in Berlyn met hulle groot volkstreurdag sou beleef nie.

Sommige goed kan jy nie met geld koop nie. Daar word soms gesê dat die joernalistiek the most underpaid most privileged job op aarde is. Ek is oneindig dankbaar as ek terugkyk oor alles wat ons kon beleef en by ander mense kon leer.

Jy en Jaco loop ‘n goeie pad saam …

Ons werk het ons nog altyd gebind. Elkeen is koning op sy eie mishoop maar daar was en is wedersydse begrip. Ook ruimte en respek vir wat die ander een doen. Ons ooreenstemmende waardestelsels kon gelukkig ook baie dinge oorbrug. Ek weet net my lewe sou sonder Jaco se kritiese koerantman-oog baie armer gewees het.

Jaco: ‘ … ‘n voorreg om saam met haar op artikel-uitstappies te gaan”

Vertel ons iets van jou grootwordjare.

Ek is op Caledon gebore, maar ons het na Vredendal getrek net voor ek skool toe is. Kinderjare was baie gelukkig en vry – Vredendal wat klimaat, geografie (eenkant weg, maar nie te weg nie) en mense (nog ietwat van ‘n pioniersgees destyds), ‘n ideale grootwordplek. Ek het van kleins af die koerant verslind, baie algemene kennispryse gewen, aan alles deelgeneem. Ek was nogal goed met balsporte (krieket en tennis), maar in daardie opsig was Vredendal bietjie geïsoleer met nie genoeg sterk mededinging van omliggende skole nie.

Hoe het jou nagraadse studie na die joernalistiek gelei?

Ek is Stellenbosch toe sonder enige loopbaangerigte kwalifikasie in gedagte – my ouers was genadig genoeg om my  toe te laat om net vakke te kies wat my interesseer (bv. tale, geskiedenis, staatsleer). Aan die einde van my eerste jaar het my pa opgemerk dat ek darem redelik goed vaar en dat dit hom (met twee talentvolle kinders nog op skool, en my oudste broer ook op universiteit) baie sou  help as ek ‘n beurs kan kry. Die staatsdiens en die onderwys was nie vir my aantreklik nie. So het ek by mnr. Ebbe Dommisse by Die Burger in Keeromstraat, Kaapstad, geland, wat my beursaansoek goedgekeur het.

Eers het ek vakansiewerk gedoen. Daarna, vanaf begin 1977, het ‘n heeltydse pos by die sportredaksie (salaris van R360/maand) gevolg. Dit was wonderlike sorgvrye jare – Dommisse se woorde êrens aan my, naamlik dat die joernalistiek nie juis goed betaal nie, maar dat dit darem beter is as om te werk het werklik waar gevoel.

My sportredakteur en hoofrugbyskrywer, Gerhard Kirsten, was ‘n talentvolle man en gawe baas. Ek (met my Frans 1B) kon my verluister as hy vlot Frans oor die telefoon met die destydse Franse rugbybaas Albert Ferrasse gepraat het. Maar hy het ook ‘n kennis van Russies gehad en is soms uit allerlei vreemde oorde gevra om te help met vertalings. 

Joernaliste se werkswyses het in die laat 1970’s drasties begin verander?

Ja, in daardie eerste jare in Keeromstraat het die tegnologie rondom koerantproduksie nogal opwindende spronge begin maak, onder meer die eerste gebruik van rekenaars. Ek het nog begin met jou berig op ‘n velletjie papier getik, wat, nadat die sub dit beetgehad het, met die pyp afgestuur is sodat die hele bladsy met loodletters geset kon word voordat dit gedruk is. 

Vertel iets van jou jare as sportverslaggewer.

Die hoogtepunte van my vier jaar in die sportredaksie was beslis my beat as Bolandse rugbyverslaggewer. Jy was destyds letterlik soos een van die spanlede. Ek is met my eerste besoek saam met die span aan Welkom vir ‘n wedstryd teen Noord-Vrystaat amptelik “ingelyf”. Dieselfde het Francois Potgieter, broer van die destydse dartelsenter Nelis Potgieter (wat van Potchefstroom oorgery het om sy broer se span te kom ondersteun) getref!  

My ander beat was boks, wat self sy porsie opwinding gelewer het met swaargewigname soos Kallie Knoetze en Jimmy Abbott, wat albei ‘n draai gemaak het vir gevegte in die Goeie Hoop-sentrum.

Ek onthou my eerste toernooi (tussen hakies die eerste beroepsboks wat ek in my lewe gesien het!) baie goed. Dit was nogal senutergend omdat jy so ongeveer haltien die aand (betyds vir die eerste uitgawe se saktyd) ‘n voorlopige berig moes deurbel van die eerste paar (minder belangrike) gevegte. Die hoofgeveg was gewoonlik omtrent die laaste van die aand, waarna jy teruggejaag het koerant toe om vir die laaste uitgawe ‘n behoorlike berig (meestal die hoofberig op die agterblad) te skryf.

Watter geveg staan vir jou uit?

My groot geleentheid (tydens die sportisolasiejare) as die sportkantoor se boksverslaggewer, sou wees om Gerrie Coetzee se geveg in Monte Carlo  teen Leon Spinks van die VSA te dek. Dit is ongelukkig gefnuik toe die hoofredaksielid Harry Shaw (wat in sy jong dae ietwat van ‘n bokser was) besluit het hy wil graag gaan. Shaw was veral bekend vir sy dekking van opspraakwekkende hofsake (veral moordsake) en straks het die base by Die Burger gemeen sy vaardighede rondom sensasionele berigte kan benewens moord ook vir boksgevegte ingespan word!

Die geveg in Monaco het maar sowat ‘n minuut geduur voordat Coetzee Spinks uitgeslaan het en ek was maar dankbaar ek moes nie verskeie berigte hieromtrent optower nie!

Toe volg jou verdere studie…

Ja, na vier jaar het ek miere (dalk ‘n sug na meer geld) gekry en bedank by Die Burger om ‘n jaar heeltyds vir ‘n MBA aan Stellenbosch te gaan studeer. Destyds was die Nagraadse Bestuurskool nog in opslaangeboutjies agter die Karl Bremer-Hospitaal gehuisves. Gelukkig was dit nie só veeleisend dat ek nie tyd vir niks anders gehad het nie en ek het my graad feitlik gelyktydig saam met die koms van ons eersteling gekry.

Toe die dilemma – ek het ‘n spoggerige kwalifikasie, maar sonder sake- of bestuurservaring,  ‘n vrou wie se kontrakwerk by die Sarie deur ‘n nuwe redakteur opgeskort is en ‘n pasgebore baba, sonder enige inkomste. So gryp ek toe ‘n geleentheid aan om as provinsiale ouditeur by die Kaapse Provinsiale Administrasie te gaan werk. Sonder dat ek ná die veeleisende MBA-jaar te hard hoef te gewerk het, was dit finansieel nogal aantreklik: Benewens die destydse huissubsidie het die staat ons ook R1 betaal vir elke ekstra R1 wat jy tot die afbetaling van die huislening bygedra het. Jy het ook reis- en verblyftoelae ontvang as jy munisipaliteite vir ‘n oudit besoek het.

Ek het benewens ons twee ouerpare aan die Weskus (Vredendal en Vredenburg) ook ander mense op dorpe aan die Weskus tot sover as Calvinia geken waar ek dan feitlik verniet kon bly en eet sodat die S&T-toelae vir die maand meestal meer as my salaris was, boonop belastingvry.

Hoe word jy toe weer ‘n skrywer?

Ná ‘n jaar het my vrou, Jacqueline, genoeg gehad – met ‘n klein baba in die huis het my rondswerwery haar nie meer aangestaan nie. Ek het van die ouditeurs na Plaaslike Owerhede geskuif (grondgebruik-sonerings, stigting van streeksdiensterade ens.). ‘n Grootkop het ontdek dat ek redelik kan skryf en my vir bydraes tot toesprake vir LUR’s en die administrateur begin nader.

Dit was nogal bevredigend, veral omdat dit die tydperk van versigtige apartheidshervormings was (met ‘n Departement van Konstitisionele Ontwikkeling onder Chris Heunis). Goeie herinneringe is hoe die inwerk van ‘n gewaagde of meer veranderingsgerigte politieke stellings of menings in ‘n toespraak positiewe reaksie uitgelok het. En die opwinding as jy saans nuus kyk en F.W. de Klerk verskyn op die skerm terwyl hy in sy toespraak by ontvangs van die ere-burgerskap van Burgersdorp die presiese woorde gebruik wat jy in jou gevraagde toespraakbydrae aan die presidentskantoor gestuur het.  

Maar dit was nog nie die koerant nie…

Met die heropening van deure vir SA sport in die vroeë negentigs het Johann Holzapfel, toe sportredakteur van Die Burger, my oorreed om weer by die koerant aan te klop. Ek is egter sakeredaksie toe, tot “Appel” se groot misnoeë. My kollegas Hein Swart, die ervare en besadigde sakeredakteur, en Gerhard Cloete, het die skuif soos ‘n tuiskoms laat voel en het my gou touwys gemaak in die “nuwe veld”. Toe Hein as Media 24-koerante se verteenwoordiger vir ekonomiese en finansiële sake in die parlement aangestel is, het ek hom as sakeredakteur opgevolg.

‘n Paar hoogtepunte?

Hoogtepunte uit hierdie dae was besoeke aan Washington en later weer aan Praag vir die IMF en Wêreldbank-jaarvergaderings. En die spannetjie wat by my in die sakeredaksie ‘n draai gemaak het, was mense van hoogstaande gehalte – waaronder Francois Williams (steeds by Media 24), Jacques Dommisse, Fadia Salie (later redakteur van Fin24), Dirk de Vynck, Johannes de Villiers (nou ’n blydskapghoeroe, asook romanskrywer) en Wynand Lategan. 

Ook bevredigend was redakteurs Ebbe Dommisse, later Arrie Rossouw en Henry Jeffreys, wat my dikwels vir hoofartikels oor ekonomiese nuuskwessies gevra het. My een groot aanvanklike kopseer met die uitleg van die sakeblaaie was as ons ‘n gepaste illustrasie of grafika by stories wou plaas en Fred Mouton se hulp ingeroep het. Nadat jy hom êrens in ‘n verlate agterkamertjie gekry het, druk besig met sy meesterspotprent vir die dag, het Fred altyd op ‘n kenmerkend bot manier gesê hy het nie tyd nie. Maar ek het gelukkig  gou geleer dat jy dat maar kan omdraai en ‘n halfuur of wat later sou ‘n besondere poging van Fred op jou tafel land.

Toe beland jy as ‘t ware in die Parlement en het jy heelwat met Tervor Manuel te doene gekry?

In 2001 het ek Hein Swart by die Parlement opgevolg en uiteraard gereeld met Trevor Manuel, toe gevestig en gerespekteer (ook internasionaal) as minister van finansies, te doen gekry. Onthouflitse uit hierdie tydperk: Manuel wat in ’n oordadig versierde raadsaal in die groot konferensiegebou uit Praag se kommunistiese era vir my in Afrikaans sê: “Soos my ouma sou gesê het, ‘grander as die Grand Hotel’”. Of Manuel wat te midde van verbaas-nuuskierige (en afgunstige?) kyke van my joernaliskollegas my in ons parlementêre perskantore kom opsoek om ‘n tegniese beleidsaspek waaroor ek hom vroeër gevra het, te kom verduidelik. Dan was daar ook die slag tydens ‘n Julie-vakansie toe ek en Manuel, albei met ‘n motor vol moeilike kinders, mekaar by  ‘n ruskamp in ‘n Noord-Natalse wildtuin raakgery het. Maria Ramos, sy latere vrou, maar destyds nog direkteur-generaal van finansies en Trevor se “halfgeheime romantiese vennoot”, was saam met hom en sy drietal baldadige tienerkinders. Volgens my vrou  het ek en Manuel net vir mekaar geknik en albei haastig in teenoorgestelde rigtings koers gekies. Ons joernaliste het destyds ons diskresie gebruik om nie Manuel se verhouding met Ramos aan die groot klok te hang nie.

Ek was gelukkig om die “beter jare” van SA se staatsfinansies in die Parlement te kon beleef. Manuel se begroting was tussen 2001 en 2008 soos ‘n helder baken wat jaarliks op die soms erg mistige politieke toneel verskyn het. Sy 13 jaar in die pos was naas Klasie Havenga van die Nasionale Party (1924- ’39 en weer van 1948-’54) die langste nog van ‘n Suid-Afrikaanse  minister van finansies.  

Sy begrotingsredes en perskonferensies het mettertyd al meer grappies, aanhalings van gedigte en simboliese taal en gebare om vordering groei en stabiliteit te illustreer, bevat. Ondanks die harde werk wat ‘n lang begrotingsdag vir die perskontingent ingehou het, onthou ek my begrotingsdae in die parlement as geleenthede met ‘n byna feestelike atmosfeer.

Manuel het rondom 2002 begin om klein inheemse boompies aan parlementslede en die pers uit te deel as simbool van die vryheidsboom wat diep wortel begin skiet en eersdaags vrugte (ekonomies gesproke) sou dra. Daarna het vugte elke jaar gevolg, van die aanvanklike suurlemoen, ‘n appel tot soet pruime. Suid-Afrika het rondom 2007 ‘n feitlik ongekende begrotingsoorskot bereik.

Ongelukkig het die wêreldwye finansiële krisis van 2008/2009 die uitdeel van Manuel se beloofde vrugteslaai as hoogtepunt verhinder. Daarna het die ekonomie ‘n sjampanjebottel vol belofte gebly; een waarvan Suid-Afrika net nie meer die prop kon afkry nie.

Ander stories uit die Parlement?

Die pers se verhouding met die parlementslede was goed en ek onthou nog hoe van die ANC-lede my berispe het as ek, toe ‘n fikse en ywerig-mededingende veteraanmuurbalspeler, die trappe van die parlement opstorm vir ‘n komiteevergadering wat reeds begin het. “No, no chief, that’s not dignified,” moes ek ‘n paar keer hoor.

Ons as joernaliste het natuurlik ook nie teruggestaan as die soustrein verbykom nie. ‘n Groot deel van my stories het ek in komiteevergaderings gekry en komiteelede en die pers is goed gevoed. Voor die begin van die vergadering om negeuur, was daar koffie, tee, vrugtesappe, toebroodjies, vrugte ens. Met die elfuur-teebreek het die drink- en eetgoed, naas beskuitjies en koekerighede ook meer substansiële versnaperinge soos biltong en pasteitjies buite reggestaan. Indien die vergadering na die middagete aangegaan het, kon jy hoenderboudjies, ander soorte vleis, pizzatjies en selfs gekookte groente en ‘n soetigheid as nagereg verwag, voldoende vir ‘n stewige middagete.

So het my wyle goeie vriend Donwald Presley van Business Report gereeld op die kringtelevisie gekyk watter komitee die beste aanbod gehad het en dan by my kantoor ingeloer: “Time for breakfast at Trade and Industry; “lunch at Minerals and Energy,” of “Tea at Labour/Finance”. 

Presley, wat my baie met my gebrekkige Engels gehelp het en my, nou nie die wêreld se grootste sosiale vlinder nie, aan al Kaapstad se “who is who”  wou bekendstel, het ook ‘n paar Afrikaanse woorde by my geleer, waaronder “bouvallig”. Hy het dit daarna oordadig vir enigiets gebruik wat hy in ‘n ongunstige lig beskou het. So was menige perskonferensie, onderhoud, partytjie, politici se optrede, toespraak of karakter, gereeld volgens hom “bouvallig”.

Tog kom alle goeie dinge tot ‘n einde…

Ek het die voorreg gehad om op 57 jaar uit die heeltydse joernalistiek te kon tree. Vryskutwerk (soos hulp tot en met Covid met die jaarlikse staatsbegroting en minibegroting;  asook vertaalwerk vir die agentskap Folio in Kaapstad) het met my vrou se vryskutbydraes ons huisfinansies sedertdien genoegsaam op koers gehou.

Ons het sowat 10 jaar gelede na my familie se strandhuis op Kleinmond getrek.  Dis ‘n werklik tegemoetkomende en vriendelike dorp in ‘n pragtige omgewing van berg en see, met ‘n baie ouermens-vriendelike, matige klimaat.

Vertel ons iets oor jou en Jacqueline se saamleef as joernaliste.

Ek is baie dankbaar vir my joernalis-vrou, Jacqueline. Ons het deurgaans begrip vir mekaar se werkswyses, ure en eise rondom onafhanklikheid gehad, maar was tog op verskillende velde betrokke sodat daar nooit kompetisie of verveling of gebrek aan respek en belangstelling in mekaar se werk was nie. En nou dat ek meer tyd het, is dit groot pret en ‘n voorreg om saam met haar op artikel-uitstappies te gaan en steeds interessante plekke en mense te kan leer ken.