‘N LOOPBAAN Ná TELEVISIE — KOERANTE AAN DIE NATALSE SUIDKUS

Ná sy vroeë uittrede by die SAUK het Johan Pretorius ‘n lang loopbaan as sakeman en koerantjoernalis gehad. Hier kyk hy terug op daardie periode in sy lewe.

Voordat ek weer in die drukmedia beland het, het ek eers ‘n paar jaar ander dinge gedoen. Ek was van 1995-1998 dosent in die joernalistiek by die Damelin-sakeskool in Pretoria en in politieke wetenskap by die destydse Pretoriase Technikon onder Pedro Diederichs. Die daaglikse ryery tussen Johannesburg en Pretoria, en veral die lang ure smiddae en saans bestee aan voorbereiding, toetse en eksamen-nasienwerk, was kwaai.

Johan was toe sakeman aan die Suidkus van Natal…

Ek het sedert my aankoms op Shelly Beach op versoek ‘n weeklikse rubriek vir die South Coast Fever geskryf het.  Sticks and stones was baie gewild en ek het geniet om dit te skryf. Na twee jaar as restaurant-eienaar het die Fever se eienaars my gevra of ek nie die redakteur wou word nie. Ek het ‘n koper vir die restaurant gekry en van 2002 af was ek die redakteur van die South Coast Fever. (Die hooffoto toon ‘n onlangse uitgawe van die koerant.)

Dit was niks anders nie as ‘n flenter-koerant met geen struktuur, behoorlike beplanning of inhoudsbeheer nie.  Mense met geen joernalistieke ervaring nie het dit elke week aanmekaar geflans. Omdat dit gratis was (en nog is), was dit baie gewild bloot weens die inset-advertensies.

Die eienaars was bekende en welgestelde inwoners van die omgewing, kon geen woord Afrikaans praat of verstaan nie, maar hul sakevriende op die Suidkus het hulle goed ondersteun.

Ek het stelselmatig die struktuur en formaat van die koerant verander, die uitleg, op my manier, verbeter, want ek was nie ‘n deskundige op die gebied nie, het self verslag gedoen oor kontensieuse sake saam met ‘n ou afgetrede joernalis, Glen Dewey. Alles in Engels.

Tussen ons het ons nogal ‘n paar katte in die duiwehok losgelaat. Selfs toekennings gewen in die Sanlamkompetisie vir streekkoerante.  Ek het ook van die begin af ‘n weeklikse Afrikaanse rubriek met die titel Wouter se watergat geskryf oor wedervaringe in ‘n Suidkuskroeg — en skryf dit vandag nog as vryskut.  Amper 20 jaar lank.

In 2004 en 2005 het ek die eerste twee jaar van die LlB-kursus by Unisa voltooi, met die voorneme om in persreg te spesialiseer, maar dit het net te veel, te duur en tydrowend geword tesame met die koerantwerk.

Namate die koerant se sirkulasie, gehalte en advertensie-inkomste verbeter het, het die opposisiekoerant, Caxton se South Coast Herald, begin ongemaklik raak.  Die Herald was ‘n baie goeie, soliede koerant, met ‘n bekwame redakteur, en een van die juwele van Caxton se talle gemeenskapskoerante. Ons het egter goed in hul advertensie-inkomste begin invreet. 

In 2015 het die Witnessgroep van Pietermaritzburg die Fever gekoop, en ons het die voordeel van hul finansiële steun gehad. Van hier af aan was dit een groot plesier vorentoe. 

Met die hulp van ervare joernaliste in Pietermaritzburg wat die ontwerp van die koerant betref, het ons met rasse skrede vooruit gegaan — so goed dat die Fever kleintjies gekry het.

Die eerste nuwe een was die East Griqualand Fever in Kokstad, gevolg deur die Amanzimtoti Fever en die East London Fever. Ek was die redakteur van al vier, maar die Maritzburg Fever is deur die Witnessmense in Pietermaritzburg gehanteer.

Ons het ook ‘n Xhosa-uitgawe, die Umthatha Fever, bedryf met kollega Greg Nota as die redakteur. Die groot voordeel was die Witness se wêreldklas-drukpers; ons koerante was toe puik produkte.

Uiteraard was dit harde werk.  Ek het die vier koerante se redaksionele kommentare en rubrieke (in Engels) en Wouter se watergat (die enigste Afrikaanse komponent van die koerante) gehanteer. Al vyf is in Port Shepstone “aanmekaar gesit”. Dit was baie harde werk. Ek moes  byvoorbeeld gereeld Oos-Londen, Kokstad en Amanzimtoti toe, maar dit was ‘n unieke joernalistieke ervaring wat ek geniet het, hoewel ek ook lang ure nie by die huis was nie.

In Port Shepstone het ek politieke/stadsraadverslaggewing gedoen, stadsraadvergaderings van die Hibiscus Coast- en Ugu-streekmunisipaliteit bygewoon, en vriende gemaak met talle ANC-, DA-, IVP-stadsraadslede, munisipale bestuurders en burgemeesters.  Weens my vorige politieke ervaring en goeie kontakte het ons gereeld scoops gehad wat die Herald onkant gevang het.

Hier teen 2009, kan nie meer die jaartal onthou nie, het Media24 die Witnessgroep gekoop — Fevers en al.  Ons het normaalweg voortgegaan, maar nou met die voordele (en nadele ) van ‘n groot koerantgroep se steun.  Die terugslag het egter in 2013 gekom toe Media24 afgeskaal het en net die South Coast Fever, East Griqualand Fever en Maritburg Fever van die gemeenskapskoerante oorgebly het.

Drastiese personeelbesnoeiiings het gevolg, waarvan ek deel was op amper 70-jarige ouderdom, en dit was die einde van my loopbaan in die geskrewe media. Vandag is net die South Coast Fever oor.

‘n Groep van ons oud-Fever-mense het toe onder leiding van ‘n senior Media24-amptenaar, wie se pos ook in die slag gebly het, ‘n digitale nuusplatform, eHowzit, begin. Dit het op plaaslike nuus gekonsentreer, maar het ook nasionale en internasionale nuus bevat, video’s, die lot.  Dit was natuurlik baie werk, want al die nuusbronne moes gemonitor word vir die nodige insette. 

Ek het ‘n kameraman gehad en TV-video-onderhoude met nuusmakers en -verslae vir eHowzit oor plaaslike aangeleenthede gedoen, soms in sowel Afrikaans as Engels, dit ook self geredigeer, op You Tube geplaas en aan eHowzit gekoppel. In ‘n stadium was ons aantal “hits” per dag meer as tienduisend van oor die hele Suid-Afrika en selfs in die buiteland.  Die grootste kykerstal was natuurlik aan die Suidkus.

In die proses het ek, sonder opleiding, die digitale nuus-opset moes leer ken, en het ek die platform elke dag op WordPress aanmekaar gesit … Lang ure van 5 vm tot laat saans.

Ons advertensie-inkomste was aanvanklik baie goed, maar het geleidelik gedaal namate die Suidkus se ekonomie verswak en sake-ondernemings gekrimp en selfs toegemaak het.

Toe my vrou in 2018 ‘n beroerte kry, het ek besef dis nou genoeg. Ons kinders het daarop aangedring dat ons nie meer alleen kon woon nie, en ons het in Desember 2019 na my jongste seun in Randburg verhuis, waar ons nou baie gelukkig en lekker bly. Ek het eHowzit vir ‘n jaar van hier af help aan die gang hou, waarna die formaat verander is na ‘n suiwer advertensie-platform, en my deelname beëindig is.

Ek het egter steeds sedert 2013 vryskutwerk vir die Fever gedoen en skryf vandag nog ‘n weeklikse kommentaar/verslagbydrae oor alles en nog wat, plus natuurlik Wouter se watergat, ná 20 jaar. Nie altyd trots op die gehalte nie, maar nogtans.  Dit beteken my joernalistieke loopbaan wat in 1966 begin het, duur tegnies voort.

Lees meer oor Pretorius se loopbaan elders in hierdie afdeling asook in die afdeling VERBATIM.  

Geplaas Maart 2022