Foeta Krige se joernalistieke pad het deur Perskor, ‘n koerant in Suidwes en vryskutwerk in Afrika geloop. Hy was op die toneel van vele nuusgebeure, maar uiteindelik ook nuusbestuurder by Monitor en ander Afrikaanse aktualiteitsprogramme. Daar maak hy sy rug reguit teen inmenging en word hy ‘n leier van die sogenaamde “SAUK 8”. Hy vertel meer hieroor aan Johannes Froneman.
Foeta, jy was lank by die radioprogram Monitor betrokke, maar jou loopbaan as joernalis het by die mediahuis Perskor begin. Ek herinner my daaraan dat jy ook ‘n sportverslaggewer was ... Hoe het alles begin?
Ek het inderdaad my joernalistieke loopbaan by Perskor begin, maar voor dit eers ‘n paar draaie geloop. Ná diensplig in 1974 het ek by Tukkies BSc Agric gaan swot, maar ná drie jaar besluit dis nie vir my nie (almal in my groep het pa’s met plase gehad; ons familie net ‘n agterplaas).
Met ‘n studiebeurs van die Mielieraad het ek besef ek gaan eendag êrens in ‘n staatsdienskantoor opeindig. Dit (en die feit dat ek en chemie 1 mekaar misverstaan het) het my laat opskop. Na ‘n paar maande van nagskof by Boerstra Bakkery, word ek ‘n sampler in Welkom se President Steyn-myn. Van 1979 tot 1982 werk ek by die Poskantoor, eers as vervoerklerk, toe personeelklerk en later welsynsbeampte. In die drie jaar daar is ek getroud en geskei, het ek ‘n BA-graad by Unisa in sielkunde en sosiologie verwerf en weer die pad gevat.

Foeta Krige in die Monitor-kantoor, waar hy studente van die NWU gewys het hoe dinge werk. Regs van hom is redaksielid Hanri Wondergem en in die agtergrond Suna Venter, wat vroeg oorlede is. Foto: Johannes Froneman
Hierdie keer is ek na ‘n plaas langs die Hartbeespoortdam waar ek saam met drie studentevriende, ‘n paar honde, ‘n mak skaap en ‘n spul hoenders gebly en ‘n klein plaaswinkel bedryf het. Terselfdertyd was ek besig met honneurs in sielkunde, maar voor ek dit kon voltooi, het my belangstelling in fotografie my na Perskor in Doornfontein gedryf waar ek aansoek gedoen het vir ‘n pos as fotograaf. Die fotoredakteur het egter gereken mense met grade moet eerder skryf en ek word oorgestuur na redaksie.
Ek kon skaars ‘n vel papier in ‘n tikmasjien insit, wat nog te praat van tik. Ek onthou hoe die paneel geluister het na my naskoolse wedervaringe toe een die laaste vraag vra: “Is jy getroud?” “Nee, geskei!” Die redakteur het na die ander om die tafel gekyk en gesê: “Die ou klink vir my soos ‘n joernalis.” Drie dae later is ek by Die Transvaler as misdaadverslaggewer aan die diep kant ingegooi.
Die eerste paar weke by die koerant het ek in die nagkantoor saam met hardebaardsubs soos Mike van Niekerk, Koos Botha, Piet Gouws en Fanie Hattingh gewerk, Sapa- en Reuterskopie van teleksmasjiene afgeskeur en in netjiese pakkies vir die “ou hande” gegee om te vertaal en te verwerk.
Af en toe is ’n berig my kant toe gegee om te vertaal, maar my groot werk was om laataand ys by Vegkop oorkant die straat te gaan haal. Dit was vir die whiskey en laatnag se pokerspel as die koerant bed toe is. Dan moes ek ook elke aand ry om die Citizen, Beeld en Rand Daily Mail se vroeë uitgawes te kry om seker te maak ons het nie dalk iets gemis nie.
Na ‘n paar weke is ek genooi om saam kaart te speel en ‘n glas whiskey aangebied. Dit was die teken dat ek die vuurdoop oorleef het en by die dagredaksie as misdaadverslaggwer kon aansluit. Die leerkurwe was steil en die basiese grondbeginsels van joernalistiek moes ek maar in die hardloop baasraak. Kollegas en nuusredakteurs was ou-skool, maar goeie leermeesters.
My eerste nuusredakteur, Dave Viljoen, is later SAUK toe en Hannes de Wet het by Sapa geëindig. Weens die Nasionale Party en Broederbond se lang arms was selfsensuur aan die orde van die dag. Die land asook joernalistiek het dus gebuk gegaan onder sensuur en apartheidswette. Dis hoekom daar van verligte redakteurs soos Wimpie de Klerk en later Harald Pakendorf ontslae geraak is.
Nadat die noodtoestand in 1985 afgekondig is, was ons werksomstandighede nog moeiliker. Dit sou baie jare duur, en ook ‘n nuwe demokratiese bestel, om die fynere waardes en beginsels van mediavryheid, asook vryheid van spraak, assosiasie en beweging te verstaan en te waardeer.
Toe sluit Perskor in die 1980’s drie van sy koerante (Hoofstad, Oggendblad en Vaderland). Hoe het dit jou storie geraak?
My eerste redakteur was FW de Klerk se broer, Wimpie, maar ek was skaars daar toe hy in Augustus 1982 deur Marius Jooste afgedank is. ‘n Paar maande ná ek in Johannesburg begin het, moes Perskor weens die sirkulasieskandaal sy oggendkoerante sluit. Oggendblad en Hoofstad in Pretoria het toegemaak, Transvaler het Pretoria toe geskuif as middagkoerant en Vaderland het as middagkoerant in Johannesburg voort bly leef.
Ek is as misdaadverslaggewer onder Jan van Vreden as redakteur en nuusredakteur Dirk van der Walt Pretoria toe. Ek onthou hoe Hermie Hendricks (wat toe waargeneem het as redakteur) op televisienuus moes sien dat Jan van Vreden die nuwe redakteur van Transvaler sou wees.
Die sluiting van die koerante en verskuiwing na Pretoria was die kulminasie van die jarelange stryd tussen Beeld en Transvaler om beheer van die oggendmark in die noorde van die land. Ek onthou die intense wedywering tussen joernaliste om veral by misdaadtonele die beste stories en foto’s te kry. Naspers het uiteindelik die stryd gewen.
Perskor het altyd ‘n gemoedelike en informele werkomgewing gehad en dit is hoekom ek altyd gemakliker tussen my oud-kollegas van daardie jare voel. Daar was geen menere nie; almal is op die naam genoem, ongeag die ouderdomsverskil. Die meeste van die joernaliste van Oggendblad en Hoofstad is in die nuwe struktuur opgeneem, maar die redaksie het sonder enige twyfel ‘n sielkundige knou gekry. Vandag is daar steeds van die ou Perskormanne wat hulle verlekker dat Naspers se gedrukte koerante (meer as 40 jaar later) moes sluit.
Vertel asb meer oor jou koerantdae, saam met wie jy gewerk het …
Ná sowat ‘n jaar en ‘n half by Perskor, het ek weer anker gelig en by Die Suidwester in Windhoek gaan werk. Dié slag as sportredakteur, militêre korrespondent, misdaadverslaggewer, motorredakteur en foto-joernalis… Ons redaksie was klein en almal moes alles kon doen. Ek moes gereeld, met bittermin agtergrondinligting my sak gryp en op ‘n vliegtuig Angola toe klim. Ek was saam met Suidwes se rugbyspan in Welkom toe hulle die Sport Pienaarbeker gewen het, as fotograaf en verslaggewer op Ellispark langs die veld toe die Engelse teen die Springbokke gespeel het, en kort daarna is ek Stellenbosch toe om die junior atletiekkampioenskappe te dek. As motorredakteur het ek ook die bekendstelling van verskeie nuwe voertuigreekse in Suidwes en Suid-Afrika gedek.
Maar die wanderlust het my weer gepak. Na ‘n jaar en ‘n half in die ou Suidwes het ek en my lewensmaat, Madelaine (wat ek in 1982 in Johannesburg se nuuskantoor ontmoet het), ons rugsakke gepak en Europa toe gevlieg. Daar het ons ‘n rooi, toegeruste Ford Transit gekoop en Brittanje en Europa platgery. Toe ons geld opraak, verkoop ons die kampeerder en vlieg Israel toe waar ons ‘n ruk lank op ‘n moshav (plaas) gewerk het.
Terug in Suid-Afrika is ek weer by die Transvaler aangestel waar ek ‘n jaar lank saam met Herman Snyman, my vriend en mentor, nagskof gewerk het. Nagskof is waar Nagkantoor (die Facebookblad) sy naam gekry het. In 1987 is ek Kaap toe as parlementêre verslaggewer vir Perskor, maar dit was van korte duur. Op ‘n dag het ek ‘n briefie van die Speaker, Louis le Grange, ontvang: Ek het nie veiligheidsklaring gekry nie. Ek is vyftien minute gegee om my kantoor te ontruim.
Ek onthou ek moes ‘n onderhoud, wat reeds gereël was, op ‘n parkbankie in die Kompanjiestuin doen. Nadat (kollega) Gert Kotzé (broer van NP-minister Pen Kotzé) met Adriaan Vlok, destydse polisieminister gepraat het, is belowe die saak sou ondersoek word. Ek kon die sitting voltooi op voorwaarde dat een van die geakkrediteerde joernaliste my elke dag inteken en verantwoordelik neem vir my doen en late.
Die veiligheidsklaring is nooit gegee nie, glo omdat ek ANC-gesinde vriende gehad het. Ek is terug Johannesburg toe as assistent-nuusredakteur van Die Vaderland en in Oktober 1988, toe Die Vaderland en Transvaler saamgesmelt het, is ek as Transvaler-nuusredakteur aangestel.
Tydens my Perskordae, het ek saam met Willem de Klerk, Blaar Grobbelaar, Gert Kotzé en Gerhard Burger gewerk. Daar was ook Hermie Hendricks, Hennie Kotzé, Sandy MacDonald en Leendert Pieterse. Laasgenoemde twee was ook later kollegas by die SAUK.
Dan was daar ook karakters soos Chris Vermaak, Phillipa Breytenbach, Kittie Vermaak en André Verster. Ek onthou mense soos Nico van Burick, Eugene Yssel en Jean Oosthuizen, wat later SAUK toe is. Murray la Vita het rubriekskrywer van formaat by Media24 geword en Ryk Hattingh wat later Loslyf, die eerste kaaltydskrif in Afrikaans, uitgegee. Jeanne Goosen en Jan van Tonder het skrywers geword en Johan Ahlers ‘n SAUK-korrespondent in Nederland. André Scheepers, wat ook later SAUK toe is, het saam met Magnus Heystek op die finansredaksie gewerk.
In Pretoria was daar natuurlik Koos du Plessis in die nagkantoor en sy goeie vriend Louis Roux, wat later jare by ‘n Weskuskoerant gaan werk het. Van die fotograwe onthou ek Ken Marais, Willie Havenga, Gert Hattingh, Alan Murdock, Eric Ströh en Alf Chapman.
Toe die SAUK. ‘n Hele paar Perskormense het daar ‘n tuiste gevind. Jy ook …
Ná die geboorte van ons eerste kind in 1990, is ek in Maart oor na die SAUK se radionuuskantoor in Johannesburg. Hoewel ek my pos as nuusredakteur moes opgee, het ek as ‘n algemene radioverslaggwer baie meer geld verdien. Dit was onwetend ‘n goeie besluit, want Perskor het sy koerante twee jaar later toegemaak.
By die SAUK het twee goed gelyktydig gebeur. Eerstens het FW de Klerk in Februarie 1990, drie weke voor ek daar begin werk het, die ANC ontban en groot hervormings aangekondig. Tweedens het ek in ‘n medium beland waar klank dieselfde rol as geskrewe nuusberigte speel. Soos die gesegde dat ‘n foto ‘n duisend woorde werd is, bring klank ‘n dimensie wat moeilik in beeld of skrif oortref kan word. Skielik was die politiek oper in die nuuskantoor met minder wette wat vryheid van spraak en beweging beperk het.
Ongelukkig kon min van die base die nuwe tydgees omarm. Die selfsensuur wat in die polisiestaat hoogty gevier het, het vir nog ‘n lang tyd die nuusvloei beïnvloed. In my eerste vier jaar by die SAUK is die nuus deur politieke vergaderings, optogte en geweld oorheers. Ons moes vir dae lank uit townships berig, waar ‘n lae-intensiteit-oorlog gewoed het. Enersyds het die ANC-ondersteuners nie die joernaliste van die openbare uitsaaier vertrou nie; andersyds het die polisie hulle rol van destabilisering en propaganda voortgesit.
Terugskouend besef ek hoe politiek naïef ons was. Geleidelik het ek agtergekom dat ek versigtiger was om na ‘n AWB-vergadering te gaan as om onluste in die townships te dek. Aan nuus was daar nie ‘n tekort nie. Soos toe ek en kollega Johan van Pletzen (wat die Kleinjan-briewe geskryf het) kort voor die verkiesing uitgestuur is na ‘n gyselaarsdrama waar ‘n man sy vrou en kind in ‘n huis aangehou het — in die visier van die polisie se skerpskutters.
Skielik het ons nuusredakteur laat weet ons moet Soweto toe jaag. Die polisie was besig met ‘n klopjag op Winnie Mandela se huis. Op pad daarheen moes ons egter omdraai: ‘n bom het by Germiston-stasie ontplof. Die maande voor en ná die ’94-verkiesing, het ons landwyd gewerk en was ek min by die huis. Ek was daar met die Shell House-slagting en die skietery by die Library Gardens. Ek het die oggend langs Chris Hani se lyk by sy huis in Dawnpark onderhoude gevoer, geluister hoe die AWB ‘n nuwe gelofte by Boekenhoutskloof buite Rustenburg aflê … en was daar toe die nuwe Suid-Afrikaanse vlag in Mmabatho vir die eerste keer gehys is.
Kort na die verkiesing het ek ‘n redakteurspos by Monitor en Spektrum gekry waar ek van 1995 af saam met die twee ander redakteurs, Magdaleen Kruger en Wilna Matthee, onder uitvoerende regisseur Mohammed Shaik, gewerk het. Chris Louw het hom nie lank daarna nie vervang en ons het vir die volgende sewe jaar saamgewerk.
Toe, later, word jy self uitvoerende regisseur van Monitor en ander aktualiteitsprogramme op RSG …
Ná sewe jaar by Monitor en Spektrum, het ek bedank en my eie videoproduksie-maatskappy begin. Ek maak toe twee jaar lank dokumentêre films en korporatiewe video’s en in 2004 nader die SAUK my om by Chris Louw oor te neem ‘n ruk ná hy bedank het.
Die tyd op my eie was van die opwindendste, maar ook uitdagendste tyd in my joernalistieke loopbaan. Ek kon in die ooste van die DRK aan ‘n dokumentêr oor Suid-Afrikaanse vlieëniers in Afrika werk, en terselfdertyd vir die SAUK oor die Suid-Afrikaanse Weermag se betrokkenheid by die Monuc-magte in Kindu berig. In Uganda het ek nuusinsetsels vir CNN Africa gedoen oor die aanvalle van die Lord’s Resistence Army van Joseph Kony. In dié tyd het ek ook verskeie dokumentêre programme vir kykNet gemaak.
My rol en funksie as uitvoerende regisseur van RSG se nuusaktualiteitsprogramme het my lewenswyse drasties verander. Die openbare uitsaaier se mandaat word bepaal deur die Uitsaaiwet en Okosa. Daarvolgens moet RSG ‘n minimum van een uur per dag nuusaktualiteit uitsaai. In ons geval het ons op weeksdae drie uur per dag (twee uur Monitor en een uur Spektrum) uitgesaai, met Naweekaktueel en Kommentaar elk een uur op Saterdae en Sondae.
Die uitvoerende regisseur van RSG is oorsigtelik verantwoordelik vir die inhoud van die programme, die skofroosters en algemene administrasie. Jy is ook die skakel tussen die redaksie en lynbestuurders. Ek onthou hoe Chris Louw my afgeraai het om die pos te aanvaar. “Hulle gaan van jou ‘n glorified sekretaresse maak,” het hy gewaarsku. Toegegee, hoewel daar baie administratiewe werk was (die SAUK bly maar ‘n groot burokratiese dier), was my belangrikste funksie om ‘n kreatiewe span te bou wat daagliks die nuus agter die nuus vir die luisteraars kon bring.
In Monitor/Spektrum se bloeitydperk het ons daagliks 750 000 luisteraars bereik, terwyl nuusprogramme omtrent ‘n kwart van RSG se totale advertensie-inkomste ingebring het. Kort na my aanstelling het ons begin met wat ons “reisradio” genoem het, waar ons die platteland ingevaar en van dorpe soos De Rust, Aberdeen, Colesberg en Graaff-Reinet af uitgesaai het. Dit het die joernaliste wat normaalweg kantoorgebonde was die geleentheid gegee om ons luisteraars te ontmoet en hulle leefwêreld te ervaar.
Het jou werk as uitvoerende direkteur jou gereeld in botsing met die base gebring?
Een van die “voordele” om na apartheid vir ‘n Afrikaanse diens te werk, is dat baie van die nuusmakers en politici nie na jou programme luister nie. Die gevolg was dat ons baie minder as ons Engelse eweknie, SAFM, op die radar was. Vóór ‘94 was dit standaardpraktyk dat politici soos PW Botha of sy ministers die nuuskantoor sou bel en opdragte gee. Ek was persoonlik by ‘n braai van ‘n minister in die Kaap toe die hele SAUK-TV-span teruggeroep is atlejee toe. PW was nie tevrede met hulle verslaggewing oor die Mossgas–projek nie.
Na ’94 was die politieke inmenging egter minder blatant en meer subtiel, hoewel kaders in sleutelposisies ingebring en sogenaamde “enforcers” deel was van die lynbestuur.
Ek was elke dag deel van die landwye beplanningvergaderings, waar elke streek se nuusstories van die dag bespreek is. Teen daardie tyd het ek reeds met my redaksie vergader en ons beplanning gedoen. Die geheim was om nooit ‘n bohaai te maak nie en bloot aan te gaan om jou eie ding te doen.
Die eerste werklike botsing met die base was toe ons opdrag gegee is om nie oor die nuwe EFF te berig nie. Dit was onaanvaarbaar en ek is voor die hoof van nuus, Jimi Matthews, gedaag. Hy het my beskuldig van rassisme en dat ek nie respek vir my lynbestuurder het nie omdat sy ‘n swart vrou was. Ek is beveel om voortaan opdragte van my lynbestuurder te gehoorsaam. My antwoord was dat ek elke opdrag in die lig van ons redaksionele beleid sou oorweeg en om so te besluit of dit aanvaarbaar is of nie. Dit het my en die RSG-aktualiteitsprogamme op die radar geplaas!
En toe die groot botsing, waarvan jy vertel in jou boek, The SABC 8. Die detail is in die boek, maar hoe sal jy die gebeure opsom?
Die boek gaan oor die storie van agt joernaliste se stryd om mediavryheid binne die SAUK te handhaaf, asook die opgang en val van die destydse bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng. Dit vertel ook die storie van wat aanleiding gee het tot die dood van die jongste lid van die SABC 8, Suna Venter.
Kort voor die plaaslike verkiesing in 2016 het die bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, op ’n onderduimse wyse bewimpel dat hy die hoofredakteur van nuus by die SAUK word, ‘n amp wat normaalweg onder die hoof uitvoerende beampte resorteer. Motsoeneng het, na Jacob Zuma as president verkies is en gerugsteun deur ANC-politici en die SAUK-raad, geweldige opgang gemaak.
‘n Ondersoek deur die Openbare Beskermer oor sy termyn by die SAUK het bevind dat hy gelieg het op sy werksaansoekvorm, sy matriekkwalifikasie, dat hy sy posisie misbruik het om sy eie salaris te verhoog, dat hy verantwoordelik was vir onreëlmatige aanstellings en salarisverhogings en dat hy van senior personeellede ontslae geraak het en sy vertrouelinge ingebring het.
Daar is aanbeveel dat hy sy pos ontruim, maar haar aanbevelings is geïgnoreer en sy pos as waarnemende bedryfshoof is permanent gemaak. Soos ‘n diktator het Motsoeneng reëls, teenstrydig met die redaksionele beleid, ingebring. Hy het duisende rande se betalings aan kunstenaars uit die SAUK se begroting betaal en sonder konsultasie die plaaslike musiekkwotas verander. Boonop het hy vir homself groot bonusse bewimpel vir werk wat deel was van sy posbeskrywing. Net voor die verkiesing het hy ‘n nuusverklaring uitgereik waarin die redaksie verbied is om enige beeldmateriaal van onrus uit te saai; en tydens n nuusvergadering hieroor is ons verbied om ‘n betoging teen dié besluit te dek.
Ek en twee kollegas, Thandeka Gqubule en Suna Venter, het beswaar aangeteken en is ‘n paar dae later geskors. Drie van ons kollegas — Krivani Pillay, Jacques Steenkamp en Busi Ntuli — het hulle toe deur ‘n brief aan die bestuur by ons geskaar. Nog twee, Lukanyo Calata en Vuyo Mbuli, het die SAUK in koerantartikels veroordeel. Almal sou dissiplinêr verhoor word, is aangekondig.
Die media het ons groep die SABC 8 begin noem. Ons is almal, voor ons dissiplinêre verhore, ontslaan. Terselfdertyd het die waarnemende hoof uitvoerende beampte, Jimi Matthews, bedank, Ná ‘n geding in die Arbeidshof is beslis dat die agt van ons weer aangestel moet word.
Ons het egter ‘n dringende aansoek om direkte toegang tot die Konstitusionele Hof gebring om die nuuskantoor bestand teen politieke inmenging te maak. In reaksie daarop het die parlement ‘n ad hoc-komitee aangestel wat gelei het tot die afdanking van die SAUK-raad, ‘n nuwe redaksionêle beleid asook die ontslag van Hlaudi Motsoeneng en die hoof finansiële beampte.
Die SABC 8 is vereer met die toekenning van die Nat Nakasa-prys vir dapper joernalistiek, asook die Chairman’s Guardian of Governance Award deur die Instituut van Interne Ouditeure van Suid-Afrika.
Jy het intussen afgetree. Skryf jy of speel jy gholf?
Ek speel nie gholf nie, stap baie, lees baie, reis, neem foto’s en skryf so min as moontlik. As daar egter ‘n goeie storie wat die moeite werd is my pad kruis, sal ek dit skryf.
Jou vrou en kinders is ook joernaliste …
Ja, ek het Madelaine in Die Transvaler se nuuskantoor in 1982 ontmoet. Sy het begin as deel van die vroueredaksie, het saam met my in Windhoek gewerk, was subredakteur, drie jaar lank parlementêre verslaggewer in Kaapstad en na die geboorte van ons eersteling weer subredakteur en boekeredakteur in Johannesburg.
Sy was ook een of ander tyd die joernalis van die jaar by die Johannesburgse Persklub. Nadat Perskor se koerante gesluit het, het sy vryskutwerk vir verskeie publikasies gedoen, en was later uitvoerende redakteur, uitgewer, bedryfshoof en ook lid van die redaksionele raad by Primedia Publishing se B2B tydskrifte. Tydens haar Primedia-jare het sy verskeie Pica-toekennings gewen. Toe ons jongste dogter universiteit toe is, het sy uit simpatie weer begin swot, ‘n graad in kommunikasiekunde verwerf, ‘n honneurs in sielkunde en meer onlangs ‘n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns by die Universiteit van Pretoria.
Beide ons dogters, Jamaine en Dalaine, het die B Phil in joernalistiek by Stellenbosch verwerf. Ons jongste dogter, Dalaine, wat op die oomblik in Nieu-Seeland bly, het weggeskram van joernalistiek en drie jaar lank skool gehou in Suid-Korea. Sy het haar honneurs in internasionale studies en ‘n meestersgraad in politieke wetenskap by Stellenbosch verwerf, waar sy die Ton Vosloo-toekenning vir leierskap en innoverende denke in 2017 gekry het. Onlangs het sy ‘n M Phil in seksuele en reproduktiewe regte in Afrika by die Universiteit van Pretoria voltooi. In haar derde jaar by die Maties het sy ‘n semester in die hartjie van Parys by Sciences Po as uitruilstudent studeer omdat een van haar hoofvakke Frans was. Sy werk op die oomblik by ‘n universiteit in Auckland as akademiese beplanningshoof. Hoewel sy haarself nie ‘n joernalis noem nie, skryf sy gereeld vir publikasies, eers in Suid-Afrika, en nou ook in Nieu-Seeland.
Die oudste dogter, Jamaine, is ‘n opgeleide intermediêre paramedikus met ‘n graad in sielkunde/sosiologie/kriminologie, ‘n BPhil in joernalistiek by Stellenbosch en ‘n honneurs in sielkunde by Unisa. Sy was vryskutjoernalis by die SAUK se radionuuskantoor en het op 26-jarige ouderdom die boek Justice Served, oor die verkragtingsverhoor van die voormalige tennisafrigter Bob Hewitt by Penguin Random House uitgegee. Sy het by die Herald in Gqeberha gewerk, was nuusredakteur by Fray Intermedia en doen media-opleiding vir Media Monitoring Africa en skryf vir Mail & Guardian. Sy het ‘n ATKV-Mediaveertjie gewen vir ‘n klankbydrae oor die Knysna-brande en was twee keer die wenner van die Isu Elihle-toekenning vir verslaggewing oor kinders in Afrika, asook die SAB se omgewingsjoernalis van die jaar in 2018. Sy het so pas teruggekom van Costa Rica waar twee van hulle kortfilms deel was van ‘n filmfees.
Wat is jou oorsigtelike blik op die stand van joernalistiek, veral die Afrikaanse joernalistiek?
Ek dink joernalistiek staan wêreldwyd by ‘n kruispad en dat deeglike introspeksie nodig is oor die veranderde rol van hoe inligting versamel en versprei word. Tegnologie maak van elke mens met ‘n selfoon ‘n fotograaf en sogenaamde burgerjoernalis. Klikaas en algoritmes bepaal ons leespatrone, terwyl KI dit al moeiliker maak om tussen feit en fiksie te onderskei.
Ongeverifieerde inligting en beelde word as feite deur die druk van ‘n knoppie versprei en bepaal sosiale persepsies en werklikhede. Die verdagmaking van die hoofstroommedia, veral deur prominente politici en verregse groepe, vind veral neerslag in ‘n deel van die samelewing wat mensevergrype, ekstremisme en onwetenskaplike teorieë normaliseer.
Die wêreld het meer as ooit eerbare, opgeleide, ingeligte en professionele joernaliste nodig om korrupsie en die verspreiding van vals nuus, inligting, nuusmanipulasie en propaganda teen te werk.
Ongelukkig is minder mense bereid om vir nuus te betaal. Die tradisionele rol van advertensies het verander en elke tweede Jan Rap en sy maat gebruik knip-en-plak-joernalistiek, asook inligting en nuus deur ware joernaliste wat ten duurste eerstefase-joernalistiek bedryf.