Die mediaman Marius du Plooy vertel hier iets oor sy loopbaan in die joernalistiek en verwante bedrywe.
Ek was nog nie ‘n dag verveeld nie. Ek het die groot voorreg gehad om in my joernalistieke loopbaan as verslaggewer, redakteur, radio-omroeper en TV-aanbieder ongelooflikhede te ervaar.
Selfs in my ander voltydse en vryskutberoepe het die “meetsnoere vir my in lieflike plekke geval”.
Ek was vir vier jaar die aanbieder van die destydse televisieprogram Potpourri. As akteur het ek rolle vertolk in ‘n twintigtal plaaslike televisie- en filmproduksies, soos Bosveldhotel die Movie, Supersnuiters, Swartkat, Egoli, Fishy Feshuns, Short and Sweet en Transkaroo.
Maar oorklankings was vir my die lekkerste lekker waar ek karaktertjies se stemme moes skep – soos die stem van Fanie Voetbalkous in Wielie Walie.
Ek het byna 20 jaar ‘n kommunikasiemaatskappy gehad en was vervaardiger en regisseur van tientalle korporatiewe videoproduksies en baie betrokke by mediaskakeling en advertensies.
Nog ‘n reusevoorreg was die jare as medebestuurder van Die Hoenderhok-teater in Kuilsrivier.
Die afgelope byna 10 jaar is ek die eienaar van Marius du Plooy Toere, wat Europa, Turkye en dele van Afrika saam met medetoerders deurkruis. Wat ‘n voorreg.
Verveeld? Nie ‘n dag nie.
Maar ek dink op ‘n manier was joernalistiek van kleins af deel van my DNS.
Hoewel ek maar ‘n “kort” geskiedenis in die dagbladpers gehad het, het my joernalistieke blootstelling op skool reeds begin. Dit was toe ek soms vir die plaaslike koerant op Parys, die Parys Herald, beriggies geskryf het.
Op die Goudstadse Onderwyskollege was ek ‘n jaar nuus- en ‘n jaar sportredakteur van ons studentekoerant. In dieselfde tyd het ek soms berigte oor studentegebeure vir die Die Vaderland en Die Transvaler geskryf.
In 1975 is ek Holland toe as omroeper by Radio Nederland en as die SAUK se korrespondent. Terug in Suid-Afrika het ek die amptelike dagbladpers betree waar ek onder dr. Wimpie de Klerk by Die Transvaler aangesluit het. Minder as ‘n jaar later is ek SAUK toe – eers as verslaggewer by Monitor en Spitstyd, later as omroeper en redakteur Aktualiteitsprogramme.
Dit was veral my twee jaar in Holland wat my insig en perspektief oor die algemeen dramaties verbreed het. Behalwe ‘n weeklikse program, Uitspan op die Hollandse werf, wat ek om die beurt saam met Kolie van Coller gedoen het, het ons elke aand ‘n uitsending van 20 minute op kortgolf na Suid-Afrika toe uitgesaai.
Die Nederlandse regering het Radio Nederland destyds gestig om “gebalanseerde” nuus na ‘n wye verskeidenheid lande toe uit te saai. Dit was veral lande wat, volgens hulle, verdraaide en eensydige nuus aan hulle eie bevolking gebring het…
Die tyd in Holland was nogal “turbulent”. Ons was daar van die einde van 1975 tot einde 1976 – reg in die tyd van die Soweto-onluste in Suid-Afrika. Jy kan jou net voorstel hoe sekere groeperinge ons as Suid-Afrikaners verag het.
Maar as mens in die truspieël kyk, was dit ‘n unieke joernalistieke en lewensleerskool.
Mettertyd het ons selfs die Hollanders se kru-reguit maniere leer waardeer. Hulle noem dit wat hulle dink by die presiese naam, sonder sagte woordjies wat in watte toegdraai is.
Ek was selfs later redakteur van Radio Tygerberg se maandelikse tydskrif van 52 bladsye.
In 1985 was ek medeskrywer van die boek Avontuurkamp, waar ek saam met die ongelooflike kinderboekskrywer prof. Pieter W. Grobbelaar gewerk het. Daarna het nog ‘n boek, Resepte vir afvalliges (afvalresepte) die lig gesien en daarna Hartsgesprekke met…, waar ek tientalle onderhoude met bekendes in die sake-, musiek- en sportwêreld gevoer het. Selfs my persoonlike tye saam met Nelson Mandela is in die boek opgeneem.
Maar terug na my tydjie by Die Transvaler:
Ek waarborg nie dat ek alles 100% onthou soos dit was nie. Dit was Maart 1978 toe ek die Sondagoggend by Die Transvaler ‘n oproep van ‘n informant kry. (Dit klink altyd so belangrik om van “my informant” te praat. So asof ek êrens uit ‘n James Bond-fliek kom …)
Hy vertel my toe dat daar ‘n reusediamant by die Premiermyn noord van Pretoria ontdek is, maar dat niemand ‘n woord daaroor rep nie. As joernalis het ek dadelik ‘n lekker storie geruik en ure lank ‘n woordvoerder van die myn probeer oorreed om meer inligting te gee. Hy het aanvanklik gesê hy weet van niks, maar uiteindelik het ek my voorbladstorie gekry. Dit was ‘n scoop. My berig was die eerste ter wêreld oor die Premier Rose – ‘n knewel 137.02 karaat diamant en een van die grootste D-kleurdiamante ter wêreld.
Oor die uiteindelike verkoop van die diamant is daar destyds net bespiegel. Iemand het beweer dat dit aan ‘n Oosterse sjeik verkoop is vir baie miljoene. Diamante van daardie grootte het nie ‘n prys per karaat nie. Dit is werd wat iemand bereid was om daarvoor te betaal.
Onbevestigde berigte (wat sommige joernaliste gebruik as hulle geen benul het nie) is beweer dat dit destyds (30 jaar gelede) teen 10 miljoen dollar verkoop is. As mens inflasie in ag neem, sou dit vandag seker ver oor die R300 miljoen gewees het. Oorgenoeg rede vir die geheimhouding.
Dit was nie net vir my as verslaggewer lekker om die scoop te kry nie, maar in die daaropvolgende weke het ek gereeld langs die slyper gestaan terwyl die Premier Rose vorm aangeneem het. Ek was van die weinige mense wat in streng sekerheidstoestande in die slypkamer toegelaat is.
Ek het later ‘n perspex-afdruk van die oorspronklike, rou diamant ontvang wat vandag nog in my besit is. Maar die grootste lekker was toe ek die klaargeslypte miljoene-diamant in my hande vasgehou het.
Dit was seker die groot hoogtepunt van my joernalistieke loopbaan. Die diamant van honderde miljoene, wat onder groot geheimhouding gemyn, geslyp en verkoop is en wat vir ‘n paar sekondes myne was.