MOTORTYDSKRIFTE IN AFRIKAANS KOM UIT DIE 1950’S

Afrikaanse motorjoernalistiek is waarskynlik ouer, maar Afrikaanse motortydskrifte dateer, sover ons kan vasstel, uit 1957 met die publikasie van Die Motorgids, onder die redakteurskap van D.J. Greyling. Daarna volg tydskrifte soos Stuurwiel, Die Motor, Wiel en topMotor. Nie een het oorleef nie, maar Afrikaanse motorjoernalistiek leef voort by Afrikaanse koerante, in tydskrifte en op TV-programme en aanlynplatforms soos Maroela Media.

Die Motorgids se publikasiekomitee het verskeie swaargewig-sakemanne ingesluit en is volgens motorhistorikus Hans Heese deur die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) begin as teenvoeter vir Car. Teen 1970 verskyn die logo APB (waarskynlik Afrikaanse Pers [1962] Bpk.) voorin en was Jan Olivier die redakteur en die latere redakteur van Hoofstad, A.S. Lake, die Kaapse medewerker. Die tydskrif het in 1961 en 1970 só gelyk:

Stuurwiel se eerste uitgawe verskyn in Desember 1966 met Jannie Herbst as redakteur. Die voorblad is destyds aan adverteerders verkoop, vandaar dieselfde Ford op die voorblad van verskillende uitgawes van die tydskrif. (Kyk ook hooffoto bo.)

Padtoetse in Stuurwiel het eers maar vaal vertoon, maar later kleurvoller geword — en met meisies op die enjinkap.

In 1969 verskyn Die Motor op die toneel met Francois Aucamp as redakteur. Die uitgewer was Terry Scott, wat in die eerste uitgawe skryf dit is tyd vir ‘n “goeie en gesaghebbende” Afrikaanse motortydskrif. Die buiteblad van die eerste uitgawe het só gelyk. Onder: Die mashoof het teen 1972 verander en Danie Smith was nou die redakteur. Daar is ook aandag aan motorfietse gegee.

Die Mylpaal het in 1975 só gelyk:

Wiel het in Maart 1978 onder redakteur Jannie Herbst verskyn en in 2008 sy dertigste verjaarsdag gevier — met dié dikste uitgawe ooit (176 bladsye). Net drie jaar later het die ekonomiese situasie só verander dat die blad moes sluit. Onder: Jannie Herbst, soos hy in die 30ste verjaardaguitgawe verskyn het.

Met hierdie uitgawe het Wiel onder Francois Rabe sy deure gesluit. Dit was maklik die suksesvolste motortydskrif in Afrikaans en het verskeie eienaars deur die jare gehad.

Nog twee motortydskrifte wat in Afrikaans verskyn het: Die Motoris van die AA en topMotor, ‘n pragtige publikasie van Media24. Dit het onder Pierre Steyn se redakteurskap uitgekom het, maar nie genoeg steun getrek om lewensvatbaar te wees nie.

Padtoetse is/was die stapelkos van motortydskrifte. Maar motorjoernaliste is oor dekades heen daarvan verdink dat hulle sag is op foute by motors omdat hulle nie die vervaardigers wil ontstel nie. Hulle is immers van die vervaardigers afhanklik vir toetsmotors én advertensies. Reeds in 1969 skryf Francois Aucamp egter as volg in Die Motor:

Die Motor spog ook met sy destyds moderne toerusting waarmee motors se werkverrigting getoets is.

Die Motorgids het gereeld padtoetse deur Alton Marx geplaas.

‘n Ander kenmerk van motorjoernalistiek, wat reeds ‘n tyd gelede uit die mode geraak het, was die gebruik om vroulike modelle saam met motors af te neem. Hierdie foto dateer uit ‘n Wiel van 2008.

Sterk uitleg met kleurfoto’s het die norm geword. Hierdie is ook voorbeelde uit Wiel.

Die karige advertensies in die vroeë tydskrifte wys watter moeilike pad hulle moes stap. Die 30ste verjaarsdaguitgawe van Wiel was egter ‘n hoogtepunt vol advertensies, wat heelwat redaksionele materiaal moontlik gemaak het. Hier is van die advertensies wat in die tydskrifte voorgekom het.

Van die beste Afrikaanse motorjoernaliste het nooit vir tydskrifte gewerk nie, maar by koerante. Onder hulle tel Ben van Rensburg (Beeld), Tina van Rensburg (Beeld) en Fred Schnetler (Volksblad). Egmont Sippel (Rapport) is vandag die uitstaande Afrikaanse motorjoernalis en trek aandag met sy tegniese kennis en flambojante skryfstyl. Waar Media24 se drie susterkoerante lank ‘n motorredakteur elk gehad het, is daar nou net een, Marnus Hattingh, wat artikels vir Die Burger, Beeld en Volksblad lewer. Sy artikels is uiteraard ook op Netwerk24 te lees.

Hierdie artikel is saamgestel met die hulp van Jan Momsen. Ons dank aan hom vir die beskikbaarstelling van ou tydskrifte en aantekeninge.

Geplaas: Oktober 2021