‘N GEJAAG BY ‘OOSTERLIG’ OM BETYDS TE WEES

Deur Ben Louw

Destyds, in die laat 1950’s, is ek as groentjie sommer met my intrapslag by Die Oosterlig gewaarsku: “Vir ‘n koerantman is daar nie so iets soos werkure nie. Jy moet 24 uur in elke dag gereed wees om vir werk ingespan te word! En daar is nie so iets soos oortydbetaling vir joernaliste nie!

Redaksielede en veral die sportskrywers het destyds net een Sondag elke veertien dae vry gehad. Ons moes ook Saterdae tot een-uur die middag op kantoor wees! En as jy Saterdagmiddag oor sport verslag moes doen, moes jy nog die Saterdagaand voor daardie vry-Sondag jou verslag van die middag se sport op kantoor gaan skryf. So moes jy sorg dat jou verslag die volgende oggend vir publikasie beskikbaar is, anders moes jy daardie vry-Sondagoggend kantoor toe gaan om jou verslag daar te skryf! 

Daar was toe mos nog geen selfone en rekenaars nie en ons het ons nuusverslae op tikmasjiene geskryf. Wanneer ons nuusgebeure in afgeleё plekke gaan dek het, het ons ons berigte soms op groen perstelegramme getik. Ons kon dié verslae selfs ná werktyd by die Poskantoor aflewer, wat dit dan na die teleksmasjiene in Die Oosterligse kantore deurgestuur het. Andersins het ons soms van ver ons verslae na die tiksters op kantoor ingebel.

Ook nuusberigte deur Sapa (die Suid-Afrikaanse Persvereniging) en Sapa Reuter het aanhoudend op rolle papier uit die ry teleksmasjiene in die kantoor langs ons subkantoor gestroom. Dan moes die subkantoor dié swetterjoel berigte vinnig vir nuuswaarde vir daardie dag se uitgawe beoordeel.

Om die middag-uitgawe betyds gereed te kry, moes die redaksie soggens halfsewe op kantoor wees. (Ek het dus al so kwart voor ses soggens saam met my pa, wat toe assistent-kaaivoorman by Port Elizabeth se hawe was, ’n trein van Despatch na die Baai toe gehaal om betyds by my werk te kom.) Dan moes die subredaksie gedurig onder groot druk die gekeurde nuusberigte persklaar maak en op treffende bladplanne uitlê. Hierdie opgemaakte bladplanne moes dan die een ná die ander volgens ’n vaste tydskedule aan die settery gelewer word.

En het Boetie Smuts, die settery-bestuurder, en sy opvolger, Bakkies Goosen, nie vir jou vuur begin spoeg wanneer die subkantoor sy bydrae ’n bietjie te laat settery toe gestuur het nie! Hul span setters moes immers elke letter van elke nuusberig in loodreёls set. Dan moes die bladpakkers die volle blad se berigte volgens die bladplan van die redaksie loodreёl vir loodreёl inpak binne ’n raam, wat so groot soos ’n koerantblad was Daarna moes nog van elke blad ’n halfmaanvormige loodblad gemaak word wat op die helfte van die ronding van die rollers van die tweeverdieping-drukpers gepas het. Die drukpers moes gedurig genoeg ink op die rollers kry sodat die loodnuusblaaie dan op die enorme rolle papier, wat teen groot spoed deur die drukpers gevoer word, afgedruk kon word.

Die eerste uitgawe moes soggens al teen halfelf volledig aan die settery gelewer wees sodat ons middagblad betyds klaar gedruk kon word om nog daardie oggend se vlug van Port Elizabeth na Oos-Londen te kon haal. Daarby moes Oosterlig  betyds klaar gedruk wees om nog per spoor en per pad oral in die Oos-Kaaplandse platteland versprei te kon word. 

Enkele kere wanneer die koerant te laat was om die vliegtuig te haal, moes van die redaksielede met die oplaag koerante vir die Grensgebied met die motor na Oos-Londen deurjaag!